Slawe en die ontwikkeling van Afrikaans

  • 1

Die volgende artikel deur Jessica Murray  het in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn: “Dit kom daarop neer dat ek nie vergete was nie": Die vroulike liggaam, gender en geweld in Suid-Afrikaanse slawenarratiewe

http://www.litnet.co.za/dit-kom-daarop-neer-dat-ek-nie-vergete-was-nie-die-vroulike-liggaam-gender-en-geweld-in/

Maria Smit  voer die gesprek oor slawe aan die vroeë Kaap verder met 'n artikel oor die slawebevolking se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans.

Hierdie bydrae het deel gevorm van die Boekwurm-leeskring in Stellenbosch se onlangse daglange gesprek oor slawe en die Suid-Afrikaanse letterkunde.

kaap650

Het Caabse Vlek, F Riedel, 1779. (Bron: http://www.chavonnesbattery.co.za/blog/)

Wanneer daar gepraat word van die invloed wat die slawe en die proses van kreolisering in die Kaap op die vorming van Afrikaans gehad het, moet ons nie net dink aan spesifieke woorde wat inslag gevind het nie, maar ook en veral aan die grammatiese struktuur van die taal. Ook wat betref die uitspraak van die taal: Afrikaans klink immers baie anders as Nederlands – selfs as Vlaams. As ’n mens in Nederland die Nederlandse uitspraak van Indonesiërs hoor, klink dit vir my altyd na ’n soort Afrikaanse manier van Nederlandse woorde uitspreek. Hulle uitspraak van Nederlands is “platter”, minder nasaal – en volgens my eie teorie het die slawe dus ook ’n invloed op ons uitspraak gehad.

Van die bronne wat ek gebruik het, is Marthinus Valkhoff  se Studies in Creole and Portuguese with special reference to South Africa en Achmat Davids se The Afrikaans of the Cape Muslims. Dit het weer gelei tot ander bronne, waarvan veral die boek van JLM Franken uit 1953, Taalhistoriese bydraes, vir my baie interessant was. Hoewel hy in ontsettend outydse Afrikaans skryf, het hy baie moeite gedoen om in die Kaapse argiewe oorspronklike bronne te raadpleeg, naamlik die “Crimineele en Civiele Processtukken” uit die jare 1672–1772. Hy steun ook op talle ou geskrifte van buitelandse reisigers wat deur die land gereis het in die vroeë jare en wat voorbeelde van die taalgebruik opgeteken het, asook briewe van boere van voor en rondom 1800. Franken sluit betekenisvolle lyste met talle woorde in wat deur die Sweed Wikar (rondom 1779) opgeteken is tydens sy verblyf aan die Kaap. Daar is selfs uittreksels uit ’n ou dagboekie van ene Johanna Duminy-Nöthling uit 1797 wat belangrike inligting bied. Ek kan Franken se boek beslis aanbeveel: daarin is kostelike storietjies en voorbeelde opgeneem.

In sy boek maak Valkhoff ook uitvoerig gebruik van die bevindings van taalkundiges soos Hesseling wat in die laat 19de eeu in die Staatsargief in Leiden 30 volumes van die “Brieven en Papieren geckomen van Cabo de Bonne Esperance” deurgewerk het, te wete dié uit die jare 1663–1684, 1693–1695, 1701, 1716, 1722, 1747, 1760 en 1782 en daarna nog 10 volumes uit 1658–1662 en 1685–1691.

Valkhoff was emeritus professor in Portugees by Wits toe hy genoemde boek geskryf het. Die rede: baie slawe het Maleis en gebroke Portugees as lingua franca gebruik om mekaar te kan verstaan en om met die VOC-beamptes te kommunikeer; die slawe was komende uit die Indonesiese argipel, Bengale, Suid-Indiese Kus en Ceylon, en uit Maleisië, asook Madagaskar en die Oos-Afrikaanse kus, oral gebiede waar die Portugese vantevore nedersettings gehad en handel gedryf het (sien kaart in Achmat Davids, bl 39).

slawekaart

Die argiewe toon ook dat Malajoe of Maleis (wat op Arabiese skrif gebaseer is), asook Sunda, Bugis en Macassar (dialekte uit die Suidoos-Asiese argipel) aan die Kaap die Goeie Hoop geskryf en gepraat is. Hierdie tale het eenvoudige strukture en het invloed gehad op die kreolisering van die Hollands in die Kaap. (Voorbeeld: tronk = tarunka in Buganees en Sunda, wat dialekte uit Bali is.)

Ek was taamlik skepties oor Valkhoff se bewerings aangaande die gebruik van Maleis-Portugees as lingua franca, maar nadat ek Franken se boek onder oë gehad het, het ek genoeg bewyse daarvan gesien. Valkhoff beweer naamlik dat daar heelwat meer invloed van (Maleis-)Portugees was op Afrikaans as wat in die dae van die linguistiese nasionalisme (of nasionalistiese linguistiek) erken wou word (in die 1950’s en 1960’s). Dit het uiteraard betrekking op die struktuur van die taal. Hy wys ook daarop dat die Franse Hugenote, wat vroeg gekom het, maar baie min was (een-agtste van die wit bevolking, oftewel 175 in getal), en die Duitsers, wat eers later in groter getalle begin kom het, nie so ’n groot invloed op die vorming van Afrikaans kon gehad het as wat in ons kinderjare beweer is nie. Die Franse is trouens gedwing om Hollands te praat.

Die Hollanders wat in diens van die VOC was, het almal hulle eie dialekte gepraat. Geeneen van hulle was opgeleide linguiste nie; trouens, min van hulle kon selfs lees of skryf. In die Kaapse argiewe word byvoorbeeld melding gemaak van boere (in die omgewing van die Gouritsrivier) wat ’n soort harem gehad het wat Maleis-Portugees as taal van kommunikasie gebruik het. Franken bewys ook uit die hofstukke in die argiewe dat daar voor 1700 min tolking nodig was in die howe. Hy lys talle voorbeelde van getuienis wat in Portugees, Maleis of Hollands gelewer is, of wat deurspek was met woorde uit hierdie verskillende tale. Geen vertalings is bygevoeg nie, waaruit die afleiding gemaak kan word dat almal gemaklik al hierdie tale verstaan het.

*

Op hierdie punt wil ek eers net ’n paar definisies gee:

Pidgin: ’n Skielike noue kontak tussen vreemde volke wat nie mekaar se taal verstaan nie, lei tot ’n vereenvoudigde vorm van ’n taal waarmee hulle met mekaar kan kommunikeer. Dit gebeur veral in situasies waar handel plaasvind. Die vorm wat ontwikkel, is niemand se moedertaal nie, maar word deur almal aangewend of aangeleer ter wille van kommunikasie. ’n Pidgin kan bestaan uit woorde, klanke, liggaamsgebare of enige ander maniere van kommunikeer uit verskeie tale en kulture. Soms kom die woordeskat uit een taal en die struktuur kom uit ’n ander taal. Gewoonlik verdwyn ’n pidgin na ’n paar dekades (gewoonlik na een geslag), maar daar is uitsonderings, byvoorbeeld Sjinese Pidgin-Engels (of Chinglish) wat al drie eeue lank gebruik word. Fanakalo is ook so ’n pidgin.

Kreools: Kreools is die taalvorm wat gevorm word uit wat aanvanklik ’n pidgin is en genaturaliseer is, met ander woorde wat as ’n moedertaal deur mense gepraat word. Voorbeelde van lande waar dit gebeur (het): Jamaika, Haïti, Mauritius en Reunion. Kreools is die taal wat gepraat word deur die kinders van die mense wat pidgin gebruik het. Soos wat die kinders grootword, brei hulle die woordeskat, uitspraak en grammatika uit, sodat hulle dit as ’n moedertaal kan gebruik. Waar pidgin dalk net ongeveer 300 woorde het, sal ‘n kreoolse taal tipies 1 000 tot 3 000 woorde bevat. ’n Voorbeeld van ’n taal wat pidgin was weens handelsbetrekkinge, en wat ontwikkel het via die kreoolfase tot ’n volwaardige taal, is Swahili. Wat Afrikaans betref, glo Valkhoff   dat die Khoikhoi en die slawe verskillende vorme van pidginisering en kreolisering ontwikkel het wat uiteindelik meegehelp het tot die latere vorming van die volwaardige taal Afrikaans.

Kreools hoef egter nie noodwendig deur ’n pidgin voorafgegaan te word nie. Volgens Salikoko Mufwene, ’n professor in linguistiek aan die Universiteit van Chicago, is daar ook kreole wat ontwikkel het in kolonies waar sprekers van ’n Europese taal, wat dikwels ingeboekte arbeiders of kontrakwerkers was – soos die VOC-werkers – en wie se taal uit die staanspoor al klaar alles behalwe standaardtaal was (maw hulle het almal hulle eie dialekte gepraat), uitvoerige interaksie met nie-Europese slawe gehad het. Sekere woorde en eienskappe van die slawe se moedertaal is dan in hulle taalgebruik opgeneem, wat ’n hewig “gebasilektaliseerde” weergawe van die oorspronklike taal tot gevolg gehad het (dit beteken: die taal wat ontstaan het, was ’n minder gesaghebbende of minder “algemeen-beskaafde” weergawe van die oorspronklike taal, of beskou as op ’n “laer vlak”). Myns insiens is dit wat tydens die ontwikkeling van Afrikaans gebeur het.

In ’n later stadium van ’n taal vind standaardisering dan plaas, wat uit die volgende stappe bestaan:

  1. Kodifikasie: die taalstruktuur ontwikkel (dws fonologie, grammatika, leksikon en ortografie).
  2. Uitbreiding vind plaas (wydverspreide gebruik kom voor).
  3. Algemene aanvaarding deur die gemeenskap kom voor.
  4. Standaardisering (vir Afrikaans in die laat 19de en vroeë 20ste eeu).

Hier volg ’n paar algemene eienskappe van pidgintale, wat ek hier aan die hand van Afrikaanse voorbeelde verduidelik:

  1. Eenvoudiger grammatika, byvoorbeeld:
  • ongekompliseerde sinstrukture, nie bysinne of ingebedde sinne nie
  • aanduiders vir geslag is afwesig (bv die vrou, die kind, die perd). In die Kaapse spreektaal is daar al gou geen onderskeid meer tussen “de” en “het” nie en selfs in die geskrewe taal maak die mense dikwels foute; selfs by verkleinwoorde word “de” gebruik (sien bv Franken bl 153, hoewel die voorbeelde daar eers later, rondom 1779, deur Wikar aangeteken is). Een voorbeeld van foute in die sogenaamde Nederlands is deur De Wet, wat Wikar se aantekeninge redigeer – sien Franken
  • gebrek aan onderskeid tussen naamvalle (“ons” vir alle naamvalle in plaas van “wij” – so vroeg as 1706 kom dit reeds voor, netnou meer daaroor)
  • getalsaanduiding en verbuigings ontbreek by werkwoorde (enkelvoud en meervoud dieselfde – “ek eet” en “ons eet”).
  • vereenvoudiging van tydsaanduiding (het ge-)
  • sterk werkwoorde word swak (bv het gekom, het geval)
  • plusquamperfectum verval (“ek het gekom” in plaas van “ik was gekomen”)
  1. Duplikasie kom dikwels voor, bv nou-nou, lag-lag.
  2. Vereniging van funksie of vereenvoudigde konstruksies, soos “sy skuld my baie”, teenoor “zij is me veel verschuldigd”, “die skaap dood”, “hy het die berg ge-oor”, “ek kon die rivier deur” – laasgenoemde van Langenhoven.
  3. Fonetiese assimilasie (kinders – kinners, perde – pêre, sonde – sonne).
  4. Wegval van klanke, bv skof (schoft), stip (stipt), naak (naakt), kuns (kunst), mag (macht), asook die Hollandse “–t” by die 3de persoon enkelvoud (vroeg reeds vind ons “loop”, “zoek”, “vertel”, “maak”, ens).
  5. Ook klankverandering, bv by die verkleinwoorde en meervoude: bossies, stukkie, lappie, takkie, ens (hoewel hierdie verskynsel ook by sekere Nederlandse dialekte voorkom) en meervoude: kinders (in plaas van Nederlands “kinderen”), hoenders, vrouens, ribbes, mans.

’n Paar voorbeelde van Khoi-invloed op Afrikaans:

  1. Woorde wat te doen het met alledaagse (kinder)sorg en algemene kommunikasie (die kinders word grootgemaak deur Khoi-vroue, en hulle vertel stories en gebruik “words of affection”): aitsa, eina, “e” (vir “ja”), “e-e” (vir “nee”), hoeka, abba, karos, ougat (meer hieroor later).
  2. Tendens vir verkleinwoordjies.
  3. Klankoornames: hartebeeshuisie (“harub” is ’n mat van riete).
  4. Klankvervorming: bietjie (beetje), kiesieblaar (keesjesblad) – hierdie verskynsel kom ook in sommige Nederlandse dialekte voor, soos ek reeds genoem het.
  5. Lê, sê (uit die vroeëre “leg” en “seg”).
  6. “Se” – ma se kind, nou se dae, uit die Nederlands wat “zijn” en “haar/d’r” was, maar slegs die manlike vorm bly behoue.
  7. Vorme soos “pa-goed”, “baas-goed” in die Boland en Namakwaland, en wat in Standaardafrikaans “pa-hulle” en “baas-hulle” geword het.
  8. Die “en”-konstruksie soos in “sit en slaap”, wat in Nederlands “te” is – “hij zit te slapen” – aan die hand van Nama. Ook “sit-sit”, “staan-staan”, “lê-lê”.

Hesseling gee (algemene) verskynsels in kreolisasie, en gee dan voorbeelde daarvan wat gelei het tot Afrikaans, soos die gebrek aan verandering aan klinkers:

  1. tussen enkelvoud en meervoud by selfstandige naamwoorde. Bv in Nederlands: rad – raderen, Engels: goose – geese. Afrikaans is half tussenin, met sommige voorbeelde waar dit wel plaasvind en ander waar dit nie gebeur nie: gat – gate (of gat – gatte; weliswaar met ’n ander betekenis!), en dak – dakke, maar vat – vate en skot – skote.
  2. by wisseling tussen teenwoordige en verlede tyd, bv “ik kom, ik kwam” (Eng I find, I found). Sulke werkwoorde het feitlik verdwyn in Afrikaans; daar is slegs ongeveer ’n halfdosyn oor: kan – kon, moet – moes, sal – sou, wil – wou, is – was.

Voorbeelde van woorde wat deur slawe in die taal ingebring is, is:

kabaai (nagkabaai), soebat (Maleis), baie = bannyak in Maleis, maar ook “banni” in die plat Duits van Franken. Dit het glo vervorm deur “banja”, “banjang”, “banyang” en “baiing”. Hierdie vorme word almal in 18de-eeuse Hollandse dokumente uit die Kaap gevind. Ander voorbeelde uit Maleis-Portugees: pondok, kapok, katjiepiering, piering, ghomma, blatjang, nonna, baklei, krabbetjie, tjap, tjommel, tamaai, baadjie, atjar, piekanien.

In die Afrikaans van die Kaapse Moslems is daar vandag nog baie meer woorde wat die kreoolse aard van Afrikaans beklemtoon as wat daar in die huidige Standaardafrikaans te vinde is. Bv ghielap = van Maleis “kilat”: weerlig; ghoentoen = van Maleis “guntur”: donderweer; mannie-kamer (van Maleis kammar-mandi: badkamer; slambie-er (van Maleisiese werkwoord “slamblee”: slag; djamang – toilet, kasa = gelofte; memme = pleegmoeder. (Dink ook aan voorbeelde uit ID du Plessis en uit Hubert du Plessis se musiekwerk Slamse Beelde: “Abassi het gelambaar met Fatima ...”).

Die kwessie van die dubbele ontkenning in Afrikaans is interessant. Op skool is ons geleer dat dit van die Franse “ne ... pas” afkomstig is. Maar as ’n mens in die Nederlandse geskrifte van die 17de eeu kyk (soos bv in die Kaapse argiewe en ook in die argiewe in Den Haag), sien jy die Middelnederlandse konstruksie “niet ... en”, en in Kreoolse Portugees kom die konstruksie “na ... fa” voor, wat dus beteken dat albei laasgenoemde konstruksies maklik onder Khoi- en slawe-invloed in “nie ... nie” kon verander het.

Wikar (in Franken bl 154) kry ook voorbeelde waar daar “wat” gebruik word in plaas van die Hollandse “dat” (de grasvlakte wat ik gezien het, het wild wat zy schieten, al zyn vee wat hy heeft), asook “een mens” in plaas van “men”. Die oorgang van “v” na “w” (sien Franken bl 158.), bv in woorde soos “bowe”, “tewens”. Sien ook die lang lys van veranderde woorde by Franken (bl 159).

Valkhoff skryf ’n paar verskynsels aan Engelse invloed toe, maar Franken gee voorbeelde van hierdie verskynsels wat reeds deur Wikar opgeteken is in 1779:

  1. Diep dam (in plaas van “diepe” in Nederlands) of “groot boom” in plaas van “grote” by Nederlandse woorde met die lidwoord “de”.
  2. Die “ge-” by sekere werkwoorde wat verdwyn: het probeer.
  3. Die “-s” by die meervoud, bv spreeus, neefs (ek het dit reeds hier bo genoem).
  4. Sametrekking (kondensasie), weglating, bv by moenie (moet het niet), hoekom (hoe komt het dat), glo (ik geloof), weglating van “dat” – ek dink hy het dit gedoen. Of “onderkant Eersterivier” in plaas van “onderkant van die Eersterivier”, of sonop, sononder.

*

Volgens Valkhoff is dit moontlik dat die Europeërs ’n aangepaste taal gebruik het in hulle omgang met hulle werkers en slawe. Reeds in 1685 as baron Van Rheede in die Kaap aankom, merk hy al ’n verskil in die taal van die mense hier. Omdat die Khoi-vroue die Europeërs se kinders oppas, hulle grotendeels grootmaak en vir hulle stories vertel in hulle gebrekkige Hollands, na-aap die kindertjies dit. Ook die volwassenes (wat in die eerste plek in ’n groot mate ongeskool was, dikwels ongeletterde arbeiders van die VOC met hulle onderskeie dialekte) praat ’n vereenvoudigde Hollands omdat hulle reken hulle beter verstaanbaar sal wees vir die bediendes en die slawe.

Bowendien was daar in daardie tyd in elk geval nog nie ’n “Algemeen-Beschaafd Nederlands” of amptelike spelreëls in Nederland nie. Daar was dus baie dialektiese verskille onder die werknemers van die VOC. As die taalgebruik in die Kaap Van Rheede dus so opgeval het dat hy dit nodig gevind het om iets daaroor te skryf, moes dit duidelik merkbaar gewees het. Valkhoff meen dus dat ’n wesenlike verskil in taalgebruik dus alreeds teen 1685 teenwoordig was. Franken ondersteun hierdie siening op grond van sy eie navorsing in die argiewe.

Die laaste deel van Valkhoff se boek bevat ’n opstel wat in 1938 deur J Hoge van die Universiteit Stellenbosch geskryf is, en wat oor die Vryburgers handel. Hoge beweer dat daar in 1667 slegs 19 blanke vrouens in die Kaap was teenoor 100 mans. Rondom 1682 was daar slegs 25 blanke vrouens. Die meeste blanke mans in die Kaap was soldate en matrose, maar selfs die Vryburgers was volgens Zacharias Wagenaar (Jan van Riebeeck se opvolger) se opinie, “versopene, luije, lompe vlegels”. Die goewerneurs wat Wagenaar opgevolg het, het dieselfde klagte gehad. Daar kan dus aangeneem word dat baie van die Europeërs hulle seksuele behoeftes by die Khoi-vroue en slavinne bevredig het. Die slawelosies was vol buite-egtelike kinders. Aanvanklik het die Kompanjie nie omgegee dat die slawegetalle op hierdie manier uitbrei nie. Wit vaders het egter dikwels hulle buite-egtelike kinders losgekoop, wat beteken die Kompanjie het hulle verloor. In 1678 is ’n wet uitgevaardig wat buite-egtelike verhoudings verbied, maar natuurlik sonder welslae. Daar is toe ook bordele geopen, en strenger reëls en klopjagte het gevolg.

In 1685 vaardig Simon van der Stel ’n wet uit (hy self was van gemengde bloed – sy ma was ’n vrygekoopte slavin): as iemand in die slawelosie betrap word, moet hy saam met die slawe werk. As hy ’n kind verwek, moet hy onderhoud betaal. As hy dit nie kan bekostig nie, moet hy as ’n slaaf werk totdat die kind self kan begin werk.

Geen van die talle ingestelde maatreëls het enige effek gehad nie. Dikwels het sulke pare getrou, as gevolg van die gebrek aan wit vrouens. Veral as die inheemse of nieblanke vroue gekersten was, was hulle op gelyke voet met blankes. Die huweliksregister van die Gereformeerde Kerk in Kaapstad lewer bewys daarvan.

In die 18de eeu het hierdie soort huwelike selfs nog meer dikwels voorgekom. Maar hierdie vrygemaakte slavinne of meisies van gemengde bloed se vanne was meestal Westers, bv die vanne van hulle vorige baas, sodat die feit dat hulle van gemengde bloed was, dikwels nie in die huweliksregister weerspieël is nie. Daar is selfs ’n paar gevalle van wit vroue wat met slawe of nieblankes trou. Hans Heese gee in sy boek Groep sonder grense talle gevalle aan waar gekerstende nieblankes tot aan die einde van die 18de eeu in die blanke gemeenskap aanvaar en opgeneem is.

Franken gee in sy boek ’n voorbeeld van ’n gesprek van slawe rondom die jaar 1706. Dit is opgeteken deur ’n Hollander genaamd Van der Heiden, wat saam met die ontsnapte slaaf Ari van Bengale in die kasteel se kerker opgesluit was. Ari is as kind deur die Hollanders opgepik toe hy saam met maatjies op die strand gespeel het wes van die Indiese dorp Surat. Hy is telkens aan ander base verkoop, en ten slotte kon hy dit nie uithou by sy laaste baas, Jan Lourens van Rostock nie, weens erge mishandeling. Daarom het hy gevlug. Hy kom dan ander slawe teë wat ook gevlug het, en hulle gesels as volg met hom: “Ons soek kost hier, ons al gedaan weglope, ons denk jou ook so.” Hulle stel voor dat hulle die plaashuis wil afbrand in ’n poging om kos in die hande te kry. Ari antwoord egter dat hy niks by hom het om mee vuur te maak nie, waarop hulle antwoord: “Ons het vuur genoeg.”

Kenners stem saam dat Afrikaans as ’n onafhanklike taal reeds teen 1750 bestaan het, dus binne slegs honderd jaar ontwikkel het. Valkhoff stem nie saam met taalkundiges wat beweer dat die meer gegoede mense in die Kaap slegs Hooghollands gepraat het nie. Hy noem sulke taalkundiges se sienings “kompartementalisme” of “taalkundige apartheid”, en ook “albosentrisme”, wanneer hulle al die verskynsels vanuit Nederlands, Vlaams en die Platduitse dialekte wil verklaar. Dit is natuurlik waar dat aangesien Afrikaans teen 1750 nog nie eintlik geskrewe was nie, dit altyd spekulatief sal bly in hoe ‘n groot mate dit in gebruik was, en wat die presiese vorm daarvan was. Valkhoff verwys ook na Swaving, wat in ’n boek getiteld Swaving’s zonderlinge ontmoetingen en wonderbaarlijke lotswisselingen na zijne vlugt uit Delft (1830) oor sy waarnemings vanaf 1827 skryf dat die “bastaard Hollandsch” deur die boere, slawe, Bantoe, Khoikhoi en “kleurlinge” gepraat is. Dit is duidelik dat Swaving niks noem van gegoede mense wat steeds Hooghollands praat nie. Op hierdie stadium was dit dus eintlik net mense wat in Nederland gebore en opgevoed was wat nog sogenaamde “suiwer” Nederlands gepraat het. Valkhoff lei ook af dat ware of egte Afrikaans onder die kleurlinge gepraat was lank voordat dit geskryf is. Die boere het dus wel Afrikaans gepraat, maar tevergeefs voortgegaan om Nederlands te probeer skryf (hoewel dit meer van ’n mengsel was, ’n onwerklike kompromis tussen Nederlands en Afrikaans). Merwe Scholtz stem met Valkhoff saam dat daar nie ’n wesenlike verskil was tussen die Afrikaans van die wit boere en dié van die kleurlingbevolking nie. Hy vermoed dat by meer formele geleenthede die meer “opgevoede” mense na Nederlands geneig het, maar dat in die meer informele situasies meer soos die “laer” bevolkingsgroepe gepraat is.

Achmat Davids skryf dat Moslemgetalle veral teen die einde van die 18de eeu baie gegroei het. Teen 1842 was een derde van die bevolking in Kaapstad Moslems. Daar was madrasas, ook vir die slawe: daar het hulle ook geleer om te lees en te skryf, met behulp van Arabiese letters. Die eerste madrasa is in 1793 in Dorpstraat in Kaapstad oopgemaak. Die lesse in die madrasas was in Kaaps-Hollands (oftewel Afrikaans), maar die handboeke is neergeskryf in Arabiese skrif. Daar is min inligting beskikbaar oor die mate van geletterdheid onder die slawe, maar die kulture voor Islam, bv die Hindoeïsme, het ’n literêre tradisie gehad. Die Londen Missionary Society het dit as ’n bedreiging beskou en in die 1830’s skole oopgemaak vir “slawe”-kinders – van wie baie Moslem-kinders was – om in Engels onderrig te word, maar alles moes in Kaaps-Hollands verduidelik word. In die loop van die 19de eeu kon byna niemand meer Maleisies (Malajoe) praat nie – almal het Kaaps-Hollands gepraat – hoewel Franken nog verwys na ’n paar oumense wat tot in die vroeë 20ste eeu hier en daar nog Maleisiese sinsnedes geken het.

In die argiewe in Leiden kan gesien word dat die Koran by Macassar gelees is en dat Sjeik  Yusuf wat daar gebly het, traktate geskryf het. Die radja van Tambora, sultan Abd-al-Basir, was ’n politieke banneling in die tweede helfte van die 17de eeu en hy het die Koran uit sy kop neergeskryf. Francois Valentyn het dit in 1705 by Vergelegen gesien tydens sy besoek daar. Uit ’n brief wat die slaaf Gedult geskryf het, kan ook gesien word dat van die slawe wel kon lees en skryf. Ook die slaaf September kon skryf. Frans van Bengale (hy was die leier van die Javaanse korps by die slag van Blaauwberg in 1806) het in 1800 ’n brief in Arabiese skrif maar in Kaaps-Hollandse taal geskryf. ’n Bewys daarvan is in die Kaapse Argief.

Jan van Bugies, wat van Batavia was, het onderrig gegee by die Dorpstraat-madrasa. Hy het in 1786 as slaaf gekom en is gekoop deur die vrye slavin Salia van Macassar wat toe met hom getrou het en hom op dié manier vrygestel het. Hy het verskeie tale geken en hy het in 1836 ’n brief geskryf aan die South African Commercial Advertiser met gekreoliseerde Hollandse woorde in (sien Achmat Davids, bl 55).

slaweskrif1

Later het hy sy eie moskee in Langstraat begin wat vandag bekendstaan as die Palmboom-moskee. Die brief is ’n huldiging aan sir Benjamin D’Urban, by dié se dood. Dit is geskryf in Maleisies (Malajoe) en in Jawi-skrif, maar met talle Afrikaanse woorde tussenin, bv “die dienst”, “priester”, “kaptein”, “ghanaraal”, ens.

Teen die tyd dat die slawe in 1836 vrygestel is, was Arabiese skrif vry algemeen onder hulle gebruik om Kaaps-Hollands mee te skryf. ’n Eerste boek is in 1856 in Arabiese Afrikaans gedruk, maar dit bestaan nie meer nie. Abubkr Effendi het in 1869 ’n boek in Konstantinopel, Turkye uitgegee (sien Achmat Daivds, bl 221). ’n Transkripsie daarvan het in 1881 verskyn in die Nederlandsche Spectator in ’n artikel met die titel “Mohammedaansche Propaganda”. 

slaweskrif2

Teen die begin van die 19de eeu is Afrikaans gepraat, en hoewel daar moontlik ’n verskil was tussen die taal van die slawe en dié van die algemene publiek, was daar volgens Valkhoff nie vyf verskillende lae van spraak soos wat HJJM van der Merwe te kenne gee nie. Valkhoff interpreteer dit direk uit die geskrifte van Burchell (’n skilder wat in 1810 deur die land gereis het), asook Lichtenstein, wat van 1803 tot 1806 in die Kaap was. Dié twee skrywers noem ook die invloed van Maleis en Portugees op die gekreoliseerde Nederlands. Daar was later nog ander buitelandse waarnemers, onder wie Teenstra en Boniface, maar daar is nie tyd om nog in meer besonderhede in te gaan nie, want ek beperk my tot die jaar 1836, met die vrystelling van die slawe.

In die loop van die 19de eeu het die taal as gesproke taal meer gevestig geraak. Amptelik was die moedertaal van die Kapenaars steeds “Hollandsch” en die opgevoede mense het steeds voorgegee dat hulle dit besig, veral in geskrewe vorm. Maar die dagboekie van Johanna Duminy-Neethling wys ’n taalgebruik wat baie na aan die spreektaal is. Dit is hierdie gesproke taal wat die taalvaders later doelbewus begin skryf het om van Afrikaans ’n erkende, amptelike taal te maak.

  • 1

Kommentaar

  • Rafiq Fris, I.U.R., Rotterdam Holland

    Dankie vir die mooi artikel - ek wonder hoekom die ex-slawe in die Kaap nog altyd die taal van hulle ex-meester gebruik het na hulle vrystelling! Miskien is die oorsaak van daai tradisie dat hulle die Engelse "as a common enemy" beskou het, saam met die Boere van Hollandse en Franse (Hugenote) afkoms!?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top