Soen deur Jan Vermeulen: ’n resensie

  • 0

Soen
Jan Vermeulen
ISBN:  9780624081968
Tafelberg, 2017

Jan Vermeulen is bekend vir die relevante, aktuele temas van sy jeugromans. Soen is sy derde in hierdie genre en daarmee behaal hy dan ook ’n driekuns – al drie sy boeke is bekroonde werke: Geraamtes dra nie klere nie (2000) – Sanlamprys vir Jeuglektuur, goud; Asem (2016) Lapa Jeugroman-pryswenner; en nou ook Soen – Sanlamprys vir Jeuglektuur, silwer.

Peet is in matriek en is ’n gewilde, talentvolle en voorbeeldige hoofseun. Hy is die enigste kind van die welgestelde pastore Tim en Ryna Rautenbach. As pasgeborene is hy op die trap van ’n weeshuis gevind, in koerantpapier toegedraai. Die Rautenbachs het hom aangeneem.

Die proefjuffrou Scarlett Rose Reynolds is die liefde van sy lewe, sy “trouvrou”, maar sy beskou hom as ’n lastige afloerder. Met die verdwyning van jong blonde vrouens en die dreigbrief wat juffrou Reynolds kry, kom Peet onder verdenking. Wanneer die tekeninge wat hy vir sy kunsprojek van Scarlett gemaak het, ter sprake kom, word hy net verder geïmpliseer.

Dan is daar ook die stem in Peet se kop. “Dis nie ’n helder stem nie. Dis eintlik geen stem nie. Tog ken Peet die stem al sy lewe lank.” Dit is ’n stem wat by hom spook, een wat hom soms aanhits en soms waarsku. Dit is ’n stem met ’n naam. Sy ouers wil met gebedsterapie die “bindinge” van hierdie stem afweer, “want daar is iets vreemds” aan Peet. Soms voel hy asof hy twee mense is: ’n geduldige, rustige een en “die ander [wat] wil breek en gryp en vloek en lieg” om sy geliefde juffrou Reynolds te kry. Meestal vrees Peet hierdie stem in hom wat dreig: “[Jo]u pa-hulle kan maar bid tot hulle blou word ek gaan nêrens ek is vas aan jou tak.”

Cat, ’n Goth-meisie, verskyn op die toneel. Wie is hierdie meisie wat op ’n haar soos Peet lyk? En hoekom word die stem in sy kop so saam met haar koms dringender? Ryna Rautenbach neem Cat onder haar vlerk en die meisie vul die leemte wat die hunkering na ’n eie dogter laat.

Soen spreek die soeke na ’n eie identiteit aan. Wie is ek? Waar pas ek in? Dit is vrae waaroor nie net Peet wonder nie. Talle newekarakters in die boek, soos Peet se vriend Bennie, worstel ook met hierdie tienerdilemma. Voorts is daar die bittersoet kennismaking met eerste liefde. Peet se obsessie met juffrou Reynolds word soms oorskat – dalk is hy maar net verlief, maar die leser wonder dikwels of daar meer agter dié begogeling skuil en of daar ’n donker kant van Peet dreig om na die oppervlak te kom.

Volgens die skrywer het een van die keurders vir die Sanlamprys Soen as “’n Deon Meyer vir die jeug” bestempel. Dit ’n gepaste opmerking, aangesien die boek boei, meesleur, verras en uitdaag. Die tempo is vinnig en die gebeure spannend. Daar is die moontlikheid van ’n reeksmoordenaar wat op die loer lê; daar is die kennismaking met die Goth-onderwêreld, waar “’n wit skedelgesig vyandig van onder ’n swart mantelkap na hom staar” en die “Grim Reaper met die blink lem, verskans teen sy bors, in sy rigting beweeg”. Daar is die vuisgeveg met Tom; daar is die grillige oom Freek met die brandletsels oor sy hande; en dikwels verkeer Peet in lewensgevaar.

Soen is voorwaar ’n “page-turner” daarin en ’n waardige wenner.

Hierdie jeugroman is gemik op 12- tot 18-jariges, maar ouer lesers behoort dit ’n waardevolle en insiggewende leeservaring in die wêreld van tieners te vind.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top