Sulamiet deur Lina Spies, ’n resensie

  • 0

Sulamiet
Lina Spies

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316476

Wanneer mens oor die literatuur skryf, is daar – en dit moet so wees – voortdurend ’n bewustheid van nie net wát geskryf word nie, maar ook hóé daar geskryf word. Die een ingesteldheid wat alle mense wat met die literatuur omgaan, geleer het uit die hipertrofies teoretiese fase van die laat 20ste eeu, is die onvermydelike inwerking van vertrekpunte en teoretiese aannames wat korresponderende oogmerke en maatstawwe bied en selfs afdwing. Dit kan selfs teoreties geregverdig word om met baie spesifieke oogmerke te lees en te ontleed, al beteken dit dat ’n teks buite sy tyd en teen die grein van sy eie intensies in gelees en beoordeel word.

Maar elke ervare leser van gedigte en verhale van alle soorte weet ook dat die huis van die literatuur baie wonings het. Die moontlikheid bestaan gewis dat dit verskraal of reduseer word tot enkele aspekte wat binne daardie teoretiese diskoers relevant is. Dit kan egter wel meebring dat die ryk wêrelde wat in tekste opgesluit is, nie volledig ontgin word nie. Hiermee betoog ek nie dat mens nie teoreties moet of mag lees nie. Dit is onvermydelik dat vertrekpunte en aannames so geïnternaliseer is dat mens soms nie eers meer daarvan bewus is nie. En ek weet baie goed die enigste verweer teen teoretiese dwalings is om jou vertrekpunte en aannames te herken en te erken, om dit uit te pak en op die tafel te sit, dit eksplisiet deel te maak van die gesprek, voordat jy aan die skryf raak oor ’n teks.

Die manier van lees op ’n bepaalde historiese moment, sowel literêr-histories as teoreties, kan egter wel verhoed dat bepaalde skrywers tot hulle reg kom. Ons weet almal van die groot foute wat histories gemaak is op grond van ideologiese lesings en waardeoordele en ons weet almal dat dit steeds en tans opnuut weer gebeur. Die werklik groot skrywers styg altyd uit, maar dit vergoelik nie altyd die mindere aandag en erkenning vir die groot gros skrywers wat eintlik die korpus van die literêre uitset uitmaak nie. Die hoë premie wat op vernuwing geplaas word, op literatuur wat lesers tot stilstand skok omdat dit nuut en anders kyk of klink, is heeltemal in orde, maar baie digters en skrywers val deur hierdie sif en die ware poësieliefhebber moet hiervan bewus wees. Soos wat poësie dikwels buite tyd val, ómdat poësie dikwels buite tyd val, moet lesers ook buite tyd kan lees, buite die maatstawwe van die oomblik, die modes en die dwang van ’n bepaalde historiese moment.

Hoe meer ek lees, hoe meer besef ek wat ’n oop gemoed teenoor literêre tekste behels. Hoe meer weet ek wat ’n geweldige opgawe dit is om elke teks binne sy eie reg te probeer verstaan. Dit bly ’n verkenningstog van onbekende wonings en die naspeur van kronkelende paaie. Al wil en kan en moet lesers soms vir bepaalde doeleindes lees, met ’n spesifieke opset, hetsy akademies of teories of histories, moet die toegewyde leser ook bereid wees om die skrywer te volg met nougesette aandag – dit is sowel die byna onbereikbare eis aan, as die geweldige voorreg van, die leser. Maar die ervare leser sal onteenseglik uiteindelik besef dat dit is waarom skrywers skryf en lesers lees, naamlik om ’n gesprek tussen die gees van die skrywer en die gees van die leser te laat gebeur.

Dit was met hierdie ingesteldheid dat ek Lina Spies se Sulamiet gelees het. Spies het ’n uitgebreide oeuvre, maar sy is nie ’n radikale vernuwer nie en die bundels is nie almal met ewe veel entoesiasme ontvang nie. Juis daarom wou ek die bundel met aandag lees, met dié soort aandag wat poog om die ontwikkeling van elke gedig nougeset te volg soos wat ek gedigte van digters uit ander taalgebiede sou lees, sonder om vas te val in die literatuurhistoriese en teoretiese gesprekke wat die digter se werk kan toespin.

By die lees van Sulamiet dwing die oorspronklike definisie van liriek sigself aan die leser op. In al die standaard literêre woordeboeke en ensiklopedieë is die kern van die historiese siening van die konsep liriek dieselfde. Net soos MH Abrams, Harry Shaw, die Encyclopedia of Poetry and Poetics en talle ander beskryf Grové liriek in sy suiwer en oorspronklike vorm as “subjektief …’n (gewoonlik betreklik kort) gedig waarin ’n persoonlike stemming of belewing, dikwels belydend, tot uitdrukking gebring word” (in TT Cloete (red), Literêre terme en teorieë, 1991:256). Nou wonder ek of ons nie ter wille van die opwinding van lees en ontleed so sterk konsentreer op die verbreking van die liriese kode, hetsy tegnies of ideologies, dat ons die bestaan van die oorspronklike manifestasie van die literêre soort nie meer raaksien nie. (Mea culpa, want is ek nie die een wat narratiewe strukture en tegnieke in liriese poësie ondersoek het juis om die spanning tussen liriek en epiek in gedigte te vind nie?)

Lina Spies se poësie was nog altyd belydend en meditatief; dit was nog altyd persoonlik gekleur en mild verwoord; dit is poësie van ’n sagte stem, van inlewing meer as deklarasie, van nadenke en vraagstelling meer as van ontmaskering en geveg. Spies is ’n digteres van liriese verse in die klassieke sin. En Sulamiet is nog eens op ’n hoogs leesbare en ontroerende wyse ’n liriese bundel in die volle sin van die woord.

Sulamiet is ’n kindernaam uit die Bybelse tyd en dit het beteken “vredevol”, “perfek”, “een wat vergoed of goedmaak”. Die meer bekende gebruik van die naam kom uit die Bybelse Hooglied waar die “Sulamitiese vrou” wat dans, deur die koning as sy geliefde besing word. Terloops, sommige Hebraïci is van mening dat sulam en sunem sinonieme is, sodat die woord sulamiet ook ’n verband kan lê met die jong vrou uit Sunem wat Dawid se voete warm gehou het, en selfs met Salomo se eerste vrou, wat ook ’n Sulamiet was (daar word selfs bespiegel dat hierdie twee figure dieselfde vrou was).

In hierdie bundel is die betekenis van Sulamiet wat die duidelikste geaktiveer word, dié van die verlangende geliefde van Hooglied 1:2, die meisie wat verlang na die soene van die geliefde. Dit word hier egter deur meer as een gedig in die bundel verder toegelig as ’n onvervulde verlange: daar is ’n soekende, onvervulde geliefde, sodat die term inderwaarheid ook ’n ironiese betekenis aktiveer. In die gedig “Belydenis van ’n Sulamiet” (41), die enigste gedig wat met sy titel die titel van die bundel eksplisiet oproep, word in teenstelling tot die betekenislose soene waarmee gegroet word, verlang na die soene van die geliefde, daardie unieke geliefde na wie die spreker se “nephesh” verlang. Volgens woordeboeke omvat die woord nephesh in Hebreeus ’n aantal betekenisse wat die werklike siel, die bestaan self, die wese van ’n mens en fasette daarvan beskryf: “siel, lewende wese, lewe, self, persoon, begeerte, passie, aptyt en emosie”. Die verlange groei dus uit die diepste kern van die spreker in die gedig en die digter soek na die geliefde in baie van die verse. Dit is veral in die tweede afdeling van die bundel die geval, aangesien dié deel van die bundel spesifiek liefdesgedigte bevat. Dit is egter nie tradisionele liefdesverse nie, maar eerder ’n bespiegeling oor wat die liefde is en kan wees, soos die motto van ee cummings suggereer:

love is the voice under all silences,
the hope which has no opposite in fear;
the strength so strong that force is mere feebleness:
the truth more first than sun more last than star.

In dieselfde mymerende en bespiegelende toonaard bevat die bundel in hierdie afdeling verse van eensaamheid, maar ook verse van kompensasie, soos in “Spel” (43), waar die digter haar op haar verbeelding beroep om ’n wonderwêreld van liefde te skep. Dan betoog sy teenoor haarself dat sy dalk voorkeur moet gee aan “die liefde wat mens vriendskap noem,/ omdat dit meer bestand is/ teen die wispelturigheid van die hart”. In die baie mooi slotvers van die gedig verwoord die digter haar siening oor die liefde, die tydtransenderende werking daarvan, maar ook die hoop daarop:

Ek is van niks meer seker nie
behalwe dat die liefde
sinoniem is met tydloosheid
en dat as ek lief het, ek bevry is
van die kalender se heerskappy
en dat die winter onvoorsiens
omslaan in ’n opslagsomer.

Al sien die digter haarself as die Aspoester (39), al wens sy haarself nuutgeskep (40), al sien sy alle tekens van vriendskap as liefdesgeskenke (46), al besef sy “(o)m nog ’n liefdesvers te skryf,/ is dalk vir een leeftyd een te veel”, wat eintlik alles eensaamheid en kompensasie uitdruk, bly sy glo in die liefde.

“Hipotese” (45) gee in aansluiting hierby uitdrukking aan ’n gelate relativerende siening van liefde:

’n Laat liefde is dalk altyd bedoel
net vir onpaar maats:
twee eensaamhede wat mekaar bewaak
soos wat ’n halfmaan
in ’n helder poel weerkaats.

Die afdeling sluit egter af met ’n gedig oor Rodin en sy leerling en geliefde, Camille Claudel (“Die ewige idool”, 47). Die gedig verwoord pragtig hoe Rodin en Claudel se liefde en drif hulle in staat stel om kuns te skep: hulle beelde word “uit marmer en klei” geruk “in die strik van vlees en bloed”. Die gedig eindig met die suggestie dat volmaakte liefde net in die kuns kan bestaan:

… glo ons in die ewige liefde
wat net kunstenaars vergestalt.

Hierdie bundel is egter geensins net ’n bundel met verse oor en om die liefde nie. Allermins. Hoewel die bundel deurgaans gebind word deur deurlopende temas, fokus die verskillende afdelings op bepaalde aspekte. So is tyd en die teenoormekaarstelling van jeug en ouderdom ’n tema wat telkens in ’n ander gedaante na vore kom. En telkens, soos by die liefdesgedigte, word vervreemding en weemoed getemper deur hoop. In die aanvangsgedig word die ouderdom gerelativeer:

Besef

Dalk word die kreeftegang van die ouderom
in die aandbries soms ’n wandeling
saam met ’n onvervreemde God
in die tuin van ’n ontwakende aardse lente
en hoor jy skielik ’n voël
sing soos by oggendskemering.

Die onderliggende en vraende beskouing van religie, ’n soort versugting byna, is in hierdie vers, soos in baie ander, merkbaar. Hiermee saam kry mens die digter se intense natuurbewustheid. ’n Fyn aanvoeling vir die natuur, die seisoene, die tye van die dag, die geluide en kleure, is deurgaans ’n sterk kenmerk in bykans al die verse (vgl “Oggend”, 15; “Estetika”, 26; “Herlewing”, 27; ”Beskutting”, 29). Daarmee saam, soos in die gedig “Besluiteloos” (14) geïllustreer, is daar deurlopend die soek na en vind van uitkomste en hoop in die kunste. Wat my opval, is hoe in die gedigte van Spies, ’n deurwinterde digter en ervare mens in die wêreld van die kunste, verskillende verwysingsvelde en belewenisse werklik diep ineengegroei is. In “Beskutting” (29) word die Stellenbosse winter ’n “Hollandse sewentiende-eeuse stillewe” ’n “akwarel” van beskutting teenoor die fel somer “wat niks verdoesel en teen smart/ geen beskutting bied”. In “Himne aan die herfs” (28) is die digter se eie herfservaring volledig vergroei met Keats se “Ode to Autumn”. Die manier waarop die wêreldliteratuur en -kuns saampraat in die gedigte is vir my iets anders as óf allusies soos by Eliot óf intertekstualiteit in teoretiese sin.

Miskien het ons ’n ander term nodig, ’n term wat ineengestrengelde en vergroeide kennis, eintlik wete meer as kennis, op die vlak van belewenis beskryf. Die meeste skrywers weet nie eers meer dat, of hoe, hulle wéét van dinge nie – dit het belewing en bestaan geword. En waar lê die onderskeid tussen belewing, menslik-gedinkte en -bedinkte sien en hoor en emosionele ervaring en reaksie aan die een kant en taal en literêre vormgewing aan die ander kant? In veral die poësie is daardie onderskeide baie vaag en ineengevloei.

Spies skryf inderdaad persoonlike verse, gedigte oor mense wat sy geken het, mense wat merkwaardige dinge oorgekom het of mense wie se lewens haar aangryp. Die toonaard van Spies se digterlike verwondering en bespiegeling oor lewensvraagstukke sluit dikwels op verskuilde wyse aan by digters soos Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Waar Eybers meer intellektueel en tegnies met byna matematiese presisie skryf, verwoord Dickinson haar vrae oor onreg, oor smart, oor die gang van die menslike bestaan tegelyk trefseker en stamelend op haar unieke manier. Spies maak ’n vrye vertaling van Dickinson se gedig “I measure every Grief I meet” – ’n erkenning van en waardering vir hierdie merkwaardige digter. Dit is dan ook ’n uiters geslaagde vertaling wat op sigself ’n nuwe treffende gedig in Afrikaans is.

Vir hierdie soort digters gaan die lewe juis oor die klein ervaring, oor reaksie op klein kwellinge en herhalende universele menslike ervarings: die digter moet te rade gaan met die wete dat ’n kind of jongmens voortydig gesterf het, of ’n vriend aan breinkanker, of ’n vriend in ’n ver land. Net so sal die digter haar onvolkome verhouding met haar eie moeder vanuit haar eie kinderloosheid vir haarself probeer beredeneer. Dit gaan nie altyd om grootse sake nie, maar juis om die liriese uitdrukking van die subjektiewe ervaring.

Tog word Spies ook aangegryp deur sake wat in ’n groter, wyer wêreld afspeel. In die vierde afdeling in die bundel kom haar religieuse aanvoeling en haar bemoeienis met historiese en sosiale onregte bymekaar. Die vertaling van Celan se “Todesfuge” lei hierdie afdeling in en dan volg daar verse oor verskillende vorme van verlies en skending. In “Verlies” (61) gaan die digter se belewenis van ’n besoek aan ’n uitwissingslokaal oor in ’n bespiegeling oor die verlies aan die ware inhoud van die Christelike boodskap by mense wat vergrype pleeg. In “Die weerloses” (64) gaan dit oor vergrype gepleeg teenoor kinders, spesifiek klein dogtertjies, oor hoe mens met “die een wat ’n brose kleintjie skend … geen raad” weet nie. Dit is duidelik dat die digter diep besin oor wie en wat Jesus is, op sigself en vir mense, maar wat wel opval, is dat die digter wel oplugting soek en vind, enersyds in ’n Jesus wat “sy glas lig en sê ‘L’chayim’” en in die gawes wat God aan kunstenaars gee, aan die violis Zuckerman of die komponis Mendelssohn of die sangeres Cecilia Bartoli. Desnieteenstaande ervaar die digteres God nooit as ’n maklike uitweg of antwoord nie, maar juis in terme van alles wat sy nie kan beheer nie: “God is in my woordeloosheid” (“Transendent”, 76).

In die laaste afdeling word die fokus nouer getrek, na die digter se eie Suid-Afrikaanse omstandighede, en uit hierdie verse kom ’n lament voort oor die verlede, maar ook oor die hede van hierdie land. Ouer digters kon plekke van herkoms in liedere besing, maar nou heers onvrede en daar is steeds oral brand. Alle plekke is aangetas deur ontnugtering en verwoesting. Dan kan mens dalk vra wie in hierdie vers werklik die “agtergeblewene” is (79). Dit neem moed om in die huidige Suid-Afrika openlik vrae te vra oor die vernietiging van die hoop van 1994, maar die digter skram nie weg van óf die diere wat in plakkerskampe saam met eiendom en mense se ganse leeftog verbrand óf van die verlies van mense wat Afrikaans op hulle hart dra nie. Die digter gee toe “te veel van my verse/ was pleisters op eie wonde” (83) en erken die vergrype van die verlede, maar sy treur oor die feit dat mense in hierdie land mekaar steeds nie in die oë kan kyk nie en vervreemd raak: “ek … sing nou my versuimde treursang” (84). Tog sluit die bundel af op ’n positiewe noot as die digter beskryf hoe Randall Wicomb se broer nou tog uit die skaduwee van ’n beroemde broer uit in “die sonlig van die nuwe suid-Afrika” kan instap.

In hierdie laaste afdeling van Sulamiet verwoord Spies die gevoel wat tans meer algemeen is as wat mens graag sou wou hê, naamlik die teleurstelling en spyt oor verspeelde kanse, nou weer vir die soveelste keer in die Suid-Afrikaansse geskiedenis. Dis of daar telkens net nuwe slagoffers is. En tog word daar vasgehou aan hoop, word die positiewe steeds genoem, is daar steeds die behoefte en drang om die positiewe te stel en te bevestig.

Hierdie bundel is Lina Spies se oeuvre waardig. Die verse is inhoudelik veelkantig en deurdag. Tegnies is dit helder en ongekompliseerde verse, eenvoudig en direk in struktuur en segging. Hier en daar verloor ’n reël sy spanning as gevolg van die gelykmatige praattoon, maar dit val my tog op dat die verse ritmies steeds voortstu en so die dieptepunte oorkom.

Wat genoem moet word, is dat hoewel die bundel tematies aansluit by Spies se vorige werk, die verse tog opnuut tref. Dit gaan weer eens oor die digter se eie bemoeienisse, oor menslike smart vanweë kleiner en groter sake, die voortdurende menslike strewe om te begryp, die mens se behoefte om te huil en te troos, al is dit selftroos. Maar hierdie temas is in werklikheid die bemoeienis van die meeste digters van alle tye. In hierdie bundel val Spies se fokus spesifiek op die verwerking van smart, veral die smart oor kinders en vriende. Die digter staan midde in die natuur vir elke belewenis; sy bemoei haar opnuut met die lot van die Jodedom (vgl ook haar baie geslaagde en oortuigende vertaling van die dagboek van Anne Frank). Sy dink steeds in terme van die kuns in al sy vorme, maar die skryf self geskied met ’n onfeilbare aanvoeling vir die taal in al sy eenvoud en direktheid, sy vloei, sy klank en sy ritme. En daaruit kom ’n ryk mosaïek van verse voort.

Die bundel is netjies versorg met ’n omvoubuiteblad met ’n mooi ontwerp, en is uitgegee deur Naledi.

Mag vele lesers vreugde hê aan hierdie bundel liriese poësie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top