Strate van plastiek

Agterstevoor, onderstebo met sy vuil klein handjies om ‘n plastiese Spar-sak se ore gevou. In sy drome was hy die spreekwoordelike druppel aan die emmer. Volgens die res was hy die vrot appel in die kis. Sy ligte hare is deur die wind in al vier windrigtings verwaai.

Dis daardie selfde Suidooster  wat sy mengelmoes gedagtes swaai en waai sonder keer. Te veel van sy gedagtes lê ongeorden rond, soos gevlekte koerantpapier, saamgepersde koeldrankblikkies en gebreekte wynbottels. Sy wense word deesdae nie bepaal deur die sterre wat aan die hemel hang nie, maar op die skitterende glasskerwe op die teer vasgeverf. Ja, hy het hierdie warm Saterdag net een plek om heen te gaan en hy is alreeds hier.

Met hande in die hare sit sy medemens orals rondom. Elkeen het hul eie plekkie en geeneen probeer eens die ander se plekkie in die son steel nie. Geen hoop kan ‘n prediker meebring nie en geen geregsdienaar kan hulle van die gebied verwyder nie. Hulle is die onbeplande uitkoms van die ekonomie en daardie deel van die appel wat gewoonlik afgesny word.

Tog sou mens nooit kon sê hulle is ongelukkig nie, slegs effens opstandig, maar die naamlose blonde koppie met die donker vel was die uitsondering. Sy oë was op die mense en hul motors gerig, terwyl ander die grond bewonder het. Sy ogies was lewendig en selfs helder, sy windverwaaide kop vol planne en ‘n rare droom. Maar danksy sy Pep Stores-hemp, wat vandag ekstra gekreukel en uitgerafel gelyk het, het niemand hom vir meer as net ‘n arm kindjie op straat aangesien nie.

Uit die hoek van sy oog het hy die gryse oompie met ‘n frons op sy voorkop getatoeër, probeer vermy. Almal hier rond het die oom geken, dié oom met die luukse silwer motor en talle plastieksakke, wat aangedra word aan die einde van sy elle lange inkopielys. Die naamlose seun kon nie help om te dink oor hoe elkeen van daai sakke honderde honger mense in sy dorpie vandag gelukkig kon maak nie.

Ingedagte het hy ‘n sekonde te lank na die motor gestaar, die oom het hom aangegluur so asof kyk sonde was. Hy het gou in die oom se pikswart oë gesien dit was, want die manier hoe sy hemp te groot was vir sy lyfie het hom laat lyk of hy meer doen as net wens. Dit het gelyk of hy begeer, en met begeer kom steel. Hy het vinnig oogkontak verbreek, agter die palmboom gaan sit en ‘n rukkie later die motor kragtig hoor wegtrek.

Die geluid van motors wat kom en gaan het geharmoniseer met goue kaarte wat by die till  gebruik word. Selde het ‘n tannie met krullers en Crocks betaal met ‘n paar Madibanote. Vinnig sou een van die seuntjies sy Spar-sak neersit, sy plek verlaat en die tannie agternasit. Hy sou met ‘n “Goeiemore, Antie” die tannie sy wisseltandjies wys, aanbied om haar twee sakke te dra en dan met ‘n breë glimlag terugkeer. Gewoonlik met ‘n paar muntstukke of selfs ‘n ietsie te eet onder die arm.

Dan het die aasvoëls van die groep natuurlik op hom toegesak, hom ‘n rowwe stamp gegee, as sy kieste reeds volgestop was, want sommige van ons het nie gedeel nie. Almal was egter nie arm vriendelike tannies nie, meestal het hulle self bakhand gestaan of gemaak of hul jou nie raaksien nie. Hy het homself baie daardie tipe lewe probeer voorstel. Die tipe lewe waar jy net op die hoogte kon sien waar jy self staan. Maar vir hom was dit onmoontlik om nie van tyd tot tyd af te kyk nie.

Natgesweet in die oggendson het hy plastieksak en al die winkel binnegeloop. In sy broeksak het hy ‘n paar rand gespaar, net genoeg vir ‘n cheap sappie. Hy was korter as die res van sy ouderdom se seuns en natuurlik maer van net vrugte wat al hul vervaldatum bereik het by die straatstalletjies. Tussen die volgepakte rakke het hy haastig gesoek na die goedkoopste koeldrankie, net om ‘n seuntjie met ‘n naam te hoor kerm omdat hy twee bottels wil hê in plaas van een. Hy kon nie help om te sug vir die ironie nie en het stadig weggeloop van die koel luggie by die yskaste na die besige tille.

Mandjies en trollies volgestop met items wat hy byna nog nooit gesien het nie, was voor en agter hom  in die lang ry. Hy kon sweer die ongeduldige vrou agter hom het iets gemompel toe hy sy enkele koeldrank moes betaal met die uittel van sente. Hy sou hom aan haar steur, maar die halssnoer om haar nek het gelyk of sy haar eie straf reeds dra. Op ‘n jong ouderdom het hy al die kuns van selfbeheersing beoefen, dus het hy haar glimlaggend gehelp met die items uitpak en in ruil daarvoor het hy meer as slegs R5 verdien.

Sy het hom met ‘n stywe handbeweging na haar luukse motor gewys, op die agtersitplek het sy ‘n sak opgetel en vir hom aangegee. Sonder om in te loer het hy haar vriendelik, dog skaam en teruggetrokke, bedank soos sy weggery het. Hy het haar probeer onthou, maar hoe dieper sy die dorp ingery het, het die draaie van die strate hom laat vergeet. Sy nuuskierigheid het hom in die sak laat inloer en dit het van  skryfbehoeftes oorgeloop.

Sou dit moontlik wees dat sy Hemelse Vader uiteindelik sy drome verwesenlik het? Sou dit moontlik wees dat hy eendag sy drome nou sou kon bereik? Vrae klou aan sy hart. Hy vermy die res, hulle is almal droomlose bedelaars. En hy? Hy is ‘n vonk van hoop, wat sal lei na ‘n onbeheerbare vuur. Hy is die groot dromer, met ‘n splinternuwe pen en potlood wat glo hy sal die wêreld gelyk skraap. Hy is die een wat glo in eendag …

Kommentaar

    • Baie dankie, Annerie! Waardeer die terugvoer opreg. Dis 'n saak wat my baie na aan die hart lê, omdat dié skryfstuk baseer is op 'n ware gebeurtenis in my gemeenskap. Weereens dankie 🙂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top