Sirkus deur Irma Venter: ’n onderhoud

  • 0

Sirkus
Irma Venter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174411

Skrywers oor hul nuwe boeke: Irma Venter gesels met Naomi Meyer oor Sirkus

Hallo Irma, geluk met die verskyning van Sirkus! Kan jy vir LitNet se lesers in ’n paar sinne vertel waaroor Sirkus handel?

Hallo Naomi. Baie dankie. Dis lekker om die eerste keer op LitNet te gesels. Ek kuier gereeld op julle webwerf.

Sirkus is ’n grootwordverhaal wat in die 1980’s afskop, vermeng met ’n aksieverhaal wat in die hede afspeel. Die boek vertel die verhaal van Adriana van der Hoon en hoe die verlede, familiegeheime, korrupsie, politiek en liefde haar inhaal. Dit speel hoofsaaklik in Duitsland, Suid-Afrika en Bulgarye af.

Hier is die agterbladteks: “Dis die laat tagtigs in Johannesburg. Adriana van der Hoon is agtien jaar oud. Haar aktivis-pa het jare lank oorsee geld vir die Education Trust ingesamel maar op ’n dag verander alles, en nou staan die veiligheidspolisie op haar drumpel met ’n ultimatum. As sy hulle nie help om die ANC se geldspoor van Duitsland na Suid-Afrika te volg nie, sit sy en haar chroniese siek ma sonder heenkome. En sy sonder haar studiebeurs. Dis hoe Adriana in Berlyn beland. Dis hier waar sy haar talent om messe te gooi vervolmaak, en waar sy Yasen Todorov ontmoet. Ver weg van alles wat bekend en veilig is, leer Adriana waartoe sy in staat is. Bowenal leer sy dat niemand, ook nie sý nie, ooit heeltemal onskuldig is nie.”

Jou joernalistieke werk bied inspirasie, het ek in ’n ander onderhoud met jou gelees. Met Sirkus: was daar ’n sneller wat vanuit jou werk voortgevloei het, of was dit ’n logiese opvolg op vorige boeke, karakters wie se stories verder vertel moes word?

Sirkus was die logiese volgende boek na Adriana reeds haar opwagting as sekondêre karakter in die vorige boeke gemaak het (Skoenlapper, Skrapnel, Sondebok en Skarlaken).

Dit was egter nie ’n maklike boek om te skryf nie, aangesien my eie verlede my ingehaal het. Ek het Adriana as ’n eksotiese randfiguur geskep ⎯ haar eerste verskyning was in Skrapnel ⎯ en dit het dinkwerk gekos om te verduidelik hoe ’n vrou in haar veertigs mes gooi, tjello speel, ’n restaurant besit en die geheime van ’n handvol magtige mense in Suid-Afrika ken.

Om Sirkus se talle drade – oor tyd en ruimte ⎯ bymekaar te bring was ook ’n besonderse uitdaging.

Nog ’n blywende uitdaging van die reeks is om seker te maak elke boek kan op sy eie gelees word.

Ek het ook gelees jy twyfel soms aan die land se regstelsel. Sinspeel hierdie boek se titel van jou ook hierop? Want in hierdie boek is daar ook ’n werklike sirkus ter sprake.

Die titelwoord is ’n verwysing na die werklike sirkus waar Adriana werk, maar ook na die klug van politiek wat altyd meer om mag en geld wentel as om die belange van mense. Dit was waar in die 1980’s, nou, in Suid-Afrika, en in omtrent elke ander land in die wêreld. Die regstelsel? Ja. Dit voel vir my asof mense met geld en duur regshandlangers los kom en mense wat dieselfde oortredings gepleeg het, jare lank in die tronk krepeer omdat hulle nie dieselfde middele tot hulle beskikking het nie.

"Power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely,” het lord Acton gesê. Gelukkig is spanningsverhale ’n heerlike ruimte om aan mens se sinisme uiting te gee.

Adriana voel wel vir my na die hoofkarakter, maar het jy ’n gunstelingkarakter of storielyn in hierdie boek gehad? Wil jy iets daarvan vertel?

Adriana lê my na aan die hart, reeds van haar eerste verskyning in Skrapnel, geklee in ’n aandrok met ’n kombuismes in die hand. Ek het dit geniet om in Sirkus te skryf hoe sy haarself uit haar omstandighede ophef ⎯ van die dele waar sy mense wat sy dink dit verdien, afpers, tot waar sy etiket leer.

Jakkals se verhaallyn was ook vir my besonders, aangesien ek teen my wil simpatie met hom ontwikkel het. Ek ken iemand met ’n foto soos die een wat Jakkals het – ’n foto waar hy die enigste oorlewende is tussen ’n handvol mans in netjiese bruin weermaguniforms.

Ek moet egter erken dat Boris my hart gesteel het. Meer wil ek egter nie hieroor verklap nie.

Jou karakters reis na eksotiese plekke met die regte atmosfeer vir ‘n spanningsverhaal. Is hierdie omgewings plekke waarvan jy gehou het toe jy daar was? Of is dit nie ter sake nie – was dit die regte plekke vir die tonele om hulle af te speel? Vertel asseblief iets van die verhaal se ruimtes.

Soms lees ek om iets te leer, oor myself en andere, ander kere om te weet wat aangaan, maar baie keer ook om te ontsnap en te ontspan.

Ek hoop ek skryf fiksie wat lesers toelaat om iewers anders te wees, om te vergeet van die kinders en die kos en die motorpaaiement. Dus skryf ek graag oor lande buite Suid-Afrika, en nie noodwendig net eksotiese plekke nie. Ek het al oor alledaagse, maar pragtige plekke, soos Gaberone ook geskryf.

Buitelandse ruimtes verseker dat ek nie verveeld raak met die storielyn nie. Die slegste boeke wat ek al gelees het, is dié waar die skrywer verveeld was met hulle eie storie.

Ek reis gereeld ⎯ minder soos ek ouer en besiger raak ⎯ so ek kan gelukkig meestal ruimtes gebruik waar ek reeds was. Duitsland, Tanzanië, Frankryk ens.

Die destydse Duitsland, Europa in die geheel, is vir my ’n fassinerende ruimte. Suid-Afrika het saam met Europa verander in die 1980’s en 1990’s, en dit was vir my interessant om in Sirkus die parallelle omstandighede raak te skryf.

Deesdae wonder ek of dieselfde verhaal besig om hom af te speel in die 2010’s. Is alles weer besig om te verander? Op sy kop te keer van die waardes wat die wêreld in die 1990’s aangegryp het? Gaan ons weer eens in Europa se voetspore volg?

Soos Mercedes het jy ’n S-reeks: Skoenlapper, Skrapnel, Sondebok, Skarlaken en nou Sirkus. Is dit doelbewus, die letter S? Of toeval?

As ’n joernalis wat baie oor die motorbedryf skryf, geniet ek jou verwysing na die S-reeks! Dis Merc se duurste reeks. So asseblief, aan almal wat hier lees en al julle vriende, gaan koop my boeke dat ek eendag so ’n duur motor kan bekostig.

Die S was pure toeval. Skoenlapper (my eerste boek) se titel was eers Chaos-teorie, maar toe het Deon Meyer ’n verwysing hierna in sy nuwe teks. Bloed, my tweede keuse, was te na aan ’n Peet Venter-boek. My derde keuse, na ek met my uitgewers onderhandel het, was Skoenlapper, met verwysing na die gebeure wat kan volg deur die eenvoudige klap van ’n skoenlapper se vlerke.

Met die tweede boek het ek die HAT vir my vriende gegee en gevra om nog boektitels onder S te soek. 

Ek werk nog steeds van hierdie lys af. 

Ek sukkel met boektitels, maar ek kan nie die teks begin voor ek ’n titel het nie, dus bly dit belangrik dat die eerste woord wat ek skryf, die titel is. Die poel van “verdagtes” raak aansienlik kleiner as mens net aan woorde met dieselfde eerste letter hoef te dink.

Toe Sondebok (derde boek) klaar geskryf was, maar nog nie op die rak was nie, het Kabous Meiring my op Aardklop gevra of ek daarvan bewus is dat Willem Anker (voor sy roman Buys) se dramatitels almal met ’n S begin. Ek het nie, tot my groot spyt, anders sou ek ’n ander letter gekies het. 

Het jy reg van die begin af geweet hierdie gaan ’n reeks wees? En reeds ’n spul idees gehad vir volgende boeke terwyl jy besig was om die eerste boek te skryf?

Ek het geweet ek wil ’n reeks boeke skryf wat vier tot ses karakters betrek wat in elke boek in ’n meerdere of mindere mate hulle opwagting maak. Hierdie karakters sou oor spesifieke vaardighede moes beskik, omdat ek nie noodwendig oor die polisie en kriminele prosedures skryf nie. Elk van hierdie vaardighede moes die verhaal vorentoe toe kon dryf, en van daar die skep van ’n afgetrede speurder, joernalis, kuberkraker ens.

Ek hou daarvan om boeke te lees waar ek vir die karakters omgee. Ek hou ook van reekse, dus was dit seker vanselfsprekend dat ek ’n reeks met herhalende karakters sou skep.

Ek het twee boekidees in my kop, die een waaraan ek werk en ’n nuwe een. Ek het nog altyd in die huidige boek verwys na die teks wat kom. In Sirkus is dit byvoorbeeld dat Alex in Pretoria gaan werk omdat van sy kollegas op kraamverlof is. Deesdae is dit ’n persoonlike plesier om die titel van die volgende boek in die huidige teks weg te steek.

Plot jy ’n storie voordat jy dit begin skryf? Hoeveel hiervan ontwikkel organies?

Ek werk omtrent 80% van die verhaal uit voor ek begin skryf. Daarna dikteer die ruimte en karakters wat gebeur. Al het jy hulle geskep, verras karakters mens soms in wat hulle aan die einde van die boek doen.

Wat lees jy op die oomblik, of watter film of teaterstuk het jy onlangs gesien wat indruk gemaak het?

Ek is besig om myself op te voed oor misdaadverhale buite die Amerikaanse, Suid-Afrikaanse en Britse markte, so ek lees vertaalde krimi’s uit lande soos Frankryk en Nederland. Ek lees op die oomblik lekker aan Kill the father, uit Italie. Die fliek Arrival was vir my besonders – die idee van taal en hoeveel meer dit kan wees / is. Laurinda Hofmeyr bly een van my gunstelinge. Mafikizolo het ook onlangs my oë oopgemaak oor hoe wonderlik Suid-Afrikaanse musiek is.

Hier is die stapel boeke wat langs my bed staan.

En is jy reeds besig met ’n volgende boek, of, as jy nie daaroor wil praat nie, vertel my wanneer jy tyd maak vir skryf as jy reeds heeldag met woorde werk?

Ek werk reeds aan Sondag, met Alex, Ranna en kaptein AJ Williams as die hoofkarakters.

Ek werk voltyds, so skryftyd is vroeg in die oggend, en enige tyd waar ek meer as 30 minute bymekaar kan skraap.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top