Suidoosterfees 2018: ’n Onderhoud met Deborah Steinmair oor Die Fledermaus-operette

  • 0

https://www.suidoosterfees.co.za/project/die-fledermaus-operette/

Deborah Steinmair vertel vir Naomi Meyer van haar betrokkenheid by Die Fledermaus-operette by die Suidoosterfees.

Deborah, jy het die teks van Die Fledermaus-operette vir die Suidoosterfees vertaal. Hoe vertaal mens ’n opera? Nie net om die taal reg te kry nie, maar ook om dit te laat inpas by die musikale komponent (die twee loop tog hand aan hand)?

Nee gits, die operette is in Afrikaans, Engels en Xhosa. Ek het net die liedjies vertaal, en nie vir sangdoeleindes nie; hulle word in Duits gesing – net die surtitels word in Afrikaans geprojekteer. Niël Rademan het my gevra om dit in ’n flonkerende Afrikaans te vertaal, want die vertalings wat bestaan is formeel en gedateer.

Wat is jou aanslag? Om getrou te bly aan die teks, om dit te laat werk saam met die stem en musiek, om satiries te interpreteer?

Die versoeking bestaan altyd om redelik direk uit Duits in Afrikaans te vertaal, omdat jy kan; maar dan sit jy met ’n stywehol Afrikaans. So ek het gemik vir gevatte stuitigheid wat nie vreemd op die plaaslike oor val nie. Ek het tog die metrum probeer behou, al word my vertalings nie gesing nie, ter wille van leesgemak en ritme.

Jy behartig nie net die vertaling hiervan nie. Wat is jou verdere rolle en betrokkenheid by hierdie produksie? 

Blykbaar gaan ek ook die masjien beheer wat die surtitels projekteer – daarvoor word ek twee dae voor die eerste vertoning afgevlieg Kaapstad toe om te gaan repeteer. Dit voel soos daardie drome waarin jy skielik ’n eksamen in Grieks moet aflê. Of soos my vriendin Marisa, nie besonder musikaal nie, wat ingewillig het om vroeg een Sondagoggend vir haar vriend Jeremy die “stoppe” te gaan uittrek (jammer, ek ken nie die regte terminologie nie) vir die kerkorrel. Haar ouers loop mekaar vakerig in die badkamer raak en haar ma deel haar pa terloops mee: “Marisa het die orrel gaan speel in die Metodistekerk.”

Vertel my die storie van die wraak van die vlermuis, in jou eie woorde?

Die Flerriemuis herinner my aan daardie Restoration Comedies wat ons in Engels II behandel het: ’n komedie van blapse, so tipies frivool en teatraal, vol misverstand, spulsheid en koerasie. Dis Oujaarsaand in Wene, 1899. Rosalinde se ou minnaar sing onder haar venster. Sy is intussen getroud met die welgestelde Von Eisenstein. Hy is op pad tronk toe nadat hy ’n polisieman aangerand het. Sy wraaksugtige vriend Falke (die berugte Vlermuis) oorreed hom om eers die volgende oggend by die selle aan te meld en die aand saam met hom na prins Orlofsky se bal te gaan. Die verveelde prins Orlofsky het die gewoonte om mense te betaal om hom te laat lag – gewoonlik vergeefs.

Rosalinde se lyfeiene, Adele, is ook deur haar suster Ida na dieselfde opskop genooi. Planmaker Falke oorreed Rosalinde om ook die bal by te woon, in vermomming sodat sy haar man met ander vroue kan sien flankeer. Rosalinde laat dan tog haar ou geliefde, die bronstige tenoor Alfred, binne. Frank die tronkbewaarder daag op om Von Eisenstein te kom haal en Rosalinde oorreed die stomme Alfred om hom as haar eggenoot voor te doen en tronk toe te gaan. Adele doen haar voor as ’n Russiese aktrise en Frank, wat intussen ook by die bal is, raak halsoorkop verlief op haar. Hy doen hom voor as ’n Franse impresario. (Naomi, jy ken die storie sekerlik, maar ek weet nie of die leser nog byhou nie.) Elk geval, Rosalinde daag op, vermom as ’n Hongaarse gravin, net betyds om haar man met haar diensmeisie te sien flankeer. Sy lê by hom aan, met groot sukses, en steel sy beroemde horlosie.

Om sesuur die oggend haas Von Eisenstein hom tronk toe en sien sy sel is reeds beset deur iemand wat sy identiteit gesteel het en glo by sy vrou aangetref is. Hy steel sy prokureur se pruik, bril en toga en doen hom as regsgeleerde voor om die identiteitsdief te konfronteer. Rosalinde storm in, onderhandel vir Alfred se vrylating en vra die “prokureur” om haar te verteenwoordig in ’n egskeidingsaak. Eisenstein laat sy vermomming sak en konfronteer haar met haar ontrouheid. Sy bring sy horlosie te voorskyn en albei is uitgevang. Hulle bekla die staat van hul huwelik en stem saam dat egskeiding onnodig is omdat hulle mekaar nog liefhet. Falke sien sy plannetjie het misluk. Hy betreur sy lot en die mislukking wat sy lewe is, toe prins Orlofsky en sy gevolg opdaag en dit aanhoor. Die prins lag hard en aanhoudend.

Wat het jy voor hierdie projek van Die Fledermaus geweet en wat weet jy nou?

Vroeër het ek ’n vae idee gehad van hartstog, wraak en vermommings; nou weet ek ’n bietjie meer en sien uit daarna om dit op die verhoog te sien.

Wie is almal betrokke hierby? 

Die dirigent Johannes Slabbert, regisseur Raimondo van Staden, ontwerper Alfred Rietman en verhoogbestuurder Dian Harcovecchio.

Toe hierdie produksie oorspronklik geskep is, het ’n gehoor ’n sekere vermaaklikheidsverwagting gehad. Vandag se gehore verwag ander en meer onmiddellike dinge. Dink jy aan die gehoor as jy iets vertaal? Of dink jy aan die teks en die musiek van dit waarmee jy besig is? Anders gestel: vir wie behartig jy die vertaling? 

Ek behartig die vertaling suiwer vir die gehoor. Die sangers doen hul eie ding en die gehoor moet verstaan – in ’n eietydse idioom – waaroor die gedawer gaan.

Is daar nog enigiets anders op die Suidoosterfees se program waarna jy uitsien om by te woon?

Ek sal graag Rokkie met Charlton George wil sien, Die reuk van appels en die boekgesprek met Petrovna Metelerkamp oor haar nuwe Ingrid Jonker-boek.

Ten slotte, vertel my van jou en Duits se liefdesgeskiedenis.

Duits het my gekies. Dit was die enigste uitheemse taal wat ons hoërskool aangebied het. Ons onderwyser was fanaties oor taalreëls, wat hy net in Afrikaans verduidelik het. Ons moes naamvalle soos tafels opsê. Ons mog slegs vaste uitdrukkings, waarvan ons ’n lang lys moes memoriseer, in ons opstelle gebruik, sodat ons nie taalfoute maak nie; bv: Sie klätschen in die Hände. Seit den Unfallen ist mir die Freude am Autofahren vergangen. Oninteressante opstelle, jy kan jou voorstel.

Toe is ek met ’n Oostenryker getroud en hy het beweer my Duits is beter as syne, omdat ek net hierdie stywerug juweeltjies opgedis het. Toe ons Oostenryk toe is, het ek aanvanklik gesukkel om die dialek te verstaan, maar ons het ses maande daar gewoon en ek het die dorpie se klein bib omtrent leeggelees, totdat ek nie meer agtergekom het ek lees Duits nie.

Ons is geskei, maar dit was nie die einde van my reis met Duits nie. Ek werk toe in Brits, naby my ouers se plasie, in ’n Duitse fabriek wat harnasse vir BMW’s vervaardig, as die uitvoerende bestuurder se sekretaresse. Die fabriek het toe pas oopgemaak en die personeel was almal rou uit Duitsland. Ek het gou besef my Duits is beter as hulle Engels en net Duits gepraat. Later het ek die eienaars uit Duitsland op die lughawe gaan haal (hulle wou nie deur die maatskappybestuurder vervoer word nie) en is gepeper met vrae in Duits – oor Suid-Afrika se bevolking, hoogte bo seespieël, temperatuur en seisoene, wette, politiek en kookkuns. Gou het ek ook al die korrespondensie met Duitsland behartig en fabriekhandleidings uit Duits in Engels vertaal, tegniese terme waarvan ek nog nooit vantevore gehoor het nie. Ek vra eendag vir een van die bestuurders wat ’n sekere stuk gereedskap in Engels genoem word. Sy antwoord was: “chick”. Dit het ’n rukkie geneem voordat die gloeilampie bo my kop aanskakel: “jig”. In dieselfde fabriek het ek ’n verhouding aangeknoop met ’n hooggeplaaste uit Duitsland, afkomstig uit Paraguay. Sy Duits was foutloos, maar met ’n swaar aksent. Ons het in Duits gevonkpos, vir jare lank. Ek het ook ’n skeut Spaans daar opgetel. Nou klink ek amper soos Nerina Ferreira wat by die matrose soveel wêreldtale geleer het. Ons wat al om die blok was.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top