Swart-op-swart rassisme: steeds ’n taboe onderwerp

  • 5

Rassisme in Suid-Afrika: dis soos die “horse and carriage” van die liedjie. Indien ons land môre vernietig sou word, sal dit waarskynlik die nalatenskap wees waarvoor ons onthou word, eerder as soveel ander dinge wat ons reg doen.

Rassisme, gebore uit ons matelose behoefte om te klassifiseer, om seker te maak elkeen weet in watter boksie hy hoort, of juis nie hoort nie. Maak nie saak wat ons klagte teen Bell Pottinger is nie, hulle het nie rassehaat geskep nie. Hulle het gevat wat alreeds in oormaat hier was en smeulende kole help aanblaas. As ’n nasie het ons geleer om rassisme te ontbloot waar ons dit ook al mag vind. Maar selfs nou nog is daar een taboe waaroor ons nie praat nie: swart-op-swart rassisme. Ons wys baie vinnig wit-op-swart rassisme uit.

Swart-op-swart rassisme word nog toegesmeer. Daar’s inderwaarheid selfs heelwat literatuur wat te kenne gee dat swart-op-swart rassisme nie bestaan nie, dat daar net rassisme kan wees waar daar historiese institusionele bevoordeling (met ander woorde apartheid) was. Ergo: swart en bruin mense kan nie rassiste wees nie. Ons weet tog dis onsin. Die filosofiese definisie van “a total disregard of a person’s personhood based on external factors such as skin colour, culture ...” word gerieflikheidshalwe ignoreer.

Dit ignoreer die xenofobiese aanvalle in ons onlangse verlede. Dit was nie wit mense wat ons swart broers en susters van elders in Afrika aangeval het nie. Dit verklaar nie hoekom bruin en swart mense met ligter velkleur as meer begeerlik gesien word nie. Dit verklaar nie hoekom soveel swart vroue chemikalieë aan hul vel smeer om hul vel ligter te maak nie. Dit verklaar nie hoekom daar ’n baie winsgewende bedryf bestaan in haarprodukte wat kroes hare glad maak nie. Chris Rock het ’n paar jaar gelede ’n dokumentêre film met die titel Good hair gemaak oor die vooroordele oor wat “goeie” hare vir swart Amerikaners beteken. Dit kon net sowel in Suid-Afrika geskiet gewees het, die argumente, die denke is so eenders. En onderliggend daaraan is die geloof dat hoe ligter jy is, hoe gladder jou hare is, hoe beter jou kanse op sukses.

Michael Jackson was ’n uiterste voorbeeld van hoe ver mense bereid is om te gaan om anders te lyk, om weg te beweeg van die prag van hul natuurlike hare en vel en vorm.

Die destydse driekamerparlement het natuurlik in ons konteks nog groter skeiding tussen bruin en swart gebring, ’n skeiding en die gepaardgaande wantroue wat op soveel gebiede vandag nog uitspeel. Die afgelope paar weke weer het dit in skole uitgespeel. Verlede week was daar berigte dat bruin ouers in skole in Klipspruit, Soweto en Assegai Primêr, Durban, geweier het om toe te laat dat ’n swart skoolhoof in ’n oorwegend bruin gebied aangestel word. Gedurende 2015/2016 was daar dieselfde situasie by Roodepoort Primêr, ook in Gauteng. Natuurlik is daar in elke geval ander redes vir die besware geopper, maar waarskynlik het velkleur ’n rol gespeel. Tesame met die ongesproke geloof dat die aangestelde persoon moontlik onbevoeg is, en waarskynlik korrup, en die kinders se opvoeding in die wiele gaan ry. Dit is wat “disregard” beteken. Daar word na iemand se velkleur gekyk en aannames gemaak sonder om die spesifieke persoon, met sy of haar unieke talente en gawes, in ag te neem.

Wat nog meer geïgnoreer word, is rassisme van swart mense teenoor bruin mense. Dit speel elke dag af in staatsinstellings, in plekke waar swart persone in posisies van gesag oor bruin mense is. Dit speel af in sosiale kontekste. Dit speel af in taal. Die woord Malau word byvoorbeeld algemeen gebruik deur Xhosasprekende swart mense om na bruin mense te verwys. In suiwer vorm verwys daardie woord na die bruin vuil skuim wat bo-op branders vorm in onstuimige weer. Beslis nie die tipe beskrywing wat gebruik word in verband met ’n gewaardeerde lid van die samelewing nie. Presies net soos om na iemand te verwys as ’n bobbejaan.

So word daar oor en weer telling gehou oor wie meer seergekry het in die verlede, wie groter voordeel uit apartheid getrek het, wie nou beter af is as die ander. Op klein skaal word apartheid nog elke dag uitgespeel in ons gemeenskappe, word daar nog daagliks wraak geneem vir verkleinerings van die verlede. En verkleinerings van die hede. Ons lewe nog steeds onder die Ou-Testamentiese “oog vir ’n oog”-wraakleerstelling en vergeet van Martin Luther King se opmerking: “An eye for an eye will leave the whole world blind.”

Waar laat dit ons in 2017? Ons moet eenvoudig leer om mekaar te leer ken oor kleur-, taal- en kultuurgrense heen. Die “disregard” is nie volhoubaar nie. Iewers sal ons moet leer om te genees, om ’n punt te bereik waar ons as ’n nasie mekaar se hande vat en saamwerk om ons land heel te maak.

Ons is nog nie naastenby daar nie. Daar is nog te veel haat en bitterheid in te veel harte. Daar is nog te veel politiek in ons persoonlike lewens.

In my studentedae was daar die Koinonia-groep. Hulle doel was eenvoudig: kry mense van verskillende rassegroepe bymekaar om aan dieselfde tafel te sit en saam te eet. Eenvoudig, nie waar nie? Maar in die tagtigs was dit onwettig om oor rassegrense heen te sosialiseer. Dit was ’n radikale protesaksie. Dit was ’n bewustelike poging om sosiale skeidslyne te verskuiwe.

In 2017 is dit nog steeds in sommige kringe ’n radikale aksie, een wat ons nie naastenby genoeg doen nie. Vergeet van die utopiese drankadvertensies – daar is steeds mense in ons land wie se enigste interaksie met persone van ’n ander ras in werksopset, met die gepaardgaande magswanbalanse, is.

Ek wens mense kon mekaar net leer ken as mense, nie as voorstellings van ’n groep nie. As mense bereid is om hul skanse lank genoeg te laat sak dat ander hulle kan sien, waarlik kan sien, kan ons land soveel anders wees. Almal het vrese, drome, hoop en teleurstellings.

Dalk, net dalk, as ons ons skanse laat sak, sal ons sien die Ander se drome, vrese en hoop is maar net soos ons s’n. Dalk sal ons sien dat “anders” nie slegter of beter is nie. Dit ís net. En dalk kan ons vreugde vind in die ryk tapisserie van ons verskeidenheid, ons verskillendheid.

  • 5

Kommentaar

  • Juliana Halgreen

    Ek sal tog so bly wees as die rassehaat-euwel tot ‘n einde kan kom. Ons maak almal foute. Party van ons is arm, ander is ryk, maar wat maak dit saak solank ons menswaardig lewe en alle mense met respek behandel. Kies jou eie vriende, enigeen met wie jy goed oor die weg kom en los die ander uit. Moet jouself nooit bo ander verhewe nie.

  • Chris Marnewick SC

    Eerstens: Rassisme is wanneer 'n mens negatiewe trekke aan 'n ANDER groep toeskryf EN dit verwoord of daarvolgens optree. Dit is nie rassisme om so te dink nie, maar die oomblik wanneer 'n mens met woord of daad daarvolgens optree word die rassisme gemanisfesteer.
    Tweedens: Kinders is in hulle natuurlike opset totaal onbewus van ras. Hulle word eers bewus daarvan in hulle sosiale opset - huis, kleuterskool, woonbuurt, ensomeer - en dan word hulle houding teenoor ander groepe en persone gevorm.

    Dit is ongelukkig dat daar by skole nou beswaar gemaak word teen andersins gekwalifiseerde onderwysers bloot op grond van ras want dit is juis hier waar die ouers se rassisme nou aan die kinders oorgedra word. Dit is regtig jammer, jammer, jammer.

  • Rassisme is ’n uiters komplekse verskynsel wat nie net beperk is tot die wit-swart-dichotomie nie. Die verengelsing van universiteite en die blatante miskenning van inheemse tale is ’n vorm van neo-imperialisme, oftewel Engelstalige meerwaardigheid en ’n doelbewuste poging om om die geskakeerde taallandskap van Suid-Afrika te kolonialiseer. Hierdie steeds groeiende fenomeen is ongrondwetlik en ondermyn die nalatenskap van Nelson Mandela. Skrik wakker Suid-Afrika! Apartheid het vele gedaantes!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top