Sink deur Brett Michael Innes: ’n resensie

  • 2

Sink
Brett Michael Innes

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081340

In ’n onderhoud op 2 Februarie 2017 verduidelik Brett Michael Innes die komplekse verhouding tussen sy roman Rachel weeping en die rolprent Sink (2016), wat daarop gebaseer is.

As skrywer en regisseur stel hy nie baie belang in gepubliseerde draaiboeke nie. Hy het eers die draaiboek geskryf voordat hy met die roman begin het. Die draaiboek het as ’n skelet gedien waaruit die roman ontwikkel is. Danksy hierdie manier van skryf is beide die roman en die draaiboek versterk.

En dit is die sterk punt van Sink die roman. In die rolprent gebruik Innes ’n komplekse narratiewe struktuur. Die kyker word aan die begin van die film bewus van die Jordaan-gesin (Michelle en Chris) en hul verhouding met die huishulp Rachel.

Innes verfilm die gebeure in lang skote. Gebeure in die hede word vervleg met dié van die verlede. Die kyker beleef die tragedie in die drie karakters se lewe asof dit ’n ui is wat stelselmatig afgeskil word. Rachel het haar dogtertjie verloor weens die nataligheid van Michelle en probeer deur haar gevoelens van verlies en bitterheid werk. Michelle probeer haar skuldgevoelens hanteer, wat vererger word as sy haar eerste kind verwag en daagliks vir Rachel in die huis moet sien. Chris is ’n soort magtelose toeskouer in die tragedie. Hy ervaar soortgelyke skuldgevoelens, maar ook ’n groeiende vervreemding tussen hom en sy vrou.

Danksy die skitterende gebruik van terugflitse om hede en verlede naatloos te integreer, skep Innes ’n roerende blik op verlies en verbittering.

Ook die roman bevat hierdie tydstruktuur. Elke hoofstuk dui ’n datum aan, maar anders as in die film se sekwensies is daar meer tyd om aan die karakters se innerlike gevoelens te wy. Hulle word almal baie meer driedimensionele figure.

Danksy ’n proloog leer die leser iets van Rachel se wêreld in Mosambiek, die armoede en gesinsverhoudinge. Dit word skitterend in die eerste hoofstukke met die Jordaans se welvarende wêreld gekontrasteer. Ons maak as kykers kennis met ’n kliniese wêreld in die film, danksy die kleursimboliek (wit) en die minimalistiese gebruik van ruimte. In die roman is daar ’n gedetailleerde bestekopname van die artefakte in die Jordaans se lewe. En dit word weer gekontrasteer met die leefruimte van Rachel. Heelwat van die besittings wat die Jordaans nie meer wou gehad het nie, is nou in Rachel se wooneenheid.

Die simboliese werklikheid wat Innes so sterk in die rolprent verbeeld het, bestaan ook in die roman. Die swembad wat mettertyd groen word, en waarin die Kreepy Krauly (swembadskoonmaker) in die nag na die oppervlak kruip en skrikwekkende geluide maak omdat dit lug skep, is een uitstekende voorbeeld.

Vir Rachel is die swembad aanvanklik ’n simbool van die bestaan wat sy in die Johannesburgse voorstede sien – pragtig en skoon, maar sonder lewe of kleur – of die prag van die Mosambiekse kuslyn en see.

Na die tragedie sien Chris die swembad as iets wat vergiftig is. Dit is bitter. Dit laat hom met gevoelens van alleenheid en dat al drie karakters psigies stukkend is. En hulle is nie in staat om deur ’n proses van heling te gaan nie.

Vir Rachel word die Kreepy se geluid geassosieer met die oomblik voor sy Maia gesien het. Dit was eintlik die geskree van die Kreepy wat haar haar na die huis laat haas het, asof die swembadskoonmaker haar geroep het en wou waarsku dat haar bestaan vir altyd verpletter sou word.

In een treffende beskrywing in die roman probeer Michelle met alle mag om die geluide van die Kreepy stil te maak. Sy gooi ’n oordosis chemiese middels in die vuil water, maar besef dat die geluid eerder in haar kop is, ’n klank wat deur geen chemikalieë uitgewis kan word nie.

Die gedetailleerde beskrywings van die karakters, hul gedagtes en hul uiterlike en innerlike wêrelde in die roman bied ’n uiters waardevolle toevoeging tot die tragedie wat Sink is. Lees dit gerus en gaan kyk weer die rolprent.

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek het nou al drie maal na Sink gekyk. Saam met Jans Rautenbach se Abraham is dit vir my die belangrikste (Suid-) Afrikaanse rolprentvrystellings van die afgelope dekades. Al twee die rolprente beskou menseverhoudinge sonder om in die slaggat van Apartheid wat was en is te trap. Al twee beeld die skrynende en skreiende hartseer van mense vasgevang binne die onmag van ware begrip teweeggebring deur kultuurhistoriese verskille uit. Daar is raakpunte, maar die gegewe en die styl van aanbieding verskil hemelsbreed. Al twee die rolprente het my hart geskeur en kan in enige (kuns)rolprentteater in Europa vertoon word. Sink as rolprent (ek het nog nie die roman gelees nie) sink nie; dit styg uit bo (nie alleen die gemiddelde nie,maar ook) die bestes. Dankie vir hierdie resensie, Martin Botha.

    • Inderdaad 'n baie belangrike boek en film. Baie dankie vir hierdie mooi bespreking, Martin Botha - ook vir joune, Wim Vorster.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top