Spesiaal vir Kobus

  • 4

Dis 'n lieflike sonnige dag in PE, met net 'n sagte windjie wat die boomblare effens roer. Tienuur in die oggend besluit ek en my vriend om see toe te ry, na Bird Rock, en 'n rukkie daar te sit. Ek voel effens bedruk en die vars seelug sal my dalk beter laat voel.

Op pad koop ons 'n groot pak slaptjips, broodrolletjies en 'n Coke. Ons gaan sit en eet in 'n parkeerplek langs die strand.

Die see is voorlangs 'n ligte groen-blou, met wit brandertjies, na agter word dit donkerder, 'n diep blou en verder amper swart. Twee vistreilers vaar op spoed voor ons verby. Hulle sal seker om Kaap Receife gaan en naby Seaview hul nette uitgooi, of lyne vir tjokka. In die water agter die branding baljaar 'n paar swemmers. 'n Vrou in 'n geel kano roei verby.

'n Paar treë van my af, aan die regterkant, is 'n stort. 'n Aantreklike, gespierde jong man met bruingebrande lyf kom staan onder die stort en draai die kraan oop. Hy draai na 'n rukkie sy rug op die stort en trek sy swart broekie agter af en weg van sy lyf.

Hy spoel sy boude af. Sy boude is spierwit en pragtig. Ek voel weer opgekikker, ek het nou vir 'n paar dae lank weer iets aangenaams om aan te dink.

Dank die Here vir mooi jong mans met sulke mooi boude!

Groete,

Ou Gay Man

  • 4

Kommentaar

  • Gay Ou Man,

    Hier gaan ons al weer!

    Rom: 1:26–28: “ Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hul perversiteit. En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.”  

    Rom: 13:13-14: “Ons moet welgevoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

    Dink jy ek veroordeel jou? Glad nie – ek haal eenvoudig uit die Woord van God (die Waarheid) aan. Jy sien God as Skepper, ken die mens as skepsel. Dank daarom ook aan God ons Vader vir Sy genadeversoening en redding wat Hy bewerkstellig het, in en deur Sy enigste Seun, Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker. Alhoewel ons almal sondaars is, is ons wat ín Christus is vry omdat ons in die eerste plek ons sondes erken het, dit bely het en God se Genade in Christus aangemeem het.  Ja-ja ons is sondaars, maar ons misbruik nie ons vryheid in Christus om te bly sondig nie.

    Dit maak ons nie engeltjies nie en kwalifiseer ons glad nie om oor jou of ander te oordeel nie. Maar ek wys jou net tereg omdat jy struikel in jou onkunde oor wat sonde is en/of jou optrede só rig om jouself gekose weë in sonde te probeer selfregverdig.

    Hou asseblief daarom op om die Here se Naam by jou eie gekose on-natuurlike liggaamlike begeertes in te sleep – jy mislei net jouself – God maak nie foute nie!

    Sterkte

    Dolf

  • Dolf:

     
    Wat laat jou dink Paulus (of Moses, of enige ander van die beweerde outeurs van die Bybel) het enigsins meer van God of God se wil geweet as ek of jy of die ou wat my pizzas aflewer? 

     
    Daar is, en was al, duisende godsdienste. Almal van hulle (ten minste in hul fundamentalistiese vorms)  maak aanspraak daarop dat hulle die enigste korrekte geloof is, en dat hulle profete die enigstes is wat werklik met God in aanraking was. Vele van hulle dreig ook nie-gelowiges met ewige straf. Wat is tog die storie met al die gedreig? Hoe sterk of seker is 'n religie werklik as hy gereduseer word tot dreigemente om ander te probeer oortuig?
     
    Dit staan enigiemand vry om sy persoonlike insigte oor God neer te skryf. Hoe maak mens die keuse tussen al hierdie verskillende bewerings? Hoe weet jy alle ander mense se keuse is verkeerd? 
     
    Kan ouens soos jy en KdK werklik nie insien hoe mateloos arrogant julle vir ander mense lyk nie? En hoeveel skade dit jul eie religie aanrig nie?
     
    Sover ek weet het Jesus ook nie eintlik van arrogansie gehou nie. Ook nie van leuenaars nie. Nog minder van mense wat in Sy naam leuens vertel. Of mense wat moerse winste maak deur in die tempel te sit en handel dryf en leuens vertel. Mens kan maar net wonder wat hy sou dink van deesdae se televangeliste. Dalk was sy graf leeg omdat hy so in in sy graf omgedraai het dat hy naderhand uitgerol het.
     
    Iets om oor na te dink...?
     
     
  • Ek moet erken dat my bediening aan gays nogal tricky is. Wat my help is weereens die besef dat die mens drie-dimensioneel geskape is. Ek sal dus eers intensief kyk na al drie hierdie fasette van die mens, voor enige oordeel.

    Gay-geit sit vas in een van die volgende vlakke. Die liggaam, siel of gees van die mens. Behandeling van die eerste dimensie is ek nie kenner, maar weet dat dit so werk:

    Indien die probleem fisies van aard, was die kind miskien tweeslagtig gebore. Indien baba selfs duidelik 2 geslagte dra, mag die dokter besluit watter die maklikste is om te verwyder. Verkeerde oordeel hier, genereer vele trauma. Hier glo ek dat ’n operasie die probleem weer kan regstel.

    Indien probleem in die sielsvlak sit, en sielkundig van aard is, kan oorsake veelvuldig wees. Erge verwerping vanaf ’n ouer, vorige oorheersende dominerende huweliksmaats. By dames speel verkragting nogal groot rol, wat maak dat hulle mans haat.

    Indien dit gesetel sit in die gees van die mens mag die fetus dit in baarmoeder ontvang het, vanaf moeder of haar eenwording met vader wat so probleem dra. Gees trek gees aan.Onder verkragting mag ’n party ook die verkeerde gees van die verkragter ontvang.

    Weereens ’n onderwerp om nie ligtelik op te neem. Jesus is lief vir alle mense. En wil dat almal ’n gelukkig lewe leef. Om saam met ’n gay persoon ’n pad te stap, is nie maklik nie. My voorstel is, los die oordeel, verstooting en preke. Wen deur liefde. Jesus het nie verniet vir hulle ook kruisdood gesterf nie.

    Daar is niks fout met Dolf se mening hierbo nie, hy verklaar net die morele waarde van die skrif en stel duidelik dat hy nie veroordeel. Godgegewe riglyne is daar om die ‘self’ te beskerm, wat die hoofdoel van enige skrif is.

    Trienie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top