Soms is woorde nie genoeg nie

  • 23

maritavandervyver_creditfrancoispistorius

“Die vroue het hom die eerste gewaar.”

Ek weet nie waarom hierdie woorde uit Raka by my opgekom het toe ek Vrydagaand hoor wat in Parys aan die gang is nie. Miskien net omdat my vyftienjarige dogter die nuus aan my oorgedra het.

Of dalk omdat my kop heeldag gevul was met eggo’s van groot Afrikaanse gedigte. Dis nou ná ek verneem het dat die Universiteit Stellenbosch waarskynlik Afrikaans as voertaal gaan afskaf. Ek was aan die treur oor iets wat in my geboorteland gebeur – en skielik moes ek ook treur oor wat in my aangenome land gebeur.

Of miskien het ek aan NP Van Wyk Louw se woorde gedink omdat my eie woorde nie genoeg lig kan verskaf in hierdie donkerte nie. Ons was letterlik in die donker, in die motor op pad huis toe ná 'n heerlike ete by vriende op 'n plattelandse dorpie, toe my dogter se woorde die skerm van my slimfoon verlig. Die motor het dadelik kouer as die herfsaand daar buite gevoel, want sy het onbewustelik haar Franse pa se woorde van 14 jaar gelede herhaal, op 11 September 2001 toe hy my van die chaos in New York laat weet.

“Skakel aan die TV. Dit lyk of Parys aangeval word.”

Ek het Mia se boodskap hardop vir my man gelees. Ons was besig om na Sonny Rollins se “St Thomas” te luister. Alain het my pas weer herinner dat dié lieflike saxofoonmusiek die rede is waarom sy oudste seun se naam Thomas is. Sonder 'n verdere woord het ons het die musiek afgeskakel en die radio aangeskakel.

Maar ek kan nie hierdie storie sonder musiek vertel nie. Soms is woorde net nie genoeg nie.

Terwyl ons deur slaperige Provensaalse dorpies ry, met net so 'n skerfie wit maan in 'n gitswart naglug, het die radionuus uit Parys in golwe oor ons gebreek. Selfmoordbomdraers wat hulself opblaas by die Stade de France waar president François Hollande 'n sokkerwedstryd bywoon. Jongmense by 'n straatkafee wat met masjiengewere afgemaai word. Honderde gyselaars by 'n musiekkonsert in die Bataclan-teater. Nog 'n skietery by die restaurant La Belle Equipe in Rue de Charonne. En nóg 'n aanval by 'n Italiaanse restaurant daar naby en nóg een by Le Petit Cambodge ...

En te midde van die afgryse, ook 'n vorm van absurditeit en ongeloof.

“Wát is die naam van die Amerikaanse groep wat in die Bataclan gespeel het?” vra ek vir Alain, want ek dog ek moes sekerlik verkeerd gehoor het.

“The Eagles of Death,” bevestig hy.

Dít kan jy nie uitdink nie, nè. Die Arende van die Dood se konsert word kortgeknip toe die wáre Arende van die Dood in die saal land en verwoesting begin saai. Net nog 'n bewys – asof ons nog bewyse nodig het – dat die lewe vreemder as enige soort fiksie kan wees. “Complexity” is die titel van een van die Eagles of Death Metal se liedjies wat ek Vrydagnag op internet opgespoor het.

Dis nie die eerste keer dat ek dankbaar is dat ons drie volwasse seuns nie eintlik aanhangers van heavy metal is nie, maar voorheen was dit bloot 'n kwessie van musieksmaak. Vrydagnag was ek dankbaar omdat dit beteken het dat hulle nie in die Bataclan sou wees nie. Hoewel nie een van hulle in Parys woon nie – nog iets waaroor ek dankbaar is – reis hulle gereeld na ander stede vir musiekkonserte. Hugo se meisie woon in Parys, daarom het ons hom dadelik probeer kontak om te hoor of sy veilig is. Eers in die vroeë oggendure het ons vasgestel dat sy 'n uur of wat voor die aanvalle in 'n TGV-trein geklim het om die naweek in Lyon deur te bring. Intussen het Daniel ook uit Grenoble laat weet dat hy en sy meisie geskok en hartseer is, maar heelhuids.

Tuis aangekom het ons onmiddellik die TV aangeskakel. Dit was waarskynlik eers toe ons sien hoe derduisende verdwaasde mense op die grasperk in die middel van die Stade de France saamdrom dat alles werklik begin voel het. Terreuraanvalle is mos byna onvoorstelbaar, asof jou verbeelding vashaak en weier om 'n bepaalde drumpel oor te steek, maar as jy die plek kén waar so iets plaasvind, hoef jou verbeelding nie só 'n groot sprong te gee nie. Dis waarom soveel mense so wyd oor die wêreld so geskok is oor wat in Parys gebeur het. Selfmoordbomaanvalle in Afganistan of Pakistan skok ons nie soos dit ons behóórt te skok nie, want die meeste van ons was nog nie daar nie. Dis onregverdig, maar dis ongelukkig hoe dit werk. Terwyl ons almal al in Parys was – indien nie werklik in lewende lywe nie, dan ten minste in ons drome.

Ek en Alain het twee jaar gelede in die einste Stade de France 'n konsert van Bruce Springsteen bygewoon. Ons weet presies waar Hek E is waar die bomme Vrydagaand ontplof het. Wat ons veral onthou, is hoe 'n skare Parysenaars saam met The Boss “My Hometown” gesing het. Daardie herinnering – dáárdie spesifieke titel – het my Vrydagnag wakker gehou.

Iewers in die vroeë oggendure het ek uitgeput voor die TV aan die slaap geraak. Dit was steeds onduidelik hoeveel mense dood en beseer is, hoeveel aanvalle daar was, hoeveel aanvallers betrokke was. Saterdagoggend het die boodskappe van besorgde familie en vriende ons begin bereik. Is julle OK? En die kinders? En al julle vriende?

Ek weet steeds nie of al ons vriende veilig is nie.

Gelukkig ken ons nie baie Parysenaars nie. Die ironie is dat Parysenaars die tradisionele “vyand” is op die Franse platteland waar ons woon. Hulle word beskou as hoogmoedig en onvriendelik en, dalk hulle grootste sonde, as ongeduldige en onbeskofte motorbestuurders. Kyk maar, sê my bure, elke keer as jy 'n connard agter 'n stuurwiel sien, het hy 'n 75-nommerplaat. (Connard is wat ons in goeie Afrikaans 'n doos sou noem. En 75 is die poskode vir Parys en omstreke.) Dis nie ék wat so sê nie, dis my bure. Wat ék soms sê, nie heeltemal spottend nie, is dat ek as vreemdeling uit Afrika waarskynlik makliker hier aanvaar word as 'n inkommer uit Parys.

Maar Saterdagoggend het ons almal in Parysenaars verander. Ek het wakker geword met 'n liedjie van Jacques Dutronc wat in my kop draai. “Dis vyfuur in die oggend en Parys ontwaak ...” Op die TV het ek beeldmateriaal gesien van die stad waarin Parysenaars dié oggend ontwaak. Dit was nie meer dieselfde stad as die een waaroor Dutronc gesing het nie. Dit sal waarskynlik nooit weer dieselfde Parys wees nie.

marita_dorpieEk vertel gereeld vir die kinders hoe dankbaar ek is dat ons op 'n klein dorpie woon. Hulle stem natuurlik nie altyd saam oor die vreugdes van 'n kleindorpse bestaan nie. Soos enige tiener droom Mia oor die opwinding van 'n groot stad. Soos Lou Reed dink sy dikwels die enigste goeie ding van 'n klein dorpie is dat jy dit kan verlaat. Maar Vrydagaand het sy vir my 'n SMS gestuur wat my heeltemal onthuts het:

“Maman, ek is so bly hulle het nog nie begin om die klein dorpies aan te val nie. As hulle dit doen, waar dink jy kan ons­ gaan woon?”

Dis nie 'n vraag wat ek gedink het ek sou ooit moes beantwoord hier in die hart van die “beskaafde” Europa nie.

Ek het Saterdagoggend soos gewoonlik na die naaste mark gery om ons weeklikse groente te gaan koop. Op die oog af het alles normaal gelyk, miskien minder mense as gewoonlik, maar dit kon ook aan die ysige mistralwind toegeskryf word. Hoewel 'n uitsonderlike noodtoestand in die hele land heers, is hier op die platteland nie 'n verbod op byeenkomste nie. Só doodgewoon het die markdag vir my gelyk dat ek 'n paar foto's geneem het.

Maar terwyl ek so met my mandjie deur die mense vleg, tel ek orals flertse van gesprekke op. Sekere woorde duik oor en oor op. Aanval ... Drie dae van nasionale rou ... Noodtoestand ... Dis nie die soort woorde wat jy gewoonlik op 'n Saterdagoggend op 'n kleindorpse mark hoor nie.

Onvermydelik het ek ook woorde van vreemdelinghaat en rassisme gehoor. Hulle neem oor hier. Ons word soos k.. behandel. Skop hulle almal uit. Hierdie hatige reaksie teenoor die ongenoemde “hulle” het my amper soveel ontstig soos die aanvalle in Parys.

Frankryk is 'n sekulêre, redelike land, die land van Voltaire, wat geskryf het: “Those who can make you believe absurdities, can make you commit atrocities.” Ja, hý.

Was sy woorde al ooit so gepas soos nou? Die Bataclan-teater, waar byna honderd mense Vrydagaand vermoor is, is in Boulevard Voltaire. Ironie? Absurditeit? Of net nog 'n voorbeeld van die werklikheid wat fiksie oortref?

As Frankryk nie sekulêre, redelike oplossings teen Isis en die oorlog in Sirië vind nie, gaan die vrees en die haat vererger en die verregse partye oorneem. En dan sal ek saam met my dogter moet vra: “Waar dink jy kan ons nou gaan woon?”

Raka het my die hele naweek bygebly. “By die vure was woorde, oud en wys, van, ‘Raka is vreedsaam, Raka is nie sleg; Soos hy gekom het, gaan hy ver weg en geeneen sal weer van hom weet.’”

Maar ek dink ook aanmekaar aan die Keniaans-Somaliese digter Warsan Shire en haar ontroerende gedig “Home”: “No one leaves home unless home is a sweaty voice in your ear saying – Leave. Run away from me now! I don't know what I've become but I know that anywhere is safer than here.”

Ná Vrydag die Dertiende voel orals op aarde minder veilig as voorheen.

  • like_litnet_op_facebookFoto van Marita deur Francois Pistorius
  • 23

Kommentaar

  • Reinette Anastagi

    Marita, dankie. Dankie dat jy in woorde omgesit het wat so baie van ons voel. En bowenal, dankie vir die roerende aflsuiting van Warzan Shire. Ek het nie woorde nie ...

  • Ai, net Marita kan dit so doen. So hartseer maar so bitter mooi. Ironies dat Vrydag die 13e sulke diep hartseer gebring het - Parys en die moontlike verlies van Afrikaans op Stellenbosch. En die ironie van Raka - seker een van die mooiste gedigte ooit. Uit Raka onthou ek weer altyd: "...dat die skoonste gesterf het ... dat die edelste wagter koud lê langs sy vuur ..." Vir nou gaan ek bly ... en Afrikaans praat terwyl ek kan.

  • marie bredenkamp

    Marita: Jy het 'n veelheid emosies en nuanses van reaksies en menswees vasgevat. The fear. The anger. The pain. Om ver van jou huis (en haard) te wees is een ding, maar om deur radikales ontheem te word is vir sommiges gelyk aan die onthoofding van onskuldigies. En ek stem met jou saam: dis vir ons op hierdie tydstip érger omdat ons rondloop met die Stellenbosch-gevoel, van ontheem wees waar jou hart tuis was. Dankie, en groete, mce

  • Dit breek ons hart oor wat gebeur het in Parys en soos Maretha sê, ons reageer nie so as so iets in Afghanistan of Pakistan gebeur nie, want ons ken die plekke nie. Wat ons wel ken is SA en elke dag word daar mense vermoor hetsy vir 'n selfoon of 'n plaasaanval en dit is so hartseer. xxx

  • Ons voel vir julle. Dink ook asseblief aan ons Boere wat elke dag vermoor word! Maak mens bang want waar gaan dit eindig?

  • Baie dankie Marita, vir die mooi, teer en hartseer manier waarop jy oor hierdie gebeure geskryf het. Ons voel saam met julle en die Franse volk. Wat gebeur het is verteenwoordigend van soveel sinnelose, wrede en lafhartige dade teen onskuldiges waaraan ons herinner is.

  • Anette Olivier

    Dis so mooi verwoord ... Vrees mag nie jou vriend word nie ... leef, want niemand weet wat more mag bring nie.

  • amanda van rensburg

    Jy het my getref met 'n vuis ... my hart asof sonder beskerming ... my asem uitgewind! Pragtig. Wow! Ek onthou nou weer hoe raak jy kan skryf! Dankie.

  • Vir iemand soos ek wat jare Lang in Italie liewe is dit so goed geskryf dat ek alles verstaan het. (Forgive my mistakes but the reason for writing in Afrikaans is far nobler than the errors) Thanks.

  • Jaco Kleynhans

    Marita ek is 'n groot ondersteuner van jou skryfwerk en het die grootste deel van jou artikel sinvol en intens ervaar. Dit is pragtig, roerend en diep. Dit is egter jammer dat jy politiek moet insleep by iets so sensitief soos hierdie. Om houe na mense wie se politiek van joune verskil in te kry hoort nie in 'n artikel soos hierdie nie. In een van jou boeke (wat ek baie geniet het) was daar ook 'n stukkie linkse propaganda ingesluit. So jammer. As groot (dan seker konserwatiewe) ondersteuner van jou skryfwerk wil ek dit tog vir jou sê dat ek teleurgesteld is in jou eendimensionele politiekery.

    • Jaco, dis onmoontlik om oor hierdie gebeure te skryf SONDER om aan politiek en godsdiens te raak. As jy nou is Frankryk was, sou jy moontlik saam met my hartseer gewees het om te sien hoe AL die politieke partye probeer munt slaan uit die tragedie. Dis egter 'n feit dat die regse partye wat vreemdelinghaat aanmoedig, die meeste baat vind wanneer mense bang word vir 'die ander'. Hitler het dit baie goed besef. Wat die 'linkse propaganda' in een van my boeke betref, ek is nogal nuuskierig oor watter een jy van praat, want al my werk word waarskynlik vanuit 'n linkse perspektief geskryf. Miskien het jy dit net nie opgemerk in die ander boeke nie - en dan is ek bly, want dit bewys dat die stories sterker was as enige politiekery. En dis hoe dit hoort.

      • Jaco Kleynhans

        Marita,

        Dankie vir jou antwoord. Ek waardeer dit. Ek het 'n groot liefde vir jou skryfwerk en plaas dit tussen ander gunstelinge soos Annie Proulx, Kent Haruf en in Afrikaans natuurlik Matthee en Van Heerden.

        Die verwysing na politiek was in een van jou meer biografiese boeke waar jy vertel het hoe jou man aan 'n optog van die Sosialistiese Party gaan deelneem het. Ek hoor jou argumente oor regse ekstremisme (wat ek self verwerp - die ou LePen was 'n voorbeeld daarvan), maar onthou net ook die gevare van sosialisme - Die Sowjetunie, China (Mao) en meer onlangse gebeure in Venezuela en ander Suid-Amerikaanse lande behoort almal van ons teen die gevare van sosialisme te waarsku.

        Ek aanvaar jou vertrekpunt en gaan nie ophou om jou boeke te lees net omdat jy êrens anders op die politieke spektrum as ek is nie.

        Ek dink net groter objektiwiteit in skryfwerk oor nuusgebeure, soos die terroriste-aanval, behoort 'n mens te noop om nie sekere politieke groepe te teiken nie. Toevallig dink ek Marine LePen en haar Front National kan nie meer as ekstreemregs beskryf word nie. Haar pa en sy ou garde het haat aangeblaas, sy doen dit glad nie. Sy het die party lankal transformeer in 'n meer regs, nasionalistiese party soos wat ons in talle Oos-Europese lande sien, maar dit is vir elkeen om self te interpreteer.

        Ek sien uit na toekomstige werk uit jou pen!

  • Dankie Marita, vir hierdie skrywe. Parys was vir my Pari, die heerlike toeristestad met die musiek van Edith Piaf en die Franse taal wat so emosioneel en intens op die oor val. Frankryk is die land van my voorvaders, my wortels is daar. In my geboorteland is hier doodgewoon net chaos. Ons emosies al so half verstard, verskeurd tussen korrupsie, tale, godsdiens, kleur, vervalling van basiese strukture. Vir sommige het net woede oorgebly. Ek voel asof paniek sy lang vingers strek en versprei oral oor soos 'n E-bola virus. Ek treur saam met julle. Dankie vir jou aanhaling uit Raka. Miskien is dit nou tyd om stil te wees en Afrikaanse poësie te lees. xxxx

  • Magda Jordaan

    Warsan Shire

    “later that night
    i held an atlas in my lap
    ran my fingers across the whole world
    and whispered
    where does it hurt?

    it answered
    everywhere
    everywhere
    everywhere.”

    ― Warsan Shire

  • You've got talent ... sowaar, moet net nie ophou skryf nie .... ek volg jou al van Nemesia & Minerva se dae. Sjoe ek mis ons sorgvrye studentedae ... die wêreld is nou goed opgemors ... xo

  • Laetitia Fourie

    Dankie Marita. Jy het die seer kom raak skryf. My ongeloof lê nog vlak ... daar waar ek ook gisteraand op die bank aan die slaap geraak het. Wees veilig.

  • Marie Van Rooyen

    Dankie Marita. Jy het eie aan jou, hierdie ontstellende gebeurtenis so toepaslik geskryf. Hul wêreld, jou wêreld soos ook ons s'n in Suid-Afrika sal nooit weer wees soos vroeër nie.

  • Die woorde wat mens praat -die lukrake benoemings en benaming - word die bevestiging van die waarheid ...
    Dankie Marita - jou insig bring perspektief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top