Skoleseminaar: Aanspreeklikheid in die onderwys

  • 0

Seymour Bothman (foto: Izak de Vries)

Seymour Bothman is senior bestuurder van die ATKV se onderwysafdeling en het by ‘n onlangse geleentheid gesels oor die tema van die Global Education Monitoring vir 2017: Aanspreeklikheid in die onderwys. Wie se verantwoordelikheid is al die kinders in al die skole van hierdie land?

  1. Inleiding

Die omskrywing van aanspreeklikheid in die onderwys

“Aanspreeklikheid” is 'n term wat deur baie mense gebruik word, maar almal het nie dieselfde idee of definisie daarvan nie. Die idee van aanspreeklikheid is nie slegs 'n konsep wat tot die onderwys beperk is nie, maar word ook in ander sektore gebruik.

Die moniteringsverslag vir volhoubare doelwitte vir 2017 gaan op die volgende sleutelvrae fokus om die aanspreeklikheid van nasionale regerings aan te dui:

  • Wat is die grondslag en die evolusie van die begrip aanspreeklikheid in die onderwys?
  • Wat is die hoofvorme van aanspreeklikheid? Hoe het die vorme verander?
  • Wat is die rasionaal vir die verandering?
  • Wat is die gevolge (implikasies) ten opsigte van aanspreeklikheid in 'n globale onderwysomgewing?
  • Wat is die gevolge van aanspreeklikheidstelsels vir verskillende rolspelers, vlakke en sektore in die onderwys? Hoe verskil dit in verskillende lande?
  • Wat is die gevolge van die aanspreeklikheidsraamwerk van die openbare siening oor onderwys in die land?
  1. Hoofoogmerke van die verslag
  • Die tema van die Global Education Monitoring vir 2017 is "Aanspreeklikheid in Onderwys". As gevolg van ekonomiese druk en ingekorte begrotings is daar 'n sterk fokus op die onderwys van die gemarginaliseerde skoolgemeenskappe. Alle lande is aanspreeklik om te verseker dat alle landsburgers toegang tot gehalte-onderwys het.
  • Die hoofoogmerk van die moniteringsverslag is om vas te stel in welke mate nasionale regerings bygewerkte, betroubare en akkurate inligting aangaande vordering en verbintenis ten opsigte van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte kan verskaf.
  1. Internasionale en nasionale onderwysprentjie

Tydens die ATKV-onderwysafdeling se jaarlikse onderwyskonferensie in 2016 het Muavia Gallie aangetoon dat Suid-Afrika se beste leerders op dieselfde standaard as Singapoer se swakste leerders is. Die jongste navorsing dui aan dat 60% van die graad 4-leerders se lees en leesbegrip glad nie goed vergelyk met dié van hul oorsese eweknieë nie. Ook is dit onrusbarend dat 300 Suid-Afrikaanse onderwysers se leesvaardighede uiters power is. Navorsing toon aan dat van dié onderwysers se vaardighede swakker is as hulle leerders s'n.

Die South African and Eastern Consortium for Monitoring Educational Quality (SACMEQ) (2000- en 2007-data) toon aan dat Suid-Afrika swakker vaar as van die armste lande van Afrika. Van der Berg en ander is van mening dat Suid-Afrika veral swakker vaar in wiskunde en lees, ten spyte van die beter toegang tot leermateriaal.

In 2006 toon die Progress in International Reading Literacy Study-navorsing aan dat graad 5-leerders van Suid-Afrika die swakste presteer het uit 45 lande. Die meeste ander lande het hul graad 4-leerders getoets – lande wat deelgeneem het, is Iran, Marokko, Trinidad & Tobago, Indonesië en Macedonië. Volgens Nic Spaull, ‘n onderwysnavorser, het Suid-Afrika se leerders dieselfde as dié van Botswana gevaar, maar is Suid-Afrika se leerders volgens die 2011-studies drie jaar (2.9) agter hulle Colombiaanse eweknieë. Die Trends International Mathematics and Science- (TIMMS-) studies in 1995, 1999, 2002 en 2011 dui aan dat daar geen verbetering in graad 8 ten opsigte van wiskunde en wetenskap is nie.

  1. Twee leefwêrelde in Suid-Afrika

Volgens Roger Southall is ongelykhede onder apartheid in die onderwys versinnebeeld deur die minderwaardigheid van die destydse sogenaamde Bantoe-onderwys vir swart leerders. Die invoer van Afrikaans as onderrigmedium in swart skole was een van die oorsake van die opstande in Soweto in 1976.

Ná 1994 het alle leerders toegang tot openbare skole gehad. Inderdaad het alle kinders toegang tot skole, maar onderwyskenners is dit eens dat alle leerders nie toegang tot gehalte- en goeie onderwys het nie. Southall is van mening dat dit waarneembaar is dat die twee rykste en meer effektiewe administratiewe provinsies, Gauteng en die Wes-Kaap, beter in staat is om goeie onderwys te bied as die armer provinsies, byvoorbeeld Limpopo en die Oos-Kaap.

In ag genome die verandering na een onderwysstelsel is daar ook 'n ooreenkoms gesluit dat die beheer van skole die verantwoordelikheid van gekose ouers en personeel van die skool gaan wees. Dit is 'n edele idee en sluit nou aan by die ideologiese raamwerk van die Grondwet en die Nasionale Ontwikkelingsplan. Enersyds het dit gevolg gehad dat voormalige model C-skole hoër skoolgelde hef om gehalte-onderwys aan te bied, andersyds dat die staat meer fondse tot hul beskikking het om histories agtergestelde skole te ondersteun.

'n Mens vra jou af of die veranderde kurrikulum werklikwaar wesenlike verbeteringe vir die totale onderwysstelsel bewerkstellig het. Met die betrokkenheid van die onderwysafdeling van die ATKV is dit duidelik dat daar enkele minderbevoorregte skole is wat uitstekend op akademiese, kultuur en sportgebied vaar.

Behalwe bogenoemde ernstige tekortkominge is daar talle ander brandpunte waarop daar nie in fynere besonderhede uitgebrei gaan word nie, onder meer:

  • Die navorsing van die Universiteit Stellenbosch (US) wat daarop dui dat 60% leerders aan die einde van graad 4 se leesvermoëns, nie op peil is nie.
  • Die hoë uitsaksyfer wat veral in grade 9 en 10 toeneem.
  • Die invloed van onderwysunies – veral die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SADOU) – in onderwyssake. (Let wel: die onderwysunie kan nie blameer word vir al die gebreke in die onderwysstelsel nie.)
  • Onderpresterende skole se onderwysers se onderrigvaardighede en vakkundigheid is op peil nie.
  • Volgens amptelike bronne van die Departement Basiese Onderwys (DBO) verlaat 6 000 bekwame onderwysers die stelsel sedert 2009 op 'n jaarlikse basis. Die aantal onderwysers wat die onderwysstelsel verlaat, beteken dat die kundigheid en vaardighede in die meeste gevalle verlore gaan. Sedert 2011–2016 het 29 734 die onderwysprofessie verlaat.
  • Die fokus van die skoolkurrikulum is grotendeels om leerders vir die Jaarlikse Assesseringstoetse (beter bekend in die volksmond as die Annual National Assessments - ANA) voor te berei, waaraan die grondslagfase- en intermediêrefase-leerders van die laerskool deelneem.
  • Volgens Nic Spaull, ‘n onderwysnavorser van Research on Socio-Economic Policy (Resep), is daar slegs 25% skole wat goed presteer in Suid-Afrika.
  • Die onderwyspeil van drie provinsies, Limpopo, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, is kommerwekkend, en ná talle ingrypings sedert 1994 is daar nog geen noemenswaardige verbetering in die beheer- en bestuurstelsel van dié provinsies is nie.
  1. Slot

Dit is tans waarneembaar dat die aanspreeklikheid van sommige provinsiale departemente nie voldoen aan die hoofoogmerke van die moniteringverslag nie. Wat is die oplossing? Die ATKV, as deel van die burgerlike samelewing, is tans besig om in 800 skole gehalte-skoolbeheer en -bestuur te benadruk. Dit skep geleenthede om met die onderwysdepartement, ouers, leerders en onderwysers hande te neem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top