Suidoosterfees 2017 se konsert van hoop

  • 0

 

"Hoe vind mens meer uit van die geskiedenis?" Dis 'n vraag in die geskiedenishandboeke van deesdae se graad vier-leerders. 

Die oggend van 27 April 2017 is die strate op die openbare vakansiedag stil. Die motors staan geparkeer in die garages of opritte van hul welaf eienaars se huise. Die wasgoed hang  oor die ogiesdraad van heinings langs die woonstelle in minder gegoede buurte.

Op pad na die openingskonsert van die Suidoosterfees, hoor ek verbaas Nelson Mandela se vriendelike stem oor die radio. Maar dis net 'n advertensie. Die stem wat ek hoor, kondig aan dat mense soggens na 'n sekere geselsprogram moet luister. Die aanname van die radiostasie wat die advertensie uitsaai, is: as Mandela praat, gaan mense luister.

Maar gáán hulle luister, drie-en-twintig jaar later? Voel mense tevrede met wat die afgelope drie-en-twintig jaar gebeur het? Diegene met die blink motors in die opritte, sowel as diegene in die huise waar die wasgoed oor die heinings hang?

Met hierdie vrae stap ek die Suidoosterfees se openingskonsert in die Kunstekaapteater binne. Die naam hiervan is Kunstreffers: Konsert van hoop. Die konsert is saamgestel deur Marlene le Roux, direkteur van die Kunstekaapteater, en sy het ook die regie behartig. Janine Neethling was verantwoordelik vir die musiekregie.

Toe die ligte verdoof, vul die klanke van Mango Groove se fluitjiespel die lug. 'n Kulkunstenaar draf energiek op die verhoog. Hy trek dadelik my gedagtes af van alles waaroor ek nagedink het terwyl ek hierheen ry. Onmiddellik het ek ontvlug. Hy vermaak met oogverblindery en speel jongleur.

'n Groot skerm sak uit die dak toe die kulkunstenaar sy toertjies afgehandel het. Niël Rademan, uitvoerende direkteur van die Suidoosterfees, en Marlene le Roux, direkteur van die Kunstekaapteater, maak beurte om die gehoor van die konsert en die Suidoosterfees se agtergrond te vertel.

Foto: Suidoosterfees se Facebookruimte

Op hierdie verhoog, vertel Rademan, deel legendes - ook die tema van vanjaar se fees - die verhoog met jong talent. Wenners van die vorige jaar se talentkompetisie tree vandag op saam met gesoute kunstenaars. En Marlene le Roux bevestig: hierdie manjifieke teater is oop vir almal. Almal hierso vandag gaan na mekaar se stories luister en aan alle kunsvorme blootgestel word. Die kinders van Manenberg gaan orkesmusiek hoor, die kinders van Claremont marimbas. Ons gaan nie 'n eiland wees en ons van die wêreld afsonder nie.

Daar is 'n spesiale eregas in die gehoor, vertel Niël Rademan. 'n Foto van Desmond Tutu sak uit die dak. En die twaalf-jarige Talitha Luiters sing vir hom Mariah Carey se "A hero lies in you". Hierdie kind is beslis een van die sterre van die konsert. Die gehoor juig haar toe. En bedank op hierdie manier ook vir aartsbiskop Desmond Tutu.

Marlene le Roux se woorde word waar soos wat die okkasie meer en meer feestelik word. 

Marlene le Roux (foto: YouTube)

Die verhoog behoort aan mense van alle rassegroepe. Daar is Italiaanse opera, ballet en dans, marimbamusiek deur die Hlanganani marimba-orkes en 'n gospelkoor. Coenie de Villiers, Karin Kortje en Karin Hougaard is drie van die legendes teenwoordig. Coenie de Villiers kry dawerende applous vir "Karoonag", en Karin Hougaard vir haar sielvolle vertolking van "Uit my kruietuin". In hierdie lied van haar sing sy oor genesing. Teen die tyd dat sy dit sing, was daar reeds heling in die verskillende stories op die verhoog en is die lied besonder van pas. Want mense van alle kultuurgroepe het alle kunsvorme met oortuiging en ervaring kom deel. En die gehoor het werklik geluister en hul ingeleef. Karin Kortje word baie lank toegejuig wanneer sy die verhoog betree, soms tussendeur haar sang en ook agterna. (Die video hier onder is van een van die liedjies waarvoor sy bekendheid verwerf het.)

Die gospelsangers sing en dans. Bruin, swart en wit omhels mekaar op die verhoog.

Wat is Vryheidsdag? vra 'n kort video-insetsel (ook op die groot skerm uit die dak) iewers tussendeur die konsert. 'n Paar mooi foto's van die eerste demokratiese verkiesing word vertoon.

Die mees siniese lid van die gehoor is op hierdie stadium sekerlik geroer. FW de Klerk is ook in die gehoor, word kort hierna aangekondig, en hy ontvang ook 'n hartlike verwelkoming toe almal handeklap.

Van die mees treffende tonele is toe 'n dansgeselskap die verhoog betree. Een van die danseresse is in 'n rolstoel. En sy neem deel aan die dans; sy word vanuit die rolstoel gelig en in die lug getel, sy draai en tol saam in haar rolstoel. 'n Man met net een been kom dans saam op twee loopstokke.

Vryheidsdag. Niemand van ons sê die land is waar dit moet wees nie. Maar kyk hoe ver het ons gekom.

Niël Rademan (foto: YouTube)

Jakes Gerwel het veertien jaar gelede die fees begin, en dis nou 'n tienerseun - en hy word mooi groot, vertel Niël Rademan weer tussendeur die musiek en dans.

Waarom wag dat die politici die veranderinge bewerkstellig? vra Marlene le Roux. Ons tyd is nou. "South Africa, we can." Agter my, hoor ek mense hoorbaar saamsê: "Yessss ..."

Daar is 'n eenvoudige verhaal uit die Griekse mitologie en dit het eers gister vir my sin gemaak. Die belangrikste gewaarwording het uit daardie kis van Pandora gefladder. Mens sien eers hoe belangrik hoop is, as jy dit die dag ervaar.

Toe Mango Groove se "Dance some more" ten slotte 'n massa-uitvoering word, is die gehoor op hul voete en dans saam. (Beeldmateriaal hier onder is deur Naushad Khan op die Suidoosterfees se Facebookbladsy gedeel.)

Dis plofbaar om oor hierdie land se geskiedenis te skryf. Wat laat jy uit, waarop lê jy klem, wie vertel watter storie - en in watter taal? Eweneens is dit nie maklik om te berig oor 'n musiekkonsert wat sláág nie. Hoe beskryf mens 'n suiwer noot in woorde? Hoe vang jy 'n afgeronde musikale produk met sinne vas?

"Hoe leer mens meer van die geskiedenis?" vra die huidige sillabus vir elke Suid-Afrikaanse graad 4-leerder.

Antwoord in die handboek: "Jy vind uit deur na prente of foto's te kyk, deur op te lees in boeke of op die internet, deur met mense onderhoude te voer of om na hulle stories te luister."

Op 27 April 2017  het mense in die Kunstekaapteater na mekaar se musiek geluister - en ten spyte van al die kompleksiteite, het elke noot 'n storie vertel van hoop en van vryheid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top