Silwerskermfees 2017: kortfilms

  • 9

Die 2017 Silwerskermfees het weer eens ’n opwindende versameling films gelewer. Die gehalte is deurlopend indrukwekkend, en boonop is daar met verskillende genres gewoeker, gespeel en kanse gevat.

Wat hier onder volg, is ’n paar algemene indrukke, plus notas met meer besonderhede oor min of meer elke film.

Die titel van ’n film is van kardinale belang. As dit generies is, val ’n film weg. (Ek praat hier uit ervaring. My eerste, en enigste, roman heet Oktober. Ek kon nie slegter gekies het nie.) Name soos Skerm, Vlugtig, Langsaan, Versnel, ens is naderhand ’n deurmekaarspul, terwyl Man met die snor of Die maan val bewusteloos dadelik uitstaan.

Geloofwaardigheid het soms in die slag gebly. As jou storie vol gate is, as iets nie sin maak nie, gaan die gehoor hulle oë rol.

Sommige van die films beskik oor ’n lekker konsep, maar die regie is rigtingloos of deurmekaar.

Klankontwerp kan ’n film maak of breek. Dit kan bydra tot die spanning in ’n toneel (die gebruik van dromme in Die onderspit was geniaal) of ’n emosie oordonder. Klavier beteken nie noodwendig diepte nie.

Filmlys

12-minuut-films:

Wisseltrofee
36DDD
Die kuur
Langsaan
Luister
Skerm
Versnel
Voor ek val

24-minuut-films:

Vrekfontein
Die maan val bewusteloos
Skoon
Soldaat
Slaaf
Ek het jou gemaak
Die onderspit
Vossie vergas homself
Soos gister
Die man met die snor
Venster

12-minuut-films

 

Wisseltrofee

Donker komedie, 2017

Wat aanvanklik as ’n intieme sestiende verjaardagpartytjie begin, ontaard in ’n skreeusnaakse nagmerrie, wanneer ’n familie die teiken word van ’n wraaksugtige vyand.

Sinopsis

Anton word 16. Potties gebruik hierdie geleentheid om sy berugte jagstaaltjie van hoe hy ’n reusekoedoebul platgetrek het, aan sy gesin aan tafel te vertel. Ma, Elsa en die verjaardagseun luister aandagtig. Maar Anton is nie die skerpste potlood in die pakkie nie en droom daarvan om in Potties se spore as jagter te volg. Ouma Stoof, ’n ou emfiseemlyer, hyg tussendeur na haar asem. Nadat Anton sy kersies doodblaas, oorhandig Potties sy jaggeweer aan Anton as verjaardagsgeskenk. Anton is oorstelp van vreugde en begin dadelik cowboys en kroeks speel. Skielik is daar chaos wanneer regte koeëls deur die sitkamervenster bars ...

Rolverdeling

Andy Jones
Chantal Botha
Christoff van den Berg
Cindy Swanepoel
Sivuyile Gaji
Andrew Gould
Gerhard Ehlers

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek: Gerhard Ehlers
Vervaardiger: Andrew Gould

Kort resensie

Wisseltrofee het my weggeblaas. Die gebruik van poppe/maskers is baie keer ’n hindernis tussen die gehoor en die karakters. Nie in hierdie geval nie. Die ontwerp van die poppe (seun met borselkop / ma met uitermatig groot mond), die kraakvars dialoog en ongelooflike stelontwerp trek die kyker dadelik in.

Verdere besonderhede om voor uit te kyk is hoe die regisseur bloed uitbeeld, die posisie van die horings bo die pa se kop en selfs die sigbare akteurs agter die poppe.

Alhoewel ’n paar tonele ’n klein bietjie te lank was (die dansery, die gelag vir die ouma), is Wisseltrofee ’n hoogtepunt van die fees.


 

36DDD

Komedie, 2017

Dik. Depressief. Dodelik.

Sinopsis

Almal soek skoor met Murcia.

Murcia soek net snacks en soapies, en is afgesny van die wêreld in Oumie se maniese laslappiekokon. Maar wanneer twee skollies met Murcia mors, verander die prooi onverwags in ’n hekelwonderwerk.

Rolverdeling

Chanelle Davids
Dealan Fredericks
Gershwin Mias
Melt Sieberhagen
Silvia Essau

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek/Vervaardiger: Bianca du Plessis

Kort resensie

Chanelle Davids se uitdrukkinglose gesig en fisieke humor is die moeite werd. Die gebruik van veelkleurige breiwerk as klere, bankoortrekkings en muurbedekkings is perfek. Die toneel waar Murcia in haar “suitjie” wegval voor die muur wat in soortgelyke breiwerk bedek is, is kostelik.

Lekker besonderhede is die kabelbande waarmee Ouma die koskaste toesluit, die Cheese Curls en Steri Stumpie en die uitlaat uit die wortelslaai van pynappel en Oros!

Waaroor ek gewonder het, is waar kom die tjips en oliebolle vandaan as Ouma die kos so polisieer? Die stadige-aksie-toneel aan die einde is te lank en oordrewe. Die ommeswaai van die gemeenskap, wat Murcia eers terg en natgooi, is te vinnig.

Die breiwerkkonsep en Chanelle se acting chops is nie genoeg om ’n gemiddelde draaiboek en rigtinglose regie te red nie.


 

Die kuur

Riller, 2017

Dié wat na buite kyk, droom; dié wat na binne kyk, word wakker.

Sinopsis

’n Man ly ’n groot verlies en verloor sin in die lewe. Die pyn van sy terugslag tref hom soos ’n bloedgolf, en hy voer ’n stryd om kop bo water te hou. Hy probeer verbete aan die verlede vasklou en aan sy herinneringe voor die tragedie. Hy soek na antwoorde en ’n manier om die angs in sy onstuimige gemoed tot bedaring te bring. Die soektog neem hom op ’n pad waar hy weifel tussen die bewuste en onbewuste, werklikheid en die droombeelde van die psige. Sal hy ’n kuur vind in hierdie reistog na sy “self”?

Rolverdeling

Megan Victor-Carelse
Zak Hendrikz

Agter die skerms

Regisseur: Daréll Lourens
Draaiboek: Zak Hendrikz en Daréll Lourens
Vervaardiger: Zak Hendrikz

Kort resensie

Die kamerawerk/kleur/gradering is uitstekend. Die afwesigheid van dialoog is lekker. Die film probeer egter te hard om kunssinnig te wees. Dit is soetsappig. Die musiek raak ’n irritasie en die gebruik van die tas as emosionele bagasie is te ooglopend. Die stem wat oor die foon sê: “Laat dit gaan” was onnodig. Ons het verstaan.


 

Langsaan

Drama, 2017

Die kind droom magies oor mevrou-wees en word langsaan daarmee gekonfronteer.

Sinopsis

1976. Die kind leef in haar eie verbeeldingryke wêreld; verwyder van die kennis van haar ouers wat verbete aan ’n beter toekoms werk. ’n Ma skerm vir haar gesin se vooruitgang
en word só die skans tussen haar
man se ambisie en haar kind se geborgenheid – in so ’n mate dat sy teen haar eie beterwete optree. ’n Deel van die kind se ryk binnewêreld bestaan langsaan, waar haar oupa en ouma woon en werk. Tussen haar spel in
die blaarryke voorstedelike tuin, waar 
sy uit die pad bly wanneer dit krities nodig is en die kreatiewe ruimte van ouma se naaldwerkkamer, leef ’n stil droom diep binne-in haar. Hoe naby is naby genoeg? ’n Kind kan ’n droom op haar eie voorstoep verloor.

Rolverdeling

Amor Tredoux
Annerie Havenga
Chanelle de Jager
Gcume Phelokazi
Marcel van Heerden

Agter die skerms

Regisseur: Harold Hölscher
Draaiboek: Michele Meyer
Vervaardiger: Jarrod de Jong

Kort resensie

Dit is bitter mooi geskiet en die akteurs, van jonk tot oud, is uitstekend. Die stelinkleding en stilering – die vrouens se rokke, hul skoene, die rottangmeubels, die kruis op die muur en selfs Oupa se vest & ketting om die nek – was in die kol.

Dat die ouers, veral die meisie se ma, geweet het wat langsaan aangaan, is opvallend. Die hele film is “creepy” en die molesteringtoneel is besonder ontstellend. Die spannende musiek dra by daartoe dat jy op jou tande byt.

Die laaste toneel, waar die dogtertjie oor haar ma se skouer loer en direk na die kamera, na ons, kyk, het my nekhare laat rys.

Ek wonder wel wat die punt van die peer eet in die boom was? En van die twee keer wat die huishulp haar aanstaar?


 

Luister

Drama, 2017

Musiek is ’n universele taal.

Sinopsis

Luister is die verhaal van ’n pianis. Dit beeld die daaglikse roetine van ’n meisie se lewe binne die mure van die Konservatorium uit. Ons volg haar deur eensame dae in vaal oefenkamers sonder iemand om die stilte mee te deel. Maar tydens haar middernagtelike oefensessies ontmoet sy ’n pianis wat haar met tokkelende akkoorde laat wegbreek – weg van die teorie en die roetines en terug na die spontane eenvoud van musiek. Luister is eenvoudig in aanslag en hoewel daar pianiste in is, gaan dit nie oor die klavier of die liefde nie. Dit is ’n herontdekking van ’n stem deur die krag van musiek wat openbaar word in ’n besonderse universele taal.

Rolverdeling

Cate Venter
Emma van Heyn
Jacobus de Jager

Agter die skerms

Regisseur: Stian Bam
Draaiboek: Carla Smith
Vervaardiger: Shirley Crawford

Kort resensie

Emma van Heyn is innemend en sy dra die film. (Pa Charl van Heyningen, kan trots wees.) Die klik van die metronome is ’n lekker besonderheid. Die afwesigheid van dialoog pla glad nie, aangesien die klaviermusiek dan die praatwerk doen.

Ongelukkig is die kamerawerk gemiddeld, en is daar te veel van ’n heen en weer tussen die musieklokaal, die gange van die universiteit en haar kamer. Dit veroorsaak dat die film effens vervelig raak.

Die uitbeeld van haar haar lusteloosheid, en dan hernude passie, is te ooglopend. (Sy sit futloos rond. Dan speel sy “lugklavier” en kan skaars eet.) Ek sou graag meer diepte wou gehad het.

Wat is die doel van die kombinasieslot op die deur wat sy toetrek – wanneer sy terugkom is dit oop? Mens neem aan dit is die persoon vir wie sy musiek speel wat daar was. Hoe het hy dit oopgesluit? Hoe het hy geweet waar sy is? As daar ’n dieper betekenis is, is dit te onduidelik.


 

Skerm

Riller, 2017

Die skrif is aan die muur.

Sinopsis

’n Man sluit homself in ’n ivoortoring van virtuele realiteit toe. Hierdie aanlyn illusie word sy daaglikse wêreld – hy verlustig hom in sy eensame, selfgemaakte status. Woordeloos skerm hy. Vriende is verdigsels en gesprekke is eenrigting. ’n Intieme rendezvous is ’n vervreemde fantasie. Deur sy skerms is hy alles wat hy gedink het hy behoort te wees. Die regte adres. Die regte meisie. Die regte persona. Sosiale media maak van ons almal anonieme voyeurs wat gewillig in glashuise woon. Is jou wêreld werklik of versin jy dit net? Is die skrif aan die muur – of is dit alles in jou kop?

Rolverdeling

Amalia Uys
Celé du Plessis
Tim Theron

Agter die skerms

Regisseurs: Cobus van den Berg en Anja van den Berg
Draaiboek: Anja van den Berg
Vervaardigers: Cobus van den Berg en Tim Theron

Kort resensie

Skerm fokus op die glanslewens wat ons op sosiale media uitsaai terwyl ons verstik in ons alleenheid en isolasie.

Die manier waarop boodskappe visueel uitgebeeld word, is vars – in die agtergrond, op ’n leë muur, op die mikrogolfoonddeur, in die spieël, op glasvensters, ens.

Die musiek is ongelukkig so soetsappig dat dit steurend raak. Die hoofkarakter se ineenstorting is te stereotiep – hy gooi goed rond, ens.

Die hoofkarakter leef in ’n hiperdigitale wêreld, maar kyk na hardekopiefoto’s van sy dooie vrou? Is sy veronderstel om die ’n ander, meer konkrete wêreld te verteenwoordig?


 

Versnel

Riller, 2017

Twee paramedici staar die dood in die gesig tydens hul poging om ’n ander se lewe te red.

Sinopsis

Twee paramedici, Nadia en Mouton, jaag na hul hoeveelste pasiënt tydens ’n twaalf uur lange nagskof. Hulle kom op Ronaldo af wat ernstige steekwonde opgedoen het en behandel hom. Voor Nadia hom egter kan stabiliseer, word hulle deur boewe oorrompel. Ronaldo se toestand vererger. Gaan hulle die hospitaal betyds bereik?

Rolverdeling

Brendon Daniels
Clayton Evertson
Trix Vivier

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek: Dian Weys 
Vervaardigers: Irfaan Frederics, Josh Hall, Michael Murphey

Kort resensie

Versnel is uiters spannend. Jy word vasgevang binne ’n ambulans met karakters wat stoei, beweeg en hyg na asem. Jy sién nie wat met die karakters buite gebeur nie, jy hóór dit. Dit word aan jou verbeelding oorgelaat, en dit is soms erger.

Die akteurs is oortuigend. Die min musiek werk baie goed. Die finale skoot wat bloot afsny voor jy sien wat gebeur het, voor jy ’n antwoord het, dra verder by tot die benoudheid.

Die klank is egter onduidelik aan die begin. Daar is ook min bloed vir twee steekwonde. Ek het boonop gesukkel om emosioneel verbind aan die karakters te voel. Is dit oor mens baie min hul gesigte, selfs oë, sien en kan lees? Is dit oor die geweld en die spanning die fokus was van die film? ’n Bietjie van beide, vermoed ek.


 

Voor ek val

Drama, 2017

’n Vrou se obsessie met haar vorige minnaar dryf haar om sy toekoms in haar eie hande te neem, met tragiese gevolge vir hulle albei.

Sinopsis

’n Vrou wend ’n laaste, wanhopige poging aan om haar minnaar terug te wen, maar hy verwerp en verneder haar. Seergemaak en emosioneel onstabiel dreig sy om sy lewe te verwoes. Haar wraak word haar liefdesgebaar en haar obsessie en lei tot tragiese gevolge vir hulle albei.

Rolverdeling

Antoinette Louw
Conrad Kemp
Nicole Fortuin

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek/Vervaardiger: Carolize Herbst

Kort resensie

Die musiek is dadelik irriterend. So ook die lang, stadige-aksie-skote van mense wat na die hotelkamer toe stap (’n hotelkamer wat duidelik ’n woonstel/meenthuis is).

Die twee liefdesduifies se reaksie op die indringer in hul hotelkamer is nie geloofwaardig nie. ’n Gegiggel en ongemak sou nie deug nie.

Die hardloop/baklei-toneel werk ook glad nie. Dit voel gedwonge, en hoekom die aanvaller aan Antoinette moet sê: “I’m done with you” weet niemand nie. Wat het geword van “Ek is klaar met jou”?

Die CGI waar die lyk op die kar val, is swak. As daar nie begroting is nie, moet dit nie wys nie. Laat ons dit hoor.

Antoinette Louw is natuurlik goed, maar sukkel met ’n powere draaiboek en regie.


 

24-minuut-films

 

Vrekfontein

Donker komedie, 2017

Waar tennis ’n saak van lewe en dood is.

Sinopsis

Vir die afgelope 30 jaar is Valk Volschenk die mansenkelspeltenniskampioen op Vrekfontein. Wel, tegnies gesproke is hy ook die enigste manstennisspeler op die dorp sedert daardie omstrede 1984-finaal teen sy aartsvyand, Kroepjan Brand. Wanneer Adriaan Winterbach, ’n ambisieuse dokumentêre filmmaker, sy verskyning op die dorp maak en begin rondkrap, kom hy gou agter dat die rou wonde net onder die stowwerige oppervlak lê. Boonop word die voortbestaan van die klub bedreig deur die sluwe planne van Gys Havenga, die munisipaliteit se raadslid in beheer van sport en ontspanning. Trots. Jaloesie. Kleinlike wedywering. En die duurste prys om vir jou passie te betaal.

’n Donker dokumentêre film in wit tennisklere.

Rolverdeling

André Roothman
Chris van Niekerk
Deon Lotz
Lida Botha
Wessel Pretorius

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek: Eckhard Cloete
Vervaardigers: Anton Scholtz en Michael Minnie

Kort resensie

Hierdie tong-in-die-kies dokkiedrama het hart en siel. Dit is besonder mooi verfilm en name soos Buks (Lida Botha), Valk, Kroepjan en ja, Vrekfontein, dra by tot die sjarme.

Die span akteurs help natuurlik ook.

Die humor word nie net gevind in die dialoog nie, maar ook in Lida, Deon, Andre en Chris se fisieke spel. Kroepjan se wegstap na sy onderhoud is komieklik. Dit spreek boekdele. So ook sy rolbalspel wat meestal bestaan uit tennis “moves”.

Dit bring ons by Wessel Pretorius. Wessel is meer as alright. Sy fyn spel, weerloosheid en aanslag vir komedie is ’n onweerstaanbare kombinasie. Sy onderhoud met die tennisafrigter oor die verskillende rakette is ’n komiese hoogtepunt.

Die stilering is uit die boonste rakke. Lida se tennisrompie en knieskerm. Die armsalige klubhuis met houttrofees en “teekamer” wat bestaan uit een stoel en ’n koffietafeltjie. Lekker detail is die gebruikte teesakkies wat in ’n Tupperware-bakkie gebêre word. Die stadige-aksie-einde met Kroepjan en Valk en Lida met haar tennisbalkanon is perfek.


 

Die maan val bewusteloos

Magiese realisme, 2017

Mia vind uit dat die waarheid rondom haar aanneming baie erger is as die stories waarme haar oupa en ouma haar grootgemaak het.

Sinopsis

Mia wil weet waar sy vandaan kom. Al wat sy ken, is haar oupa en haar ouma en die feëverhale waarmee hulle haar grootmaak. Sy word ouer, begin al hoe meer vrae vra en moet haarself troos met die liefde wat hulle vir haar gee, want antwoorde kry sy nie. Wanneer tragedie tref, moet nuwe verbintenisse geskep word om die pad vorentoe te stap.

Rolverdeling

Carla Smith
Cobus Rossouw
Sandra Kotze
Luca Human
Ané Cloete
Wian Taljaard

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek: Nico Scheepers
Vervaardigers: Scharl van der Merwe, Zandré Coetzer en Chanél Muller

Kort resensie

Dit is een van die top-kortfilms van die jaar. Dit is nie soetsappig nie en die toneelspel is nie oordrewe nie.

’n Goeie begin is ’n ordentlike draaiboek. Die storie is eenvoudig, sonder tierlantyntjies. Ouma en Oupa maak hul kleinkind groot. Kleinkind kyk dan na hulle.

Wat my bybly, is die beelde wat die regisseur geskep het. Veral die sprokiesverhaaltonele is aangrypend. Kyk uit vir die maskers en die ontroerende toneel waar Ouma op die tafel lê met die rook wat om haar opstyg.

Depressie word met empatie hanteer. (“Die prinses wat nie kan lag nie.” “Die winter het haar gevolg waar sy ook al gaan.” “God homself [sic] het sy hand in haar kop gesteek en die gare losgetrek.”) Die vertelling/dialoog is aangrypend. (“Nou lê sy saam met die volk onder klipdekens en vrot tot die wêreld ophou draai.” “Jy was klein. Sy was weg en ons was hier.”)

Lekker besonderhede is die rol en klank van horlosies.

Die laaste toneel tussen oupa en kleindogter, waar sy na hom begin kyk, is roerend.


 

Skoon

Riller, 2017

Hande in onskuld.

Sinopsis

Obsessief-kompulsiewe versteuring (OKV) manifesteer soms in meer as net hande was of teëltjies tel. Die kompulsies van hierdie belemmerende angsversteuring kom in baie gedaantes voor, soms gevaarlik. Louis, ’n jong mondhigiënis en OKV-lyer, het geen beheer oor sy obsessies nie. Hy wil skoonmaak waar hy nie mag nie. Sy metode is altyd dieselfde. Sy stappe altyd in drieë. Sal ’n jong, ligsinnige Anchen genoeg van ’n skommeling in sy siklus veroorsaak om die koers van sy gevaarlike angsversteuring finaal te verander?

Rolverdeling

Jenna Dunster
Jaco Nothnagel
Pascual Wakefield
Simóne Maltman

Agter die skerms

Regisseur: Pieter Seyffert
Draaiboek: Nini Conradie en Reinette du Toit
Vervaardiger: Nini Conradie

Kort resensie

Dit is nogal ’n grillerige film. Van die openingstoneel (obsessiewe higiëne, bloed op tandeflos) tot die deurmekaar einde, rys jou nekhare. Jy weet iets onheilspellend is aan die gebeur.

Jenna Dunster is goed, soos altyd. Ek hou van haar vertolking as die kat wat met die muis speel. Jaco Nothnagel was nie vir my oortuigend nie. (Daar was ook te veel nabyskote van sy oë.) Dalk is sy dialoog net te stokkerig/formeel? Dit laat hom nie slimversteurd voorkom nie, eerder anaal.

Maar wat het die einde beteken? Wat is die vierde stap?


 

Soldaat

Drama, 2017

Jou dag sal kom.

Sinopsis

Op ’n dag tydens die skoolvakansie sien twee jong seuns ’n gesprek tussen ’n polisieman-offisier en ’n berugte dwelmhandelaar. Hulle word gevang en word onmiddellik “slagoffers” van die bendeleier se kloue. Van daardie oomblik af is hulle sý soldaatjies. Hul eerste opdrag: om ’n dwelmpakkie te gaan haal. In dieselfde buurt is dit die eerste dag op straat vir ’n geheimsinnige nuwe polisieman met ’n agenda van sy eie. Soos die dag vorder, kruis en bots hierdie twee stories en word lewens onherroeplik verander.

Rolverdeling

Dustin Beck
Elton Landrew
Noel Oostendorp
Jayden Booysen
Joshua Vraagom

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek: Amy Jephta
Vervaardiger: Ephraim Gordon

Kort resensie

Die openingstoneel waar die kinders polisie speel, is dadelik spannend, al is dit net kinders. Die kamerawerk is ongelukkig ondergemiddeld.

Ek wonder wat die bendeleier se houvas op die twee kinders is. Hy vang hulle bloot oor hulle ’n prostituut afloer? Dalk iets anders sien? Waarom sal die korrupte polisieman so vinnig omswaai en sy jare lange verhouding met die bendeleier prysgee?

Die Afrikaans is lieflik. Die toneelspel is oortuigend. Ek het gehou van die kinkel in die kabel, maar was effens verveeld.


 

Slaaf

Drama, 2017

Liefde is die grootste verslawing.

Sinopsis

Liefde is die grootste verslawing. Vir Gregory was dit nie anders nie. Om weg te kom van sy ontnugtering het hy ’n nuwe begin in Kaapstad gaan soek. Wat eers ’n ontvlugting was van dit wat sy drome aan skerwe gelaat het, het spoedig ’n nuwe verslawing geraak. Sy tweede liefde: heroïen. ’n Dokumentêr aan die mense in sy lewe is sy manier om te kommunikeer. Niemand word gedwing om ’n verslaafde te word nie. Maar ons almal is.

Rolverdeling

Carel Nel
Greta Pietersen
Joanie Combrink
Pierre Nelson

Agter die skerms

Regisseur: Mareli Olivier
Draaiboek: Retief Scholtz
Vervaardiger: Roeline Daneel en Afrokaans Film & Television

Kort resensie

Carel Nel is natuurlik fantasties as iemand verslaaf aan dwelms en liefde. Hy versinnebeeld die maer, randfiguur in ’n sweetpak en hoodie met dwelms voor in sy broek weggesteek. Hy wys ons wat die impak van dwelmmisbruik is, die vervreemding tussen mense.

Kyk uit vir die toneel tussen ma en seun, vir die woordspel – hulle praat met mekaar maar verby mekaar.

Ek hou van die kamera wat die kamera afneem wat die subjek afneem. Die tjellomusiek werk goed; die manier waarop die klank tussen die tonele afgesny word, dra by tot die film, en die stilering van ’n dwelmverslaafde se woonstel is in die kol – die nuutste tegnologie wat geld kan koop versus die hope vuil skottelgoed.

Candy se perspektief wat so verskil van Gregory s’n is ’n lekker verrassing. Sekere mense kan wegbeweeg van verslawing af, sommige mense nie. Daar is geen oordeel nie.

Ek het wel gevoel die film was te grafies in die uitbeeld van naalde, wonde en die swart merk op Gregory se arm. Meer kon aan ons eie verbeelding oorgelaat gewees het.

My grootste probleem met die film is dat die vertelling en die beelde bots. Beide is aangrypend en van die hoogste gehalte en ding mee vir jou aandag. Carel is boeiend op die skerm, maar so ook sy vertelling. Soms kon ek nie besluit waarop om te fokus nie. Met die tweede kyk van die film het ek besef hoeveel van die vertelling ek gemis het.


 

Ek het jou gemaak

Drama, 2017

Aanhou beweeg en geraas maak.

Sinopsis

Ingenieur Jacobs het sy vrou so liefgehad dat hy ná haar dood ’n lewensgrootte-beeld van haar gemaak het. Sy belangstelling in sy werk kwyn en mettertyd word hy ontslaan. Hy keer terug na sy leë huis, die beeld van sy vrou, en stilte. Eendag begin hy ’n robot bou om die stilte te verdryf.

Hy gee die robot die gestalte van ’n mens en noem hom Andries. Saam bespreek hulle die liefde, die lewe en die dood. Andries leer al meer by ingenieur Jacobs, en soos Jacobs se waansin toeneem, neem Andries steeds meer huishoudelike takies op homself. Mettertyd begin die twee al meer na mekaar klink, en dag ná dag leer Andries meer: oor die liefde, die lewe en die dood.

Rolverdeling

Jaco Bouwer
Carel Nel
Abduragman Adams
Caren van Houwelingen
Bibi Slippers

Agter die skerms

Regisseur: Tertius Kapp
Draaiboek: Haddad Viljoen – gebaseer op ’n kortverhaal van Jan Rabie
Vervaardigers: Tertius Kapp en Haddad Viljoen

Kort resensie

Die stilering in hierdie film is wêreldklas – van die dooie blomme op kantoor, tot die bokkies op die bedkassie, die bruin koffiestel, die ‘70’s-bril, die plakkaat bo die bed en die ‘70’s-hemde.

’n Lekker besonderheid is die klein kartonrobotjie wat die bui van die oomblik of ’n wending in die storie aandui – hy loop bloot, of val van die kas af.

Ongelukkig het ek niks vir ingenieur Jacobs gevoel nie, behalwe ’n gematigde afkeer. Inderwaarheid het ek meer empatie met die robot gehad, veral toe Jacobs vir hom trane teken en later met lekkers gooi.

Die laaste toneel was ’n hoogtepunt.


 

Die onderspit

Donker komedie, 2017

Aanhouer verloor.

Sinopsis

Wanneer Uncle Bob op pad na sy pandjieswinkel toe in Parow sterf, dink sy skoonseun, Basie, hy het dit gemaak. Terwyl Basie se vrou, Moira, treur, beplan Basie om saam met sy minnares, Girlie, met die erfporsie te vlug. Die twee en Girlie se broer, Apie, ontmoet by The Harlequin, hul drinkplek, en beplan om vir Moira van die gras af te maak op ’n manier wat nie agterdog sal wek nie. Maar Girlie en Apie het hulle eie planne met die geld en is reg vir vuil speel. Hulle wil ’n nuwe lewe in Namibië begin, ver van die ellende van hul huidige bestaan. Maar soos dwaasheid, dwelmverslawing en hebsug hulle planne in die wiele ry, leer hulle: maak nie saak wat hulle doen nie, hulle sal altyd die onderspit delf.

Rolverdeling

Karli Heine
Jacques Theron
Geon Nel
Estelle Terblanche
Robin Smith

Agter die skerms

Regisseur: Jaco Minnaar
Draaiboek: David Cornwell en Jaco Minnaar 
Vervaardigers: David O'Connor en Bounceboard Productions
Medevervaardiger: Frankie Stromberg 

Kort resensie

Die onderspit is werklik snaaks, maar het tog hart en siel, meestal in die vorm van Karli Heine se ongelooflike vertolking van Girlie, ’n tragiese figuur op soek na meer in die lewe. (“Ek hoef vir eers nie ’n boyfriend te hê nie.”)

Lekker besonderhede is Girlie se 1980’s stonewash denims en luiperd-tights, Basie se weglêsnor, die verdomde hase, die goedkoop telefone, Harlequin as ’n lokaal, die toneel met die room en kersies en vibrator, name soos Apie, Basie, Bob, Heksie en Girlie, en dan die karre: die Ford Cortina en Escort.

Die deurgaanse gebruik van dromme was ’n briljante besluit. Dit verleen aan die film ’n lekker ritme en skerp invalshoek.

Die einde van die film, Girlie se middelvinger aan die wêreld, was beide tragies en rebels.


 

Vossie vergas homself

Komedie, 2017

Die groot vraag is: “Gaan Vossie homself vergas?”

Sinopsis

Vossie is depressief. Die lewe het hom al ’n paar harde klappe toegedien. Dus besluit hy om sy kar in ’n verlate veld te parkeer en ’n einde aan sy lewe te maak. Vossie sit bedroef in sy kar en berei homself voor vir die dood toe hy ’n klop aan sy ruit hoor. Hy sien die eksentrieke Antie daar staan, en hierdie vrou het planne van haar eie. Hoe meer hy haar probeer oorreed om te loop, hoe meer protesteer sy. Uiteindelik besluit Vossie om te luister na wat Antie te sê het.

Hierdie kortfilm is ’n blik op ’n onverwagse ontmoeting tussen twee mense van verskillende agtergronde en hoe hulle lewens onwillekeurig verweef word. Dit is deur hulle gedeelde ervarings dat hulle onvermydelik iets by mekaar leer. Maar die groot vraag is: Gaan Vossie homself vergas?

Rolverdeling

Tobie Cronjé
June Van Merch
Philippus Boshoff

Agter die skerms

Regisseur: Philip Nolte
Draaiboek: Burger Meyer
Vervaardiger: Lyall Ramsden

Kort resensie

Die rolle van Antie en Frederik is absoluut geskryf vir June van Merch en Tobie Cronje. June/Antie se borrelende windgat energie is ’n perfekte teenvoeter vir Tobie se patos, sy stoere hartseer. Saam met die regisseur het hulle ’n deernisvolle portret geskilder van die verskillende vorme van alleenwees en hartseer.

Die stadige uittrek van Frederik se ingewande is baie geslaagd in Antie se hande. Wat ek wil ongeloofwaardig gevind het, is die feit dat sy in die kar klim met ’n “malle” en dat sy sê sy sit net daar, al skakel hy die enjin aan en vergiftig beide van hulle. Die film is egter met soveel sorg gemaak dat ek nie omgee daarvoor nie.


 

Soos gister

Romanse, 2017

Sinopsis

Susan word een oggend wakker en besef sy het die grootste fout van haar lewe gemaak. Haar wêreld is besig om in duie te stort en dit is alles haar eie skuld. Sy en haar vriendin, Christelle, beraam ’n plan om dinge terug te kry soos dit was. Hulle oorreed vir Ludowickus, ’n man met die vermoë om deur tyd te reis, om hulle terug te vat na die aand toe al die verkeerde besluite geneem is. Om die verlede te verander, is egter nie so eenvoudig nie en daar is onverwagse gevolge. Susan besef dat die gebeure van daardie aand nie so maklik verander kan word as wat sy gedink het nie. ’n Klein verandering in die verlede lei tot verskriklike gevolge in die hede. Het Susan dalk haar lewe vir altyd verander?

Rolverdeling

Cintaine Schutte
Ilana Cilliers
Keeno Lee Hector
Ludwig Binge
Wilhelm van der Walt

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek: Marvin-Lee Beukes
Vervaardiger: Chris Thompson

Kort resensie

Ilana Cilliers is perfek as die patetiese party girl, die manipuleerder, wat nooit verantwoordelikheid aanvaar nie. Die kamerawerk, ’n gemiddelde draaiboek en deurmekaar regie laat egter die film in die steek.


 

Die man met die snor

Komedie, 2017

Francois leef homself uit as “die man met die snor” in sy eie episode van Stahlwolf om sy vervelige bestaan te ontsnap.

Sinopsis

Gewere, aksie, avontuur! Kurt Stahlwolf, die held van ’n gewilde TV-reeks uit die 1980’s, Stahlwolf, is alles waarvan die middeljarige Francois droom. Teen sy vrou se wense trek hy elke jaar as Kurt Stahl van Stahlwolf na die werk se jaareindfunksie aan, maar niemand herken hom ooit nie. Dit is belaglik – natúúrlik lyk hy soos Kurt Stahl, veral sy snor ...

Om van sy vervelige lewe te ontsnap, besluit hy om sy eie episode van Stahlwolf te maak, waarin hy self as Kurt Stahl gaan speel. Hy kontak filmstudente, skryf die draaiboek en leen sy baas se sportkarretjie, reg vir aksie in sy eie produksie. Wat kan skeefloop?

Rolverdeling

Daniel de Bruyne
Karin van der Laag
Mario Vosloo

Agter die skerms

Regisseur/Draaiboek: André Pretorius
Vervaardiger: Béanca Pretorius

Kort resensie

Die man met die snor is werklik snaaks, vanaf die openingstoneel waar Beertjie sy grys snor, ooghare en borshare met sy dogter se maskara dokter en sy vrou hom toesnou: “Jy lyk soos ’n pervert!”

Ek het hardop gelag vir Beertjie se manewales, maar groot empatie gehad met die karakter danksy Daniel De Bruyne se vertolking.

Die film steek die draak met kantoorpartytjies, spanbou, die filmbedryf en die middeljare, maar behou ’n menslikheid. Die redigering verleen aan die film ’n lekker ritme wat belangrik is vir komedie.

Lekker besonderhede/tonele om voor uit te kyk is die stroperige musiek, Beertjie/Francois wat ’n e-pos aan sy held tik, die glibberige kêrel wat agter Beertjie se dogter aan is, die kar en die spuitverfsage, die verduideliking van KKNW en die swembadpyp wat as suurstofpyp dien.


 

Venster

Drama, 2017

’n Dogtertjie se verlange na haar pa lei tot lewensgevaarlike situasies, nadat hy verbied word om haar te sien weens sy dwelmprobleem.

Sinopsis

Michelle is Lia, ’n droomverlore sesjarige, se ma en sy sukkel om perspektief te behou nadat sy Lia se pa, Daniël, verbied het om sy dogter te sien weens sy dwelmprobleem. Omstandighede stuur klein Lia se verbeelding op ’n dwaalspoor wat lewensgevaarlike situasies ontlok.

Michelle se frustrasies met Daniël veroorsaak dat sy nie bewus is van wat werklik in Lia se kop maal nie; wat haar angstig en aanvallend laat optree. Daniël word daarvan beskuldig dat hy nie by hul ooreenkoms hou nie, terwyl Lia se ongewone gedrag voortduur.

’n Sameloop van gebeure dwing Michelle om die werklikheid te konfronteer. Michelle kom te staan voor ’n kruispad waar sy ’n moeilike besluit moet neem: Wie se welstand gaan sy op die einde in ag neem?

Rolverdeling

Bertha le Roux
Chris van Rensburg
Emmanuel Castis
Milan Murray
Rachelle Peasley

Agter die skerms

Regisseur: Gerhard Mostert
Draaiboek: Maatje Smith
Vervaardigers: Charl Diener, Liesel Harris-Kruger en Maatje Smith

Lees ook:

Wenners van die kykNET Silwerskermfees 2017

LitNet
kykNET Portaal

Die wenners van die sewende kykNET Silwerskermfees is op Saterdag 26 Augustus 2017 by The Bay Hotel in Kampsbaai aangekondig. Hier is ’n lys van die wenners.


 

Silwerskermfees 2017: indrukke van die kortfilms

Suzette Kotzé-Myburgh 
Film 

"Vanjaar se oes bevestig net weer dat ons bedryf oor uitstaande talent beskik, veral wat betref akteurs, regisseurs, musiek, tegniese versorging en kinematografie."

  • 9

Kommentaar

  • Dankie vir jou resensie Reney. Ek wil net graag noem dat, volgens die dokters en paramedici wie ek geraadpleeg het, steekwonde oor die algemeen nie baie bloed oplewer nie.

    • Reney Warrington

      Hi Dian. Ek is bly jy het my laat weet. Geluk met die sukses van jou film. Doen so voort. Reney.

  • Michele Meyer

    Baie dankie vir die resensie, Reney. Wat jou opmerking aangaande titels betref graag die volgende rakende Langsaan: dit is presies die essensie van die verhaal. Selfs reg langsaan is soms nie naby genoeg vir 'n kind om veilig te wees nie. Die vrug wat die kind in die boom in die begintoneel na die huishulp uithou verwys na die skending van haar onskuld wat wag. Die goeie punt wat jy maak rakende die twee keer se oogkontak tussen die huishulp: die huishulp het 'n babatjie op haar rug. Die baba se gehuil is plek-plek hoorbaar en verbeeld die resultaat van seks ('n nuwe lewetjie). In Langsaan maak die kind inderdaad kennis met seksualiteit, teen haar sin. Die eerste oogkontak is voor die gebeure en daaropvolgende verlies van onskuld, die tweede oogkontak daarna, wanneer die kind se lewe permanent verander het.

    • Reney Warrington

      Hi Michele. Jou verduideliking vir die naam en die betekenis agter die huishulp maak sin, maar was dalk nie duidelik genoeg nie. As skrywer, weet ek soms in my kop wat aangaan, maar die leser het minder inligting as ek. Dit is waarom 'n ander oogpunt, iemand wat nie betrokke by die maak van die werk is nie, altyd handig te pas kom. Hou asseblief aan om ongelooflike films te maak.

  • Hi Reney, dankie vir jou lekker resensie - ons is bly jy was "weggeblaas" deur "Wisseltrofee"... hoop jy vind gou weer jou pad terug...G 😉

      • Daniel de Bruyne

        Ons regisseur en vervaardiger (André en Beanca Pretorius) was fantasties en baie spesifiek oor wat hulle nodig gehad het en "endearing" val definitief in die pot 😉 Weereens, baie dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top