Sosialisme en die ANC

  • 2

Die ANC se siel blyk ideologies en organisatories uitgehol te wees wat die funksionaliteit van dié organisasie oorhoofs lamlê en sy voortbestaan bedreig.

Met die skryf van dié rubriek was die ANC se nasionale beleidskongres se uitkoms nog onseker. Vroeëre aanduidings het getoon dat daar nie veel van die ANC se beleidsdokumente gaan kom nie. Dié dokumente het maar min om die lyf en bevestig weer eens dat die ANC ’n gematigde party is wat gereduseer is tot ’n organisasie wat kapitalistiese verhoudings bestuur.

Organisatories het die ANC in faksievorming verval, in so ’n mate dat die lyn tussen staat en party nie net dof geword het nie; dit bestaan nie meer nie. Die grondwetlike strukture van die ANC, soos die nasionale uitvoerende komitee, is nie meer in staat om beheer uit te oefen nie. Die belang van baie kamerade is geld en staattenders en daarom beveg hulle mekaar vanuit die verskillende faksies.

Gwede Mantashe, die ANC-sekretaris-generaal, is korrek wanneer hy sê ANC-strukture debatteer hoofsaaklik kaderontplooiing en die toekenning van staattenders. Ideologies bestaan die ANC nie meer nie. Die multi-ideologiese karakter van die ANC het ook verdwyn. Baie ANC-kaders soos Cyril Ramaphosa is deur wit monopoliekapitaal ingesluk en hou die kapitalistiese stelsel in stand wat die meeste Suid-Afrikaners uit die hoofstroom van die ekonomie uitsluit.

Vir Ramaphosa en sy uitgehongerde kamerade is neoliberalisme met sy kapitalistiese karakter aanvaarbaar omdat dit hulle bevoordeel; dit beheer steeds alle sektore van die ekonomie, van die finansiële tot die konstruksiesektor. Dit terwyl die arm mense armder word.

Die samesmelting van party en staat hou sekere gevare in vir ’n regerende party, soos die onlangse uitslag in die Britse verkiesing getoon het. Die Britse premier en leier van die Konserwatiewe Party, Theresa May, het haar misgis deur ’n verkiesing uit te roep om ’n groter meerderheid in die Britse laerhuis te kry sodat sy die onderhandelinge oor Brittanje se ontrekking aan die Europese Unie kon voer.

Haar fout was toe sy haar premierskantoor by Downingstraat 10 betrek het om die verkiesing te bestuur. Gevolglik het sy die Tories se hoofkantoor geïgnoreer en haar twee regeringsraadgewers, Nick Timothy en Fiona Hill, die oorhand gegee. Die gevolge was katastrofies en sy moes vir Timothy en Hill aansê om te bedank nadat die Tories hul meerderheid in die laerhuis ná die verkiesing verloor het.

Die ANC begewe hom op dieselfde pad as die Tories met die ANC-hoofkwartier Luthuli Huis wat min of geen mag kan uitoefen op die ANC in regering nie. Dié organisasie se besprekingsdokument oor “organisatoriese hernuwing” stel verskillende strukturele veranderings voor om die party meer effektief te bestuur. Verskeie strukture meen die top ses leiers moet tot nege vergroot word.

As dit die ANC in Luthuli Huis gaan versterk en dit beteken groter beheer oor kaders in die regering, moet dit verwelkom word. Wat dié voorstelle problematies maak, is dat dit voorstel dat dié amptenary voltyds vir die ANC moet werk. Die vraag is wie gaan hul salarisse betaal, want die ANC se geldsake lyk nie goed nie.

Die ANC moet wakker skrik en besef die tyd vir sosialisme het gearriveer. Jeremy Corbyn en sy Arbeidersparty se opgang in Britse politiek en die verkiesing en politieke gebeure in Senegal (2012) en Burkino Faso (2014) wat die verbeelding van jongmense en die werkersklas aangegryp het, verteenwoordig ’n sterk oproep tot sosialisme in Afrika en verder globaal.

Dus: hoe maak ons sosialisme ’n werklikheid? Ons moet onthou die staat is in sigself ’n sosialistiese instelling, want dit gebruik ons belasting om staatshospitale, staatskole ens te bou en te onderhou. Wat ons nodig het, is kapitaal en goedopgeleide staatsamptenare, dan kan sosialisme werk.

  • 2

Kommentaar

    • Ja-nee! Wat motiveer hierdie benadering?

      Na 'n lang gegorrel oor (wit) kapitalisme. word simplisties gevra dat kapitaal benodig word om sosialisme te bevorder.

      Ek wonder net of hierdie skrywer die vaagste benul het waaroor sosialisme gaan, asook die konstruk van sosialisme?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top