Sing Street, 'n filmresensie

  • 0

Sing Street, Teks en regie: John Carney (2016)

John Carney se 2016-jeugfilm Sing Street herinner volwassenes dat tienerdrome 'n magtige houvas op die hart het, terwyl jonger kykers sien dat 'n bietjie dagdromery, harde werk en 'n kanniedood-houding jou lewe kán verander. Al wat die sestienjarige Ierse seun Conner "Cosmo" Lalor (Ferdia Walsh-Peelo) nodig gehad het, was die bokkie-ogies van Raphina (Lucy Boynton) en 'n band – in daardie volgorde.

Ierland beleef in 1985 'n rowwe resessie en die jeug is vasgekeer, verveeld en rebels. Om sake te vererger is Connor se broer Brandon ietwat van 'n wensdenker en is sy ouers se huwelik ook op die rotse. Connor se ouers draai hul sente om en stuur hom na 'n wilde Katolieke seunskool waar die grootste bullebak hom vinnig wys wie baas is.

Waarheen keer 'n ou as jy nêrens het nie, jou toekoms effe Dickensagtig lyk, en Engeland se immergroen oewers dalk net té ver is? Na aanleiding van Connor se aanvanklike plan om Raphina met sy musiektalente te beïndruk, vind hy en sy makkers ontvlugting van hul bleek huishoudelike en sosio-ekonomiese omstandighede in hul band Sing Street. Asof hul omstandighede nie reeds genoeg rede is om kitaar in die hand te rebelleer nie, vertolk Connor se nuwe skoolhoof die rol van die antagonis.

Hulle moet goed verstaan, vertel broer Brandon, dat hulle nié 'n “cover band” is nié: rock 'n roll is ‘n risiko en die enigste weg na sukses is oorspronklikheid, verbeelding en die wesenlike kans om "gemok" te word. Sprekend van 'n ou se deursettingsvermoë wanneer 'n mooi meisie op die spel is, probeer Conner boonop om Raphina se hart te wen deur haar as aktrise in hul band se musiekvideo’s te gebruik. In die proses ontdek hy iets onverwags: homself.

Die verhaal speel af in 'n era voor “reality TV”, toe MTV nog musiek gespeel het en popgroepe soos a-ha, Duran Duran en Depeche Mode koning van die klankgolwe was – 'n goue eeu in popgeskiedenis. Die YouTube-generasie sal grynslag vir die haarstyle, oordrewe grimering en alomteenwoordige drama, sinoniem met popmusiek in die ’80’s. Die film dien egter hierdeur byna as tydsdokument en bied 'n blik op die ontstaan van die musiekvideo: “This is art,” sê Brendon, “this lasts forever. It’s the perfect mixture of music and visuals. It’s short, to the point – look at it!” Die film is as’t ware 'n metafiksionele huldeblyk aan die musiekvideo as genre.

Sing Street balanseer 'n goedontwikkelde narratief met genoeg humor, deernis en 'n nostalgiese klankbaan wat 'n kyker van enige ouderdom in sy stoel sal laat dans, lag en huil. Daar is ook 'n dieper verhaal van verlies, broederliefde en die navolging van drome, om nie eens te praat van Conner en Raphin se wipplank-liefdesverhaal nie. Maar hei, dís rock ‘n roll!

Sing Street volg in die tradisie van Stephen Daldry se 2000-film Billy Elliot en toon dat die kunste 'n stem gee aan diegene wat sukkel om gehoor te word.

Jy sal jou ou sessnaar wil afstof en nuwe batterye vir die ou tape deck agter in die kas wil koop, want ná jy Sing Street gekyk het, mag jou volgende partytjie dalk net haarsproei, neonsykouse en langspeelplate insluit.

En natuurlik kan die musiek nooit te hard wees nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top