Slegte smaak

  • 9

Seker een van die slegste goed  waaraan mens kan proe is ’n sigorei-wortel. ’n Bitter, walglike smaak. 

Maar vir my was die slegste egter toe ek eendag ’n stukkie van die duiwel se stert afgebyt het. Dit het só gekom: Een oggend baie vroeg lê ek nog in die bed. Skielik word ek bewus van ’n donker gedaante voor die bed. Korterig en effens krom, soos ’n bobbejaan wat op sy agterpote staan. Voor  ek nog behoorlik kan skrik, spring die ding op my en begin my te wurg! Dis die duiwel! Hy het horings en ’n stert!

Ek gryp sy arms vas en met al my krag stoei ek en kry dit met geluk reg om sy hande van my keel af te kry, maar hy is geweldig sterk en ek moet alles uithaal om te keer dat hy my weer wurg. Die slinkse satan maak nou ’n ander plan. Hy swaai sy stert om sy lyf na vore en probeer die punt in my oog druk.

Al wat ek kan doen is om na sy stert te hap, en die derde keer kry ek dit reg ... ek hap sy stert raak en ’n stukke beland in my mond. Dis die alleraakligste smaak. Groen Amara, bitter aalwyn, vrot olywe en suur asyn beskryf dit nie voldoende nie. Boonop is dit harig, met dik, stekelrige hare. Ek spoeg en spoeg en sukkel om dit uit my mond te kry en uiteindelik kry ek dit darem reg. 

Intussen het die duiwel met ’n geweldige gil van pyn orent gevlieg. Dit is ’n skril, senu-snydende gil wat opklink asof uit die swarte hole van die hel waar siele gemartel word. Dan vlieg hy by die venster uit en verdwyn al gillende oor die dakke van die huise. 

Ligte gaan aan in die buurhuise, deure word oopgemaak en mense vra luidkeels: “Wat gaan nou weer aan daar?” Een oom staan in sy voordeur met ’n haelgeweer gereed. Party dreig om die polisie te bel, soos hulle al voorheen gedoen het oor my singery in die bad.

Na ’n ruk bedaar almal  en meeste gaan lê weer. Maar ek gaan sit in die voorhuis en slaan my Bybel oop, lees soveel moontlik verse hardop om die duiwel heeltemal te verdryf. Van daardie dag af hou ek altyd my Bybel byderhand.

  • 9

Kommentaar

  • Tiens Pretorius

    Ek het hierdie bedoel as 'n bietjie humor, maar nou lyk dit vir my mense vat dit sowaar ernstig op! Jinne!

    Tiens

  • As jy iemand aan sy das gryp en vra of hy dit nog wil hê, en jy knip dit af met 'n skêr en gee dit vir hom as hy ja sê, is dit nie humor nie. Dis eers humor as hy begin huil en sê die das is die laaste present wat sy oorlede pa hom gegee het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top