Standbeeldgedigte: Wenner aangekondig

pessoa650

Uit meer as 100 inskrywings het Lina Spies Richard Higgs se gedig “#Je suis Saartjie” as die wengedig aangewys. 

Beoordelaarsnota:

linaspies650Die skending van standbeelde in ons samelewing die afgelope tyd, waardeur sommige ook verwyder is, was ’n vanselfsprekende aanleiding tot ’n kompetisie waarin digters op LitNet gedigte oor standbeelde vir beoordeling kon voorlê. Die visuele kunste was vir digters deur die eeue ’n impuls vir gedigte en daar is uitstekende literêre beskouings – van opstelle tot tesisse tot dissertasies – geskryf oor die omskepping van die waargenome kunswerk (beeld, skildery, tekening, ets) tot gedig. So ’n gedig slaag as dit die leser as ’t ware die oorspronklike werk opnuut laat sien deur ’n konkrete voorstelling deur die skeppende woord by hom op te roep. Die gedig self is dan ’n sintuiglike aanbod deurdat die taal konkreet is. Die poësie se eis aan die digter is: Dink deur die oog.

Uit die groot aantal gedigte wat voorgelê is, het dit opgeval hoe min gedigte oor die waarneming van ’n werklike standbeeld gaan. Die digter kan van sy lesers verwag om die standbeeld waaroor gedig word, te herken op grond van ’n kulturele konteks wat hy ten regte mag veronderstel hulle saam oor beskik. Uiteraard moet die digter realisties wees oor die omvang van die konteks wat hy veronderstel. Die uitdaging waarvoor die digter staan, is om die waargenome beeld só weer te gee dat, al ken die leser dit nie uit persoonlike waarneming nie, hy nogtans ’n voorstelling daarvan kan maak en kan deel in die digter se emosionele ervaring by sy besigtiging van dié beeld. Soms kan daar, soos dikwels die geval was met die meeste van die ingeskrewe gedigte, op geen redelike grond van die leser verwag word om in die gedig die standbeeld waaroor gedig word, te herken nie en behoort die digter die leser met ’n subtitel te gehelp het.

Die woordeboekdefinisie van standbeeld lui: “Beeld van marmer, klip, metaal, ens, ter ere van iemand opgerig, gewoonlik in die openbaar en op ’n voetstuk, veral lewensgroot of groter” (HAT: Handwoordeboek van die Afrikaanse taal). Juis op grond van die skending wat in Suid-Afrika aan die orde van die dag was, is ontluistering meer dikwels as verering van standbeelde ook in die tersaaklike gedigte, soos in die werklikheid, aan die orde. In aansluiting by dié ontluistering maak die oorgrote meerderheid digters metafore vir die huidige tydsgewrig van die geskende standbeeld of standbeelde van helde uit die verlede, wat aanleiding gee tot die skryf van aktualiteitsverse met ’n somber siening van verlede, hede en toekoms.

Dit is insiggewend dat juis waar die digter by sy besinning van sy konkrete aanskoue van ’n standbeeld uitgaan, hy/sy die poëties mees geslaagde gedig skryf. Die aktualiteit as impuls vir ’n gedig laat dit maklik ontaard in ’n verstandelike betoog wat nie poësie word nie. Die waarneming van die standbeeld is kennelik die dryfveer vir die digter se persoonlike inset en vermoë om konkreet te dink. Waar dié toerusting by die digter ontbreek, lei dit tot uitgesponne bespiegelinge wat die leser koud laat. Bespiegeling lei tot die gebruik van abstrakte selfstandige naamwoorde en dus stereotiepe taalgebruik. Die volgende voorbeelde demonstreer die retoriek wat die vyand is van die taal van ware poësie: inspirerend, kosbaar, teerheid, vaste fondament, troon uit, tragiese oomblik, gesofistikeerd, persepsies, toekomsverwagtinge, kleinburgerlike, magsbeheptheid, verwoesting, moralisme, aggressiewe, patriotiese.

Richard Higgs se gedig “#Je suis Saartjie” beskik oor die “amount and diversity of materials integrated” wat dit die beste gedig van die kompetisie maak. Die digter bly by die beeld van Saartjie Baartman in sy hegte vervlegting van verlede, hede en toekoms met verwysing na die dubbele ontluistering van Saartjie. Eers in lewende lywe voor Franse oë, asof haar voorkoms ’n afwyking was van hoe ’n mens (’n “human being”) behoort te lyk. En toe sy in haar vaderland weer herstel is as lid van die menslike soort (“human race”), het sy nog ’n keer as beeld nie aan die ontering van vandale ontkom het nie. Higgs se aantekeninge by sy gedig is bondig en tersaaklik. Sy titel verdien besondere vermelding. Saartjie stel haarself voor op haar eie naam en beklemtoon só met trots haar onvernietigbare identiteit. Boonop sinspeel die Franse titel op die onlangse aanval op die kantoor van die Franse satiriese tydskrif Charlie Hebdo, en by implikasie op die poging om vryheid van spraak te vernietig. Die verset teen dié poging en die ontmagtiging van die terreurdaad het uitdrukking gevind in die versetspreuk: #Je suis Charlie. Higgs se gedig betrek ’n groot verwysingsveld. In “#Je suis Saartjie” herken mens die hand van die digter.

Drie ander gedigte wat eervol vermeld kan word, is Henlie Barnard se “Dawid”, Raymond Fritz se “Separated” en Christa de Vries se “Londen-steeg”.

Lina Spies
Stellenbosch

Kommentaar

  • Christa F. de Vries

    Dankie aan Lina Spies vir die lees van soveel treffende gedigte waar die uiteindelike besluit sekerlik nie maklik was nie. Baie geluk aan Richard Higgs met die uitstaande werk 'Je suis Saartjie'. Uitstekende standbeeld-keuse, Richard. Ook aan die eervol-vermeldes Henlie Barnard en Raymond Fritz, baie geluk. Kompetisies soos hierdie is die brandstof-inspuiting vir ons digters-reis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top