South Africa can work: ’n onderhoud met Frans Rautenbach

  • 0

Frans Rautenbach (foto: Naomi Bruwer)

South African can work
Frans Rautenbach
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092406

In LitNet se seminaar "Skuins voor middernag, kritiese vrae" gesels Frans Rautenbach met Naomi Meyer oor sy boek South Africa can work.

Frans, jou boek South Africa can work fokus veral op arbeidsreg. Jy skryf oor navorsing wat toon dat ’n groot persentasie Suid-Afrikaners se nommer 1-bekommernis werkloosheid is. Maar dit laat my wonder: as soveel mense nie werk het nie, en die regering maak staat op ’n klein getal belastingbetalers, kán hierdie land werklik werk?

Die klem van die boek val sterk op werkskepping, ja, maar uit hoofde van die negatiewe impak van baie meer as net arbeidswette.

Omtrent nege miljoen mense is werkloos (volgens die breë definisie, wat mense insluit wat opgegee het en nie meer werk soek nie). Nege miljoen is omtrent gelyk aan die totale inwonertal van Johannesburg, Kaapstad en Durban tesame. Ons hoofoogmerk moet wees om daardie werklose skare aan die werk te kry. Die vinnigste manier om dit te doen, is om hulle toe te laat om dienskontrakte te sluit op voorwaardes waarop werkgewers bereid is om hulle aan te stel. Die oorgrote meerderheid werkloses bied lae produktiwiteit (weens gebrekkige ervaring, skoling en opleiding) en kan net teen lae lone en op die mins beswarende diensvoorwaardes werk kry. ’n Onopgeleide swart jongmens wat swak Engels of Afrikaans praat, kan dalk – as die reg dit nie onwettig maak soos nou die geval is nie – teen R1 000 of R2 000 per maand werk kry. Dan kan hy leer om die werk beter te doen, ondervinding opdoen, beter leer kommunikeer en kort voor lank meer produktief wees, wat hoër lone beteken. En die werkgewer behoort nie weerhou te word om hom aan te stel omdat hy dalk môre na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie toe sal hardloop nie. Daardie risiko ontmoedig werkgewers om onervare en onopgeleide werkers aan te stel. Daar is nie ’n ryk land in die wêreld vandag wat nie op hierdie manier begin het om sy werkers op te hef nie. Ons kan nie daardie trappie in die leer na welvaart oorslaan nie.

Suid-Afrika het ’n kultuur wat berus op loonkaping (“rent-seeking”) oftewel iets uit niks kry. Daar is ’n hele rits strukture wat dit nie net moontlik maak nie, maar wat gevolglik onproduktiewe verliese van miljarde rande verseker. Dit sluit die volgende in: welsynstoelaes, gratis behuising, regstellende aksie, swart bemagtiging, staatsindiensneming en natuurlik, soos genoem, arbeidsreg. Elkeen van hierdie strukture beoog om armes of voorheen benadeeldes op te hef, en het onbedoeld die teenoorgestelde effek. Só skep welsynstoelae ’n verwagting dat “die staat sal voorsien”, wat entrepreneurskap ondermyn, sodat Suid-Afrika waarskynlik vandag die heel laagste ondernemerskapvlakke in Afrika het (3% van die aktiewe bevolking het nuwe ondernemings teenoor bv 28% in Uganda). Gratis behuising dra hiertoe by. Regstellende aksie vereis noodwendig dat die tweede of derde beste kandidate in poste aangestel word, wat produktiwiteit en werkskepping ondermyn. Swart mense aanvaar dikwels eerder poste in korporasies as om ondernemings te begin. Swart bemagtiging is ook berug onproduktief, waarvan die beste voorbeeld die ineenstorting van groot dele van die landboubedryf is. Staatsdienswerkskepping het sedert 2000 met 850 000 poste gegroei, terwyl die privaatsektor s’n vir alle praktiese doeleindes stilgestaan het. Potensieel produktiewe werkers word op hierdie manier uit die produktiewe privaatsektor onttrek na die betreklik onproduktiewe staatsektor.

Hierdie strukture moet afgebreek word. Daar is geen ander genade nie.

Op langer termyn moet onderwys hervorm word deur ons oorgesentraliseerde skolestelsel te hervorm na een waar die staat betaal vir onderwys, maar dit so ver moontlik deur privaatondernemers aangebied word.

Watter kritieke kwessies moet in hierdie land aangespreek word?

Die belangrikste krisis wat ons in die gesig staar, is ’n korrupte regering. Behalwe om die regering uit te stem, moet ons werk daarvan maak om ons regeringstelsel te hervorm. Studies wys dat gedesentraliseerde regerings (waar belangrike sake op provinsiale of selfs munisipale vlak besluit word) die helfte of minder korrup as gesentraliseerde samelewings is. Dit is veral so in diverse samelewings soos ons s’n.

Dan moet Suid-Afrika, ten einde die korrupsie en rasseverdeeldheid die hoof te bied, dringend en drasties ons ekonomie tot ’n vrye mark omvorm. Vrye markte het deur die bank die hoogste inkomstevlakke, die minste korrupsie en die gelukkigste bevolkings.

Wat kan gewone landsburgers doen om hierdie land te laat werk?

Gewone mense moet begin aandring op vryemarkbeleid. Daar is ’n opkomende geslag swart ondernemers en intellektuele wat nou uitdruklik begin aandring op hierdie beginsels. Maar dit behoort nie tot swart mense beperk te wees nie. Almal moet daarvoor vra. Ten einde dit moontlik te maak, moet hulle natuurlik daarvan oortuig word, en een manier om dit te bereik, is dat hulle daaroor lees. Dit is waarom ek South Africa can work geskryf het.

Foto van Frans Rautenbach: Naomi Bruwer

Lees ook:

Sekurokratisering en Suid-Afrika: ’n onderhoud met André Duvenhage

Menán van Heerden, André Duvenhage
Onderhoude

"Ek wil nie so ver gaan om te sê dat die demokratiese projek reeds op die ashoop is nie, maar die uitdagings is baie groot en die finale toets lê ook nie te ver hiervandaan nie."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top