Spertyd deur Elsa Joubert: ’n resensie

  • 2

Spertyd
Elsa Joubert

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084327

Spertyd van Elsa Joubert kan gesien word as ’n vervolg op haar ander twee outobiografiese boeke, ’n Wonderlike geweld en Reisiger. Tog is dit meer as ’n vervolg; dis eintlik ’n teks wat op sy eie staan. Dit handel oor die belewing van ’n hoë ouderdom, maar die ouderdom is verstrengel met die verhale van vroeër. In die afsluiting van haar lewe is ’n ganse leeftyd opgeneem.

In haar resensie in Rapport (26 November 2017) wys Louise Viljoen daarop dat die woord “spertyd” verskillende betekenisse kan hê. “Spertyd” dui op tyd wat verbygaan, op ’n taak wat betyds voltooi moet word. ’n Mens dink aan die Engelse woord “deadline”, wat vir hierdie boek baie relevant is, want die dood is hier die finale sperdatum. Dit speel ook mee in die titel van die eerste hoofstuk, “Doodloopstrate”. Viljoen wys egter daarop dat “sper” ook etimologies met “wyd oopmaak” verband hou; dink maar aan “oopgesperde oë”. Ook dié betekenis is hier van belang, want Spertyd is ’n boek oor sowel die afsluiting van die lewe as dinge waarvoor die oë in die laaste lewenskof oopgaan.

Die begin van die boek handel oor die vertrek van Elsa Joubert na ’n aftreeoord. Dit voel vir haar aanvanklik of sy ’n gevangene in haar kamer is. Sy het haar man Klaas aan die dood afgestaan en sy sien nie kans vir ’n nuwe lewenswyse nie. Sy word oorweldig deur die aanskoue van oumense se nimmereindigende pyn, “dagin, daguit, nagin, naguit” (42). Alles maak haar angstig; dit is net die verlede wat met minimum angs aangepak kan word. Daarom glip sy, veral in die eerste hoofstuk, telkens oor van die hede na die verlede. Maar ook die verlede bring nie altyd troos nie; dit bring herhaaldelik herinneringe van diskriminasie teenoor bruin mense. Wanneer sy terugdink aan “n episode toe sy as kind ’n hoender wat nie goed genoeg vir die gesin was nie, vir ’n bruin kind moes gee, is sy vol woede en berou: “Ek wil om vergifnis vra oor die vir-ons-bedorwe hoender wat ek vir die karretjiemense gegee het” (80). Die ouderdom word ’n tyd van selfkonfrontasie wat nuwe perspektiewe vir haar oopmaak: “Die valsheid van my selfregverdiging al die jare val van my af” (116).

Soms kom daar uitvlug uit haar benouende situasie, maar die uitkoms is nie permanent nie. Haar vriendin Hanna neem haar na die Donderdagaandse orkesuitvoerings in die Kaapstadse stadsaal en sy word meegevoer deur die musiek, maar met verloop van tyd neem haar angs toe wanneer sy die stadsaal binnegaan; en wanneer haar rug haar al hoe meer begin pla, sien sy nie meer kans vir die uitvoerings nie. ’n Ander vriendin, Isobel, oorreed haar om saam te gaan op ’n toer na Namibië, maar ook dit loop uit op ’n mislukking wanneer die ritte per trein en bus haar duiselig maak. Oral is daar hindernisse; keer op keer word ’n opflikkering van vreugde deur teleurstelling gevolg.

Verlies staan geskrywe oor die lewe van oumense, verlies in verskillende vorme: “Eintlik kan Verlies die naam van al sulke oumensgeboue wees. Elkeen kom hierheen omrede verlies. Óf sy lewensmaat, óf sy gesondheid. Of ’n lam been of ’n beskadigde kop, ’n kop wat soos ’n gieter met lekplekke is” (154).

Besonder frustrerend is die verlies van woorde en van gedagtes. Dit gaan gepaard met ’n nuwe perspektief wat ontwikkel moet word, die besef “jy staan nie meer in die hoofstroom nie. Jy het jou kans gehad. Dis verby” (65). Sy het ’n randfiguur geword.

Tog vind daar ’n geleidelike ontwikkeling in haar plaas, ’n wegkeer van die verlede en ’n aanvaarding van die hede en die toekoms. Die ontwikkeling word onder andere deur die eerste paar hoofstuktitels gesuggereer. Die titel van die eerste hoofstuk is “Doodloopstrate”, en dit eindig soos volg:

Ek sê vir my dogter: My lewe is nou ’n doodloopstraat.

My dogter sê vir my: Ma, mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie. Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers.

Dit klink baie dapper, maar ek is nie meer dapper nie. (45)

Na hierdie vertwyfeling het die volgende hoofstuk ’n meer belowende titel: “Hobbels in die pad”. Daar is nog allerlei struikelblokke, maar die reis word begin, die reis op die laaste pad wat uitloop op die dood. En die volgende hoofstuk is getitel “Kamp opslaan”. ’n Tuiste is nou gevind, al is dit maar ’n tydelike een.

Die ontwikkeling wat plaasvind, kan goed geïllustreer word deur haar worsteling met identiteit. Die Nuwe Suid-Afrika het gekom, en daarmee saam ’n nuwe perspektief op die verlede. Die verlede moet nou herbeleef en herbedink word. Wanneer Freek Robinson haar nader om deel te neem aan ’n besprekingsprogram oor Afrikaner-identiteit, is haar antwoord: “Ek dink die spieël waarin ons altyd gekyk het om onsself te sien, is flenters gebreek. En nou sien ons niks. Daarom praat ons so baie daaroor” (123). ’n Deel van die identiteit waarvan sy afskeid neem, is die begrip wat deur Van Wyk Louw geformuleer is: lojale verset. “Verset moet nie lojaal wees nie. Verset moet skril, sterk, afbrekend wees” (120).

Sy ontmoet ’n verskeidenheid mense in Berghof, die aftreeoord, ook mense wat nie dieselfde verbintenis met Afrikaans as sy het nie, en voel daardeur bevry: “’n Verbintenis met die ander mense wat saambly hier in Berghof. ’n Verskeidenheid van mense wat ons grense uitstoot. Ek voel ’n band wat wyer strek as taal. Ek is bly om bevry te wees van die ou dinge van die inperkende verlede” (126–7). En tog bestaan die band met Afrikaans nog wanneer sy tot die volgende gevolgtrekking kom:

Ek is ’n Afrikaanse taalpatriot. Sy woorde, woorde, woorde staan soos ’n geil veld spaansriet om my en soos ek nader stap, neem hulle my dieper en dieper op my tog. Geen ander taal se woorde sal ooit so staan nie.

My standpunt het nou helder geword: Los die groepdenke of groepsidentiteit. Bewerk die klein erfie wat jou toebedeel is, en alles sal daarmee saamkom. (128)

Die gevolgtrekking waartoe sy kom, toon aan die een kant ’n verbondenheid met haar taal, maar daarnaas ook ’n besef dat taal alleen nie haar identiteit bepaal nie: “Taal alleen is nie ek nie” (126).

Te midde van alles wat verbygaan, wat is van standhoudende waarde? Verskeie dinge: haar kreatiewe vermoë; haar humorsin; haar vriende en ander medemenslike verbintenisse; haar familie; haar geloof. Op hierdie dinge wil ek vervolgens ingaan.

Een van die eerste dinge wat in die hoofstuk “Kamp opslaan” ’n wending in haar lewe bring, is dat sy weer begin skryf. Sy het haarself leer ken en besef dat sy haar verknies as sy nie skryf nie (61). Wanneer sy begin skryf, ervaar sy:

Dit is om weer binne-in my aan die lewe te kom, asof ’n droë plek weer water kry [...] Soos Klaas van die kat gesê het: Dit lyk asof die masjinerie weer werk, dit spin. So sê hy van my as hy deur die sitkamer loop en my masjien is aan en ek is aan die werk. Dit spin weer. (61)

Dit is hierdie wending wat tot die skryf van Spertyd sou lei.

Wat ook behoue by haar bly, ten spyte van teenslae, is haar humorsin. Kostelik is die beskrywing van die eetmaal wat vier negentigjariges saam geniet. Alice Goldin, een van die vier, kry swaar met die kos, maar volhard: “Met die een hand, sy sien sleg, die ertjies hardloop weg van haar vurk, die klein tamaties weier om vasgedruk te word, maar sy hou vol tot die bord leeg is” (169). Wanneer die gaste per motor vertrek, kry hulle teenspoed met die outomatiese hek:

Die motor is op die streep wat die hek beheer, die hek begin rukkerig beweeg en afsluip op die motor. Kitty is gebuig oor Alice, sien niks raak nie. “Los Alice se gordel, Kitty, trap die petrol.” Maar dis te laat, die hek sluip by hulle verby, onkeerbaar as dit eers begin roer het. “Trurat so ’n bietjie, Kitty!” skree ek. “Terug op die streep, maar ry dan, los die gordel, ry net!” Maar sy hoor my nie, sien my nie waar ek in die loeiende wind my arms ’n oomblik losmaak van StomJapie, voor die voorruit waai, en StomJapie dan begin rondkatrol nie. (171)

“StomJapie” noem sy die loopkarretjie wat sy kry wanneer sy nie meer op haar eie kan loop nie. Wat baie mense neerslagtig sou maak, word vir haar ’n bevrydende en humorryke ervaring. Die karretjie kry ’n naam en word ’n vriend, ’n mens met voete en kuite (163), iemand met wie sy gesels:

“Ek is gʼn rolstoel nie,” protesteer StomJapie.

“Moenie jou ontstel nie,” sê ek, “hulle weet nie waarvan hulle praat nie.” (164)

Vriendskappe bied vir haar ’n besondere vertroosting. Hierin verskil Spertyd radikaal van Slot van die dag van Karel Schoeman, wat ook oor die ouderdom handel, maar waar die skrywer se lewe uitloop op totale eensaamheid, met die internet as enigste stimulerende geselskap. Elsa Joubert was aanvanklik ook eensaam, maar dan kom daar ’n verandering: “En stadig, versigtig jou voelers uitsteek na ’n ander een, wat alleen op die stoepie op die vierde vloer sit, net sit, hande op die skoot gevou” (36). Wanneer sy bereid raak om na ander se stories te luister, ook hul hartseerstories, gebeur daar iets van groot belang: “En asof jy op ’n roltrap vervoer word van een vloer na die ander, en nie kan afklim nie, so vervoer die tyd jou onversetlik weg van jou man se dood” (36).

Ou vriende kom na Berghof en die vriendskappe word hernu – mense soos Jo Struik en Attie en Audrey de Villiers (Blignault). Jo, wat verskriklike traumas in Java beleef het, wie se lewe uitmekaargeruk is en wat tog nog glimlag, is vir haar ’n voorbeeld; sy inspireer haar om sin uit haar lewe te maak (63). Ook Attie is vir haar ’n inspirasie: sy sorgsaamheid teenoor Audrey (87); sy lewensvreugde, selfs wanneer sy been geamputeer word (88). Elsa en ander vriende maak ’n plan om hom, met rystoel en al, die skoonheid van Berghof se tuin in die lente te laat beleef. Dit word ’n feestelike middag, met twee bottels vonkelwyn; maar Attie gaan daarna steeds meer agteruit, totdat hy nie meer asem kan kry om te praat nie. Hy moet pal in die bed bly; tog kom daar nooit ’n klagte uit sy mond nie (90). In diepe neerslagtigheid dink Elsa, wanneer sy hom op ’n sonskyndag in sy siekekamer besoek:

Jy is ’n goeie mens, jy het nie gemaak dat jy so moet lê nie, hierdie sonskyn is vals, dit is twee simbale wat klink, wat die skelste, aakligste klank voortbring, dis nie die werklikheid nie, die werklikheid is swart, pikswart en rou. Hierdie mooi gebou en die groot uitsigte na buite probeer net vir ons wegsteek dat die donker en die koue op ons wag. Hoe kan jy so dapper wil wees? Sê dit. (90)

Selfs goeie vriende wat steun bied, bring dus terselfdertyd verdriet, omdat vriendskappe verganklik is. Maar die feit dat Elsa Joubert vir Jo Struik en Attie de Villiers in haar boek gedenk, gee tog vir hulle ’n blywende bestaan na hulle dood, ’n bestaan deur die woord.

’n Besondere soort vriendskap word deur middel van boeke gesluit. Wanneer sy vir ’n aantal dae in die hospitaal moet bly, is lees vir haar ’n uitvlug. Skynbaar lees feitlik niemand meer boeke nie; maar by haar is dit anders. Sy haal uit die boekrak ’n boek wat in 1926 verskyn het, begin daarin lees en vind veel troos daaruit. Daar ontwikkel ’n “diep, stil band” tussen haar en die skrywer (151), ’n band wat die verganklikheid trotseer.

Een van die wonders van oudword is die steun wat sy van haar drie kinders ontvang. Die rolle is nou omgeruil; die mantel van sorgsaamheid wat deel van haar ouerskap was, het nou op die skouers van die kinders geval (135). Wanneer sy intens verdrietig voel oor Attie se lyding, is dit twee kleinkinders wat balans in haar uitkyk bring, ’n neef en ’n niggie wat liefderik in hulle ouma se teenwoordigheid teenoor mekaar optree. Elsa besef dan dat die jeug ook ’n werklikheid is, net soos die ouderdom – die een ontken nie die ander een nie. Sy sien in: “Die toneel van die kinders in die son wat ek voor my sien afspeel het, was waar, realiteit van son en vlees en bloed” (93). Attie se sware ouderdom is nie die enigste realiteit van sy lewe nie:

Ek moet aan Attie op die tennisbaan dink, nie vermink en verwring op sy sterfbed nie. Die tennisbaan is net so ’n sterk waarheid. Realiteit. Sy heldemoed sou kon wees dat hy self die perspektief ingesien en beleef het. (94)

Naas kinders en kleinkinders, is daar ook die wonder van agterkleinkinders:

Een wonderlike ding wat op hierdie leeftyd met my gebeur: agterkleinkinders [...] Dit is asof my lewe ’n nuwe dimensie bygekry het, asof ek en my kinders en kleinkinders almal ’n trap vorentoe geneem is. (95)

Op haar negentigste verjaardag is sy vervul met verwondering oor die fyn, ingewikkelde web van familieverwantskap (143). Sy besef dat al hierdie mense uit haar en Klaas se verbintenis ontstaan en bymekaar gekom het (142); op dié manier leef daar iets van hulle twee voort in die nageslag. “Is dit onsterflikheid, die blik uit Timo se oë, waarmee Klaas my aankyk?” (143).

Maar wat het dit te make met diegene wat nie getrou en kinders gekry het nie? Ook onder hulle is daar mense met ’n “nageslag”, soos die ongetroude vrou wat onderwyseres was en wat ’n groot rol in soveel kinders se lewe gespeel het – sy vertel van haar 21 “kleinkinders”, en dat die jaar te kort is om by almal te kuier (174).

Soos reeds genoem, is daar ’n geleidelike ontwikkeling in die boek van mismoedigheid na vertroosting. Aan die begin is die fokus op belemmeringe en frustrasies; dit word gevolg deur innerlike konflikte tussen hoop en teleurstelling, tussen verlies en troos; die boek eindig met vertroosting wat oorheers.

Die tweede laaste hoofstuk, met die titel “Stilte”, handel oor spiritualiteit. Ook wat hierdie tema betref, het daar ’n ontwikkeling plaasgevind. Die vroeëre hoofstuk getitel “Stranddienste” vertel van die stranddiensleidster wat net daarop uit is om “siele te red”, maar wie se vrolikheid vals is. Later word genoem dat min van die inwoners van Berghof nog kerk toe gaan, en een van hulle vertel aan Elsa dat haar man voor sy dood sy twyfel uitgespreek het of dit wat die kerk verkondig, nie blote versinsels is nie. Maar wanneer doodsangs haar skoonsuster Maxie tref, vra Elsa dat ’n gelowige vrou vir Maxie uit Johannes 14 voorlees, en sy sê in haar gedagtes die woorde saam: “Laat jou hart nie ontsteld wees nie, glo in God, glo ook in My.” En sy besef: in tye van droefheid en spanning kan dit wat in die kerk en die Sondagskool geleer is, tot vertroosting dien.

Die hoofstuk “Stilte” handel oor ’n spiritualiteit wat oor die grense van denominasie strek. Dit behels ’n mistieke verkeer met die Onsienlike (189), ’n essensiële deel van haar identiteit (188). Sy verklaar:

Ek kan myself net vind as ek stil is.

Ek glo daar is ’n Skeppende Krag. Ek glo dat die Krag partydig is teenoor ons en dat elke persoon die vermoë het om kontak te maak deur die stukkie stilte binne-in ons.

Ek glo dit is vir my ten goede, nee, essensieel, om daardie kontak lewend te hou.

Elke uur van die dag.

Ek kan dit net doen deur my eie Binnestilte. (190)

Hierdie mistieke eenwording met die Krag is ’n louterende ervaring, dit suiwer van alles wat nie lig en liefde is nie. Dis ’n ervaring wat geen einde ken nie en wat die dood sy verskrikking ontneem: “Elke sekonde van my lewe is die Krag by my. En as ek sterf, sal ek net dieper daarin glip” (192).

Die laaste hoofstuk, getitel “Stofdeeltjie”, bring nog ’n groot waarheid by haar tuis, miskien die belangrikste waarheid van almal. Sy is 93 jaar oud en moet weer hospitaal toe gaan, waar twee medepasiënte met groot deernis versorg word: die een deur haar kinders, die ander een deur ’n simpatieke fisioterapeut. En dan kom sy tot die gevolgtrekking:

Wat vir my die simbool van hierdie siekekamer word, is ’n uitgestrekte hand. ’n Soekende gebaar. Maar nie vertikaal nie, horisontaal. (205)

Dit gaan hier om ’n uitgestrekte hand wat ’n stut soek sowel as ’n uitgestrekte hand wat die nodige ondersteuning verleen. Die mens mag ’n nietige stofdeeltjie wees, maar deur so ’n liefde en empatie word ’n goddelike heerlikheid verkry.

Spertyd is ’n wonderlike boek, ryk aan insigte en met ’n verskeidenheid van emosies. Dis ’n boek wat ontstel maar ook inspireer; wat die leser ontroer en laat glimlag; wat die skok van die mens se verganklikheid balanseer met die troos van dinge wat standhoudend is.

  • 2

Kommentaar

  • Marlene Blackie

    Ek het hierdie boek so paar dae gelede aan my 91-jarige vriendin gegee. Sy het dit reeds deurgelees. Wonderlik dat Elsa op die hoë ouderdom hierdie skepping gelaat het, was haar woorde aan my. Sy het ook na sterker opinie verlang ... Wonderlik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top