Silikon, geskenk van die gode

  • 6

Dit is miskien omdat ek elektriese ingenieur is dat ek skielik tot die besef gekom het van hoe belangrik die element silikon vir ons is. Silikon is ’n chemiese element met die simbool Si en atoomgetal 14. In die periodieke tabel sit koolstof reg bo silikon, met germanium, tin en lood daaronder.

Silikon is die sewende volopste element in die heelal, na waterstof, helium, koolstof, stikstof suurstof en neon. Silikon verteenwoordig 27.2% van die massa van die aardkors en neem die tweede plek in saam met suurstof (45%) waarmee dit dikwels saam in die natuur voorkom, veral in die vorm van silikondioksied, ook bekend as sand.

Silikon kom meesal in die onverwerkte vorm silika (silikondioksied) voor in sand, klei, sement en klip en word in die boubedryf gebruik vir geboue, paaie, ensovoorts. Keramiek en porselein is hoofsaaklik silikon. Voorbeelde hiervan is die fyn porselein van elegante eetware, teëls en selfs isolators vir kraglyne. Die klei kan maklik op pottebakkerswiele en industriële draaibanke tot allerlei vorms verwerk word. Daarna word ’n glasuurlagie (natriumchloried) aangebring voordat dit teen ’n hoë temperatuur (1000 grade Celsius) gebak word. Die stad Dresden, die tuiste van Meissen-porselein, is teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog erg gebombardeer en deur vuur verswelg. Die 120 m lang geteëlde muurpanele waarop die Saksiese konings uitgebeeld word, het wonder bo wonder die brand oorleef: http://www.aviewoncities.com/dresden/processionofprinces.htm.

Een van die interessantste fabrieke wat ek ooit besoek het, was ’n glasfabriek aan die Oos-Rand wat vensterglas vervaardig. Verfynde silikon-oksied word saam met die gewenste vloeimiddels gesmelt, dan deur rollers gevoer en beland op ’n groot bad gesmelte tin (3–4 m wyd, 50 m lank en 6 cm diep). Die temperatuur van die gesmelte tin is net reg om die gesmelte glas ’n plat plaat te laat vorm wat bo-op die tin dryf. Teen die einde van die baan koel die plate af en word dit uiteindelik akkuraat in groot glasplate opgesny. Die proses is tussen 1953 en 1957 deur Sir Alastair Pilkington en Kenneth Bickerstaff in Engeland ontwikkel. Kyk na hierdie video oor die proses. Die glas word ook vir huishoudelike ware gebruik soos wynglase en ook vir kraglyn-isolators.

Gesmelte glas kan ook in dun vesels getrek word. Een toepassing daarvan is as versterking in plastiekprodukte soos bote en visstokke. Die vesels vind ook toepassing as optiese vesel wat deesdae die internet en kommunikasiewêreld oorheers. Ligstrale, opgewek deur lasers, word in die vesels in geskyn en weerkaats herhaaldelik voorwaarts teen die interne wande van die glasvesel – inligting word dan letterlik teen die spoed van lig oorgedra: (https://www.keyence.com/ss/products/sensor/sensorbasics/fiber/info/).

Silikon kom ook voor in silikonrubber wat orals in die alledaagse lewe soos in die motorbedryf toepassing vind. Dit is hittebestand (tot 300 grade Celsius) en het goeie elektriese eienskappe. Dit is waterwerend en word ook om die rede by die vervaardiging van kraglyn-isolators gebruik.

Op molekulêre vlak besit silikon ook, soos germanium, die eienskap van halfgeleiding wat onontbeerlik is vir transistors en die moderne elektroniese stroombane wat die lewensbron van die rekenaarwêreld en selfone is. Die silikongebaseerde halfgeleiers openbaar ook die fotovoltaïese effek, danksy Einstein, sodat dit gebruik word in fotovoltaïese sonpanele.

’n Mens kan jou nie ’n wêreld sonder silikon voorstel nie. Dit is inderdaad ’n geskenk van die gode ...

  • 6

Kommentaar

  • Koos Holtzhausen

    Dankie, Marilie. Die foutjie oor " sout en natriumchloried" is reggestel. Dankie dat jy dit opgemerk het.

  • Willie van Aswegen

    Koos Holtshausen het 'n uiters interessante artikel van silikoon met insig vir ons leke gelewer. Ek het dit dadelik gedruk vir my kleinkinders vir moontlike skooltake. Baie dankie, Koos!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top