Suidoosterfeesbekendstelling 2017: Japie Gouws se toespraak

  • 0

Hier is Japie Gouws, Besturende direkteur ATKV-groep, se toespraak by die bekendstelling van die Suidoosterfees 2017.

Die skrywer Pieter Verwey se debuutboek, Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok, handel oor ’n oordeelsdagmasjien wat die hele wêreld kan laat vries en – ter wille van almal se veiligheid – in die middel van die Karoo weggesteek word. Clint Eastwood van Wyk en sy Amerikaanse nefie Budde ontdek egter die masjien tydens ’n familievakansie in die Moordenaarskaroo. Die leser word pens en pootjies by die verhaal ingetrek. Die boek bevat ook Griekwa-stories en ou legendes wat dit ’n eg Suid-Afrikaanse verhaal maak.

Pieter het eendag op Stellenbosch op ’n standbeeld van ’n meisie wat hardloop afgekom. Die standbeeld het hom laat dink aan die ou legende wat sê as jy om middernag wanneer die muurklok slaan, jou gesig trek, sal dit so bly staan. Hy het toe gewonder of daar werklik so ’n muurklok bestaan. Dit het hom gelei na die Laingsburg-museum, waar hy wonderlike stories opgediep het, van verhale oor reuseskerpioene tot legendes oor spoke.

Ons in Suid-Afrika het baie legendes – mense wat beroemd is en bewonder word vir hulle goedheid of iets wat hulle gedoen het: Nelson Mandela, CJ Langenhoven, Eva van Krotoa, Helen Susman, Wolraad Woltemade, Racheltjie de Beer.

Ou bekende en somtyds ook onbekende stories, dikwels oor helde, avonture of fantastiese gebeure, wat geslag na geslag oorvertel word sonder noodwendig enige bewys dat dit waar is, is natuurlik ook legendes.

Joan Hambidge skryf in Visums by verstek:

Die siel is ’n paleis vol geheime:
Met elke reis demistifiseer
ons ’n vroeër ongesiende plek.
Die siel is ’n paleis vol geheime,
Legendes en mites – heerlike
juwele vir ontdek.

Ons leef in uitdagende tye. Politici predik nasiebou en versoening, maar verstaan meestal nie ’n snars daarvan nie. Ek glo steeds dat taal en kultuur die ontsnappingsroete is om by die politici verby te kom.

Daar is geen kuns by sukkel en geen sukkel by kuns nie, het CJ Langenhoven gesê.

Hennie Aucamp het geskryf dat jy jou vyande met groot oorleg moet kies, want ’n toegewyde vyand is ’n onuitputlike inspirasiebron.

Ons as Afrikaanses, wat nog te sê van Suid-Afrikaanses, ken nog nie genoeg van die legendes en mites, maar ook van die ware stories, van mekaar nie. Dit is waar ons heil lê – in die opdiep en opskryf en oorvertel daarvan.

Adam Small sê op ’n slag: daardie Afrikaanse ghetto, die plek waarvan jy sê die dak afgewaai het, het darem so ’n paar kamers gehad waar die dak intact gebly het ... Daar is ’n paar skeure in, maar die affêre staan darem nog. Wanneer jy rondgegaan het in die huis, het jy darem so ’n paar dinge wat waardevol is, opgetel, selfs in daardie dele waarvan die blêddie dak afgewaai het.

Ons land se leuse sê “eenheid in diversiteit”. Die diverse agtergrond van ons Afrikaanses is ’n bate. Jan Rabie skryf destyds dat Afrikaans een van Suid-Afrika se trotsste veelrassige prestasies is.

Koos Kombuis dig:

Plant vir my ’n Namibsroos
Verafgeleë Welwitchia
Hervestig hom in Hillbrow
En doop hom Khayelitsha.

En uit Die Krismis van Map Jacobs:

Mens moet belong ...
by hook or by crook ...
somehow ...
That’s the secret of living, believe me ...
To belong, man ...

Kom ons raak ontslae van ons oordeelsdagmasjien wat ons laat vries; kom ons ontgin ons paleise vol geheime; kom ons kies ons vyande met oorleg; kom ons soek die waardevolle goed, al het die dak afgewaai; kom ons wees trots op Afrikaans se prestasies; kom ons belong ...

Sterkte met die 2017 Suidooster-fees!

Japie Gouws
Besturende direkteur ATKV-groep
30 November 2016

  • Foto: Naomi Bruwer
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top