Sinode se gay-besluit: keuse vir verantwoordelike gebruik van die Bybel

Hierdie webseminaar spruit voort uit die volgende LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikels en neem die gesprek rondom die besluite omtrent selfdegeslagverhoudings wat op 9 Oktober 2015 in die Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is, verder:


Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma

Helena van Coller
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?

Ernest van Eck, Ralph Barnard
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)


 

André Bartlett skryf oor hoe hy die Bybel ten opsigte van gaywees verstaan.

By die pas afgelope algemene sinode van die NG Kerk het dié kerk met sy besluite oor die status van vaste selfdegeslag-verhoudings die spreekwoordelike Rubicon oorgesteek.

Die sinode het nie net erkenning gegee aan sulke verhoudings en dit moontlik gemaak vir NG predikante om die bevestiging van  burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag te hanteer nie, maar ook die selibaatsvereiste wat tot nou toe gegeld het vir gay en lesbiese predikante, opgehef. Dit alles as uitvloeisel van ʼn verbintenis tot die gelykwaardige en menswaardige behandeling van alle lidmate van die kerk, ongeag hulle seksuele oriëntasie.

Wat opvallend was in die debat wat tot hierdie besluit gelei het, is dat daar ten opsigte van Bybelgebruik en Bybelverstaan twee baie duidelike lyne gevolg is.

Aan die een kant was daar die benadering om van ʼn paar “proeftekste” gebruik te maak om aan te dui dat die Bybel gekant is teen enige vorm van homoseksuele gedrag en dat die kerk dus in gehoorsaamheid aan hierdie tekste nie anders kan as om te volstaan met ʼn verbod op verhoudings tussen mense van dieselfde geslag nie. Van die mense wat hierdie lyn gevolg het, het wel die voorstel dat daar eers weer verdere studie gedoen moet word voor ʼn volgende algemene sinode ʼn besluit neem, gesteun, maar met die veronderstelde verwagting dat hierdie tekste dan steeds die deurslag sal gee.

Aan die ander kant was daar die benadering om nie vanuit enkele tekste ʼn saak op te bou nie, maar om eerder die breë lyne van die Bybel te probeer volg, en dan veral vanuit die perspektief van die Jesusverhaal soos wat dit in die Nuwe Testament uitdrukking vind. Daar is wel ook na die sogenaamde proeftekste gekyk, maar daar is bevind dat hierdie tekste te doen het met seksuele uitwasse tussen mense van dieselfde geslag en dus nie bruikbaar is in die beoordeling van selfdegeslagverhoudings van wedersydse liefde en trou nie.

In die lig van die Jesusverhaal is daar op veral twee aspekte gefokus: Jesus se radikale insluiting van mense wat om een ander rede deur die samelewing gemarginaliseer is, en die wyse waarop Jesus die wet as maatstaf vir menslike gedrag hanteer het.

Uit Jesus se optrede teenoor gemarginaliseerdes is dit baie duidelik aangedui dat hy uitgebeeld word as iemand wat baie doelbewus mense wat deur samelewingsnorme en -strukture uitgesluit is, in te sluit by die gemeenskap wat hy rondom hom vergader het. Dit het ook mense ingesluit wat op grond van Ou-Testamentiese rituele en reinheidsreëlings uitgesluit is van volle deelname aan die lewe van die geloofsgemeenskap.

Ten opsigte van die tweede aspek (Jesus se hantering van die wet) is sy samevatting van die wet in die dubbele liefdesgebod as uitgangspunt geneem. In die lig hiervan word die liefde as maatstaf gebruik om te bepaal of menslike gedrag (ook seksuele gedrag) reg of verkeerd is. Die vraag hoe hierdie norm konkreet hanteer moet word, kan op twee maniere beantwoord word: enersyds op negatiewe wyse deur te verwys na Paulus se uitspraak in Romeine 13:10 dat “die liefde die naaste geen kwaad aandoen nie”, en andersyds op positiewe wyse deur te verwys na Jesus se woorde in Johannes 10:10: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Die klassieke voorbeeld in hierdie verband is die antwoord van Jesus aan diegene wat hom gekritiseer het oor sy dissipels se oortreding van die Sabbatsgebod toe hy gesê het: “Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie” (Markus 2:27). Hieruit is dit duidelik dat die “lewe in oorvloed” waardeur die naaste nie kwaad aangedoen word nie, belangriker is as die strakke nakoming van een of ander bepaling van die wet.

Indien die lens van die liefdesgebod (in positiewe én negatiewe sin) oor die sogenaamde proeftekste geplaas word, sou daar bevind kon word dat die gedrag wat daarin beskryf word, wel afkeurenswaardig is – nie omdat dit ʼn algemene oordeel oor homoseksuele gedrag uitspreek nie, maar omdat dit verwys na spesifieke gedrag wat die medemens kwaad aandoen. Dit gaan immers in hierdie tekste oor sake soos groepsverkragting (die verhaal van Sodom), tempelprostitusie (die Levitikus-tekste), uitspattige seksorgies (Romeine 1) en die seksuele uitbuiting van ondergeskiktes en minderjariges (1 Korintiërs 6 en 1 Timoteus 1). Sulke gedrag doen nie net die medemens kwaad aan nie, maar dra ook nie by tot die verwesenliking van ʼn “lewe in oorvloed” nie, en word om dié rede  steeds as onaanvaarbare en sondige gedrag beskou.

Indien die liefdesgebod as norm hanteer word om menslike verhoudinge te beoordeel, dan behoort daar wat sowel heteroseksuele as homoseksuele verhoudings betref, die dubbele vraag gevra te word: Doen dit die medemens kwaad aan, en staan dit in diens van ʼn lewe in oorvloed?

Indien twee persone in ʼn verhouding van liefde en trou staan waar hulle mekaar nie kwaad aandoen nie en mekaar se lewens verryk, is dit ʼn verhouding wat die toets van die liefdesgebod deurstaan en as eties aanvaarbaar beskou kan word. Dan maak dit ook nie saak of dit ʼn verhouding tussen persone van dieselfde geslag of tussen persone van teenoorgestelde geslagte is nie.

ʼn Mens sou verder kon gaan deur te sê dat dit téén die bedoeling van die liefdesgebod is om van enigiemand op grond van sy/haar seksuele oriëntasie te verwag om te kies vir ʼn lewe van eensaamheid en onvervuldheid. Volgens die tweede skeppingsverhaal in die Bybel het God self aan die begin gesê dat “dit nie goed is dat die mens alleen is nie” en toe vir die mens ʼn medemens gemaak “wat by hom pas”.

Met die besluit om te kies vir die erkenning van selfdegeslagverhoudings het die algemene sinode nie net ʼn bepaalde etiese beslissing gemaak nie, maar ten diepste gekies vir ʼn meer verantwoordelike wyse om met die Bybel om te gaan in die soeke na antwoorde op lewensvrae.

 

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:

Die begin van 'n ruimer gesprek

Lulani Vermeulen, Charlene van der Walt
Seminare en essays 

God se Woord verander nie. Of hoe?

Ralph Barnard
Seminare en essays 

Geestelike geletterdheid en die sekspolisie

Louis van der Riet
Seminare en essays 

Daar is 'n olifant in die kerk

Jean Oosthuizen
Seminare en essays 

 

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Daar word nou 'n gerieflike onderskeid gemaak tussen proeftekste (waarvan ons nie moet hou nie) en ander tekste (waarvan ons moet hou). Al hierdie tekste is deur mense geskryf, oorgeskryf, herskryf/aangepas, vertaal, ens. Deur die eeue is hulle deur mense vertolk. Die algemene neiging is om tekste te vertolk in ooreenstemming met wat op daardie tydstip in die mode is, bv ideologies.
    Deesdae word die Bybel veral ingevolge liefde vertolk. Maar liefde het nie altyd voortreflike gevolge nie. Dink aan liefde vir drank.
    'n Ander hedendaagse manie is die van gelykheid, bv gelykwaardigheid, inklusiwiteit, nie-uitsluiting. As dit tot uiterstes gevoer word, kan daar nie meer tussen saliges en sondaars onderskei word nie. Twee bestemmings, hemel en hel, mag eintlik nie meer verkondig word nie. Daarom word die werklikheid van die hel al hoe meer ontken.
    Die punt is: Al hoe meer ruimte word aan opportuniste gegun. Die Bybel en die Kerk boet normatiwiteit in.

  • Johannes dis eintlik tragies. Nou al heelwat stukke as 'n gewone lidmaat van die NGK [50 jaar en 70 jaar oud] onder oë gehad sedert die "trotse" besluit van die sinode.
    Vorige besluite se studiestukke ook al onder oë gehad. Sjoe! Dit wat die sogenaamde "slim en geleerdes" met inleeskunde na vore kom is verstommend. Dis net interessant dat 102 JA sê en 88 NEE - hoe groot is die verskil nou?
    Ek is sterk van die oortuiging dat die manne wat NEE gesê het, verseker die waarheid beet het. Hulle het verseker die Gees se stem gehoor!
    Die kerk in die wêreld is op 'n stewige afdraandepad, want alles gaan deesdae oor liefde, gelykheid, transformasie, mensliewendheid, humanisme, post-modernisme, charisma, spiritualiteit, hier staan ons, en vele ander. Hier gaan dit nie eindig nie!
    En so slaag die "slimmes" daarin om die Woord by die wêreld aan te pas!

  • Gedenk eerder daai Sabbat (op Saterdag en EK is nie 'n 7de dag Adventis nie) - dis net logies. Hopeloos te veel gestry. Hou net by die boek en die wat bly sal bly en die wat nie wil bly nie kan julle buitendien nie vasgehou kry nie. Die bybel is eenvoudig geskryf, trouens daar staan (’skuus Old KING JAMES: You need no-one to explain the word, so-iets en om soos kinders te wees). Die NG kerk is nie 'n Joodse TEMPEL nie, ek sien nêrens hoeveel ek ook al lees van enige kerk wat lyk soos kerke vandag met sinodes ens nie. As Paulus buite in die veld kon preek of sommer in 'n gebou - waarom al die duur geboue? Hou net by die woord en die res sal vanself kom en as mense NIE genees word nie, praat DIT uit en bid en vra die Here (come and argue with me) hoekom hy nie mense genees nie, want julle weet self nie. Sorry...

  • Hierdie hele storie van die kerk tov gays laat my naar voel. Dis 'n geskiedenis van onverdraagsaamheid teen mense wat anders voel en georiënteerd is as ek, maar die volste reg het om hulle eie lewe te lei. Nou eers het die NG Kerk se sinode blykbaar sekere besluite geneem om gays te akkommodeer . Hulle is trots daarop en selfvoldaan. Maar wie is nog geïnteresseerd? Dis 'n geskiedenis van liefdeloosheid en vandag nog is groot dele van die kerk blykbaar steeds nie bereid om gays te aanvaar soos hulle is nie. Ek stel voor dat hulle maar afskei. Dit gaan seker weer te gekompliseerd wees weens finansiële faktore. Mammon speel ook steeds 'n groot rol in ons Afrikaanse kerke.

    • Ek is so jammer ek skryf so baie maar ek verstaan nie. Piet hoekom wil jy hê 'n instansie moet vir JOU verander? Dis soos so baie van my katolieke vriende, hulle huise is vol kruise op elke muur en moeder Maria se beeldjies is orals en die rosary krale hang op alles maar wanneer ek oor die bybel praat of sê ek sal vir julle bid wanneer iets gebeur sê hulle ALMAL vir my: Oh no, plse don’t. SURELY you're intelligent enough to know that's nonsense. Is dit die instansie vir wie julle kwaad is? Is dit omdat julle ouers daarin is en nou voel julle uitgewerp. Hoekom "behoort" enige mens aan enigiets? Is dit nie verslawing nie? Gaan luister net so nou en dan by enige gepreek en laat dit julle "edify" en voed. Jy bly 'n gas in daai gebou. As jy daar instap doen jy dit uit vrye wil. Hoekom moet jy die mense ontstel wat ook maar net gaste is? Ek is dalk te simplisties. As jy oortuig is van G-d maar jy wil van die tekste nie sien nie, waarom nie 'n ministry begin wat jou geroepe laat voel nie? Dan is ander 'n gas by JOU? Asseblief ek kritiseer nie ek vra net ...

  • Ek is gebore in die 1960s in 'n wit-en-swart land, en het grootgeword met elke Sondag twee keer kerk toe, strikkies in my hare, Pa die Hoofdiaken (ook koster op 'n stadium), Ma 'n steunpilaar vir die Sendingkommissie en die Susters en en en ... Sondagskool na die oggenddiens, KJA na die aanddiens, en op laerskool, ook Kinderkrans op Vrydagmiddae. Op hoërskool was dit ACSV. Ekself was sekretaresse van die SKJA en die BKJA (net die seuns kon as voorsitter verkies word) en het elke enkele Bybelvasvra-kompetisie waaraan ek ooit deelgeneem het, gewen, en sal die bestes nog steeds ore kan aansit. 'n Diep-gelowige en blymoedige voorbeeldige Christen-meisie in alle opsigte.
    Maar diep binne my het ek elke dag geworstel: Hoekom vind ek dan nie die seuns aantreklik nie? Hoekom maak sekere meisiekinners my so "ongemaklik" voel? Is daar dalk fout met my? Maar God maak mos nie foute nie?
    En so het ek alleen voortgestry ... die paar outjies wat wou kom vlerksleep saggies weggewys, tot ek 37 jaar oud was, en een aand na 'n toneelstuk by Aardklop gaan kyk het, terug is huis toe, en met God in my tuin geworstel het tot die vroeë oggend-ure, toe Hy my die WARE betekenis van die Liefdesgebod laat besef het: Jy moet jou naaste liefhê SOOS JOUSELF... As ek nie MYSELF kan liefhê soos God my geskape het nie, kan ek ook nie my naaste liefhê nie, en kan ek ook nie God liefhê nie. En God het my GAY geskape - deur sy skepping te ontken en daarteen te stry, doen ek sonde, want dan verag ek Sy Skepping. Daardie nag het ek werklik God se Liefde vir my aanvaar, en die verskil tussen mens-gemaakte DOGMA en Sy Liefde raakgesien ...
    Daarna was ek nooit weer in die Kerk nie - dis waar die Dogma van mense verkondig word as "evangelie", waar mense se lewens vernietig word omdat hulle "anders" is as wat die Dogmatiese Ou Ooms wil voorskryf. Nee dankie, nie vir my nie, ek en my huis, ons sal die HERE dien (Ek het 'n fantastiese vrou ontmoet toe ek 40 was, my ouers is mal oor haar, en ons is intussen getroud - sy is Rooms Katoliek :-).
    Die besluit van die NG Kerk van verlede week gaan ongelukkig nie die status quo verander nie - die Ou Ooms skree almal ten hemele, soos Ou Johannes hierbo, en die nie-verdraagsame en selfs rassistiese onderrokke hang ver uit ... verder is dit maar 'n ruggraatlose besluit ("elke gemeente kan self besluit" - haha - waar is die leiding? waar is die standpunt? waar is Jesus se Liefde?) Hopelik ondervind die Ou Ooms ook die ware Liefde van God voordat hulle hulle koppe die dag finaal neerlê, en kan hulle ook begin om HULLESELF lief te hê, want sonder dit, sal hulle oë nooit oopgaan nie, en sal hulle steeds hulle naaste (ook hulle gay naaste) bly haat ... en daardie haat hou die Hemelpoorte toe vir hulle ...
    Maar ek wil darem vir Ds Andre en almal wat saam met hom gewerk het dankie sê - julle het toe deure laat oopgaan, al is dit net op 'n skrefie, en hopelik sal iemand soos ek wat in die 2000's gebore word, nie so lank hoef te sukkel en te stry nie ...
    Vrede en Liefde vir julle almal
    Trixie

    • Hi Trixie, ek en jy is tydgenote en ons opvoeding verskil so totaal. My ma weer het saans vir ons gesê: "Julle moet oopkop bly" - ek vermoed haar renons het gekom toe 'n buurvrou se dogter onder "sensuur" geplaas word en daai meisiekind se vernedering het my ma erg gekneus. Die Bybel sê tog as jy in jou hart seker is jy het nie iets verkeerd gedoen nie dan sal jy ook nie daarvoor veroordeel word nie. Ek vermoed ek is nogal vromer as my ma maar sy gaan verseker hemel toe. Ek wil my nie aan 'n kerk verslaaf nie - my hart klop nou so vinnig as ek net daaraan dink. Die evangeliste weer aan die ander kant (daar ook gaan aanklop) het hierdie super charismatics wat met Ferraris ry en ek is gedaan ge-kerk. Is die kerk dan nie onsigbaar nie? Groete aan jou.

  • Komaan Andre Bartlet, Jesus het darem vir die owerspelige vrou gesê: "Gaan en sondig nie meer nie."
    Paulus het ook baie spesifieke riglyne gestel voordat iemand tot ouderling of diaken verkies kon word.
    Hier is darem 'n progressie in heiligmaking (soos ons belydenisskrifte dit stel) en iemand wat seks buite die huwelik sou hê sou definitief dit tog gewone lidmaat gemaak het in die NT se kerke.
    Kan ek jou iets vra: "Wat verstaan jy onder die genade en regverdigheid van God soos ons belydenisskrifte dit stel?"

  • George van Biljon

    Lees Romeine 1 : 18 tot 32

    Die mens verander as gevolg van sondige natuur. God verander nooit. Sy Woord staan vas. Die mens verander die Woord om by hom en sy leefstyl te pas. Dit is maar die tekens van die tye en alles dui daarop dat die einde van hierdie wêreld in sig is. Christene behoort nie verbaas te wees oor wat in die wêreld aangaan nie.

  • Die nuwe moderator Nelis janse van Rensburg sê in ‘n gespreksvideo: ”Daar word nog gedink oor die saak en ons doen nog navorsing.” Met respek Nelis, het die kerk dan gat oor kop opgetree? Word so ‘n besluit nie gemaak nadat navorsing finaal afgehandel is nie? In teenstelling sê ds Andrè Bartlett: “Ons is nie besig met ‘n interessante studie-onderwerp nie.”
    Die kerk is weer eens besig om verwarring te saai met sulke dubbelsinnige kommentaar! Terloops, indien daar wel steeds navorsing gedoen word en daar in die toekoms ‘n ander, “meer duidelike”, bevinding gemaak word, gaan die kerk hulle besluit herroep?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top