Slagting op die paaie

  • 2

Jaar na jaar maan owerheidsinstansies motorbestuurders om geduldig te wees, versigtiger te bestuur en jaar na jaar styg die sterftesyfer. Die owerheidsinstansies is raadop omdat, ten spyte van hulle vermanings, die slagting op die paaie toeneem. Al wat oorbly is om die motoriste te beskuldig.

Het die owerhede al daaraan gedink dat die ongelukke, onder andere, AS GEVOLG VAN hulle vermanings is? Daar is wel dié wat ag slaan op hulle vermanings en 'versigtiger' ry. 'Versigtiger' in aanhalingstekens want vir die grootste gros bestuurders deesdae is 'versigtig' en 'stadig' dieselfde ding. Die gevolg is dat hulle die dinges uit die motoriste agter hulle frustreer en die begin naderhand, uit pure ongeduld, kanse vat wat dan tot ongelukke lei. G'n mens kan by sy sinne bly as 'n zombie voor jou aan't kruie is nie.

Wat hiermee saamgaan is die vlak van vaardigheid van bestuurders deesdae. Daar is kinders wat drie, vier keer die bestuurstoets moet deurgaan voor hy slaag maar daar is derduisende wat slaag waarvan die mate van vaardigheid sodanig is dat hy of sy nie eers tussen twee ewewydige lyne kan parkeer nie (en ek praat nie eers hier van parallelle parkering nie). Hulle is 'n gevaar op die pad en veroorsaak ongelukke, selfs al is hulle self nie in 'n ongeluk betrokke nie.

'n Baie groot bydraende faktor is die toestand van die paaie, iets wat geheel en al die owerhede se verantwoordelikheid is. Daar kan wel aangevoer word dat die snelweë in 'n redelike toestand is (ook nie altyd nie) maar, as die sekondêre paaie beter onderhou was, het meer mense dalk die interessanter sekondêre roetes gevolg wat dan natuurlik tot gevolg sal hê dat die snelweë yler bevolk sou wees.

Nog 'n bydraende faktor, ook 'n direkte gevolg van beleid (of gebrek aan beleid) is die groot aantal vragmotors op die paaie. Vragmotorbestuurders is oor die algemeen vaardig maar, hoe vaardig ookal, kan hulle nie help om die paaie tot in die afgrond in (letterlik, want party slaggate is afgronde) te verniel nie. Ook, wat verkeersdigtheid betref, is een vragmotor gelykstaande aan tientalle, miskien honderde, karre.

So, voor die owerhede kla oor die splinter in die oog van die motoris, moet hulle die balk uit eie oog uithaal. Hulle moet aandag gee aan die toestand van die paaie, die vaardigheid van motorbestuurders en sorg dat vrag weer per spoor vervoer word. Om die spoedgrens te verminder, of om die skuld op motoriste te pak, gaan niks help nie.

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    In die plaaslike koerant het Willie Esterhuyse dit onlangs gehad teen die manier waarop bestuurders van luukse motors en viertrekvoertuie die pad tussen sy woonplek in Stellenbosch en sy plasie by Botrivier gebruik. Van hom sal daar nie beswaar teen minibustaxi's kom nie, want dit sal afbreuk doen aan die beeld wat hy van homself in sy na-Broederbond-era wil skep.

    Wat vir my opval, is dat voetgangers wat tradisioneel nie sypaadjies ken nie, verkies om in die straat pleks van op die sypaadjie te loop. Voetgangers beweeg dikwels in dieselfde rigting as voertuie, terwyl hulle in die teenoorgestelde rigting moet loop, dus regs moet hou. Fietse wat in dieselfde rigting as ander voertuie moet beweeg, dus links moet hou, doen dit dikwels in die teenoorgestelde rigting.

    Ek het al baie keer gedink dat as daar ’n enkele klasperiode vir deeglike onderrig in padveiligheid in die loopbaan van elke skolier afgestaan word, die veiligheidsituasie sal verbeter. Maar dan dink ek aan die miljoene inkommers wat die land binnestroom uit lande waar voertuie regs en voetgangers links moet hou. Hoe kan hierdie mense tot padveiligheid bekeer word?

    ’n Feit wat nooit genoem word nie, is dat die ANC-regering se beleid van nie-meriete-aanstellings en die vet salarisse wat hierdie mense ontvang (eerder as verdien), veroorsaak dat daar deesdae ’n oorwig van onervare bestuurders op die paaie is; mense wat in hulle familie, geslag en voorgeslag geen motor- (of soortgelyke voertuig-) tradisie het nie en nie hulle verantwoordelikheid teenoor ander padgebruikers besef nie.

    Vir die beveiliging van ons paaie is nie soseer nuwe wette en regulasies nodig nie, maar die doeltreffende toepassing van die bestaandes.

    Johannes Comestor

  • Charles van Schalkwyk

    Ek het nou ook al na al die debatte geluister en gewens ek kan iewers iets te sê kry. So hier is dit nou:

    Ek stem heelhartig saam dat daar beslis in die verkeerde boom geblaf word. Vir my is dit terug na die basiese toe. Begin net weer om die basiese  wetstoepassing in plek te kry nl as jy op verkeerde plek parkeer tree op teen sodanige persoon. Ry oor ’n stopstraat  stop by ’n voetoorgang, stop binne die verbode areas by kruispaaie brue verkeersligte, dubbelparkerings, stop op laaisones, geelstrepe, middelmannetjies ens

    Iemand moet dan weer ’n slag sy hoed vat en sy werk doen waarvoor die betaal word, maar dit is makliker en lê onder ’n bos terwyl ’n kamera van spoed oortreders fotos neem.

    Ek ry die naweek van 16 Desember die aand van Bloemfontein na Thabazimbi en dit reen katte en honde ek 36 voertuie met net eenlig wat werk en ontstellend 4 met geen ligte nie op die pad een van hulle ’n bus wat ANC kongresgangers vervoer, dit is "scary".

    Is dit nie tyd dat iemand ’n moordklag teen die betrokke owerhede anhangig kan maak nie, maar dit sal ook nie help nie want al word iemand skuldig bevind vee hul hul agterkant daaraan af. Wets toepassing is net vir sekeres ander is verhewe daaroor.

    Ek ry eendag met my motorfiets Klerksdorp toe, net voor Theunissen kom een van hierdie swart Audis met die flikkerende blou ligte by my verby en ek besluit ek ry saam.  dit gaan toe hier teen 200 kpu plus voort maar ek verbaas my oor die swak bestuursvernuf wat die persoon wat bestuur besit. Voor elke draai word op die remme gelê, kan nie afstand skat om veilig verby te gaan nie, kan nie die pad oppervlak opsom nie, so kan ek aangaan. Daardie trip het ek gesien dat hierdie motor was en is seker vandag nog ’n gevaar vir almal.

    Wat kan on sê, vra maar net vir beskerming en genade.

    Groete.

    Charles

    ns: moenie my oor my spelling kap nie, skryf is nie my beroep nie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top