Sophia Kapp daag vroue uit om hul regte op te eis

  • 1
Die skrywer Sophia Kapp het op 29 Augustus 2013 in Valhalla Park, ’n arm gemeenskap op die Kaapse Vlakte, ’n pleidooi gelewer vir vroue om hul regte op te eis. Sy het statistiek van die Wêreldgesondheidsorganisasie aangehaal wat getoon het dat een uit elke twee vroue in Suid-Afrika aangerand of seksueel misbruik sal word gedurende haar leeftyd. Hier is Sophia Kapp saam met die span van Valhalla Park se biblioteek.
Carol-Ann Johnson, programbestuurder, het gaste by die geleentheid verwelkom. Kapp is deur die Valhalla Park se gemeenskapsbiblioteek genooi om deel te wees van hul vrouemaandvieringe. Die tema van haar praatjie, soos deur die biblioteek versoek, was “Bemagtiging deur lees vir vroue”.

Thandiwe Mtsengu is aan die hoof van Valhalla Park se biblioteek. Hier vertel sy hoe lekker sy Afrikaanse boeke op die trein lees.
Twee gelukkige vroue wat in Augustus verjaar, is reg aan die begin van Kapp se praatjie ’n kopie van Die erflating, die heruitgawe van Kapp se heel eerste boek wat nou weer beskikbaar is, belowe. Kapp het egter die twee boeke op ’n tafeltjie neergesit en aan die gehoor genoem dat hierdie boeke weer saam met haar sal teruggaan Pretoria toe indien die wenners dit nie ná die praatjie kom opeis nie. So is dit ook met regte, het Kapp verduidelik. Indien vroue nie opstaan vir hul regte nie, sal daardie regte nie hulle s’n word nie.
Geweld teen vroue kom oral voor. In die armste dele van ons land, en in die rykste woonbuurte. Die vrees wat vroue ervaar, is universeel, die pyn ook. Geld en status beskerm vroue nie teen mishandeling nie; alle vroue, hoe ryk of hoe arm, moet saamwerk om die siklus te stop. Word dit nie gedoen nie, dink meisies wat in gewelddadige huise grootword dat hulle ook eendag hulself moet onderwerp aan geweld, en seuns wat só grootword dink dat hulle ook eendag so moet optree. Néé, sê Kapp. Vroue moet aan hul meisiekinders wys dat dit nie só mag wees nie en moet op hul seuns se harte druk dat dit nie is hoe vroue behandel mag word nie.

In haar eie skryfwerk spreek sy die donker sy van die lewe aan. Haar boeke is daarop gemik om vroue te wys dat dit reg is om op te staan uit moeilike situasies. Sonder om skaam te wees skryf sy wel oor die liefde, maar haar heldinne is mense wat eers die lewe in die oë moet kyk om gelukkig te wees. Kapp se boeke beloof nie eenvoudige oplossings as ’n fabelagtige held skielik opdaag nie. In haar jongste boek, Driehoek, is dit juis die manlike hoofkarakter wat die meeste groei moet toon voordat die vrou hom toelaat om haar lief te hê.

Waarom skryf sy oor die liefde? Die pers is dikwels minagtend oor hierdie genre, maar vroue wat swaarkry, wil ontvlug deur oor die liefde te lees. Kapp sê in haar boeke is daar wel ontvlugting teen die einde, maar dit kom nie sonder dat die karakters daarvoor moet werk nie.

Raadslid Michael Britz, DA Raadslid van Wyk 30 wat die praatjie bygewoon het, se bondige spreekbeurt ná Kapp is gewy aan ’n pleidooi vir meer vroue in die regbank – op alle vlakke. Hy het verwys na die statistiek wat Kapp aangehaal het en het die gemeenskap versoek om aan te dring op ’n deeglike verteenwoordiging van vroue waar daar ook al gewerk word met hierdie probleme.
Denlize was 'n dogtertjie by die geleentheid wat erkenning gekry het vir haar gedig oor haar ma. "Because you are my mother, I am not poor ..." Hier lees sy die gedig voor.
LAPA Uitgewers, die borg van vanoggend se praatjie, het die biblioteek en die span, onder leiding van Thandiwe Mtshengu, bedank vir die werk wat hulle doen. Talle leesklubs en leesbevorderingsprojekte word deur hierdie biblioteek geïnisieer.
Hier spreek
Jerome Fortuin van die biblioteek 'n dankwoord uit.
Hier is Sophia Kapp saam met een van die talle mense wat na haar toespraak met haar gesels het.

Lees Sophia Kapp se toespraak by die geleentheid.

  • 1

Kommentaar

  • Aletta.Engelbrecht

    Geluk aan LAPA Uitgewers en die Valhalla Biblioteek. Dit lyk na 'n heerlike en inspirerende oggend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top