Suidoosterfees 2018: ’n onderhoud met Frans Swart oor Fiela se kind

  • 0

"God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie."

Die bruin vrou Fiela Komoetie het haar wit vondelingkind Benjamin met liefde en trots grootgemaak, tot die dag nege jaar later dat die sensusmanne hom kom haal het. “Hulle het hom net kom vat … sommer net so!” het Fiela Komoetie gesê. Aan die ander kant van die berg, in die Bos, woon die houtkapper Elias van Rooyen en sy vrou, Barta, wie se driejarige Lukas weggeraak het. Is Benjamin en Lukas dieselfde kind? Jare later is dit Benjamin/Lukas self wat worstel met die vraag: Wie is ek? Hy móét weet, anders kan die vrou wat hy liefgekry het, nooit syne wees nie. Die antwoord is daar, weet hy: iewers in homself, diep verskuil in die verlede, maar dit bly hom ontwyk.

Dit is die roerende gegewe waarmee die verhoogverwerking van Dalene Matthee se trefferboek Fiela se kind (met regie deur Frans Swart van Lefra Produksies) gehore boei. Dit is een van die vlagskipproduksies by vanjaar se Suidoosterfees.

“Dié produksie lê my regtig baie na aan die hart, want dit is my derde Fiela-verhoogstuk oor dertig jaar,” sê Frans

Toe sy bemarkingsbestuurder, Charl Senekal, navorsing begin doen het vir Fiela se programnotas, besef Frans hy het Fiela met tussenpouses van tien jaar gedoen: 1997, 2007 en toe weer in 2017.

“Dit was werklik nooit so beplan nie. Fiela, of Dalene, kom klop self aan my deur en sê: ‘Dis nou weer tyd!’ En ek sê ja!”

Frans vertel hy het Dalene iewers in die middel-negentigerjare – “as ’n baie jong én voortvarende regisseurtjie” – gebel met ’n versoek.

“Vir my was sy toe nog ‘Mevrou Matthee’.”

En hy sê vir haar: “Ek wil bitter graag Fiela se kind opvoer.”

"Nee!" sê sy. "Fiela gaan nie weer verhoog toe nie. Ek het te veel moeilikheid gehad met die opvoerings by die Nico Malan-teater."

Frans se moed het in sy skoene gesak, want hy was bewus van die konsternasie rondom daardie opvoering!

Die storie loop glo só: Die formidabele aktrise en regisseur Suzanne van Wijk (wat die Akademie vir Dramakuns saam met Babs Laker en Aletta Gericke begin het) het die verhoogwerking behartig en sy was ook die regisseur van die produksie.

Daar wás baie groot moeilikheid tussen Suzanne en die bestuur van die Nico Malan (Gé Korsten was daardie jare die uitvoerende direkteur) oor wie die rol van Fiela in daardie tyd moes vertolk (Suzanne het iemand anders in gedagte gehad), dermate dat sy op ’n stadium die teater verbied is: die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld waar ’n regisseur haar eie produksie verbied is!

Nietemin, Suzanne het ’n skitterende job gedoen en Fiela was ’n ongekende sukses. Die produksie het maande lank uitverkoop. Mense het op die trappe van die Nico Malan patats gaargemaak en dit was ’n aardigheid hoe mense hulle in die storie van Fiela ingeleef het.

Maar in Dalene se kop was dit net een ding: Fiela op die verhoog beteken moeilikheid.

Maar Frans, toe 36, ’n skrywer, akteur en regisseur en ’n mediakenner wat met ’n honneursgraad in die kommunikasiekunde toegerus was en ’n lisensiaat en diploma in spraak en drama verwerf het, deins nie weg van ’n uitdaging nie. "Nee Mevrou, ek gaan geen moeilikheid maak met Fiela nie. Dit gaan ’n wonderlike produksie wees."

Toe sê sy vir hom: "Goed, maar ek het net ’n halfuur tyd. Ek is besig met Toorbos en ek het nie tyd om te mors nie."

En so vlieg Frans van Johannesburg af George toe en ry Hartenbos toe.

Bewerig klop hy aan die deur. “Ek was nie eers so bang toe ek moes army toe gaan nie!”

Die formidabele skrywer maak die deur oop en bars uit van die lag.

Toe is Frans éérs bang!

"Maar jy is bloedjonk! Kom in. Kom in. Maar ek het net 30 minute. Ek kan nie my tyd met praatjies mors nie. Ek skryf! Wil jy tee hê?"

Frans gaan sit op een van die stoele. Neffens hom sit ’n steekhaarbeertjie (soos Rupert the Bear). Uit senuweeagtigheid tel hy die beertjie op en hou dit op sy skoot vas.

Dalene kom terug met die tee. "O ek sien jy het vir Beertjie ontmoet … Ek onthou nie Beertjie se naam nie. Ons het seker 200 beertjies. Maar net so vyf kom elke dag uit sitkamer toe."

Hulle begin gesels. Frans raak opgewonde oor hoe hy Fiela vir die verhoog wil aanpak.

Hy kan sien dit interesseer Dalene. Hulle gesels land en sand. Oor die letterkunde, oor die verhoog, oor die onreg van Fiela en haar optelkind.

Die halfuur word seker vier ure. "Jy moet weer kom. Ek wil vir jou die feetjies in die bos gaan wys. Maar wil jy nie bly vir braai nie? Jy het seker nog niks vandag geëet nie?"

Dalene roep haar man, Larius, en vra of hy vir hulle en hul dogter Hilary ’n vleisie gaan braai.

Frans onthou met deernis. Hulle gesels en gesels. Sy wys vir hom haar weelderige Mercedes wat sy gekoop het met al die oorsese geld van Fiela. Agter op die kattebak is daar ’n groot ronde brandmerk.

Frans vra uit.

"Nee," sê sy: "Ons vier elke jaar die Mercedes se verjaarsdag. Dan steek ons ’n kers aan en eet koek uit dankbaarheid vir die grênd kar."

Hulle braai. Hulle gesels. Hulle filosofeer. “Ek moet my vlug twee keer uitstel. En so het ek die regte van Fiela se kind by Dalene self gekry: amptelike toestemming om Fiela weer verhoog toe te neem!” juig Frans.

Frans het teruggegaan en Dalene Matthee sélf het hom bos toe geneem. “Ons stap deur die bos. Sy wys my waar die feetjies en dwergies woon. Ek kon hulle nie sien nie, maar ek kon sweer hulle was daar. Ek kon ervaar hoe hulle in die sonstrale wat deur die massiewe bome se blare skyn, vlieg en baljaar. Ons sien nie die grootvoete nie, want mense mag nie hul name hardop se nie, dan trap hulle jou. Ek is maar skrikkerig. Ai, wat ’n ervaring om saam met hierdie boskenner haar paadjies te stap ...” mymer die herinneringe. “Ek glo steeds dat daai beertjie op my skoot my gehelp het om die regte vir Fiela te bekom.”

Frans Swart en Dalene Matthee

Hoe transponeer ’n verwerker en regisseur ’n roman na ’n verhoogdrama?

Dit is nogal ’n missie. Op rolprent is dit maklik! Jy skiet waar jy wil en moet wees. Dan in die Langekloof, dan in die bos, dan by die Magistraat, dan by die see, dan by Miss Weatherbury se huis, en, en, en ...

Dit was dus ’n groot uitdaging vir ons op die verhoog, want toneelveranderings moet binne sekondes gebeur, anders gaan die gehoor verveeld raak. As basis het ons ’n groot sirkelloopvorm. Dit simboliseer Benjamin se lewe wat 360 grade geloop het om weer by Fiela uit te kom. Ons het baie minimalisties gewerk. Fiela se tonele speel af in die oop Langekloof met lekker blou op die siklorama; so vreugdevol. Die bosmense se tonele is donker en toe, bedruk en glad nie gelukkig nie!

Ons het wonderlike tonele geskep met beligting en doeke om die bos te simboliseer. En dan die see – oop en blou. Suzanne het ’n wonderlike verwerking van die boek na die dramateks gedoen. Ek het hier en daar klein veranderings aangebring, maar omdat sy so ’n oog vir die teater gehad het, kon ek sien sy sien die tonele soos sy geskryf en verwerk het. Fiela se storie is so sterk dat jy nie nodig het om te veel met dekor te karring nie. Die essensie is daar. Die kostuums deur Jane Naudé en Juantel Venter is briljant en dra beslis by tot die periode en die karakterisering.

Dalene se inskrywing aan Frans in die roman

Waarom is Fiela se kind steeds in 2018 relevant?

Emily Hobhouse het dié wonderlike woorde gesê: "Not until power was given unto men, could it be known what is in them."

En dis waaroor Fiela vir my gaan: mag. Mag wat misbruik word. As ’n mens nie mag het nie, sal jy nooit weet waartoe jy in staat is nie. Mag mág egter nie misbruik word nie. Mag moet ’n mens bemagtig om keuses te kan uitoefen.

Fiela gaan nie oor die politiek nie. Dit gaan ook nie oor mense se kleur nie. Onthou: Fiela se storie – ’n ware verhaal – speel in die 1874's af. In Dalene se bronne gee sy byvoorbeeld erkenning aan Elizabeth Grimble wat Benjamin persoonlik geken het en wat Benjamin se storie aan Dalene vertel het.

Hoewel baie mense ’n apartheidsbordjie om Fiela se kind wil hang, is dit beslis nie geldig nie. Dit het tydens die Britse regeringsbewind gebeur. Daarom dat Fiela so bly is dat die Magistraat Hollands kan praat. En dit bring my by die mag van een man: die Magistraat. Hy het in een sinnetjie wat twee minute geduur het, ’n beslissing gemaak wat van Benjamin Komoetie eensklaps Lukas van Rooyen gemaak het.

En dis werklik vir my die essensie en relevansie van Fiela se kind. Die misbruik van mag en hoe dit mense se lewens kan opdonner. Die ou wat die mag in die hand het, dink glad nie daaraan nie.

Shaleen Surtie-Richards stel dit ook so mooi. Behalwe die mag, gaan Fiela oor die liefde. Die liefde wat ’n ma vir haar kind het. Dat sy die berg ’n paar keer aanpak om haar kind te gaan soek. En dan die wonderlike uiteinde. Die liefde seëvier. Lukas kom terug en sê vir Fiela: "Ma ... Ma ... ek is terug, Ma ... en Ma... my naam is Benjamin Komoetie, Ma!"

Kleur is werklik nie vir my die kwessie in Fiela nie. Dit kon enige kind gewees het. Natuurlik moes die mense in die Langekloof gepraat het oor Fiela se wit hanskind. Maar sy was ’n formidabele vrou wat nie eers een keer daaroor bekommerd was nie. Sy het ook nie kleur gesien nie. Sy het ’n kind in nood gesien. Politici in ons land (wat ook magsbehep is) sien en misbruik kleur vir eie gewin. Tussen gewone mense word daar bitter min kleur gesien.

Ja, natuurlik is daar uitsonderings op die reël. En dis wat my die hele tyd by die magsbeheptheid bring – hoe kan ek kleur gebruik as vorm van mag om by my eie plannetjies uit te kom. As politici nie apartheid aan die lewe hou nie, dan is daar eintlik niks waaroor daar gewroeg kan word nie.

En dit vat Fiela vir my so mooi raak. Ja, die outoriteit het haar kind wederregtelik van haar weggevat. Maar: sy baklei haar hande af om hom (die wit kind) terug te kry. En daardie onvoorwaardelike, algehele liefde en oorgawe maak dit vir Lukas van Rooyen baie duidelik wie sy eintlike ma is, en daarom gaan hy terug na Fiela toe.

’n Blad uit die program

Wat is die een ding wat jy bloot nie kan verstaan en/of mee saamstem wanneer dit gaan oor Afrikaanse musiek, teater kuns en kultuur nie?

Een ding wat ek werklik nie kan verstaan nie, is dat Afrikaners wragtag sukkel om van hulle stoele af op te staan vir ’n staande toejuiging as hulle iets werklik geniet het. Ek sê nie jy moet opstaan vir iets wat substandaard is nie. Maar, donner, hoekom aan jou stoel vasgekluister sit as jy ’n wonderlike teaterervaring gehad het?! Magtag man, staan op, moenie worry wat die ou langs jou gaan sê nie, want hy het tien teen een net vir jou gewag, en klap hande asof jou lewe daarvan afhang. Wat is dan nou lekkerder as om, wanneer daar ’n buiging is, vir die akteurs of sangers ’n lekker staande toejuiging en sterk applous te gee vir hul harde werk op die verhoog? In ons werk gaan dit net oor die applous en beslis nie oor die geld nie. Ek het al in Europa staande toejuigings van tot 15 minute ervaar. En dit bly my tot vandag toe by. Hoekom doen ons dit nie in Suid-Afrika nie?

As jy iets aan die Afrikaanse musiek-, teater-, kuns- en kultuurfront kon verander, wat sou wees?

Ek sou graag dieper werk in musiek en teater wou sien. Meer sielsgoed.

En daarby: weet jy dalk hoe dit gedoen kan word?

Ons mense moet dit net ondersteun. Hoekom is die ernstige songs van Koos du Plessis en Johannes Kerkorrel tot vandag toe immer gewild?

Meen jy Afrikaans se voortbestaan word bedreig?

Nee, beslis nie! Ek het my doodgelag toe daar ’n drukgroepie was wat Coke aangevat oor daar nie Afrikaans op die blikkie geskryf word nie. My donner, wie lees ’n Coke-blikkie? Ek het vir daai ouens gesê agge-nee man, so gaan jy nie Afrikaans bevorder nie. Onderstéún Afrikaans. Koop ’n boek, gaan na ’n Afrikaanse konsert toe – en práát Afrikaans. As ek al die jong Afrikaanse bands bekyk, dan het ons niks om oor bekommerd te wees nie. Dis nou cool om Afrikaans te wees en te luister. Ek meen Afrikaans was nog nooit sterker as juis nou nie.

Wat kan gedoen word om ons mooie taal se voortbestaan te verseker?

Praat dit met trots. Ondersteun Afrikaanse vermaak en wees trots op Afrikaans. Ons moet ook weer die onderwysdepartemente oortuig dat hulle teater as deel van die kurrikulum moet aanbied – al is dit net vir kinders om teaters te besoek en opvoerings by te woon.

  • Suzanne van Wijk se wonderlike drama-aanpassing van Dalene se roman is deur NB-Uitgewers in boekvorm, Fiela – die drama, gepubliseer en is nou voorgeskryf vir matrieks wat Afrikaans Addisionele Taal neem. Frans het die voorwoord vir die studiegids geskryf en Lefra se foto’s van die 2007-produksie word in die boek as toeligtingsmateriaal gebruik.
  • Frans se se bydrae tot die bevordering van Afrikaanse teater en die Afrikaanse kultuur is onder meer met ’n Naledi-toekenning en ’n erepenning van die ATKV vereer.

Shaleen Surtie-Richards en Eloff Snyman

Fiela se kind – met Shaleen Surtie-Richards en Marissa Claasen, Jaime du Toit, Edrien Erasmus, Johny Klein, Paul Lückhoff, Divan Prinsloo, Eloff snyman, Graigan Swartz, Marilise van Wyk, Phillru van Achterbergh, Nardus van der Vyver en Dirk Vermeulen

26 April (18h00), 27 April (16h00), 28 April (09h00), 30 April (11:00) by die kykNET-teater

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top