Spoor van ’n droom

  • 4

Ek is wakker gemaak met koffie en padstalbeskuit in die bed. Dit was sy gewoonte, as ons naweke weggegaan het, om iewers langs die pad ’n pak beskuit te koop. Jy proe die kontrei, jy proe die mense, het hy geglo. Hy het hulle in sy draaiboeke ingeskryf, ingeverf: ek voer die mense vir die mense, in lang kwashale, stotterende tikmasjien. Sy oë was nog rooi toe hy die beker vir my aangegee het; hy het met stil verwagting na my gekyk, klein voutjies onder sy oë.

"Het jy gedroom?" het hy gevra, drywend oor die matras. Drome het hom geboei: stories wat die onderbewussyn in beelde projekteer. Drome is portale, voorportale. Teen die einde, het hy gesê, het hy bykans nooit meer gedroom nie.

Iewers was daar betekenis, is al wat ek onthou, en is dit nou alles weg?

Verdamp.

Ek was dragtig, in my droom. Ek kon ’n warm gloed in my buikholte voel. Ons het by ’n vakansieoord gebly. ’n New Age-terapiekliniek, soos die een buite Nieu-Bethesda. Ek was moeg en het alleen in my kamer gaan lê. Jy was al weg. Of net wég, afwesig. Maar ek kon jou teenwoordigheid naby my voel, soos die warm asem van ’n liggaam agter ’n kombers. Daar het geluide van die kamer langsaan gekom. Ek het stadig opgestaan en voor hulle deur gaan staan, deur die sleutelgat geloer. Twee liggame het teen mekaar gesnak.

"Ons lakens is geskeurde vlerke," het hy gesê-fluister en langs my kom lê. Ek het hom gesoen, my hare uit my oë gevee. Daar was ’n borrelrigheid voor my oë; my gedagtes het gevoel soos gekraakte ruite. Stoom het tussen my vingers opgedryf; ek het gulsig gesluk, tot daar net klam stukkies beskuit onder in die beker gelê het. Krummels oor die kombers.

Ons het gedwee opgestaan. Die son het deur die taai bosse buite die venster geblink. Buite die huis het die swart meer gelê: die water wat nie weerkaats nie, klein golfies wat oor die sand klots, rankende groen skaduwees wat oor die water dryf.

Ons het vir die naweek Wildernis toe gekom, soos ons altyd vroegwinter gedoen het. In Margot se kothuis kom bly; sy het al geweet watter naweek om die huis vir ons uitgeboek te hou. Ons het op die kronkelpad Wildernis toe al sy gunstelingmusiek geluister: Brahms, David Bowie, Spiritualized; stadig gery, langs die pad gestop. Ons keer op keer verwonder aan die diep, almagtige kranse, die majestueuse klowe waaroor die mens dit kon vermag om brûe en passe te bou; die see wat riviere in skuim omvou. Ons het saam gestort en see toe gestap.

Dit was ’n blinkwit dag, ’n helder wintersoggend. Die sand was nog koud van die vorige nag se hoogwatergety, daar het skuim al langs die strand gelê. ’n Stilte het oor hom gehang. Die diep stilte wat voor elke operasie oor hom kom hang het. Daar was pyn in sy oë, wat hy bedags agter ’n donkerbril versteek het, en saans agter ooglede. Ons het lank gestap, met net die see se gesuis wat deur die stilte tussen ons gespeel het. Ons was vanoggend alleen; net ’n hond en sy baas het doer in die verte beweeg, maar ek kon my dit seker verbeel het ook; die see bedwelm ’n mens; herinneringe raak wasig.

Sy vingers het in myne gevleg, hy het voor hom bly kyk. “Ek is siek. Ek skryf. Vir oulaas.”

Ek het na hom gekyk. Hy het dowwer geword, ’n skaduwee. Hy het homself ’n bewende eggo genoem.

“Waaroor?” het ek gevra.

“Oor jou.” Hy het begin hoes; hy moes gaan staan om te hoes.

Daar was ander, voor my, die eerste muses. Maar die een wat die kunstenaar tot die dood toe boei, haar naam word oor die blaaie van vergetelheid geskryf. My kop raas. Jou kop raas ook. Simbale van die hemel, sterrereën, hierdie storms wat ons ons gedagtes noem. Ek skakel al die stemme af. Ek is besig om geruisloos hier weg te gaan.

Ek verstaan dit, ek sien dit.

Ek het lewe probeer skryf, maar dood is in ons taal ingekerf: doodbang doodkalm dooddollies doodeenvoudig doodernstig doodgewoon doodloop doodluiters doodmoeg doodnugter doodreg doodrustig doodseker doodstil …

Jy het die filmbedryf gerevolusioneer – “in die apartheidstaal!” het hulle almal geskree-sê. Dit het hom mal gemaak, siek ook. Ons moes uit Johannesburg wegtrek, dit was nie goed vir Benjamin nie.

Benjamin het nooit regtig sy pa se werk erken nie, hy het nooit regtig ’n kans gehad nie, dit is op hom afgedwing. Soos Benjamin op sy pa afgedwing is, en nooit werklik deur hom erken is nie. Nie in sy werk nie, altans. En mens het met hom geweet: as jy nie in sy werk is nie, as jy nie sy werk inspireer nie, verveel jy hom. Hy het dit ook gou genoeg gewys. Dis nie dat hy Benjamin geïgnoreer het of vermy het nie; hulle kon net nooit in mekaar se wêrelde inpas nie.

Daar is ’n nuwe gedagtepatroon wat vorm: hoogleraars, morfienverslaafdes, goue palms, pienk rose wat oor verligte plaveisel lê, verliefde tieners onder broeiende storms, huilende kitare. Maar dit is iemand anders s’n. ’n Nuwe goue stem, nie myne nie.

“Maar jou stem ...” – hy het ’n paar keer asemgehaal – “jou stem is binne my, eggo binne my. Jou stem dryf saam met my tot in die volgende droom. Ek wil nog een keer saam met jou wegraak, vir oulaas in jou drome wandel.” Slotparagraaf, onvoltooide epiloog. Fyn spatsels bloed het oor die sand gelê.

Ek het opgekyk na hom. “Hoe voel dit as jy skryf, as die goue woorde oor jou vingers kletter?”

Hy het na die see gekyk en toe tot diep binne my gekyk, waar hy altyd gekyk het as hy oor sy skryfwerk gepraat het.

“Die lig wat my hande laat bewe is die lig wat die voue in jou glimlag laat gloei.

“Dit voel soos wat die dwelms my laat voel, die medisynes wat hulle vir my gee. Hoe jy my laat voel. Alles voel ’n bietjie soos die see.

“Ons raak een, tot ons nie meer kan onthou wie wie is nie.

“Ek sien patrone. Dan skryf ek die patrone neer.”

Die strome om ons enkels, dit raak hoogwater.

Ons het gewieg op die maat van die see; golwe klots om ons gedagtes.

Ek het sy naam gefluister, trane het in my keel opgewel.

“Hierdie is my drome, my halfwakker drome wat ek neerskryf.

“Maar die droom …”

’n Droom is ’n lappieskombers van saamgeflanste visioene. Ons moet onsself daarin toewurm, soos kinders. Ek wou iets sê, maar ek het my bedink.

“Ek dra ’n masker vir die wêreld. Vergeelde glansglimlag vir tydskrifvoorblaaie. Maar vir jou wys ek my onsigbare self, alles wat ek is, wat ek terselfdertyd nie is nie. My ingewandes brand. Ek sit in my eie stront, verdrink in my eie kak. Dit raak ondraaglik, en ek wil nie hê jy moet my so onthou nie. Dit maak seer as ek skryf. Dit is al wat my aan die lewe hou.”

“Jou pyn verlam my. Hoe kan ek bly glo as ook jy van my weggeneem word?” het ek gevra. “As jy hier weg is, sal ek kreupel raak, weggooiweeskind, niks om aan vas te klou nie. Net my kind, wat ook vir my ’n vreemdeling geword het.”

“Geloof is liefde,” het hy gemymer. “Liefde is geloof.”

Geloof is saamgepakte gedagtes, het ek gedink.

Hy het my naam gesê en sy lippe tot teen myne gebring. Ons het gesoen, lank gesoen, diep gesoen, soos tieners gesoen. Ek het binne myself gehuil, binne hom gesnak.

Ek het liggies gebewe. “Verstaan jy my beter as wat ek myself verstaan?” het ek gefluister-vra.

Hy het na my gekyk. “Jy weet ons lewe die diepste en mooiste storie, nè? Jou goedkeuring vir wat ek skryf is al wat van my oorbly. Dit is wat ek hier geleer het. Ons leer liefhê by diegene wat ons leer liefhê. Die een wat jy die liefste het is jou grootste vermaner. My lende raak koud. En al wat oorbly is ...” Hy het weer gehoes. “Ek het al weer vergeet wat ek wil sê, Anette.”

Die see se gedruis het in golwe oor ons gespoel. Die son het verblindend wit geskyn.

Niemand sal ons ooit skryf nie. Ons voetspore in die sand raak vlakker soos ons ouer word, asof ons jonk en kinders word.

Ons het weer by die kothuis gekom. Die sagte groen heuwels het in die wind gefluister, ons in ’n nes van blare en fyn mis toegevou.

“Die varings is mooi, nè?”

Ervarings is mooi. Ons kyk hoe die rotse vir die plante sê: alles is tydelik, ons kom en gaan, soos julle.

*

Ek gaan nog steeds elke jaar Wildernis toe. Vroegwinter. Ek stap alleen langs die branders, sy spore langs myne, sy stories langs myne. Ek vertel hom alles wat ek beleef en voel, alles waarvan hy steeds deel is. Hy lag vir my deurmekaar stories, ek sal verbouereerd oor die see kyk as iemand verbystap. Ek staan lank en kyk na die see, kyk na hoe die see beweeg, die patrone van gister. Ek huil skaamteloos as hy my van die hemel vertel, dat hy ons spore kan sien, ons huppelspore wat in wit lig weerkaats. Ek dra sy brief saam met my, sy laaste woorde, die onvoltooide afsluitingsparagraaf. Ek lees dit hardop vir myself en vir die wind, soos hy destyds gedoen het. Die woorde bly binne my eggo, die geheime wat ons saam beleef het.

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top