Spore van verwoesting na Boland se brande

Soos in ’n surrealistiese rolprent het Bolanders in die Wes-Kaap sedert verlede week daagliks magteloos toegekyk hoe hulle geliefde omgewing deur ’n see van vlamme verswelg word.

Van Grabouw in die Overberg waar die eerste brand ontstaan het tot by Somerset-Wes in die Helderbergkom, Jonkershoek in Stellenbosch tot by Dal Josefat in die Paarl het die inferno voortgewoed en sy spoor van verwoesting oral in die Boland se berge gelaat.

Een van die historiese bakens wat in die brand verwoes is, is die huis waarin die skrywer Totius grootgeword het.

www.sullivanphotography.org

Drie ander gedenkwaardighede, die Hugenote-gedenkskool, die Malherbe-huis en ’n geskiedkundige begraafplaas het die vlamme wonderbaarlik vrygespring.

Bekende bakens soos die luukse Bezweni Lodge teen die Hottentots-Hollandberge in Cape Nature se Hottentots-Holland-natuurreservaat naby Sir Lowryspas het heeltemal afgebrand.

Van die historiese Augusta-Kleinbosch se pragtige herehuis in Dal Josafat by die Paarl is net murasies oor.

Skaars twee maande gelede het ons nog op die lowergroen gras saam met die eienaar van die historiese Du Toit-huis gekuier na die jaarlikse Skerpskryf skeppende Afrikaanse skryfkompetisie vir Afrikaanse leerders by die Hugenote Gedenkskool skaars honderd treë van die afgebrande herehuis af.

du-toit-huis

dutoit_jeanoosthuizen

Die Hugenote Gedenkskool langs die herehuis is die Afrikaanse skool wat in 1882 gebou is. Dit het die brand wonderbaarlik vrygespring.

Die skool het moedertaalonderrig verseker vir kinders van die boeregemeenskap van Dal Josafat en Klein Drakenstein. DF du Toit (Oom Lokomotief) was die eerste onderwyser. Onder meer die skrywers JD du Toit (Totius), AG Visser en DF Malherbe het daar skoolgegaan.

Dit is in 2001 gerestoureer tot sy oorspronklike vorm en word sedertdien vir konferensies en as gastekamers gebruik. Die lesinglokaal word as slypskool en konferensiesentrum vir die bevordering van Afrikaans benut.

Van die pragtige herehuis langs die skool wat in 1792 deur die Hugenote-familie Du Toit gebou is, het net ’n murasie oorgebly. DF Malherbe, ’n bekende joernalis en digter, het ook sy Victoriaanse huis op Kleinbosch gebou. Dit was dié twee families se seuns wat Die Hugenote Gedenkskool daar gebou het.

sullivan4

www.sullivanphotography.org

Soos in ’n oorlogsone het inwoners in die brandgeteisterde gebiede mekaar dag en nag op sosiale media op hoogte gehou van die vlammesee wat langer as ’n week byna sonder ophou deur sterk stormwinde voortgedryf is.

“Jy wonder: Moet jy jou bonsais of jou skilderye red?” het Willem Pretorius, ’n inwoner van Rome Glen in Somerset-Wes aan Netwerk24 gesê terwyl hy na die brand sowat 50 m van sy huis af kyk. Hy was een van verskeies wat gereed was om te ontruim indien nodig, maar wie se huis gespaar is.

Ander was minder gelukkig en het alles verloor.

www.sullivanphotography.org

Dit is ’n onbeskryflike gevoel as dit helderoordag skielik skemer word en die son verdwyn in die donker rookwolke.

Teen aandskemer raak die voortdurende gedruis van die helikopters stil. Slegs die brandweerwaens se loeiende sirenes vertel die verhaal van die lekkende vlamme wat in die berge voortwoed.

Op Facebook word oproepe gedoen vir perdesleepwaens om die angsbevange perde in die omgewing se perdeplase na veiligheid te bring. Tientalle troeteldiere is deur weldoeners gered.

Almal in die omgewing volg die drama op sosiale media, want as die wind draai, is daar groter moeilikheid.

Toebroodjies, oogdruppels en bottels drinkwater is heel bo aan die talle brandslaners se wenslysie van noodsaaklikhede wat dringend benodig word.

Jean Oosthuizen

Inwoners stel hulle huise oop vir mens en dier. Hulp stroom van oral in.

Die eerste aand teen middernag waai die wind stormsterkte. Terwyl sommige van die inwoners teen die berg aangesê word om hulle huise te ontruim, word van die ontruimde huise deur vandale geplunder.

Radloffpark brand. Bezweni Lodge word as en groot dele van bekende wynlandgoede soos Vergelegen en Lourensford staan in ligte laaie. Die wind tier ongenadig voort en jaag die vlamme aan.

Teen ligdag weer die gedreun van helikopters wat gaan waterbomme gooi. Dit voel weer soos ’n oorlogsone.

Ek klim in my kar en ry in die rigting van Sir Lowryspas. Oral is brandweerwaens wat kom en gaan.

sir-lowryspas-onder

Jean Oosthuizen

Hier en daar 'n padblokkade om die verkeer weg van die brande te stuur.

Helikopters druis bokant my kop. Die een na die ander reën die waterbomme op die vlamme om die vuurspuwende monster te probeer tem.

By die brandweerstasie in die Strand ry mense onophoudelik proviand aan vir die brandslaners. “Nog oogdruppels en ys asseblief,” kom die boodskappe sonder ophou op sosiale media deur.

Strand, Gordonsbaai, Somerset-Wes, ons is almal een in Helderberg, troos die opskrif op my dorp se Facebookblad die inwoners.

Ek ry Wimpy toe en bestel 'n ekstragroot koppie koffie en 'n double-up ontbyt. Langs die Strand soek die vakansiegangers parkeerplek om te gaan swem. Die lewe gaan voort.

A City of Two Tales. Vir sommige “the best of times” en vir ander “the worst of times”.

Hier onder die gedruis van branders en daar bo die gedruis van helikopters.

'n See van branders en 'n see van vlamme.

www.sullivanphotography.org

Meer as 120 brandweermanne en vrywillige brandslaners veg ’n week lank sonder ophou teen die brandende monster voordat die nuus kom dat die brand onder beheer is.

Almal slaak ’n sug van verligting en glimlag vir die skoon blou lug bokant die Boland se berge.

Dan skielik weer die wind. Die inferno begin van voor af. Dié slag beur die vlammesee buite beheer oor die berge en klowe. Stellenbosch se koers in om sy verwoesting daar ook voort te sit.

Lugfoto’s wys ’n verskroeide aarde. Maar die Boland is my woning. Hy sal opstaan en weer soos ’n feniks uit die as herrys. Hy het dit al gedoen in die verlede en sal dit wéér doen.

Vra maar vir AG Visser wat skoolgegaan het in die Hugenote-gedenkskool wat die afgelope week se brand vrygespring het: “O Berge, ons vertoef hier net een dag; U staan so onverganklik vas en pal. En roep: ‘U dag is kort, O leef en lag; Vervul u rol, totdat die voorhang val; Dans voort tot die musiek verstom oplaas; En speel totdat die fluit die aftog blaas!’”

  • Kaapstad se spesiale ondersoekeenheid, die polisie, die brandweer en Sanparke is tans besig met ’n ondersoek om die oorsaak van onlangse brande in die Wes-Kaap vas te stel.

Die berge van die Boland
AG Visser
(Sonnet)

O berge van die Boland, wees gegroet!
Die swerweling aanskou u skoonheid weer,
Die voer hom t'rug na dae van weleer
En wek herinneringe wondersoet.
Hoe vul sy hart met weemoed en met vreug
By aanblik van u kalme majesteit!
Want agter u pers-bloue dynsigheid
Lê al die skoonste jare van sy jeug;
Toe met veerkragt'ge voet en held're oog
Die knaap, sig lawend aan die bergstroom klaar,
Geklim het tot die kale kruin omhoog;
’n Koning was hy toe, ag wis hy 't maar!
U roep – hy strek die hande uit – hy kom;
Die jare wyk – hy is ’n knaap weerom!

O Berge, duisend jaar in u bestaan
Is minder as by hom een vlugt'ge uur,
Sy lente was, helaas, so kort van duur –
Wat het hy met die gulde tyd gedaan?
O Berge, hy was af in die vallei
In Poel van wankelmoedigheid en vrees –
Op Tabors van verheerliking was hy gewees
En Maras bitter, Elims soet ken hy!
Want hy ook moes sig in die strydperk waag;
Hy het gesmaak van liefdesaligheid,
Van wel en wee – sukses en nederlaag;
En diepe letsels dra hy van die stryd.
Van alles uit die lewe span die kroon
Die eie dak waaronder liefde woon!

Die Bouheer van die berge het oor u
Die rooiwyn van Sy vreugde uitgedruk,
En nog weergalm die lag van Sy geluk
In donderklank oor u gevaartes ru!
En blydskap skink Hy ons uit die bokaal
Van sy troonhemel oor u, blou en rein,
Uit duisendvoud'ge lewe groot en klein
En uit Sy sterreheer se prag en praal!
O Berge, ons vertoef hier net een dag;
U staan so onverganklik vas en pal
En roep: “U dag is kort, O leef en lag;
Vervul u rol, totdat die voorhang val;
Dans voort tot die musiek verstom oplaas;
En speel totdat die fluit die aftog blaas!”

 

Besoek Sullivan Photography se webwerf vir nog foto's.

Kommentaar

  • Georg Potgieter

    Ek hoop instansies soos PEN Afrikaans begin met 'n geldinsamelings-inisiatief om te help om hierdie historiese Du Toit-geboue in die Paarl te laat herbou. Die vraag is: sal hulle?

  • Baie baie dankie vir hierdie pragtige skrywe met foto's oor so 'n hartsverskeurende, tragiese hartseer gebeure.

  • Dit is SO SO hartseer! My hart skeur in stukke vir ons lieflike Helderbergkom! Die trane loop vryelik as ek na ons ou geboue se murasies en afgebrande plase kyk! Dinge wat ons kinders se erfnis WAS! Al bou mense dit weer op dit sal NOOIT in 'n duisend jaar weer dieselfde geskiedkundige waarde of nostalgiese herhinneringe hê nie! Dan is ons geneig om verslae jou oë op te hef en te vra hoekom Here hoekom? U is mos almagtig U kon mos reën gestuur het na al die smeekbede!

  • Evert F. Bakkes

    Jean, baie dankie dat jy hierdie traumatiese gebeure sò pragtig met groot empatie verwoord het. Dit ruk mens inderdaad aan die hart om te sien dat 'n brand van hierdie omvang niks en niemand ontsien nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top