Suidoosterfees 2017: Die Riel van Hip Hop bring ’n boodskap van hoop

  • 2

Die diversiteit van ons land, sy mense, identiteit, Afrikaans en al sy variante is van die aspekte wat in Die Riel van Hip Hop gevier word. Dit is ’n debuutproduksie wat sang, dans, poësie en toneelspel inkorporeer en is by die Suidoosterfees op die planke gebring. Rieldans, wat een van Suid-Afrika se oudste dansvorme is en Hip Hop tree in gesprek en lewer sodoende sosiale kommentaar oor die diversiteit binne die bruin gemeenskap.

’n Groot verskeidenheid mense met hul eie talente en vaardighede is op die verhoog gesit. Mense soos DJ Ready DEmile YX? (Emile Jansen) asook Tribal Echo se Frazer Barry en Deniel T Barry. Zenobia Kloppers, sanger en aktrise, was ook op die verhoog sowel as die Nam-Afrikaanse rapper VITO wat by die KKNK te sien was in Amper Famous – ’n Afrikaanse hip-hop-musiekblyspel – waarvan David Kramer die regie behartig het. Mense soos Jerome Rex, asook Hakkiesdraad, Hartman was ook in Die Riel van Hip Hop, sowel as Des-Lee McKenzie wat onlangs te sien was in Ir(ras)sioneel. McKenzie is vir Ir(ras)sioneel genomineer vir twee Kanna-toekennings en is as’t ware besig om groot naam vir haarself te maak.

Emile YX?

’n Aangename verrassing in Die Riel van Hip Hop was die verskyning van Willa Boesak wat ’n gedig gelewer het oor die Khoisan en Afrikaans. Boesak wat ook ’n kultuur-aktivis is vir die Khoisan-kultuur het gesorg vir die opvoedkundige aspek wat tot die produksie bygedra is deurdat hy sy kennis en wysheid rondom kultuur en taal deel.

Die produksie het ’n goeie balans gehad tussen opvoeding en vermaak deurdat skreeusnaakse sêgoed rondgegooi is en taal gebruik is wat so eie aan die monde van bruinmense is. Daar is ook nie net een tipe bruinmens op die verhoog uitgebeeld nie, maar dit was eerder ’n weerspieëling van diversiteit en die ooreenkomste wat ons met mekaar het.

Die wenners van die 2016 ATKV Rieldanskompetisie, Die Betjies van Betjiesfontein, het die gehoor laat saam dans elke keer wanneer hulle in hul spoggerige uitrustings gedans het laat die stof staan.

Riel en Hip Hop het uiteindelik in gesprek met mekaar getree om ’n belangrike boodskap van hoop te bring. Sosiale media het gegons met lofsang vir die vervaardiger Shihaam Domingo, sowel as vir haar span.

Danie Marais het in ’n Facebook-inskrywing die volgende te sê gehad oor die produksie: Op ’n punt van orde moet ek sê: Die Riel van Hip Hop was Saterdag fantasties. Ek sukkel om te dink aan enige musiekteater wat protes teen ou onregte met soveel opregte hoop kombineer en dan terselfdertyd ’n vol operahuis laat skoffel met ’n geïnspireerde mengsel van ou landelike en nuwe stedelike musiekstyle en tradisies. Baie geluk Shihaam Domingo, Frazer en Deniel Barry, VITO, Ready D, Emile YX?, Willa Boezak en almal anders wat betrokke was by hierdie unieke produksie. #dikrespek#suidoosterfees 

VITO

Die digter Shirmoney Rhode, wat bekend is vir haar gebruik van Kaaps in haar poësie, het in ’n Instagram-inskrywing gesê:

Ek het'ie woorde om te beskryf hoe gevaa'lik die show gister was nie. Ek’s op ’n creative wave soes die besagheid my inspire het om net meer te wies wat ek is. Om te loep soes ek loep en praat soes ek praat. Dit was soe ’n positive message dat ek heeltyd trane moes afvee. En dit was op die plek waa' dit hoort man. Ons stemme tel nie net wanne' ons besig is om te skarrel en smous'ie. Nie net op'ie straat'ie. Maa in teaters. En op papier. En op'ie TV en op'ie radio. En ons MAG exist hie soes wat ons doen. Ek is soe bly vir die jong mense wat in die crowd was. Daa word mos baie gesê bruinmense het'ie kultuur nie. Maa vandag wiet hulle watste krag loep in hulle are. Dankie @shihaam_domingo vir daai oeg van jou man! En dankie @emile.yx vir jou werk on- en off-stage. En @hakkiesdraad my hart hak by jou my broe. @fgbarry jy en daai mooi vrou van jou is yster. Baie trammakassie aan amal wat betrokke was! #rielvanhiphop

Hugo Theart, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk skryf in ’n Facebook-inskrywing: Shihaam Domingo - Die riel van Hip Hop was ’n ongelooflike ervaring. Wat jy en die geselskap reggekry het was besonders. Baie geluk! Ek het nou nog ’n knop in my keel as ek hieroor praat of daaraan dink. Well done. Alles wat jy vir my verteenwoordig as mens - goedhartigheid, verdraagsaamheid, medemenslikheid saam met jou hardwerkendheid, passie en die liefde wat jy uitstraal - was vasgevang in die produksie. Ek is ’n groupie.

Myns insiens kom Die Riel van Hip Hop op ’n gepaste tyd – die mense van Suid-Afrika het nodig om deur middel van iets soos kuns te glo in diversiteit, eenheid en hoop. Hierdie is die tipe produksie wat op verhoë wêreldwyd gesit moet word – almal moet leer van Suid-Afrikaners se diversiteit en uniekheid.

  • Foto's: Stephen Fourie
  • 2

Kommentaar

  • Jacha potgieter

    Wat 'n fantastiese artkel ... die foto's vang die atmosfeer van die fees en sy mense vas ... lieflik en opwindend dans en dig ... uniek sal ek sê vir die foto's ... 🦍🍷🦍🍷🦍🍷🦍🍷

  • Estelle van Rooyen

    Ek is verheug dat ons mense se talente so ten toon gestel word. Baie dankie aan almal betrokke. Ek is supertrots veral op Hakkiesdraad wat soveel jare die boodskap uitleef met Hart en siel. Die toekoms lyk rooskleurig en ons identiteit is belangriker as ooit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top