You suck! (And other inescapable truths): agtergrond en indrukke

  • 0

Klara van Wyk (foto verskaf)

Klara van Wyk in You suck! (And other inescapable truths)
Geskryf deur Klara van Wyk
Regie en ontwerp: Francesco Nassimbeni
Met Klara van Wyk

Klara van Wyk se eenmanstuk You suck! (And other inescapable truths) handel oor ’n eksentrieke tienermeisie, Pretina de Jager, se mislukkings en ander avonture in haar nuwe Engelse skool. Pretina, wat met ’n swaar Afrikaanse Engelse aksent en haar nuwe hip-hop-danspassies deur die lewe gaan, beloof om jou ’n blik te gee op die innerlike wêreld van hoërskoolleerders. Hoërskool is nie altyd maklik nie en afgryslike waarhede steek oral kop uit.

Die produksie is aanvanklik in Engels geskep en Klara sê nadat sy die produksie al by meer as 30 skole in die land opgevoer het, het sy die behoefte besef om dit in Afrikaans te laat vertaal. Sy sê verder dat dit lekker was om te eksperimenteer en te sien of dit sal werk in Afrikaans, omdat van die komedie daarin lê dat Pretina sukkelende Engels praat. Dit was ’n groot uitdaging, maar sy kon baie uit die proses leer.

Klara is tans besig met haar PhD in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch en haar fokus is op clown theatre. Vir haar studies fokus sy ook gedeeltelik op die idee van lag en waarom gehore vir sekere goed in die teater lag. “Pretina lok die gehoor uit om te lag, maar daar kom ’n punt in die vertoning waar gehore bevraagteken of hulle nog wil lag.” Pretina word by die skool geboelie en die stuk, wat al amper 100 keer opgevoer is, skep bewusmaking vir hierdie sosiale euwel. Alhoewel die stuk op tieners gerig is, meen Klara alle mense moet die produksie kyk, omdat Pretina vir almal die geleentheid bied om vir hulself te lag, want jy sal iets van Pretina se storie in jouself herken.

Die geleentheid om jou storie te kan vertel en sodoende direk met ’n gehoor te kan kommunikeer is die rede waarom Klara in die eerste plek besluit het om drama te studeer. Die feit dat elke vertoning ook net in ’n spesifieke oomblik kan bestaan, bly vir haar opwindend. En dis die prag van teater.

Klara, wat nou al vir die derde jaar You suck! (And other inescapable truths) opvoer, meen sy is nog nie reg om Pretina te groet nie. Sy neem die produksie vanjaar nog na die Grahamstown National Arts Festival en hoop om in volgende jaar by nog kunstefeeste op te tree. Klara is onlangs benoem vir ’n Kanna vir beste debuutwerk vir You suck! en is ook al benoem vir ’n Fleur du Cap-toekenning vir beste nuweling. Sy het al ’n Ovation Award en Fresh Fringe Award vir die produksie ontvang.

You suck! het by die Alexander Bar in Kaapstad gespeel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top