Stilgebed

  • 3

Stilgebed

’n Bosloerie fladder van tak na tak
en strooptyd knie oondgebakte brood
waar ’n graanland in growwe hande bloei.

Die oes deins in netvliese wat opkyk
en daglig vreet roesgeel strepe
– ’n tweespoorpaadjie –
wat wegkrimp in die teengloed.

’n Kruiwawiel kier-kier in die stof
en ’n suurpootjie skilpad
– van die vaal renosterveld –
verdrink in ’n uitspansel graan.

Reën gly in repies deur vensters van gebed
– weerlig plooi groen teen die koel blou lug –
en hoop rys stadig in rye brood.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top