Stiltetyd deur Marita van der Vyver: 'n Jaar in die land van verlies

  • 0

Stiltetyd
Marita van der Vyver
Tafelberg
ISBN: 0-624-04432-7
328 pp
Sagteband
R160

‘n Jaar in die land van verlies. Dit is waarin Hester Human se verblyf in Provence ontaard. Kort voor hulle vertrek na Frankryk, waar haar argitek-man, André, ‘n ou huis wil restoureer, sterf hulle dogtertjie, Manon, op ‘n tragiese manier. Die jaar in Provence, wat veronderstel was om ‘n droom-verblyf te wees, ontaard vir Hester, André en hulle seun, Emile, in ‘n jaar van intense verlange, pyn en hartseer; grootliks ‘n jaar van stilte.

Die eerste twee derdes van die roman is ‘n soort stiltetyd op sigself; die hele teks onderskryf stilte. Daar is min uiterlike gebeure in die verhaal en die leser se aandag word die hele tyd op Hester se emosies en psigiese toestand gefokus. André raak toenemend gefrustreerd met sy vrou se stilte, maar sy gebrek aan sterk optrede omvou hom ook in ‘n soort stilte waaruit hy nie kan losbreek nie. Vir hom is sy enigste ontvlugting die werk wat aan die huis gedoen moet word. Sy onbeholpe pogings om na Hester uit te reik, en oorname van die huishoudelike pligte, beklemtoon eerder die stilte wat om hierdie gesin hang. Ook die tiener, Emile, praat nie oor sy suster nie en kan glad nie onthou presies wat op die dag van haar dood gebeur het nie. Hy voel gefrustreerd met sy ma se lang gesig, maar is magteloos teen die hartseer en die pyn wat sy ervaar. En aangesien hy skuldig voel vir Manon se dood, kán hy nie met sy ouers daaroor praat nie.

In Frankryk onttrek Hester haar geleidelik al meer van die wêreld om haar. Sy krul soos ‘n duisendpoot in om haar eie pyn, haar eie gevoelswêreld, sodat sy later geen poging aanwend om na haar man en seun uit te reik nie. Daar is by haar ‘n intense begeerte na stilte. Hierdie stilte vind sy heel letterlik wanneer sy in die koerant lees van Myriam Soro (wie se naam onmiddellik assosiasies met sorrow oproep), ‘n vrou uit die Demokratiese Republiek van Kongo, wat albei haar kinders vermoor het. Myriam Soro weier om te praat. Oor haar hang daar letterlik ‘n ondeurdringbare stilte. Hester word so gefassineer deur Myriam se storie dat sy vir haarself ‘n hele verhaal rondom die skamele feite in die koerant fabriseer. Op haar man se vraag hierna sê sy net: “Toe ek die droë feite in die koerant lees, het die res vir my duidelik geword” (p 85). Hester skryf vir Myriam talle briewe, wat sy egter nooit pos nie, briewe wat dus nooit spreek nie, maar persoonlik en ingehoue bly – stil briewe. Hester voel haar een met Myriam, omdat sy haar verbeel dat daar by hulle dieselfde verskriklike gevoel van verlies moet wees. Sy het begrip vir Myriam se optrede, iets wat die afstand van onbegrip tussen haar en André verder vergroot.

Daar is ook ander soorte stiltes in die roman: die stilte rondom die Marokkaanse meisie Aisha en haar broer, Habib, se rusies, asook die stilte en afwesigheid van plaaslike inwoners. Aisha en Habib se karakters word bykans glad nie uitgewerk nie en die plaaslike inwoners is heeltemal afwesig binne die roman. Sodoende word die leser se aandag gefokus op die Human-gesin se stryd om oorlewing, ‘n desperate poging om te behou wat hulle het. Hier word Tsjechof se toneelstuk Die kersieboord intertekstueel heel vroeg in die roman betrek. In Tsjechof se toneelstuk verteenwoordig die kersieboord alles wat die gesin, ten spyte van desperate pogings, verloor. Dit is opmerklik hoe baie Hester na die kersieboord aan die punt van die heuwel stap. Haar gesin bevind hulle in ‘n soortgelyke situasie as die Tsjechof-gesin: hulle veg desperaat om die lewe te behou soos dit was voor Manon se dood – natuurlik ‘n futiele poging. Want die Human-gesin se verlies word verder beklemtoon deur die feit dat hulle in ‘n ander land is en dus ook Afrika “verloor” het. Hulle bevind hulle vir alle praktiese doeleindes vir ‘n jaar op ‘n reis van verlies en stilte.

Die stilte word in beide die teks en Hester se lewe opgehef wanneer Hester vir Beatrice ontmoet. Met hierdie ontmoeting betrek Van der Vyver onmiddellik (en bietjie te selfbewus) Dante se Goddelike Komedie as interteks. Wanneer Beatrice haarself voorstel, vra Hester: "Soos in Dante? … Die skrywer. Sy geliefde was Beatrice.” Sy vertel verder ook vir Beatrice dat Dante se Inferno as “’n reisverhaal” beskou kan word (206). Beatrice, ‘n haarkapster, trek Hester in en laat toe dat sy vriende maak met haar aangenome Rwandese dogtertjie, Aurore. Vir Hester gaan hierdie vriendskap aanvanklik meer om Aurore as om Beatrice self, maar dit word vinnig duidelik dat Beatrice as gids optree. Reeds met hulle eerste ontmoeting verklaar Beatrice dat sy ‘n tipiese kreef is en daarom “soos ‘n wraakengel oor haar [Aurore] wil hang om haar vir die res van haar lewe teen enige verdere ongeluk te beskerm” (209). Sy praat met Hester oor sterretekens en engele en glo in gidse, “lewende wesens of lewelose dinge of enigiets tussenin wat ons siele help om ‘n pad deur die lewe te vind” (p 255). Sy lê ook Hester se drome vir haar uit.

Dat drome ‘n belangrike rol in die roman speel, word beklemtoon deur die openingsparagraaf:

Droom jy nog? Bly daar nog drome oor daar waar jy nou is? Dis wat ek gewonder het toe ek vanoggend wakker word (p 9).

Waar Hester se drome yl en buite konteks in die eerste gedeelte van die roman was, verleen Beatrice diepte en insig met die uitleg daarvan. Dit is sy wat vir Hester, ná ‘n droom waarin sy saam met iemand in ‘n hysbak val, vertel dat dit sy en André is wat saam in die hysbak is en dat Hester intuïtief die einde voel aankom:

Julle klou aan mekaar vas ter wille van selfbehoud. Nie om mekaar te probeer beskerm nie. (…) Sulke vallende drome – om van ‘n krans af te val of van ‘n groot hoogte neer te stort – het gewoonlik met die einde van dinge te doen. (…) Of met ons vrees vir die einde van dinge (p 253, 254).

Met hierdie uitspraak van Beatrice begin Hester se lewe onbewustelik ‘n verandering ondergaan: sy begin om as ‘t ware afskeid te neem van die “land van verlies”. Die stilte word ook binne die roman opgehef deur verskeie gebeure wat vinnig op mekaar volg: Habib se konfrontasie met Hester in die woud, Aisha se rusie met haar broer wat haar in Hester en André se huis laat kom skuil, Emile se ingrype in die rusie later met Habib en sy hospitalisasie. Hierdie insidente dwing Hester om betrokke te raak, om weer beheer van haar lewe te neem. Opmerklik is die briewe aan Myriam afwesig en beperk tot ‘n poskaart hier en daar in hierdie gedeelte van die roman. Wanneer Hester die nag voor hulle Suid-Afrika toe vertrek, uitvind dat Myriam aan ‘n oordosis kalmeerpille oorlede is, droom sy dat Myriam met ‘n sagte glimlag vir laas aan haar verskyn. In haar droom wys Myriam haar die wit kombersie van Manon wat wapperend aan ‘n TV-antennadraad hang, en verdwyn dan. Die leser het teen hierdie stadium nie meer vir Beatrice nodig om te besef dat Hester ‘n mate van berusting en vrede bereik het nie. Nou eers kan sy vanuit die kersieboord terugstap deur die wit sneeulandskap na haar man en haar gesin.

Stiltetyd is ‘n roman met ryk intertekste wat die leser skaars kan miskyk. Benewens Dante se Goddelike Komedie en Tsjechof se Die kersieboord word die landskap en verskillende kleure ook simbolies aangewend om pyn en die skeuring binne die gesin te onderskryf. Alhoewel die roman dus op verskeie maniere teksmatig die titel onderskryf, loop Van der Vyver die gevaar om lesers met die lang, statiese en “stil” eerste gedeelte te verloor. Vir die leser wat deur die intense gevoelens van onmag, verlange, verlies en pyn kan lees, bied Stiltetyd die beloning van ‘n kompakte, vinnige afloop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top