Strafoplegging vir dummies

  • 3

Vonnisoplegging is meer kuns as wetenskap, en dis nooit duideliker as wanneer dit tydens ’n opspraakwekkende saak gebeur nie.

Skielik is elke Jan Rap en sy maat met hul twee minute van regsopleiding aan die hand van ’n televisiekommentator ’n kenner oor wat nou eintlik ’n gepaste straf is. Al wat hulle eintlik ontbloot, is hoe ingestel die algemene publiek is op wraak as die enigste uitkoms van straf.

Die filosofie van strafoplegging gaan egter veel wyer. Wanneer regsprekende beamptes vonnis oorweeg, is hulle veronderstel om na minstens drie goed te kyk: die oortreding, die oortreder en die belange van die gemeenskap. Miskien moet ek hier stilstaan en verduidelik dat wanneer daar gekyk word na die oortreding, die hof nie beskuldigings en bewerings oor ander oortredings in ag kan neem nie. Dit kan net kyk na oortredings waaraan die persoon alreeds skuldig bevind is. Selfs al is die persoon aangekla van ander oortredings, kan die hof dit nie in ag neem nie, want die moontlikheid bestaan altyd dat die persoon onskuldig bevind kan word.

Teoreties beteken dit dus dat ’n persoon wat vir die eerste keer aan ’n minder ernstige oortreding skuldig bevind word, ligter gestraf behoort te word as ’n persoon wat vir sy derde, vierde of meerdere oortreding aan meer ernstige oortredings skuldig bevind word.

Die hof kyk ook na die belange van die gemeenskap. Is die persoon skuldig bevind aan die tipe oortreding wat hom of haar só ’n gevaar vir die gemeenskap maak dat dit beter is om die persoon uit die gemeenskap te verwyder? Anders gestel: ’n eerste oortreder wat aan verkragting en moord skuldig bevind word, hoort nie in die samelewing nie. Dis beter om so ’n persoon weg te hou van ander persone.

Aan die ander kant is ’n persoon wat ’n brood gesteel het omdat hy honger was, waarskynlik nie ’n gevaar vir die gemeenskap nie, en moet hy op ander maniere hanteer word as om hom uit die samelewing te verwyder.

Teoreties behoort persone net as laaste uitweg uit die samelewing verwyder te word, wanneer niks anders meer help nie. Want sien, die doel van straf is ten minste gedeeltelik om die oortreder ook te help en nie net te straf nie. Die regsprekende beampte behoort dus te kyk na alternatiewe vir direkte gevangenisstraf, om te probeer om die oortreder so lank as moontlik ’n produktiewe lid van die samelewing te hou.

Juis daarom, wanneer prokureurs en advokate betoog ter strafversagting lewer, word daar verwag dat die oortreder se persoonlike omstandighede aan die hof voorgehou sal word. Het hy of sy bande in die gemeenskap? Is die oortreder getroud? Het hy kinders? Het hy ’n vaste werk? Neem hy deel aan gemeenskapsaktiwiteite? Het hy ’n vaste adres?

Prakties beteken dit die volgende: X is ’n boemelaar wat twee weke lank op die dorp is, wat onder die brug slaap en al sewe jaar nie werk nie. Y is ’n getroude man met kinders en ’n besigheid wat aan 10 persone werk verskaf en hy bly sy hele lewe lank op die dorp. X en Y word al twee aan dieselfde oortreding skuldig bevind en is albei eerste oortreders. Dan beteken dit dat Y waarskynlik ligter gestraf sal word as X, omdat Y groter standvastigheid het as X en ’n meer produktiewe lid van die gemeenskap is.

Die kuns van vonnisoplegging kom in by die keuse van vonnis wat die oortreder help en terselfdertyd balanseer met die belange van die gemeenskap. Daarom dat daar by sommige sake assessors gebruik word, om die regsprekende beampte te help en die gemeenskap se belange te verteenwoordig.

Die verwagting is dat die regsprekende beampte, soos Lady Justice self, oordeel kan vel op ’n rasionele basis, sonder om sy of haar eie persoonlike geskiedenis in te bring, sonder inagneming daarvan of die oortreder ’n aangename persoon is of nie, sonder om te buig onder politieke druk, of druk uit die gemeenskap, of publisiteit oor wat die gemeenskap as gepaste straf beskou. Juis daarom word Lady Justice uitgebeeld as geblinddoek, met die skale wat in balans moet wees.

Die werklikheid is natuurlik dat regsprekende beamptes ook maar net mense is, en dat hulle dalk op ’n spesifieke dag met die verkeerde voet uit die bed opstaan, en dit in hul vonnisse weerspieël word. Of, soos die sogenaamde “hanging judge” uit die dae toe ons nog die doodstraf opgelê het, wat ’n spesifieke oortreding erger gestraf het omdat ’n lid van sy gesin die slagoffer van so ’n misdaad was.

Die kuns, die kreatiewe deel van vonnisoplegging lê daarin dat die regsprekende beampte ’n vonnis behoort te oorweeg wat die gemeenskap tevrede laat voel dat hulle belange gedien is, wat die erns van die oortreding beklemtoon, en wat terselfdertyd die oortreder help om nie weer te oortree nie en om ’n produktiewe lid van die samelewing te bly.

Hoekom is Suid-Afrikaanse tronke so oorvol? Ten minste ’n gedeelte van die antwoord lê daarin dat direkte gevangenisstraf beskou word as die eerste, maklikste uitweg eerder as ’n opsie wat gehou word totdat alle ander opsies uitgeput is. X wat nie ’n vaste huisadres het nie in my voorbeeld hier bo, sal homself veel makliker in die tronk bevind. Op daardie manier word armoede gekriminaliseer.

Hoekom word periodieke gevangenisstraf, waar die persoon byvoorbeeld elke naweek tronk toe gaan en in die week tuis is en kan werk, nie meer gereeld gebruik nie? Dis nie ’n maklike uitweg nie, want dit beteken iemand moet nou rekord hou en seker maak die oortreder meld aan by die tronk. Hoekom word korrektiewe toesig, met gepaardgaande programme, nie meer en beter gebruik nie?

In teenstelling daarmee, hoekom loop tronke in lande soos Nederland leeg? Dis deel van ’n groter gesprek, oor goed soos armoede, opvoeding, watter oortredings gekriminaliseer word en dies meer. Tog is ten minste ’n gedeelte van die antwoord dat daar dalk groter moeite gedoen word in ander lande om oortreders sover as moontlik buite die gevangenis te rehabiliteer.

In die aantal jare dat ek praktiseer het, het ek nog net een persoon teëgekom by wie daar in my verstand geen twyfel was dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis vir hom is nie. Hy was ’n elfjarige seun wat alreeds drie moorde op sy kerfstok gehad het. Daar was geen berou, geen besef dat dit verkeerd is om iemand se lewe te neem nie. Ek het geweet, en die regsprekende beampte het geweet, dat as daardie kind huis toe gestuur word, ons die doodsvonnis oor ander mense uitspreek. Hy moes tronk toe, vir die veiligheid van ander buite.

In feitlik elke ander geval, veral by jeugdiges, het direkte gevangenisstraf net daartoe gelei dat hulle ’n opleidingsentrum vir erger misdade binnegaan. Tronke maak mense nie beter nie.

Beter opleiding vir regsprekende beamptes is nie die enigste oplossing nie. Elke regsprekende beampte se werkslas moet verlig word. Korrektiewe beamptes se werkslas moet verlig word, en hulle werksomstandighede moet verbeter word. Daar moet opnuut gekyk word na watter oortredings gekriminaliseer behoort te word. Daar moet voorsiening gemaak word vir maniere om arm persone sover moontlik buite die gevangenisstelsel te hou.

Dis al manier waarop ons ons tronke beter kan benut en kan keer dat oortreders leer hoe om beter misdadigers te word.

Kahlil Gibran (in The Prophet) dink so oor misdaad en straf:

As a single leaf does not turn yellow but with the silent knowledge of the whole tree,
so the wrong-doer cannot do wrong without the hidden will of you all ...
and when one of you falls down he falls for those behind him, a caution against the stumbling stone.
Ay, and he falls for those ahead of him, who, though faster and surer of foot, yet removed not the stumbling stone.

  • 3

Kommentaar

  • "Wanneer regsprekende beamptes vonnis oorweeg, is hulle veronderstel om na minstens drie goed te kyk".
    Eintlik vier goed: Die vonnis moet gepaard gaan met 'n graad van genade ("measure of mercy").
    In die 70s is 'n program van stapel gestuur om die regsbank te oorreed om te kyk na meer innoverende vonnisse (en tronkstraf as 'n laaste opsie te gebruik). Daar is wysigings aan die Strafproseswet aangebring om dit moontlik te maak ens. Sover ek bewus is, is sedert die regimeverandering nie veel gedoen om dit na te streef nie. Ook word die bou van tronke (as mense dan tronk toe MOET gaan), klaaglik afgeskeep.
    Die vervolgingsgesag weier voorts bloot om "petty crimes" en minderjariges te vervolg - in elk geval aldus die polisie in die area waar ek woon. Eintlik wonder ek of die vervolgingsgesag die reg het om hierdie tipe van oordeel te vel - maar dit daar gelaat. In die VSA is bewys dat die vervolging juis van mindere ernstige misdrywe 'n afname van ernstige misdrywe tot gevolg het. Minderjariges word in elk geval beskerm deur wette en dit is moeilik om te sien waarom hulle nog meer arbitrêre gunste moet geniet.
    Daar is ook die kwessie van minimumvonnisse wat die regsbank se vermoë om geskikte vonnisse op te lê, ondermyn. Ek vind dit verstommend dat regters hulle nie hierteen uitspreek nie, maar gelate monteerlynvonnisse uitspoeg. Hierdie tipe van oplossing is slegs 'n opsie as die regsbank nie opgewasse is vir die taak nie of vertroue in die regsbank verloor is. Is ons dan nou daar?
    Die afskaffing van die doodsvonnis en beperkinge op maksimumvonnisse aan die ander kant het die effek dat die spektrum vir gepaste vonnisse aan die kant van ernstige misdrywe ingekort is. Dit beteken dat die verskil tussen vonnisse vir ernstige misdrywe en minder ernstige misdrywe vervaag en dat aan die ernstige kant, misdadigers met moord wegkom.
    As uitlaatklep vir oorvol tronke word parool vir mense toegestaan, wat dit nooit moes kry nie. Hierdie tipe van oordeel word gevel deur mense soos Ministers en gevangenis-administrasies wat nie deel van die regsproses is wat die oorspronklike vonnisse opgelê het nie, wat nie deel van die regsbank is nie en belange het wat kan bots met die straf-uitvoering. In die proses word ewewigtigheid oor die hoof gesien en word parool in sommige gevalle 'n politieke speelbal.
    Om mense te vonnis tot ewige gevangenisstraf omdat hulle dan "gevaarlik" is, is ook 'n gevaarlike siening wat eintlik 'n misbruik van die strafregstelsel is. Die gevaar is dat mense agter tralies gehou word, nie oor wat hulle gedoen het nie, maar oor wat hulle is. Dit druis ook in met die vergeldingsaspek van die vonnis. As jy jou skuld aan die gemeenskap betaal het, is jy geregtig om vrygelaat te word ongeag of jy dan nou sogenaamd gerehabiliteer is al dan nie.
    Om drastiese vonnisse te gebruik om as afskrikmiddel te dien en om die gevangene en/of te rehabiliteer, is ingelyks 'n gevaarlike pad. Watter reg het die gemeenskap om een mens as 'n voorbeeld te gebruik vir buitensporige vonnisse? Hy is geregtig op 'n geskikte vonnis vir die misdaad, nie om aan 'n paal as voëlverskrikker te dien nie. Rehabilitasie is soortgelyk besaai met risiko’s: In hoe 'n mate het die gemeenskap 'n reg om 'n persoon te probeer verander? Watter model word gebruik om te besluit oor die "regte" karaktereienskappe? Met veral die mediese hulpmiddels wat kan gebruik word om gedragspatrone te verander, waar stop jy? Mag dit gebruik word om iemand permanent in 'n zombie te verander?
    Eerlikwaar, dis alles strafreg 101 en enige regsbeampte wat nie hierdie gedagtes in sy bewussyn het by strafoplegging nie, hoort nie daar nie.

  • Laat ek eerstens sê dat ek saamstem dat die strafregstelsel meer maatskaplike probleme veroorsaak as wat dit regstel. Gesien vanuit die Menslike Wordingskunde is daar 'n paar onomstootlike waarhede wat ter sprake behoort te kom in redenasies oor spesifiek gewoontemisdadigers of dan onrehabiliteerbare misdadigers.
    Eerstens dui navorsing daarop dat sulke mense 'n lewensverhaal het wat besaai is met verskynsels soos verwerping, problematiese gedrag van ouers ensovoorts. Neem in ag dat 'n mens gevorm word deur die verhoudings met ander, dan verklaar dit die menswees van die misdadigers. Maar daarin lê ook die vanselfsprekende oplossing naamlik dat rehabilitasie slegs kan gebeur binne 'n verhouding met ander. Verwydering uit die samelewing, soos wat die stelsel voorskryf, is juis die verkeerdste werkswyse moontlik want dis net 'n uitbreiding van die verwerping wat reeds bestaan en dit plaas die persoon in verhouding met ander waar hy juis tot gevaarliker misdadiger gevorm gaan word.
    'n Beter werkswyse sal wees om die oortreder te onderwerp aan sinvolle arbeid omdat arbeid onbetwisbaar terapeuties is, veral as dit skeppende arbeid is soos meubels maak of dergelike. Dit skep ook 'n situasie waar die mede-gevangenes saam arbei en hulle almal opbouende verhoudings met mekaar kan onderhou sodat al die individue "groei" tot beter mense. Natuurlik sal dit alles deeglik nagevors en beplan moet word. Die punt is net dat die stelsel wel gegrond kan word op vrugbare waarhede oor menswees.

  • Ek weet hierdie is 'n opinie-stuk maar die skrywer insinueer dat regsprekende beamptes en korrektiewe beamptes se werkslas te groot is. Is daar empiriese bewyse hiervoor? En hoe word hierdie werklaste in verband gebring met vonnis-oplegging? Hulle werksomstandighede moet verbeter word - hoe hou dit verband met vonnis-oplegging? Daar moet opnuut gekyk word na watter oortredings gekriminaliseer behoort te word - wat is die verband? Dat die tronke te vol is? Dit beteken dalk dat die beskikbare tronke nie voldoende is nie? Nuwe hospitale en skole word gebou, kan iemand dalk aandui wanneer laas is 'n nuwe tronk gebou? Daar moet voorsiening gemaak word vir maniere om arm persone sover moontlik buite die gevangenisstelsel te hou - maw net ryk persone moet tronk toe gaan? Wat is die argument hier agter?
    Oral ter wêreld is dit 'n probleem dat tronke misdaad-leerskole is. Die oplossing is nie om misdadigers uit tronke te hou nie, maar om ervare en onervare misdadigers te skei en weg van mekaar aan te hou tot vrylating (kyk na hulle kriminele rekords wanneer hulle ingeboek word by die tronk).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top