Stem vir jou kind se toekoms; die tyd raak min!

  • 0

Juané van der Merwe

Aan die einde van verlede jaar is daar gepraat oor ’n moontlike wysiging van die Skolewet. Wat is aan die gebeur in Suid-Afrikaanse skole en het ouers ’n rol te speel?

Juané van der Merwe, Fedsas se regsbeampte, beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die stemproses met betrekking tot skole se beheerliggame wat teen die einde van Maart tot ’n einde sal loop.

Die tyd raak min vir ouers om vir skole se beheerliggame te stem. Hoekom is dit so belangrik?

Openbare skole behoort aan die gemeenskappe waarin die skole geleë is en hierdie skole word deur die betrokke beheerliggaam beheer en bestuur. Die beheerliggaam het dus ’n groot invloed op kinders se opvoeding en bepaal onder meer ’n skool se etos en missiestelling, beleid oor toelating, taal en finansiële bestuur. Die verkiesing stel ouers in staat om ’n sê te hê in wie in die liggaam moet dien wat sulke ingrypende besluite oor hul kinders se opvoeding neem en wat ’n direkte invloed het op die gehalte van opvoeding wat hulle kinders kry.

Met staatsinmenging in onderwys ’n al hoe groter bedreiging, kan ouers eenvoudig nie bekostig om nié hul stem te laat geld nie. Ons hoor soveel klagtes van ouers wat nie kans sien om hul kinders na die skool in hul onmiddellike omgewing te stuur nie omdat gehalte-onderrig nie beskikbaar is nie. Maar openbare skole behóórt aan skoolgemeenskappe. Ouers en rolspelers moet dus ingryp indien die skool in hul omgewing nie na wense presteer nie.

Onderwys in Suid-Afrika word deur baie probleme in die gesig gestaar. ’n Hele paar van hierdie probleme kan egter aangespreek word deur vaardige, kundige en toegewyde beheerliggame. Die sukses van ’n skool is direk gekoppel aan die vermoë van die beheerliggaam. Ouers móét dus stem om seker te maak dat die belange van hul kinders, maar ook die breër skoolgemeenskap, gedien word.

Ouerbetrokkenheid is deurslaggewend in die sukses van die skoolbeheerliggaamverkiesings wat tans landwyd aan die gang is. Die verantwoordelikheid rus nou op ouers om ’n verskil te maak. Hoe meer mense aan die verkiesing deelneem, hoe hoër is die gehalte van skoolbestuur. ’n Oneffektiewe beheerliggaam ontneem ’n skoolgemeenskap sy bedingingsmag met die staat en selfs die breër gemeenskap.

Die skoolstelsel het heelwat verander sedert ek self in die skool was. Wat was die pligte van beheerliggame in die verlede - en verskil vandag se pligte en insette van skolebeheerliggame regtig soveel?

Daar het ’n hele verskeidenheid onderwysdepartemente, elk met sy eie wetgewende raamwerk, in Suid-Afrika bestaan voor 1 Januarie 1997, en die skoolstelsel het heel gefragmenteerd daar uitgesien.

Daar was openbare skole, staatskole, plaasskole, gemeenskapskole, nywerheidskole, spesiale skole, kerkskole, privaat skole, ens. Die nuutste ontwikkeling was staatsondersteunde skole, waaruit die sogenaamde model C-skole hulle beslag gekry het in 1992. In al hierdie skole, buiten die privaat skole, het die staat feitlik alle seggenskap gehad. Model C-skole het in 1992 veel meer seggenskap aan ouergemeenskappe gegee. In gevalle waar die ouers of ander rolspelers as die staat enige seggenskap gehad het, was daardie seggenskap maar erg beperk.

Die aanvaarding van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996, op 1 Januarie 2017 het egter wesenlike verandering teweeg gebring. Die inwerkingtrede van die Skolewet is egter deur belangrike beleidsdokumente voorafgegaan, waarvan die Onderwyswitskrif 1 van 15 Maart 1995, een is.

In die Onderwyswitskrif 1 van 15 Maart 1995 word die volgende stelling gemaak:

Die herstel van skole en kolleges moet hand aan hand gaan met die herstel van eienaarskap van daardie instellings aan hulle gemeenskappe deur die vestiging en bemagtiging van legitieme, verteenwoordigende beheerliggame.

Hierdie beginsel het neerslag gevind in die Skolewet en het die grondslag vir die totstandkoming van demokratiese skoolbestuur in Suid-Afrika gelê. Voorheen het weinig skole strukture gehad waarbinne belanghebbende groepe hulle reg kon uitoefen om betekenisvolle en legitieme insette rakende onderwys te lewer.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996, maak nou pertinent voorsiening vir demokratiese strukture asook vir ’n demokratiese proses waardeur verteenwoordigers van alle belanghebbendes (ouers, opvoeders, nie-opvoeders, leerders in hoërskole en selfs die staat) in skoolbeheerliggame (SBL’e) verkies word.

Beheerliggame word nou kragtens wetgewing tot stand gebring, en daar moet gevolglik na die betrokke wetgewing gekyk word om te bepaal wat die funksies, pligte en bevoegdhede van beheerliggame is.

Die funksies van beheerliggame kan in twee hoofgroepe ingedeel word, naamlik algemene funksies, dit wil sê funksies van toepassing op alle beheerliggame, en sogenaamde toegewese funksies, synde funksies wat slegs sekere beheerliggame uitvoer.

Die kernbepaling met betrekking tot die funksies van beheerliggame is artikel 16(1), wat bepaal dat die beheer van elke openbare skool in sy beheerliggaam setel. Die funksies hou alles verband met die beheer van die skool.

Ons het einde verlede jaar gehoor van moontlike wysigings aan die Skolewet. En kort daarna was dit weer stil hieromtrent. Wat behels die Basic Education Law Amendment-wetsontwerp?

Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys wat op 13 Oktober 2017 deur die Minister van Basiese Onderwys vir kommentaar afgekondig is, sal die "fundamenteel belangrike norm van ons demokratiese bedeling" ondermyn en sal inbreuk maak op die "gedefinieerde outonomie" van ouers en lede van die skoolgemeenskap om oor huishoudelike sake van hul skole te besluit.

Die genoemde wysigingswetsontwerp stel onder meer voor dat beheerliggame geen rol mag speel in die aanstel van skoolvlak-departementshoofde, -adjunkhoofde en -skoolhoofde nie. Tans maak ’n skool se beheerliggaam ’n aanbeveling oor sodanige aanstellings. Ander funksies van beheerliggame wat onder skoot is, is toelatings- en taalbeleid, asook sekere finansiële funksies.

Die voorgestelde wysigings verteenwoordig ’n fundamentele miskenning aan die kant van die Departement van Basiese Onderwys, en uiteindelik die staat, dat ouers ’n deurslaggewende rol speel in die beheer van hul kinders se opvoeding, dat hulle deel is van die "voetsooldemokrasie" van beheer, en die rol van ouers word feitlik opgehef deur beheer in onderwysdepartemente te sentraliseer, wat op sy beste as ’n totalitêre ingryping beskou kan word.

Daar word klem gelê daarop dat skolebeheerliggame standvastigheid en stabiliteit en selfs leerders se veiligheid by skole sal help verseker. Maar sekerlik is hierdie algemene beginsels ook die regering se verantwoordelikheid as die skool immers ’n staatskool is. Hoekom klink staatskole dan nou op ’n manier soos losstaande eilande wat min met die regering te doen het? Of is die woord "staatskool" in elk geval die verkeerde woord?

Daar heers in Suid-Afrika steeds baie wanbegrip oor die presiese aard of status van openbare skole. ’n Mens hoor en lees dikwels nog dat gepraat of geskryf word van “staatskole” of “regeringskole” (Engels: “state schools” of “government schools”). In Suid-Afrika het ons egter openbare skole, en die term openbare skool is nie ’n toevallige of betekenislose benaming nie.

Artikel 15 van die Skolewet bepaal dat ’n openbare skool ’n regspersoon is. Dit is ’n afsonderlike entiteit. Die staat is op sigself ’n regspersoon en daarom kan die skool, as afsonderlike regspersoon, nie binne die staat of as inherente deel van die staatsdiens bestaan nie. Deur gebruik van terminologie soos staatskool of regeringskool word die afsonderlike bestaan van die openbare skool los van die entiteit genaamd “staat” misken en word die identiteit van die openbare skool ondermyn.

Die Skolewet is egter só geskryf dat dit ’n vennootskap tussen die staat en die beheerliggame en ander rolspelers skep ten einde gehalte-onderrig te verseker. Die strategiese doelwit van hierdie vennote moet wees om ’n veilige, verdraagsame en stabiele leeromgewing te skep wat onskuld aanprys en menslike waardigheid hoog ag. Die effektiewe bestuur van veiligheid by skole, waar beheerliggame die voortou neem met die ondersteuning van sy vennote, sal ’n bydrae lewer tot hoëgehalte basiese onderwys vir ons leerders.

Daar is soveel ongelykheid in skole. Is ouers wat vir ’n beheerliggaam stem, in ’n moedelose stryd om persoonlike oorlewing van jou kind se skool, of sal dit ook iets beteken vir die hele land se skole as elke ouer van elke skool gaan stem? Brei asseblief uit op jou antwoord.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet maak daarvoor voorsiening dat ouers altyd die meerderheid in ’n SBL moet uitmaak. Die rede hiervoor kan in die Onderwyswitskrif 1 gevind word. Dit lui tereg soos volg:

Ouers of voogde dra die primêre verantwoordelikheid vir die onderwys aan hulle kinders, en het die reg om deur die staatsowerhede geraadpleeg te word oor die vorm wat onderwys moet aanneem en om deel te neem aan die beheer daarvan. Ouers het ’n onvervreembare reg op keuse van die vorm van onderwys wat vir hulle kinders die beste is, veral in die vroeë jare van skoolonderwys, ongeag of dit deur die staat voorsien word, onderhewig aan redelike waarborge wat by wet vereis kan word. Die ouers se reg om te kies omvat die keuse van die taal en die kulturele of godsdienstige grondslag van die kind se onderwys, met inagneming van die regte van ander en die groeiende kind se reg om te kies.

Dit was ’n lang en taai stryd vir die meerderheid ouers in Suid-Afrika om hierdie reg erken te kry. Die stryd om erkenning van hierdie reg te behou mag dalk ewe lank en taai wees.

Stempersentasies by die verkiesing van SBL’e is gewoonlik skokkend laag, en as dit die geval is, dan kan die Minister sekerlik nie kwalik geneem word as sy die indruk kry dat ouers se belangstelling in die onderwys van hul kinders nie sodanig is dat hulle werklik in enige inspraak daarin belangstel nie.

Ouers kan met hulle geesdrif, kennis en kundigheid ’n geweldig groot bydrae lewer tot suksesvolle skole in hulle gemeenskappe. Dit kan egter uiteraard net gebeur as daardie ouers hulself beskikbaar stel om tot SBL’e verkies te word of deur ten minste hulle stemme uit te bring tydens die verkiesing.

Elke ouer het ’n verantwoordelikheid teenoor die skool waar sy of haar kind onderrig word. Hierdie jaar sal aandui of ons die skole in gemeenskappe het wat ons verdien om te hê. Anders gestel: ons skole sal in die toekoms toenemend ’n weerspieëling wees van die gemeenskap waarin daardie skool geleë is. Dit is in elkeen van ons se eie hande hoe ons graag ons gemeenskap weerspieël wil sien!


 

Persverklaring: Fedsas

Verseker dat jy ’n sê in jou kind se toekoms het

Tyd is vinnig besig om uit te loop aangesien die laaste dag van Maart nou net vier dae weg is. Maartmaand is die maand om te stem en is dus ook die maand waarin ouers verantwoordelikheid moet neem vir die toekoms van onderrig in hul kind se skool sowel as in Suid-Afrika. Dit is uiters belangrik dat almal hulself vergewis van die datum waarop hul skool se skoolbeheerliggaamverkiesing (SBL-verkiesing) plaasvind (as dit nog nie plaasgevind het nie) en seker maak dat hul by die stemlokaal uitkom.

Die SBL-verkiesing is die afgelope paar maande deur twee afsonderlike bemarkingveldtogte gedryf. Hierdie veldtogte het albei dieselfde doelwit. Die doelwit van die “I Love My School”- en “School Elections”-veldtogte is om ouers en ander aandeelhouers te motiveer om hul stemme te laat hoor en tel tydens vandeesmaand se verkiesing. Hoewel hierdie twee veldtogte dieselfde mikpunt deel, maak hul egter gebruik van verskillende strategieë om hul doelwit te bereik. Die “I Love My School”-veldtog maak gebruik van ’n emotiewe strategie terwyl die “School Elections”-veldtog baie meer informatief en feitelik is.

“Dit is ’n baie belangrike komponent van enige skool om ’n goeie en sterk beheerliggaam te hê en dit is hoekom daar ’n verkiesing moet wees,” sê Bernie Deacon, ’n wetenskap-onderwyser by Hoërskool Oudtshoorn.

Die belangrikheid van die SBL-verkiesings kan nie genoeg beklemtoon word nie, aangesien die toekoms van onderrig in Suid-Afrika ernstig bedreig word deur die Basic Education Law Amendment (BELA) wetsontwerp. Sonder voldoende leierskap by jou kind se skool kan verskeie belangrike faktore, soos onder meer die standaard van onderwys, die fisiese omgewing van die skool asook die algemene veiligheid van jou kind wanneer hulle by die skool is, negatief beïnvloed word. Dit is egter duidelik dat die SBL-verkiesings vreeslik belangrik is en dat jou stem die mag het om onnodige struikelblokke in jou kind se ontwikkeling te voorkom.

Die SBL by ’n skool is verantwoordelik vir die bestuur van die skool en behartig dus ’n groot aantal take namens die skool. Hierdie take sluit besluitneming en bestuur van die skool se administratiewe sake en die finansiële welstand van die skool in, sowel as die ontwerp van die skool se ere- en gedragskode. Die dissiplinêre proses wat die skool volg, is ook die verantwoordelikheid van die SBL, wat tot ’n sê het oor die skooluniform-beleid. Die belang van ’n goed geoliede SBL is duidelik aangesien hierdie groep individue al die belangrike besluite in jou kind se skool maak.

“Skoolbeheerliggame is uiters belangrik. Om te verseker dat openbare skole vorder tot hulle volle potensiaal word die insette van die beheerliggaam vereis. Die beheerliggaam verseker ’n goeie finansiële standvastigheid vir die skool en die aanstel van goeie onderwysers,” sê Kyla James, ’n leerder by Hoërskool Vredendal.

Daar word tydens vandeesmaand se SBL-verkiesing meer as 300 000 kandidate verkies. Dit is uiters belangrik om jou stem uit te oefen tydens vandeesmaand se SBL-verkiesing aangesien die beheerliggaam verantwoordelik is vir die welstand van die skool. Die bemagtiging van die regte kandidate in elke SBL moet dus hoog op elke ouer, familielid, organisasie en alle ander aandeelhouers se prioriteitelys verskyn.

Ouers, familielede en organisasies kan betrokke raak deur al die nuus oor die beweging te volg op die webtuistes www.liefvirmyskool.co.za / www.lovemyschool.co.za en www.skoolverkiesings.co.za / www.schoolelections.co.za. Besoek ook die Facebook-blaaie vir beide “I Love My School” (@LoveMySchoolZA) en “School Elections” (@SchoolElections).

Vir meer inligting kan u ons gerus gaan volg op ons Instagram (@schoolelections en @ilovemyschoolza) en Twitter (@schoolelections en @ILoveMySchoolZA).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top