Soos padkos

  • 0

Roelof

Dis diep in die nanag. Iets het my wakker gemaak. Die harde snorkgeluide van Pa wat rukkerig uit die vertrekkie langsaan kom, is dit nie. Daaraan is ek al te gewoond. Daai geluide is soos die kombersie wat oor my toevou iewers in die nag. Die geluid wat aankondig dat Pa tuis is. Dat, net deur die Here se genade, hy na nog ’n aand van totale vergryp tog veilig die huis gehaal het.

Net voor ek my oë toemaak om weer die droom van vroeër te probeer oproep, hoor ek dit weer. Weet ek dié keer dis dit wat my slaap gesteur het. Dit wat my so dringend tot uit my diep slaap wakker geruk het.

“Ma?” Ek lig my net halfpad regop. Ma is nie raserig as sy te veel gedrink het nie. Sy smoor gewoonlik net haar eie ellende. Raak soort van in ’n vibe en bekyk net die wêreld om haar. Die meeste van die kere. Ander kere, minder male, as sy regtig gelukkig is, sal sy bietjie laggerig raak, verspot. Dan is ek ook gelukkig, want dan weet ek dit gaan vir ’n rukkie goed.

Nie dat dit enigiets beter maak nie. Niks smoor die houe wat my altyd tref as Pa eers in ’n bui is nie. Of laat sak die swelsels op ma se gesig as sý die slag deurloop nie.

Ma is vir ’n ruk stil en ek meen ek het my dalk verbeel. Ek is te lui om uit my komberse los te wikkel en te gaan kyk wat met haar aangaan.

“Help my.” Ma se rasperstem laat my vinnig regop kom. Sy was nie vanaand uit nie, onthou ek nou. Vir ’n vreemde wonder het sy net op haar matras bly lê, nooit opgestaan na haar middagslapie nie. Nie eens geworry om pa te loop soek nie. Sy loop soek hom altyd. Altans, so sê sy. Maar dan bly sy by hom as sy hom eers gekry het. Om te sorg dat hy dit nie oordoen nie, verduidelik sy altyd.

Party nagte kom ma tog vroeër as Pa, gewoonlik die nagte as sy by hom baklei kry. Dan is die vernedering te groot. Dit weet ek ook. Dan is sy vir dae stil. Ander kere, as Pa vrede in sy hart het, kom hulle saam huis toe. Ounag. Vreemd genoeg weet ek op sulke tye daar sal vir dae nie kos wees na die kuier nie. Maar ek gun haar die wegkom. Ek gun haar enigiets beter as elke dag onder hierdie dak. Ek weet vir daai paar ure waarin hulle Pa se geld blaas op drank en wie weet wat alles, verbeel Ma haar sy is ’n gelukkige vrou.

“Rolf …” ’n Vreeslike hoesbui oorval haar. En skielik wens ek ek kon ook soms hier wegkom. My enigste wegkomkans is die skool. Daar voel ek ’n bietjie soos myself. Nie soos ’n voël wat in ’n hok vasgekeer is nie.

“Rolf,” kerm Ma weer. Die keer is daar iets dringend in haar stem.

“Ma?” Ek pluk vinnig my tekkies aan.

“Rolfie.” Haar stem klink maar swakkerig.

Hoekom maak sy nie my pa wakker nie? Hemel, dit klink of hy haar probeer stilsnork.

“Ai.” Ek trek ’n trui oor my kaal bolyf. Dit voel of die koue en my droom van netnou my terugtrek kooi toe. Dit voel of ek hierdie oomblikke eerder wil uitstel, of ek Ma eerder nie wil sien nie. Pa is dan daar langs haar.

“Soek Ma water?”

Ek skrik my vrek. Ma soek nie water nie. Sy sit skuinsoor Pa en ruk soos sy opgooi. Sy ruk asof haar seningrige lyf deur ’n sterker krag geskud word. In die maanlig wat deur die klein venster in die bokant van die kamer kom, sien ek niks gaan my ma help nie. Niks wat ek kan doen gaan die waterige, bloederige gemors wat by haar mond uitkom, keer nie. Dit kom nog een keer met ’n aardige geraas. En dan val sy slap oor my pa. Nog voor ek naby genoeg kon kom om aan haar te vat.

Iets swaar sak oor my. Iets koud en swaar. En finaal. Dis asof my verstand deur ’n helse groot tang toegeknyp word. Ek raak dom. Ek vries soos ek vries as meneer in die klas goed vra wat hy gister behandel het, maar ek net nie kan onthou nie. Ek weet hier’s groot stront, maar ek kry myself nie geroer nie.

“Pa.” Dis of die woord in my mond ’n klont maak. “Pa!” Dié keer kom dit met ’n gil uit. Skielik kan ek beweeg. Ek probeer Ma se slap liggaam van hom af wegstoot, maar sy is te swaar. Ek druk met die hak van my hand sy oop mond wat so morsig snork, toe. Hárd.

“Pa. Word wakker.”

“Wat?” Hy ruk wakker, maar hy kry homself nie gelig nie.

“Ma is siek.” Sy oë val weer toe. Asof hy verder gaan slaap. Ek klap teen sy wang.

“Wat’s dit met jou, mannetjie?”

“Ma, Pa.” Dit lyk of hy wakker genoeg word om haar bo-oor hom te voel.

“Ragel?”

“Sy het ...” Ek staan terug. Ek het al weer vergeet van die goeters op die vloer. “Ek dink ...”

Ek wil nie hardop sê wat ek dink nie. Ek weet dit net hier in my. Die gewig op my bors, hierdie swaar gevoel, hierdie weet-net maak niks beter nie, maar dis die eerste keer in my lewe wat ek so seker weet van iets. My ma is dood. Ek weet dit net.

Ek probeer nog uitwerk hoe ek vir Pa moet verduidelik wat ek weet, hoe ek die vreeslike ding op ’n mooi manier in sy dronk verstand moet inverduidelik, toe gryp hy my om die enkel beet.

“Here, tjind, moenie net gevrek daar staan nie, jou ma is dood.” Hy gil die woorde uit. Dan begin hy bitterlik te huil. Die walm van brandewynasem laat my longe binne-in my ruk. Ek staan nog steeds net daar. Pa het ma se lyf van hom weggestoot gekry, nou lê sy so half van die matras af. Hy hang nou half oor haar en huil soos ek hom nog nooit hoor skreeu het nie. ’n Deel van my verstand dink dronkverdriet. ’n Deel van my verstand, of dalk my hart, kry hom jammer.

My lyf kry ek uiteindelik geroer.

“Wat moet ek maak?” Ek skree ook bo sy gehuilery uit. My hartseer wil nie kom nie. My hartseer is gevries.

“Gaan roep die lanie. Gaan vertel vir die lanie.”

Ek hol by die deur uit, nie oor ek haastig is om by meneer Piet uit te kom nie. Ek kan nie langer in die viermuurhuis, met sy vier vensters, twee stoele, twee matrasse, hotplate en sy twee gesuipte ouers bly nie.

Ek is mens. Ek weet nie of ek bly is of spyt toe ek die trane oor my wange voel soos ek aanstap na meneer Piet toe nie. Ek huil. Ek huil oor die ma wat ek nie meer het nie. Oor die ma wat ek kon gehad het. Ek huil oor alles so onregverdig is. Maar ek huil die hardste oor ek ’n slag net aan myself gaan dink.

Meneer Piet lyk sleg deur die mis, asof hy self vroegaand ’n dop of twee te veel gevat het. Maar hy sal gaan. En die polisie en dokter en wie-goed-almal ook al laat weet.

“En jy? Ry jy saam?” vra hy toe ek die hek agter sy bakkie toetrek.

“Nee, meneer Piet. Ek gaan maar eers.” Ek beduie anderkant toe. Dorp se kant toe.

Hy kyk my eers lank aan, soos een wat nou eers reg wakker word. En dan knik hy. En groet my met die hand. Soos padkos, voel die groet vir my.

Ek huil weer toe ek teerpad langs dorp se kant toe loop. Die laaste keer. Roelof Pieterse het sy deel gedoen, sy prys betaal. Nou is dit tyd om vir homself te sorg, loop ek en dink. Nou is dit tyd dat ek grootword en self my lewe loop kies.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top