Spanners

  • 7

Iedere meganikus of leek wat ooit aan 'n motor gewerk het, of aan enige ander ysters gepeuter het, gebruik die woord "spanner" as hy na 'n sekere stuk gereedskap verwys. Myns insiens is dit ongelukkig dat hy die woord in Engels uitspreek, want daar is baie mense wat Engelse woorde tussenin gooi as hy Afrikaans praat, sodat buitestaanders maklik kan dink Afrikaans is woordarm en het Engels nodig om sinne te bou. 

Wel, dít is waarom ek daarop gewys het dat die woord eintlik van Duits afkomstig is, want ek sal graag wil sien (hoor) dat mense "spanner" op Afrikaans uitspreek. 

So het ons ook 'n streepsak vol gekruide taal wat ons kan uitskud wanneer nodig, en het ons Engels glad nie nodig om iemand op sy plek te sit nie. 

Groete,

Tiens Pretorius 

Ns: Voor ek vergeet: "Knormoer" is nie 'n aansitter nie, maar wel 'n onderdeel van 'n aansitter. Dit is 'n ratjie voor op die as van 'n aansitter se motor, wat inskop in die vliegwiel se rat as mens die sleutel draai. Hy draai dan die enjin. Sommige soorte maak 'n knor-rumoer as hy net in die rondte draai en nie inskop nie. Ek meen dit gebeur dalk omdat die battery te swak is. Snaaks, ek kan nou glad nie dink wat die Engelse naam vir die ding is nie!

 

 

  • 7

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Van "tappets" tot "bendix"!
    Tiens, dis nou lang omslagtige lastige taalgebruik, maar seker belangrik vir Afrikaans ...

    • Tiens Pretorius

      Ek onthou nou die bendix. Ek wonder of die naam "knormoer" nie dalk tong in die kies gegee is nie. Maar 'n beter woord kan ek nie nou aan dink nie. Wat het die "tappets" nou met die saak te doen? Dit ken ek as "klepstoters".

      • Klepstoters? Dan is 'n double adapter seker ook 'n tweestukaftakkontakdoos.

        Dis hoe Afrikaans verneder word - hierdie onnosele, onverbiddelike vereiste dat die soepel tong van die liefde ook in alledaagse tegniese taal ingewurm moet word.

  • Soos die grappie oor die Vrystater wat wonder wat die Engelse benaming vir "tyre" is.
    Hê..hê.

  • Beste Tiens,
    Ek sien jy stem saam met die raad wat ek gegee het toe ‘spanner’ bespreek is. Ons ignoreer die feit dat die woord via Engels in die Afrikaanse taal gekom het (Engels het dit alreeds in die 17de eeu ontleen aan Duits), en sê dis van Duitse herkoms, so asof Duits ʼn groot invloed op Afrikaans het, en nie Engels nie. Dit sal diegene troos wat so gekant is teen Engels.
    Dit laat my sommer dink aan die woord ‘hostel’. Dit het eintlik via Engels in Afrikaans gekom, maar ons bly maar stil daaroor en sê dit kom van Frans af. Spreek dit net anders uit as in Engels.
    Nou kan ons mos almal wat so bang is vir Engelse invloed op Afrikaans, lekker troos. Neem nou maar die woord ‘amazing’. Dit is oorspronklik ʼn Sweedse woord, nou kan ons dit mos vrylik gebruik in Afrikaans, sonder om skaam te wees of bang te wees dat dit van Engels af kom. Nou die dag hoor ek iemand sê hy het sommer dadelik die ‘opportunity’ aangegryp. “Swak Afrikaans!” hoor ek iemand fluister. Dit kom mos oorspronklik van Latyn af, daarom is dit nie so ʼn gruwelik lelike woord in Afrikaans nie?
    Ek dink ʼn mens kan vir elke Engelse woord wat Afrikaanssprekendes gebruik, so ʼn lekker verskoning uitdink.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top