Sterre en planete: ’n lesersindruk

  • 0

Sterre en planete
Hennie Maas, Matie Hoffman, Willie Koorts, Kobus Olckers en Japie van Zyl
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316926

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Ek het Sterre en planete met ’n traan in die oog en ’n knop in die keel gelees. Dit was een van die laaste boeke wat ek vir my pa gekoop het en in Desember 2017 vir hom gegee het. Hy is die daaropvolgende Februarie oorlede, maar hy het die boek wel deurgelees. Die sterrekunde is nie iets waarmee ek my tipies bemoei nie, en of ek uit my eie so ’n boek net vir myself sou koop, daaroor wonder ek soos ek hier sit. My aandag word te veel verorber deur ander titels, veral geskiedenisboeke, en ek is boonop nie juis ’n luisteraar van die Radio Sonder Grense-program Sterre en planete soos my pa was nie. Maar my liefde vir Afrikaanse boeke het my laat lees, en laat deurdruk, selfs al is die natuurwetenskappe glad nie my sterkpunt in die lewe nie. Ek onthou jare gelede het die joernalis Gideon Joubert ’n boek geskryf met die titel Die groot gedagte, waarvan ek as kind groot dele gelees het. Dit was in 1997 of 1998 rond as ek reg onthou, en die boek het nogal aandag getrek onder die behoudende Boeredom-klomp onder wie ek my bevind het. Joubert het ’n gawe gehad om komplekse inligting op ’n uiters verstaanbare wyse aan te bied vir ’n absolute leek. Maar terugskouend weet ek dat Joubert se boek eerder ’n boek van Christelike apologetiek was wat met die gedagtes van intelligente ontwerp gemoeid was. Daarvan kry mens niks in Sterre en planete nie, want die aanslag is totaal anders. Daarby het die kennis van sterrekunde ook sedert 1998 groot spronge gemaak. Sporadies het ek hier en daar ook iets anders gelees, soos Bill Bryson se A short history of nearly everything, wat ook aan die sterrekunde raak, maar as daar nou ’n tipiese leek is, dan is ek ’n goeie voorbeeld, sou ek sê.

Wat het my pa van Sterre en planete gesê? Hy het net een groot klagte gehad wat ek onthou, en dit is dat daar te lang hoofstukke is oor teleskope. Stem ek saam? Ek kan verstaan dat die hoofstukke oor die teleskope dalk bietjie langdradig kan raak vir sommige lesers, maar dan moet mens altyd ook onthou hoe belangrik teleskope in die bestudering van die sterre is. Die dele van die boek wat die geskiedenis van die sterrekunde dokumenteer, is vir my eintlik van die interessantste dele van die boek. Ek reken met ’n boek soos hierdie lees verskillende mense dit om verskillende redes. Die bestudering van die sterre was self om uiteenlopende redes gedoen oor die eeue. En dit is ook waar die boek begin, by ’n hoofstuk oor “Antieke sterrekunde” deur Hennie Maas, wat die ontstaan van die Westerse sterrekunde herlei na Mesopotamië. Daar is vandag nog mense wat astrologie beoefen en ook dus die sterre om ander redes bestudeer, maar in hierdie boek gaan dit oor die wetenskaplike studie van die sterre, die astronomie. Die astronomie sluit ook aan by die kosmologie, maar Sterre en planete is nie veel met die kosmologie gemoeid nie, en die fokus bly hoofsaaklik op die astronomie.

Die boek word bemark as ’n brug tussen akademiese sterrekunde en die sterrekunde van die amateur en die leek. En dit is inderdaad so. Daar is selfs ’n hoofstuk spesiaal gewy aan amateursterrekunde, waar praktiese raad aan amateursterrekundiges voorsien word. Die grootste gedeelte van die boek was vir my darem heel verstaanbaar, maar hier en daar was ek wel verlore. Die feit dat wetenskaplikes nog nie die son se werkinge presies uitgepluis het nie, is fassinerend. Dan is daar sinne soos: “Solank as wat die ioonskeppingstempo groter is as die herkombinasietempo, is daar ’n oormaat van elektrone wat vir die weerkaatsing van radiogolwe gebruik kan word" (180). Dit is maar net een van ’n aantal sinne wat so klink en waarvan ek nie veel verstaan het nie.

Gelukkig is dit nie hoe die hele boek lees nie. Inteendeel, die grootste gedeeltes van die boek bevat historiese inligting wat die ontwikkeling van die sterrekunde skets, en dit maak uit eie reg die boek besonder interessant en waardevol. Daar is selfs ’n hoofstuk wat fokus op die toekoms van die sterrekunde, en watter studieonderwerpe in die sterrekunde in die toekoms nog meer aandag sal moet geniet. Die boek bevat geweldig baie internetverwysings, veral verwysings na die aanlyn ensiklopedie Wikipedia, wat vir die gesofistikeerde navorser dalk lomp mag voorkom. Daar is ook die herhaaldelike gebruik van “Amerika” in plaas van “VSA”, maar dit kan as ’n klein jakkalsie afgemaak word. Die boek is ryklik voorsien van foto's en sketse wat die teks vergesel, en die verwagting is dat weens die spoed waarteen astronomie ontwikkel, nog boeke spoedig sal moet volg.

Dit is belangrik om op hoogte te probeer bly van die ontwikkelinge in die sterrekunde. Daar is nie groot getalle boeke wat oor die onderwerp verskyn in Afrikaans nie, en daarom kan mens net met lof praat van Sterre en planete. Dit is ’n uitdaging om die sterrekunde toeganklik te maak vir die leek, en die boek vul ’n belangrike gaping in daardie opsig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top