Suidoosterfees 2018: ’n onderhoud oor die Jakes Gerwel Stigting se diskoers- en boekgesprekke

  • 0

Die Jakes Gerwel Stigting is reeds lank ’n vennoot van die Suidoosterfees. Wat is die agtergrond van hierdie vennootskap? 

Dit was Jakes Gerwel se droom om ’n fees in die Kaap te begin wat totaal en al naatloos is en waar die ryke kulturele leefwêrelde van die uiteenlopende gemeenskappe by mekaar uitkom en sodoende verrykend en verruimend is van die kunste in al sy verskeie gedaantes. Dit is een van die grootste redes waarom die Jakes Gerwel Stigting ’n vennootskap met die Suidoosterfees het, maar ook omdat die stigting hierdie selfde visie van omarming in en deur die kunste, onder andere, nastreef.

In watter hoedanigheid is die stigting by vanjaar se fees betrokke? 

Die stigting beywer hom vir die bevordering van die letterkunde in die breedste sin van die woord. Ons wil deur die letterkunde ’n bydrae lewer tot verskeie gemeenskappe deur ondersteuningsprogramme en glo dis noodsaaklik om die letterkunde juis daarheen te neem waar dit die nodigste is. By die Suidoosterfees bied ons die diskoers- en boekprogramme aan om sodoende by te dra tot ope gesprek, nadenke en hopelik ook die lees van boeke en ontmoeting met skrywers en denkers.

Watter diskoersgesprekke word vanjaar aangebied en waarom het julle hierdie onderwerpe gekies? 

Die stigting se klem val baie sterk op opvoedkunde en daarom het ons saam met RSG se Praat saam ’n gesprek aangepak oor skole wat onder die moeilikste van omstandighede uitblink. Verder wil ons graag nasionale diskoers stimuleer en het ons die gesprek bedink oor “Suid-Afrika kan werk – maar hoe?” Ons wil positief en konstruktief praat oor die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, en hoe ons na praktiese en kreatiewe oplossings kan soek. Skrywers en meningvormers soos Jacques Pauw, Frans Rautenbach en Sizwe Mpofu-Walsh, met Waldimar Pelser as gespreksvennoot, is betrokke. Verder is ons in vennootskap met die ATR (Afrikaanse Taalraad) en kyk ons na die toekomswaarde van Afrikaans, met die klem nogmaals op onderwys: na watter medium skole stuur Afrikaanse ouers hul kinders? Maak dit sin om jou kinders na ’n Afrikaanse skool te stuur as hulle moontlik in Engels hul brood en botter gaan verdien? Anne-Marie Beukes, Basil Kivedo, Conrad Steenkamp en Christo van der Rheede (gespreksleier) is hier op die paneel.

Jacques Pauw

Sizwe Mpofu-Walsh

Conrad Steenkamp

Wat is die boekgesprekke waarna feesgangers vanjaar kan uitsien?

Ons het drie uiteenlopende programme waarna feesgangers kan uitsien – die nuwe boek oor Ingrid Jonker deur Petrovna Metelerkamp word bespreek met Suzette Kotzé-Myburgh. Sedert Jonker se dood is daar vele vrae en bespiegelings oor haar lewe en tragiese einde. Van dié vrae word beantwoord in ’n eerste omvattende biografie deur Metelerkamp. Sy neem die leser saam deur Ingrid se grootwordjare, digterslewe, liefdesverhoudings en die laaste paar jaar van haar lewe, en bring nuwe inligting aan die lig.

Petrovna Metelerkamp

Erns Grundling, die reisjoernalis wat die wegholsukses Elders geskryf het na sy staptog in die Camino, gesels saam met die filmvervaardigers Niel van Deventer en Charlene Brouwer oor die reis wat gestap is om van die boek ’n dokumentêre werk vir kykNET te maak. Jolyn Philips, Bibi Slippers, Churchil Naudé, Ryan Pedro, Frazer Barry, Marcel Spaumer en Annie Klopper (gespreksleier) gesels oor die nuwe gesig van die Afrikaanse digkuns. Waaroor skryf jonger-generasie-digters en hoe verskil hulle van, of word hulle geïnspireer deur, hul voorgangers? Dis onder meer wat in hierdie digkunsgesprek gevra sal word.

Erns Grundling

Ryan Pedro

Is daar ander produksies op die Suidoosterfees waarna jy spesifiek uitsien?

Ek sien uit na die visuelekunsuitstalling, die Kaapse Khoi Jazz, die Nati Jong Sterre, en om te kuier in die fluweelkamer met al die opwindende kabaret en ander aanbiedings wat daar gaan wees.

Klik gerus op www.jgf.org.za om meer te lees oor die Jakes Gerwel Stigting se boek- en diskoersprogramme by die Suidoosterfees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top