Skepelinge: Aanloop tot ’n roman deur Karel Schoeman: ’n resensie

  • 0

Skepelinge: Aanloop tot ’n roman
Karel Schoeman
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:  9780798176101

Met die (ontydige) dood van Karel Schoeman op 1 Mei 2017 het Afrikaans een van sy grootste literêre geeste verloor – miskien selfs die wêreldliteratuur, want moes hierdie letterkundige reus nie dalk al vir ’n Nobelprys gekwalifiseer het nie? Maar ook die Suid-Afrikaanse historiografie is armer. Schoeman se nalatenskap leef egter voort en sal waarskynlik vir altyd voortlewe, ook danksy die feit dat sommige van sy boeke in ander tale vertaal is – en meer hopelik sal volg. Dit leef ook voort danksy sy nagelate manuskripte, wat óf reeds kort na sy dood gepubliseer is, óf in die jare wat voorlê gepubliseer sal word.

Een van Schoeman se manuskripte het, danksy Human & Rousseau, pas verskyn, en wel as Skepelinge: Aanloop tot ’n roman. Hier is die enigmatiese Schoeman, met sy unieke uitkyk op die geskiedenis (en die lewe en menseverhoudinge), weer eens op sy (vanselfsprekende) beste. Soos die uitgewer dit tereg op die voorste klapperteks stel:

Skepelinge is ’n impressionistiese betragting van die vroeë koloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gebaseer op Schoeman se uitgebreide kennis van die VOC [Vereenigde Oostindische Compagnie]-tydperk en meer spesifiek die skeepvaart.

Of soos Schoeman dit self in die koda aan die einde van die boek stel (hoewel hierdie sleutelonderafdeling van die publikasie dalk heel voor in die boek geplaas moes gewees het):

Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om ’n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap. Die resultaat is ’n hibriede skepping, êrens in die middel tussen fiksie en niefiksie, en sou as “historiese improvisasie” beskryf kon word; of hoogstens, soos sy uiteindelike ondertitel lui, “aanloop tot ’n roman”. (Bl 535)

Bostaande verklarende nota verduidelik nie slegs aan die leser van Skepelinge die doel van en werkwyse ten opsigte van hierdie unieke publikasie nie, maar sê ook (onbedoeld?) veel omtrent Schoeman se benadering ten opsigte van sy navorsing vir, en aanbieding van, baie van sy ander literêre en historiese produkte.

Voortvloeiend uit die invalshoek soos in bostaande aanhaling uiteengesit is, stel Schoeman dit voorts in die koda duidelik dat “[s]over doenlik is jaartalle weggelaat ten einde die ooreenkoms met ’n stuk geskiedskrywing te vermy. Die gebeurtenisse van bykans tweehonderd jaar wat behandel word, is aangebied asof dit gelyktydig was” (536)

As historikus sou ek uiteraard datums verkies het, en sou meer volledige bronverwysings vir my ook nuttig te pas gekom het. Schoeman het dié kritiek verwag:

Vir heelwat van sy potensiële lesers sou die werk vermoedelik “nuttiger” gewees het, soos die wêreld dié begrip hanteer, as sy uitsprake deur bronnote gestaaf en die teks van persoonlike menings gesuiwer was. In dié geval sou dit egter nie die boek gewees het wat hom aan my voorgedoen het om geskryf te word nie. (536)

Ek respekteer Schoeman se standpunt en Schoeman se persoonlike menings is genadiglik nie geskrap nie!

Wat voor die leser ontvou, is ’n unieke teks wat die leser onder meer daaraan herinner dat baie Suid-Afrikaners van die voorsate van Nederlandse (en ander) seevarende moondhede afkomstig was en dat as dit nie vir seevaart, die strategiese Kaapse seeroete en die botsende ekonomiese, politieke en strategiese belange van Portugal, Nederland, Brittanje en Frankryk was nie, die geskiedenis van wat vandag Suid-Afrika is, waarskynlik heel anders sou verloop het. Die VOC se halfwegstasie aan die Kaap het immers in 1652 tot stand gekom as ’n gevolg van seevaart en ekonomiese wedywering tussen die destydse groot moondhede van Europa. Die Napoleontiese oorloë en die daarmee gepaardgaande stryd om (onder meer) oppermag ter see (tussen Frankryk en Brittanje) het in 1795 tot die eerste Britse besetting van die Kaap gelei, en in 1806 tot die tweede sodanige Britse besetting. Teen die 19de eeu was die Britse Ryk in beheer van die wêreld se seewaartse handelsroetes, met die Royal Navy se vlootbasis te Simonstad ’n belangrike strategiese sleutelpunt in die Britse imperiale web. Meer as 100 jaar later, tydens die hoogbloei van die Koue Oorlog, was dié vlootbasis steeds van groot belang in die stryd tussen die supermoondhede. Vandag (2017) het die Kaapse seeroete steeds groot strategiese belang en behoort die Suid-Afrikaanse Vloot se Simonstad-vlootbasis steeds strategies aangewend te word. Die klein en onderbefondste Suid-Afrikaanse Vloot se vermoëns is egter beperk – al vaar hulle onder moeilike omstandighede goed. Net jammer so min Suid-Afrikaners het begrip vir maritieme sake; so jammer so baie Suid-Afrikaners ly aan wat as seeblindheid beskou kan word. Ons is immers streng gesproke ’n seevarende moondheid; of altans, ons behoort dit te wees. Dan moet ons egter méér weet omtrent die seevaarders wat ’n rol in ons geskiedenis gespeel het (en ja, hulle kan as kolonialiste en koloniste getipeer word, maar hulle is deel van álle Suid-Afrikaners se gedeelde verlede).

Dit bring ons weer terug by Karel Schoeman en sy skepelinge. Hy skets in breë trekke die geskiedenis van die VOC en die vestiging aan die Kaap (kyk in hierdie verband ook Schoeman se omvangryke reeks boeke oor die kolonie aan die Kaap) en beskryf die VOC se skepe (“seekastele”). Dan identifiseer en skryf hy oor die bemannings van hierdie skepe. Wie was hierdie mense? Wat was hul herkoms? Hoe het hulle die vaarte na die Kaap (en soms ook terug na Europa) beleef? En wanneer hulle in Tafelbaai anker gegooi het en aan land gegaan het, wat was hul indrukke van die Kaap (de Goede Hoop)? Wat was hul ervaringe? Wat was hul neerslag? Nie almal het die Kaap gehaal nie. Daar was storms, skepe het vergaan en daar was sterftes – en oorlewende skipbreukelinge.

Feite en indrukke word opeengestapel. Soos gewoonlik is Schoeman se navorsing indrukwekkend (kyk byvoorbeeld die geselekteerde lys van geraadpleegde bronne, ble 557–73, asook die 552 eindnotas), maar hy is byna verskonend as hy sê:

Hoe wetenskaplik my oorspronklike bedoelings ook was, kan die boek waarin hierdie proses vasgelê is dus nie anders as subjektief, eensydig en willekeurig wees nie, en die proses self is tentatief en aarselend, ’n huiwerige afdaal in die skag van die verlede. (13)

Die leser word geensins teleurgesteld gelaat nie. Soos in sovele van sy ander werke, gee Schoeman ook hier stem aan die gemarginaliseerdes; hier in die besonder die anonieme opseilendes van die 17de en 18de eeu – skepelinge onderweg na die Kaap. Ongelooflik baie inligting en indrukke word verskaf. Ideaal gesproke moes daar ’n persoons- en skeepsregister gewees het ten einde die belangstellende leser, maar veral die navorser, in staat te stel om dié omvangryke teks makliker en beter te kan ontgin. Dit sou ook gaaf gewees het indien daar, afgesien van die treffende skildery wat op die boek se omslag afgedruk is (Willem van de Velde die Jonge se Het IJ voor Amsterdam met de Gouden Leeuw, het voormalige vlaggenschip van Cornelis Tromp, 1686) ook enkele ander illustrasies ingesluit was, en dalk ook ’n kaart of twee.

Hoe dit ook al sy, Skepelinge: Aanloop tot ’n roman is ’n besonderse werk en vorm deel van Karel Schoeman se unieke nalatenskap. Dit bied veel stof tot nadenke, en werp lig op die wyse waarop ’n briljante romansier stof versamel en met die geskiedenis worstel met die oog op die skryf van ’n roman. ’n Mens kan maar net bespiegel en bly wonder hoe die roman wat veronderstel was om uit Skepelinge te vloei, sou gelyk het. Maar soos wat die geskiedenis ’n debat sonder einde is en geen skryfwerk dus eintlik ooit voltooid is nie, moet die leser ook hier self die roman verbeeld, die legkaart voltooi, die karakters verder uitbou, en ook onthou dat ons ’n noue band met die see het. Met dank aan Karel Schoeman.

André Wessels

Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, en besoekende professor, Australian Defence Force Academy, Canberra

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top