Stomdys

  • 1

 

Fotobron: changeincontext.com

Die skril monitoralarm trek Geo Cavernelis se aandag waar hy ‘n skermbrosjure sit en lees. ‘n Onderskrif in die brosjure lui: “Stomdys, jou nuwe huis, jou enigste tuiste.” Vir ‘n paar sekondes staar hy na die vaal boodskap in die hoek van die kajuit: “Krisis in wieg 21.” ‘n Bukus is dalk dood.

By die bunkerdeur kondig lesings aan dat lugdruk en –gehalte perfek is. Dis egter koud daarbinne, en hy trek ‘n oorgroot jas aan.

Hulle lê daar, agt rye van agt vroue, op hulle dag volgens die meeste standaarde aansienlik met hulle reëlmatige gelaatstrekke en stewige ledemate, op die oog af steeds sterk en volgens reputasie besonder intelligent, nou tog ‘n bietjie deurgebring, want oor die jare is dit onvermydelik dat hulle kondisie verloor. Ten spyte van die refleksiewe oefeninge, die gifstofspoele en die algemene wetenskaplike onderhoud, is die vroue se velkleur ongesond en van hulle se ledemate lyk dun. Boonop het heelparty nou ‘n boepmagie, ‘n newe-effek van die binneaarse voedingstowwe. Maar hulle is nog steeds sover Geo weet die hoogsgeagte lede op die skip.

Die wieë het elkeen aan die binnekant van die glas ‘n doulagie kondensasie wat die mooi gesigte onduidelik maak. Of baie het. Geo kan die dooies van die lewendes onderskei eenvoudig omdat hulle glasdeksels helder is, onaangetas deur respirasieprosesse. Negentien glasdeksels is helder en hulle instrumentliggies uitgedoof. Die dooies, hulle ontbinding vertraag deur chemiese gasse in die geloof dat ‘n mettertydse outopsie lig kan werp op hulle sterftes, gee nie om om daar te lê nie en die lewendes ook nie, synde komatoos.

Geo beweeg na die onlangse ongeval en kyk na die vrou se gesig toe hy die glasdeksel lig. Die oë staar verby hom en hy stoot die ooglede toe. Die diagnostiese program vermeld: “Geen vroeëre simptome of tekens nie; diagnose wiegdood;  geval 20, jaar 47”. Toe ondersoek Geo self die groot lyf met die lang spiere vir wonde, skrape of ander merke, maar dis net ‘n voorgeskrewe formaliteit wat hy in ‘n log sal moet aanteken, want in hierdie omgewing is daar niemand behalwe hy en die slapende bukusse nie.

In hierdie deel van die skip, in elk geval, hier onder in die bunker. Hier is daar afsondering en waardigheid en vrede en om daardie dinge te onderhou, is die belangrikste saak vir Geo. Dit weeg swaarder as sy pligte. Hy is ‘n AS-tipe 2 wat gedy in afsondering en hoewel hulle aan sosiale verlangens onderworpe is, verstaan hulle die onmoontlikheid van die uitleef daarvan. AS-tipe 2’s is by uitstek geskik vir werk op ruimteskepe wat noodwendig personeelgetalle laag hou. Hulle is gewoond aan hulle eie geselskap en gemaklik met repetisietake. Op skepe met beduidende bevolkings,soos die betrokke skip, is hulle egter soms probleemkinders. Die samelewing is nie gaande oor sy uitskot nie, en die uitskot ook nie oor die samelewing nie. Dus gee niemand om dat hy alleen sy dae hier slyt nie, hy allermins.

Nadat hy die lewensonderhoudstelsel afgesit en seker gemaak het die glasdeksel is styf toe voor hy die ontbindinggas vrystel, gaan sit Geo by ‘n stasie om sy verslag te skryf. Dit kom daarop neer dat hy soos met ‘n psigometriese toets die waarskynlikste moontlikhede in ‘n lang lys afmerk. Dit neem hom minder as ‘n uur om die vraelys te voltooi:  Hy het dit oor die afgelope agtien jaar al negentien keer gedoen. Dan glip sy vinger verby die submit-knoppie op die raakskerm en pleks daarvan druk hy store. En verseker dat sy verslag voorlopig nie die hoër ruimtes van die skip en die skipgemeenskap sal haal waar dit oorweeg en beantwoord sal word en heel moontlik betragting sal uitnooi nie. Geo vermy persoonlike besoeke en maak op elektroniese kommunikasie staat, behalwe wanneer die kommunikasie dreig om besoekers te lok. Dan store hy eerder as om te submit.

Die monitoralarm raas weer. Geo kyk na die skerm: “Krisis in wieg 54” en knip sy oë, maar staan nie op nie. Hy sit eerder ‘n rukkie langer by die stasie om e-posse te lees. Daar is niks waarop hy sal reageer nie aangesien hy nie tans ’n hoë dunk van sy pligte het of aan enige persoonlike konneksies onderworpe is nie. ’n Substituutminnares stel in hom belang, maar hy ignoreer die verklaring van welwillendheid, nie net omdat dit ’n duur diens is nie, maar ook omdat dit waarskynlik gesprek sal meebring by die intieme kontak wat so vlugtig sal wees as wat dit nodig mag wees. Daardie gesprek en kontak, so dwingend as wat beide is selfs by ‘n nageslag wat probeer ontkom aan die reëls, pyne en gedrag van die voorsate wat deur biologie sowel as beleid mislei is, sal nie veel beteken nie. Baie vroue verafsku deesdae mans en behoeftige mans nog meer. Dit was vroeër anders en op Stomdys sal dit seker weer anders wees as ’n mens die publisiteit kan glo, maar tot dan maak dit nie saak nie. Geo het ’n soort lewe en dis ’n ordentlike soort lewe.

Een van die e-posse betrek sy posisie by die korporasie; vrae word gevra: Is hy gelukkig? Hoe sal hy werksbevrediging definieer? Kom hy met sy meerderes oor die weg?

Daar is niks anders wat hy kan doen as om die e-pos uit te vee nie. Hy beweeg aan na nog ’n brosjure oor Stomdys, dalk per ongeluk aangestuur deur ’n opportunistiese eiendomsagent wat hoop om die idee van goeie beskawing aan ’n slegte skipbewoner te verkoop. Dit bevat ‘n idealistiese skets van ‘n tuinagtige omgewing bevolk met wandelende, glimlaggende mense en rustende diere wat na sagmoedige leeus lyk.

Hy staan op en stap na wieg 54 om die vrou se oë toe te druk en die lewensonderhoudstelsel af te sit en die ontbindinggas vry te stel. Dan vul hy die volgende vorm in. En submit dit wel. En hierop word hy versoek, in ’n kort boodskap wat net lees: “Direktoraat, Vlak D, so gou moontlik.”

Die swaar deur skuif voor Geo oop en agter hom toe. En dan is hy in die gavolt, sy mond droog en sy hart aan die slaan. Die lewe is hel hier, buite die bunker, weg van die afsondering. Geo staal homself daarvoor: Die raserige gange, die besige winkels, werkswinkels, laboratoriums en sitkamers, die plein waar enigiemand ’n opinie oor die lewe op die skip mag lug; dit word aangemoedig. Hy laat sak sy blik na die wit teëlvloere en loop vinnig tussen die mense deur.

Op die plein staan sowat dertig van hulle en luister na ’n spreker op die seepkis waar ’n mikrofoon die klank na die luidsprekers in die mure herlei en ’n stem hoorbaar maak wat kalm en selfversekerd is, maak nie saak hoe opgewonde of geïntimideer die spreker word nie. En opgewonde raak hulle. Die huidige spreker bevestig dit.

“Wat is ons doel?” roep die man uit, gebare heftig, maar sy stem geduldig en selfs intiem gemaak deur die mikrofoon. “Hoekom is ons hier? Ons weet waar ons vandaan is. Ons weet waarheen ons gaan. Maar waarvoor leef ons, mense van die skip, as dit nie is om vervoer en onderhoud aan vier-en-sestig oorgroeide Amasones te verskaf wat ons nog nie eens gesien het nie?”

Vroue boe. Die gespot onthuts  Geo, wat deesdae amper nooit met ’n gespot, gegriefdheid, woede of selfs vreugde te doen kry nie. Van die mans lyk geïrriteerd.

Die spreker gaan voort: “Hulle sal eendag by Stomdys aankom en ons sal nie. Hulle sal gewek word en regeer en reguleer en organiseer aan die lewens van ons kinders se kinders, wat skaars hulle grootouers sal onthou en beslis nie oor hulle en hulle reis sal omgee nie. Maar die Amasones sal hulle ken en omgee. Ons weet hoe die werkers deur al die eeue vir hulle meerderes sorg. Is dit goed? Is dit sleg? Meneer, vertel jy my.”

Geo het om ’n groep begeesterde vroue getree en te na aan die seepkis gekom sodat hy aandag trek. Hoewel hy soos die meeste van die mense uniform dra, gaan hy nie ongemerk deur die skares nie. Die huidige generasie, selfs diegene wat heelwat jonger as hy is, weet van die Onderhouer, wat die bukusse in die bunker onderhou, wat die beweegrede vir die reis onderhou en ook die man is wat homself eenkant hou. Nou staan hy uit weens die een of ander kenmerk en hy kan net aanneem sy beeltenis is algemene besit in die rekenaarstelsel.

“Ja, Onderhouer, wat sê jy?” vra ’n man uit die skare. Mans op die skip is voorbariger as wat Geo van die mans op aarde onthou, hoewel vroue soos altyd ’n sterk teenwoordigheid is. Tussen die hoi-polloi en omdat hulle self hoi-polloi is, voel die mans tuis met die idee om hulle lewenspassaat lank te werk, te trou met die vroue wat belang stel in trou en hulle kinders te laat grootmaak in die wete dat Stomdys voorlê en dat Stomdys groot is. Dit keer hulle egter nie om intussen die skip se hoëlui te verwens nie en trots te voel op elke lid wat deur en deur demoties en beskeie is en sy nederige plek in die lewe ken.

“Hoe gaan dit met die fratse?” vra die man. Selfs die teruggetrokke Geo het ’n idee van die man se lewe: Skofte in onderhoud of konstruksie gevolg deur ure se jolyt waartydens ’n sekere verset betreffende die geregimenteerde skeepslewe gekoester en as lojaliteit teenoor sy klas beskou word. Geo lees die nuus en het ’n besondere belangstelling in sosiale rolle. Vir een wat so traag is om te verbind soos hy, is hy ’n ingeligte man.

“Jy kan nie dit sê nie,” sê Geo in ’n hees stem, selfbewus omdat hy met iemand anders as homself of ’n bukus in ’n wieg moet praat nie. “Hulle is menslike wesens.”

“Hulle leef vir ewig. Klink dit vir jou menslik?” daag die man hom uit.

“Maar hulle is sterwend,” sê Geo. “Ons moet iets doen.”

“Hoor julle dit, mense? Hulle is sterwend.”

Mans lag; van die vroue ook. Geo is gebelg. Hy lees oor sulke mense en hier moet hy hulle konfronteer.         

“Jy kan nie lag nie,” verklaar hy. “Hulle is die rede hoekom ons hier is.”

“Stop die wêreld, ek wil afklim,” roep iemand uit.

Mense begin dreunsing: “Terug Aarde toe, terug Aarde toe, terug Aarde toe.”

Iemand sê: “Waar is die bukusse? Hoekom wys hulle nie hulle gesigte nie? Ons moet ’n gesig sien of ons glo nie.”

“Ek, uh, moet op pad wees,” se Geo. Hy is seker hy hoor ’n vrou sis toe hy verby haar loop en beweeg vinniger. Gou is hy in ’n stiller sone met die klank van muzak en blomgeure.

Hy stap met die mediese gang langs, verby salons en ’n taphuis wat ’n uur op ‘n slag oop is, soos die seepkis ’n geleentheid is vir mense om stres te ontlaad en van muitery te vergeet, en gaan met ’n hysbak op na ’n kajuit met ’n deur van nagemaakte hout.

Die kantoor het ’n uitsigpaneel. Natuurlik beteken dit nie meer as die aardtonele wat Geo van tyd tot tyd op die skerms onder in die bunker en sy kajuit bekyk nie, maar hierdie paneel illustreer die skip se reis. Geo kyk hoe die geanimeerde skip om die blou planeet wentel en dan die ruimte in vertrek, verby ‘n planeet versnel, dan deur die Kuipergordel skiet, die Oörtwolk nader en uiteindelik op die eensame hoofpad sterre toe is.

Die vertoon verander na ’n beeld van ’n ruigbegroeide landskap met gespierde, aantreklike mense. Dit verras Geo om te sien hoe mans op ’n aanvallige eerder as komiese of gedrogtelike wyse uitgebeeld word; die idealistiese beelde dreig hom met ’n onwelkome gevoel van manlike trots. ’n Mens, ’n man, durf nie so voel nie, dis hom nie beskore nie, en tog lyk dit of  ’n mens op Stomdys sal mag.

Toe Geo jonger was, het hy geluister hoe mense oor hierdie einste rekonstruksie van die reis praat en hulle het gesê dis ’n groot ding in die Aarde se geskiedenis. Te meer nog, dit was een van sewe groot dinge as ’n mens die vorige reise na die veraf planeet in ag neem wat die gemeenskap na verwagting gaan vestig het – iets waaroor Geo so graag lees. Eendag sal hy, of dan sy nasate as hy gehad het, uit die skip kan stap en deur baie vriende aanvaar word. Dit sal ‘n lewe anderkant ‘n AS- tipe 2-klassifisering wees.

“Geo Cavernelis,” sê die vrou in die ander stoel in ’n bewerige stem. Sy tuur deur dik brilglase na die personeelverslag op die skerm voor haar. Sy is oud, ouer as Geo, en daar is ’n reuk omtrent haar wat aan dooie bukusse herinner. “Ek het jou eenmaal ontmoet, aan die begin van die reis.”

“Ja,” mompel Geo ongemaklik, hoewel hy haar nie onthou nie. Dalk was sy ’n skoonheid. Al die dominante vroue is gewoonlik daardie vurige, ontembare, onaantasbare ding wat mans in die moeilikheid laat beland vir toenadering en teistering.

“En kyk nou na ons. Ons is die oues van dae en onvas op die voete. Of ek is. Jy het nooit voortgeplant nie? Ek ook nie. ’n Mens moet ’n besondere soort mens wees om dit te doen, weet jy. Ek en jy, ons is die ware werkers, maatskappymense. En wat meer is, skeepslewe is benoud en geneig om vulgêr te wees, en wie wil ’n lewensmaat hê wat die hele tyd so by jou is? Daar reg in jou omgewing, teen jou? H'm?”

“Ja,” sê Geo weer. Een of twee langer response kom by hom op, maar dis moeilik om met sy medemens te praat. Hy het dit oorweeg om te sê hy het niks teen vroue nie en dat dit in sy ervaring die mans is wat jou ’n harde tyd gee as jy nie heeltemal op hulle standaard is nie. Die vroue glimlag vir die koddige, duidelik skadelose AS en gaan dan in ’n rigting en die feit dat hulle jou ignoreer, is ’n genade.

“Jy bestuur die bunker?” vra die ou vrou. “Ek was onder die indruk dis ‘n volkome geoutomatiseerde proses?”

“Ek kyk maar dat die rekenaars vol verkoelingvloeistof bly.”

“Iemand moet die bewakers bewaak? H'm.” Die ou vrou kyk weer na die verslag. “Ek dink jy ag jouself gering. Toe ek jonk was, is ek eenmaal vertel die sagmoediges beërwe die aarde, maar ons is nie meer daar nie. Hmm. So jy wy jou aan ons sending toe, daar op jou eis. Dit gaan nogal druk hier in die openbare kwartiere. Jy weet van die weerstand?”

“Nee. Dit wil sê, ek het ’n spreker op die plein hoor praat ...”

“Ons monitor hulle wanneer hulle daar praat. Ons monitor hulle almal. Ons moet. Dit sal nie deug om in hierdie stadium groot verset te moet verduur nie.”

“Hulle het gesing. ‘Terug Aarde toe, terug Aarde toe’.”

“Wat ’n sinlose idee. Jy kan sê dis ons wat ons lewens hieraan toegewy het, ons wat die Aarde onthou. Die jonges wy hulle ook toe, maar dis nie ’n keuse wat hulle gemaak het nie. Dis ’n omstandigheid wat ons vir hulle gekies het. Hulle is kwaad daaroor, die omstandighede waarin hulle gebore is. Hulle is skeepsmense, dis wat hulle is. Natuurlik so vulgêr soos hidrolika self, maar wat kan ’n mens maak? Onderhoud is in hulle bloed. Bloed? Uitnemendheid gaan oor bloed en opvoeding, weet jy. En miskien is ’n hele planeet met sy geskiedenis nodig om ’n goed afgeronde individu voort te bring. Dis net gedagtes. Ek bons dit teen jou en kyk wat kom terug. Maar die vulgêre is nogtans ’n faktor in ons lewens, en nou praat mense van terugdraai. Ons kan dit nie toelaat nie. Gee ek jou aanstoot?”

“Ja. Nee.”

“Beleefd maar teruggetrokke? H'm, ek sien in jou verslag jy het as jong man as ’n verpleër gewerk?”

“Ek glo dis wat my die werk laat kry het, die versorging. Ek het die onderhoudsapparaat geken. En natuurlik gee ek nie om om alleen in die bunker te wees nie.”

“Ja, jy was agt jaar laas buite die bunker?”

“Vir ‘n ongesteldheid wat meer as gerantsoeneerde antibiotika gevra het.”

“En jy kom na my toe omdat daar ongerymdhede daar onder is?”

“Ek monitor die masjiene wat die bukusse monitor. Van hulle is dood.”

“Dit was te verwagte en ons het die faktor in ons berekenings ingebring. Maar nogtans ’n jammerte. ’n Mens sou verkies dat die lewe aanhou. Hoeveel?”

“Negentien oor die afgelope agtien jaar. Dit pas in by die aktuariële verwagtinge. Maar twee vandag.”

“Jy los dit darem laat voor jy reageer?”

“Die tweede dood het my laat optree, die een-en-twintigste. Regulasies stipuleer dat ek julle op een-en-twintig laat weet.”

“Dis waar.” Die vrou lees nog ’n paar sekondes aan die verslag en kyk dan weer op. “Ons reis al sewe-en-veertig jaar. Die meeste mense aan boord is onderweg gebore. Dit sal regtig tragies wees as die sending in die gedrang kom. Dink aan die filosofiese implikasies. Ek praat van lewenssin.”

“Hoekom sal die sending in die gedrang kom?”

“As al ons eregaste moet sterf. Dit sal die hele reis ongedaan maak. Daar sal geen rede wees om voort te gaan nie.”

“Ek dink darem nie dis so ernstig nie. Ek bedoel, kry ’n mens dan nie altyd iets in die plek van die ding wat ’n mens verloor nie? Dis hoe ek die Aarde onthou. Ons sal net onder ’n ander banier vaar.”

“Wat is jou mening omtrent die reis?”

“Op Aarde het die werwingleuse gegaan: ‘Dis ’n taak en iemand moet dit verrig’.”

“En die bukusse? Wat dink jy van hulle?”

“Hulle is die beste voorbeelde van die mensdom. Hulle is gekweek en opgelei om sterk en wyse leiers te wees. Geen wonder hulle is bestem vir groter dinge nie. Dis ’n jammerte ons kan hulle nie sommer hier en nou volg nie, hier op die skip.” Die sentiment laat Geo lojaal en edel voel.

“Maar hulle is vroue,” sê die bejaarde vrou.

“Ja.”

“En jy’s ’n man. Voel jy nie wrokkig nie? Nie baie generasies gelede nie was mans die dominante gender. Toe kom die verandering. Natuurlik het dit dekades geneem. Nie net moes vroue na vore kom nie, maar mans moes teruggedruk word. Hoe jammer dit kon nie anders nie, maar die geskiedenis gaan gedurig oor die onderdrukking van die onderdrukker en die waarheid daaromtrent word deur die oorwinnaars verswyg. Daarby is daar die kwessie van ‘n wrok wat bevredig moet word, nie so nie?”

“Ja. Ek voel nie wrokkig nie.”

“Ek verwys na die vroue se wrok van oor die eeue.”

“Solank die vroue goed is vir die mans noudat hulle wraak kan neem.”

“O, maar ons is goed. Die direktoraat is simpatiek teenoor julle saak. Daarom dat ons soveel geduld het met die algemene bevolking. Wat met eerste oogopslag baie patriargaal is, baie. Solank hulle nie enige werklike mag het nie, sê ek altyd.”

“Verskoon my. Kan ek nou teruggaan? Ek het pligte wat wag.”

“O! Ja, ons het jou daaronder nodig. Alles reg wat rantsoene betref? Wat ’n lewe lei jy nie.”

“Goed word by my deur afgelewer. Ek is piekfyn.”

Dis met groot verligting dat Geo weer by sy vesting ingaan en die geraas en die spanning agterlaat. Daar was ’n rantsoenaflewering; die lig langs die dienshysbak is aan. Terwyl hy deur die boks kos kyk wat uit standaard voorraad vir direktoraat-personeel bestaan, merk hy ’n gevoude stuk papier. Dis ’n nota agterop ‘n bladsy uit ‘n skoolgeskiedenisboek: “Goeie werk met die dooie fratse. Hou so aan.”

Dié stukkie skoolgeskiedenis betrek die verraderlike figuur Albert Schweitzer, wat so onomwonde die Christelike godsdiens aangehang en verkondig het. Dis moeilik om die twee kante van die bladsy bymekaar uit te bring. Die idee van sameswering verskrik Geo en hy skeur die papier op. Dan merk hy die naaste rekenaarskerm waar ’n ander boodskap wag: “Krisis in wieg 06.” Nog ’n bukus is dood. Dit maak dit twee-en-twintig. Terwyl hy daar staan en kyk, herhaal die boodskap, maar met verwysing na wieg 50. Hy vee sy sweterige handpalms aan die borsstuk van sy uniform af, trek die oorjas aan en gaan in die bunker in.

Dis koud, baie koud. Hy gaan die termostaat na en verstel dit sodat die digitale syfers dadelik klim. Maar amper net so dadelik sak hulle weer, selfs nog laer as wat hulle was. Geo kyk oor die wieë uit. Hulle agt-by-agt patroon lyk onreëlmatig met al die voorkomste van uitgedoofde beligting waar bukusse dood is. Dit is ‘n neerdrukkende gesig. Hy inspekteer die twee onlangse sterftes en maak seker die glasdeksels is stewig toe. Dan verdiep hy hom in die voorvalvraelys en is halfpad daarmee toe die vyfde bukus daardie dag sterf, nommer 39.

Die druk om iets te doen is amper ondraaglik. Sy grootste drang is egter om te gaan lê en slaap. Maar hy neem iets wat adrenalien opwek en maak ’n oproep.

“Ek wil met die direkteur praat,” sê Geo senuweeagtig in die gehoorbuis.

“Sy is nie nou beskikbaar nie,” sê ’n manstem. “Wie praat?”

“Geo Cavernelis.”

“Geo, wat is dit?” vra die direkteur.

“Nog drie is dood.”

“Kan jy enigiets doen?”

“Ja. Ek kan hulle probeer wakker maak, dekades voor hulle in werklikheid moet opstaan.”

“Ons moet hulle ten alle koste aan die lewe hou.”

Die proses neem ure. Geo volg instruksies waaraan hy laas as jong en idealistiese man aandag geskenk het, toe hy gretig was om alles omtrent sy werk te leer. Nou is dit veertig jaar en meer later en hy glo deels niks gaan gebeur nie. Maar ’n uur nadat hy die laaste buise gekoppel en ’n opwekkingsagent toegedien het, ontwaak die eerste bukusse. Geo beweeg van wieg na wieg om onder die oop deksels in te buk en sag te praat, verstellings te maak, hare van voorkoppe weg te vee. Stadig sit hulle regop, die mensdom se trots, krygers, denkers, wetenskaplikes, politici.

Die direkteur lê besoek af en aanskou die heropstanding, ’n verwaande jong man wat Geo aanneem die een is wat die foon beantwoord het, aan haar sy.

“Wie is jy?” vra Geo die man, wie se gesag verminder met elke tree wat hy verder van die direkteur af staan sodat hy in gesprek met iemand anders blykbaar omtrent nie kan praat nie.

Die direkteur hoor hulle en kom tot die man se redding: “Hy is my man, Geo. In die lewe is daar altyd nut vir ’n aantreklike jong man wat sy plek ken.”

Dis nie maklik om met die bukusse te kommunikeer nie. Geo weet dat hulle op Aarde uit die algemene bevolking gehou is, maar is tog verras deur hoeveel hulle aksente en dialekte van die skeepslinge s’n verskil. Hy voel ’n toegeneentheid teenoor hulle, want hy het immers ’n era met hulle gedeel, al daardie sonoppe en sononders op hul tuisplaneet, iets wat hy beslis nie met die grootste deel van die skeepsbevolking gedoen het nie.

Dae lank herstel en pas die bukusse aan. Hulle begin eet, haal makliker sonder die masjiene asem, doen ligte oefeninge ter wille van lui spiere, ondergaan toetse, oefen hul diksie en praat ook met Geo om die skeepsgeskiedenis te verneem. Die toets onthul dat ten minste nog vyftien van die bukusse nie baie sterk is nie en moontlik ook sou gesterf het, het hulle veel langer bly slaap.

Daar is nog ’n onthulling – vir die vroue, in elk geval. Hulle is steriel, elke een van hulle. Een van die vroue vra of dit ’n gevolg van die dormante dekades is.

Geo sê: “Nee, dis weens julle opleiding en kondisionering op Aarde. Julle moes in hibernasie ingaan omdat Stomdys vroue soos julle benodig, maar julle kon nie julleself voortplant nie.”

Die vroue hoor die nuus met ’n mengsel van stoïsme en hartseer aan: “Dit sou darem wonderlik gewees het om moeders sowel as vroue op Stomdys te wees.”

“Maar wat nou?” vra ’n ander vrou. “As ek reg verstaan, is ons nog ver van Stomdys af. Wat as die skip daar aankom en daar is nie meer een van ons lewend nie? Wat sou dan die punt gewees het?”

Almal is stil, ook Geo, wat in sy noppies met die vroulike geselskap is wat so aan sy lippe hang. Hy sal nie doelbewus iets sê om die vroue teleur te stel of te ontstel nie.

Dan sê een van hulle: “Hoe is dit in die res van die skip?” en die vraag beur almal op. Hulle is besig om by die dag sterker te word en gretig om by hulle wêreld in te skakel.

“Laat ek net bel,” sê Geo haastig.

Die direkteur weier verlof om uit die bunker en kajuit te beweeg. Die situasie op die skip is te gespanne. Nuus het versprei dat die bukusse ontwaak het; die direkteur is woedend vir haar spraaksame jong man. Dit is waarskynlik nooit ’n goeie idee om mitiese figure in die gemeenskap in te stuur nie.

Maar hulle is krygers en denkers wat geleer is om onafhanklik te veg en te dink. Gou kry die eerste drie dit reg om verby Geo te glip terwyl die ander hom met staaltjies uit hulle opleidingsdae vergas.

Toe hy dit wel agterkom, lag die oorblywende vroue en die saak lyk nie na ’n vreeslike probleem nie. Hy wag vir die drie om terug te kom. Hulle opwagting word vergesel van ’n geraas en hy maak die deur oop om ’n skare te aanskou wat die drie groot en woedende vroue volg. Die mense skree en dreunsing.

“Ons weet hulle is sterflik en steriel. Ons weet hulle is sterflik en steriel. Geen sin in die sending. Geen sin in die sending. Waarin glo ons? Aarde. Waarin glo ons? Aarde. Terug Aarde toe, terug Aarde toe, terug Aarde toe.”

“Vlieg in julle moer, vlieg in julle moer,” skree die vroue terug. Moontlik was hulle by ‘n taphuis.

“Ons is klaar besig, ons is klaar besig,” reageer die skare en lag.

Geo laat die vroue inkom.

Die rekenaarskerms bring nuus en beeldmateriaal van opstand en geweld in die res van die skip. Een van die afgetrede direkteurs, wat haar waardigheid gewaag het deur die skare te probeer toespreek, word doodgegooi met ’n lywige tabletrekenaar wat ’n personeelgeskiedenis bevat, ontdaan deur die massas. Dae lank kan Geo en die vroue die geskree en die gedreunsing aan die ander kant van die deur hoor. Vir Geo is dit senutergend. Hy wens al hoe meer dat hy weer alleen was. Die direkteur daag op na ’n kort, maar gewelddadige reis van haar kwartiere af, in die geselskap van twintig wagte.

“Nou goed, ons moet die situasie reg benader,” sê sy.

“Ons wil uitgaan,” sê een van die vroue. “Ons sit al dekades lank hierbinne.”

“Ons kan iets omtrent die situasie doen,” sê ’n ander. “Ons het gelees oor burgerlike verset. Ons kan na onsself omsien.” Dit is waar. Die vroue het ruimskoots van die rekenaarstelsel gebruik gemaak. Ook het hulle gevegskunste geoefen.

“Dis om die waarheid te sê ’n filosofiese ding, nie polities nie,” sê nog een. “Ons bring aan hulle ’n bestaanskrisis. Tipies sterfling om so te redeneer!”

“Dis tipies teologies,” sê ’n vierde ewe onsimpatiek. “Die arme donders voel verlore en moet in iemand glo solank daardie iemand net nooit verskyn nie.”

“Tipies menslik,” sê ’n vyfde. “Swak, besluiteloos, gou om kwaad te word en nimmereindigend behoeftig.”

“O ja,” stem van die ander saam. “Mens, mens, mens.”

“Julle was ook mens,” sê die direkteur en kyk die een na die ander bukus in die oë waar hulle sit, staan en lê in die bunker met die glaswieë waaruit hulle verlos is. Die wieë is nog as beddens beskikbaar, maar niemand wil slaap nie, behalwe Geo wat in ’n hoek sit en wens die fratse wil nou weggaan en wegbly. Hy merk een van die bukusse na hom kyk en vir ’n oomblik is hy oortuig sy lees sy ontevredenheid.

“Nee, ons is nie mens en was nooit nie,” kondig ’n vrou hard aan. Al die aandag is by haar behalwe dié van die vrou wat Geo steeds dophou. Sy glimlag vir hom en reik na sy skouer en streel oor sy boarm, in ’n vertoning van een of ander vreemde verwondering. Die dekades moet wraggies lank gewees het.

Maar die oomblik los in die bohaai op toe die ander vroue opstaan toe een van sê: “Ons is nie vroue en moeders nie. Ons is leiers en vegters. So laat ons lei en veg.”

“Ek sal dit nie duld nie,” roep die direkteur. Die wagte kom nader en neem hul posisies teenoor die vroue in.

Die mans is die minderes in getalle en vaardigheid, maar hulle het wapens. Gou lê ’n aantal vroue op die vloer. Dan meng die twee groepe en die vuurwapens help nie meer veel nie. Gewelddadige sterftes word gesterf, hierdie slag meestal deur die mans, want die vroue is bedrewe in die skoppe en houe wat hulle uitvoer. Kort voor lank is die geveg egter weer in die mans se guns en hulle skiet en vloek, maar nogmaals swaai die voordeel en dit lyk asof twee vroue die botoon voer. Dan, uiteindelik, is al die mans dood en die laaste vrou lê sterwend. Die direkteur is ook dood, haar oë groot en verskrik en haar bejaarde mond oop asof sy in ‘n kunswerk op die rekenaarskerm in wanhoop uitroep.

Geo klouter van die kabinet af waar hy ’n heenkome gesoek het. Hy loop deur die slagting. Hier sal taamlik skoongemaak moet word, dink hy. Maar hy dink aan iets anders ook. Hy het oorleef. Dit beteken iets. Dit maak hom ongewoon. En was hy nie nog altyd ongewoon nie? Hy moet baklei teen die megalomaniese impuls wat oor hom kom om sy arms hoog te lig asof hy die toneel seën.

Gou egter oorval ’n groot magteloosheid hom, iets waarmee hy heelwat meer vertroud is as met selfvertroue. Is dit dan tyd? Het die tyd aangebreek? Gee hy hom oor aan die onvermydelikheid in elke sterfling se lewe? Hy kan nog die skare buite hoor en hy loop na die deur toe om sy heiland te ontmoet. Laat hy dan ‘n tikkie ondernemingsgees aan die dag lê.

Die geraas bedaar toe die mense hom opmerk.

“Wat het daarbinne gebeur? Waar is die bukusse? Ons wil die bukusse hê.”

’n Paar moedige siele loop verby Geo in sy kajuit en die bunker in en kom terug. “Hulle is almal dood. Die bukusse is dood.”

“Onderhouer, wat het gebeur?”

“Daar was ... daar was ’n algemene wanorde ... Waar is die … die gesag … die direkteure?”

“Uit die kussings gelig en in die Transformeerder gegooi.”

Iemand hou sy hand uit. “Geluk, Onderhouer. Jy het toe al die pad nog die moed van jou oortuiginge. Jy is mens, waarlik mens.”

Geo kyk terug na die bunker. “Dis ... Daar sal iets gedoen moet word aan al die dooies.”

“Ons sal dit doen,” sê ’n vrou en lei ses ander by die deur in.

“Wag, dis my werk,” sê Geo.

“Nie meer nie. Nie meer nie, Onderhouer. Jy het gedoen wat van jou verwag is.”

“Dis verby? Ek het dit gedoen?”

Dis asof iets van die skare besit neem, ’n nuwe vasbeslotenheid. Soveel dood gee rigting aan die menigte. Geo begin loop en hierdie slag vrees hy niks. Hy waardeer eerder die welwillendheid en vreugde wat hy ervaar. Weer kry hy lus om sy arms omhoog te lig.

“Onderhouer, hei, Onderhouer!” roep mense uit terwyl hy met die gange langs wandel. “Sal jy jou hande op my kind lê? Hy is baie siek.”

“Ek kan niks daaraan doen nie,” protesteer Geo, maar die versoek is so dringend en die versoeking so groot.

“O, Onderhouer, asseblief, Onderhouer.” ’n Vrou buig voor hom. ’n Tiener gryp aan sy mou en snak. Vir ‘n wonderlike oomblik voel Geo iets uit hom vloei, iets van groot waarde, ‘n bydrae tot die mensheid.

“Gee ons van jou kennis, Onderhouer, jou wysheid.”

“Lei ons, O Onderhouer. Lei ons na Stomdys.”

“Stomdys, Stomdys, Stomdys.”

“O, Onderhouer, my Onderhouer.”

  • 1

Kommentaar

  • Ek is verlore hierin. Miskien is die karakters nie behoorlik ontgin nie of dalk is ek net bloot dom. Dit is egter 'n interessante storie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top