Sielkundige gevolge van langdurige droogtetoestande

  • 0

“Drought is a creeping phenomenon, ... and human factors often aggravate the effects of drought.” – Wilhite en Glantz (1985:2, 13)

 

Droogte is die gevolg van ’n natuurlike vermindering in die hoeveelheid vog gedurende ’n bepaalde periode vir ’n bepaalde streek, gewoonlik met verloop van ’n seisoen of twee. Ander klimaatsfaktore, soos sterk winde, hoë temperature en lae relatiewe humiditeit, gaan normaalweg ook met droogte gepaard (Wilhite 2000:2). Die chroniese omgewingsongemaklikheidsindeks (chronic environmental adversity index) kan gedurende lang periodes van droogte vir mens en dier die hoogte inskiet (Stain, Kelly ea 2011:1593).

Die tydskrif National Geographic publiseer in ’n onlangse uitgawe ’n indrukwekkende artikel van 23 bladsye (Weiss 2018:108) oor die impak van droogte op die wêreld se groot mere, onder andere die Poopó (Bolivia), die Thai (China), die Tanganjika (Oos- Afrika), die Guri (Venezuela), die Urmia (Iran) en die Chad (VSA). Daar word egter slegs op ’n lukrake wyse verwys na die effek van hierdie traumas op die geestesgesondheid van die bevolking wat direk deur die geleidelike opdroog en verdwyning van hierdie waterbronne geraak word. Die rede hiervoor is waarskynlik dat droogte in daardie artikel as ’n hidrologiese konstruk gedefinieer word, en gevolglik is die fokus uitsluitlik op die fisiese effek van intense droogtes op die mere as oppervlakwaterbronne.

In aansluiting hierby verskyn heelwat aanlyn meningsartikels deesdae oor water as ’n skaars hulpbron in Suid-Afrika en internasionaal, die Suid-Afrikaanse waterwette, doeltreffende waterbestuur, die aard van die huidige droogte, en Kaapstad se waterkrisis, maar ook in hierdie publikasies word betreklik min aandag gegee aan die invloed van droogte op die gedrag van mense. Stain, Kelly ea (2011:1593) bevestig hierdie opmerking: “[D]rought is an example of a chronic environmental adversity, whose health and psychological impacts are poorly researched.” Twee voorbeelde van uitsonderings op hierdie tendens is publikasies deur Harris, Zhao en Visser (2018)  en Kaviti Musango en Currie (2018) waarin op ’n sekere manier op die belangrike rol van sekere sosiaal-humanitêre faktore gewys word.

Harris ea (2018) stel spesifieke gedragsmodifikasiebeginsels voor vir die aanmoediging en bevordering van waterbesparing deur verbruikers: die gebruik van algemene terugvoer oor hoe verbruikers vaar met waterbesparing in vergelyking met hul bure; intydse terugvoer oor die daaglikse stand van damvlakke; sosiale erkenning soos die uitreik van sertifikate vir goeie waterbespaarders; sosiale samewerking soos hulpverlening aan persone wat dit moeilik vind om waterbedieningspunte te bereik.

Kaviti Musango en Currie (2018) doen ’n tegniese ontleding van die operasionele situasie wat teoreties gesproke ná dag zero kan afspeel, en vra die vraag of die Stad Kaapstad se rampbestuurstrategie enigsins robuust of selfs prakties uitvoerbaar is. Ter illustrasie verwys die skrywers na die voorkoms van chaos en selfs oproer by waterpunte tydens die 2015-waterkrisis in São Paulo. Die skrywers stel dit duidelik dat behalwe tegniese oplossings wat hul model bied, bly die effek van sosiale en politieke faktore (wat as disruption noise, oftewel steuringsgeraas, bestempel word) totaal onbekend, soos konflik wat kan ontlont word omdat mense vir lang tye in lang toue moet staan. Indien die idee van sosiale steuringsgeraas verder uitgebrei word, kan die waterkrisis beskou word as ’n ernstige bedreigende lewensituasie, en verskillende onverwagte menslikereaksiepatrone is moontlik op ’n bedreiging van hierdie aard. By sommige mense wat in toue staan, kan fasette van onderliggende psigopatologie aanwesig wees (byvoorbeeld gebrek aan frustrasieverdraagsaamheid, gebrek aan impulsbeheer, persoonlikheidsteurings, middelafhanklikheid) wat onder stresvolle omstandighede (lang toue in warm son) in hul gedrag na vore kom en verder tot die chaos bydra.

In ’n populêre (tong-in-die-kies) skryfstuk deur Koos Kombuis (2018) noem die skrywer verskillende fases waardeur die bedreiging van watertekort ’n persoon se lewensbeskouing kan verander. Daar is die aanvanklike stadium van ’n skokreaksie, wat opgevolg word deur gevoelens van skuld en aggressie asook depressie, waarop kognitiewe insig, rekonstruksie en aanvaarding volg. Hierdie beskrywing kan in sielkundige terme vertaal word as ’n akute droogteverwante stresreaksie van die outonome senustelsel (aanvanklike simpatiese oorheersing) met gepaardgaande emosionele gewaarwordinge (latere parasimpatiese oorheersing) en die uiteindelike terugkeer na die staat van ekwilibrium waarop doelbewuste en gemotiveerde gedragspatrone volg.

Is hierdie fases egter kenmerkende en universele reaksies op droogte by die meeste mense en maak dit voorsiening vir kulturele en demografiese verskille tussen mense? Gaan die effek van droogte op geestesgesondheid hoofsaaklik daaroor om gebruikers se gedragspatrone deur middel van versterking en beloning te wysig, of is daar veel meer oor hierdie onderwerp te sê? In Laikipa (Kenia) is byvoorbeeld gevind dat 52,8% van die respondente in ’n opname die 2009-droogte as matig geoordeel het, terwyl 47,2% dieselfde droogte as intens beskryf het. Daar was dus geen eenstemmigheid onder die respondente oor die omvang en intensiteit van dieselfde droogte nie. Indien die intensiteit en effek van die Keniaanse droogte relatief tot ander kwessies soos korrupsie, werkloosheid, misdaad, rommelopeenhoping en armoede deur die respondente evalueer word, word die droogte op sigself nie as ’n ernstige probleem met ’n betekenisvolle impak beskou nie (Karanja, Ondimu en Recha 2017).

Teoretiese raamwerke

Volgens Yusa, Cheng ea (2015) is daar hoofsaaklik twee hoofstelsels of -roetes waardeur langdurige droogtes ’n impak op die geestesgesondheid van die mens kan uitoefen, naamlik direkte skade aan die natuurlike omgewing, insluitende die gehalte van landbouproduksie met ’n uitkringende effek op die gemeenskapstelsel (byvoorbeeld armoede, verlies van bates, knellende finansies, verpligte verskuiwing), en skade aan die fisiekegesondheidstelsel (byvoorbeeld swakgehalte- en min beskikbare voeding, toename in die voorkoms van siektes en min water en swak watergehalte) en sodoende aanleiding gee tot ’n negatiewe uitwerking op die geestesgesondheid van slagoffers van die droogte.

Perry (1983) bespreek die aard van opponerende standpunte in die literatuur wat daaroor gaan of natuurrampe inderdaad negatiewe sielkundige gedrag by mense tot gevolg het. Hy stel ’n meer omvattende konseptuele raamwerk voor as Yusa ea (2015) waarin die sielkundige gevolge van natuurrampe teoreties verklaar word. Hierdie raamwerk word in figuur 1 weergegee.

 

 

Figuur 1. Vloeidiagram van die interaksie tussen stelsels wat tydens intense droogtes tot negatiewe sielkundige gevolge aanleiding kan gee. Stippellyne dui op negatiewe gevolge, en soliede lyne op positiewe gevolge. (Perry 1983)

Die onderlinge wisselwerking tussen die verskillende stelsels in figuur 1 word in terme van hipoteses verduidelik: hoe beter die gemeenskap teen die impak van droogte voorbereid is hoe minder is die negatiewe effek op gesin- en vriendskapsverhoudings; hoe groter die omvang, duur en skaal van die droogte hoe groter die negatiewe impak op gesin- en vriendskapsverhoudings; hoe groter die omvang, duur en skaal van die droogte hoe groter die skade aan en vernietiging van die omgewing, produkte en eiendom; hoe groter die bedreiging en skade aan persoonlike verhoudings hoe groter die kanse dat roureaksies by slagoffers ontstaan; hoe groter die skade aan eiendom- en omgewingvernietiging hoe minder is die kanse op persoonlike rehabilitasie of aanpassing; indien ’n premorbiede geskiedenis van sielkundige onstabiliteit voor die aanvang van die droogte bestaan, word die kanse op die ontwikkeling van die nodige aanpassings- en hanteringsvaardighede (coping skills)¹ tydens die droogte benadeel; hoe beter die gehalte van sosiale ondersteuningsnetwerke is (gesin/familie, vriende, gemeenskapsbetrokkenheid) hoe beter is die kanse op suksesvolle persoonlike aanpassing by die droogte en rehabilitasie daarna; hoe meer dikwels finansiële hulp van staatsweë vir droogteslagoffers beskikbaar gestel word, hoe beter is die kanse op suksesvolle rehabilitasie; hoe meer intens die roureaksies van slagoffers is, hoe minder die kanse op suksesvolle rehabilitasie; die ontwikkeling van suksesvolle hanteringsvaardighede by slagoffers verlaag die risiko van negatiewe sielkundige gevolge van droogtes.

 Yusa ea (2015) en Perry (1983) se verklaringsmodelle sluit direk by mekaar aan, maar verskil in dié opsig dat Perry (1983) meer stelsels of roetes vir die sielkundige effekte van droogte in sy model opneem, maar terselfdertyd nie vir ’n fisiekegesondheidsroete voorsiening maak nie.

Die vraag onstaan gevolglik watter sielkundige gevolge langdurige droogtes op van die mense wat daaraan blootgestel word, uitoefen? Is goedgekontroleerde navorsingsbevindings beskikbaar wat hierdie impak in ooreenstemming met die genoemde teoretiese modelle illustreer? Is daar bewyse van langtermyn sielkundige effekte of is die impak slegs tydelik van aard? Watter rol speel persoonlikheidskwesbaarhede en/of -sterktes soos die terugbonseffek of veerkragtigheid (resilience) by slagoffers van langdurende droogte? Hoe word die impak van droogte op die geestesgesondheid/psigopatologie van mense gemeet en wat behels die metodologie van hierdie navorsing?

In ’n poging om antwoorde op hierdie vrae te verskaf word enkele navorsingstudies as voorbeelde van werk wat op hierdie terrein gedoen word, krities bespreek.

Definisies

  • Droogte

Volgens Lloyd-Hughes (2014) is dit prakties feitlik onmoontlik om ’n omvattende wiskundige definisie vir droogte daar te stel indien droogte kwalitatief of konseptueel as ’n tekort aan water relatief tot die normale omstandighede omskryf word, omdat faktore soos die voorraad beskikbare ondergrondse water, die effek van verdamping en waterbestuurspraktyke nie objektief en doeltreffend in wiskundige formules in berekening gebring kan word nie.

Quiring (2009) stel dit duidelik dat droogte ’n uiters komplekse verskynsel is om akkuraat te omskryf omdat enige definisie beïnvloed word deur ruimtelike variante en konteksspesifiekheid. Twee hooftipes droogtedefinisies is konseptuele en operasionele definisies. Konseptuele definisies is algemene beskrywings van wat droogtes behels. Operasionele definisies is baie spesifiek en identifiseer die begin en einde asook die graad van die droogte.

Daar bestaan meer as 150 verskillende konseptuele definisies van droogte wat in vier kategorieë saamgevat word: meteorologies, landboukundig, hidrologies en sosio-ekonomies. Die ontwikkeling van operasionele definisies is ’n moeilike taak omdat droogtes, anders as ander natuurlike katastrofes, nie ’n identifiseerbare begin of einde het nie, stadig ontwikkel en die impak van streek tot streek verskil.

Indien droogtes egter nie voldoende omskryf en presies gemonitor word nie (Quiring, 2009) bestaan die moontlikheid dat droogte veral ’n beduidende negatiewe impak kan uitoefen indien die droogte as ’n natuurverskynsel nie enige reaksies aan die gang sit nie (byvoorbeeld minder watergebruik deur verbruikers) of indien reaksies ontstaan wanneer dit onnodig blyk te wees of te laat is.

Vir die doeleindes van hierdie artikel word droogte volgens Palmer (1965) in Lloyd-Hughes (2014:1) gedefinieer as ’n interval in tyd in die orde van maande of jare waartydens die werklike vogvoorsiening by ’n gegewe plek minder is as die klimatologies verwagte of klimatologies geskikte vogvoorsiening.

  • Geestesgesondheid/psigopatologie

Geestesgesondheid hou verband met die ontwikkeling van persoonlikheidsterktes, maar kan ook in terme van die afwesigheid van psigopatologie of geestesiekte gedefinieer word. Die algemene verwagting is dat persone met hoër of optimale vlakke van geestesgesondheid laer vlakke van psigopatologie sal ervaar. Wanneer besluit moet word of menslike gedrag abnormaal of psigopatologies van aard is, beveel Passer, Smith ea (2009) die toepassing van drie kriteria aan: of persoonlike ongemak (distress) deur die persoon ervaar word; of die persoon se gedrag disfunksioneel is; of die gedrag kultureel afwykend is.

Volgens die Amerikaanse Sielkundevereniging vorm geestesgesondheid die basis waarop denkprosesse, kommunikasie, die leerproses, veerkragtigheid en selfkonsep gebou word. Geestesgesondheid is dus die sleutel tot suksesvolle persoonlike verhoudings, persoonlike en emosionele selfhandhawing, asook ’n sinvolle bydrae tot gemeenskapsontwikkeling.

Die Wêreld-Gesondheidsorganisasie beskryf geestesgesondheid as ’n bewussynstoestand waartydens ’n persoon op ’n realistiese wyse bewus is van sy/haar potensiaal, in staat is om die normale stressors van die lewe te hanteer, in staat is om produktiewe en betekenisvolle werk te lewer, en ’n betekenisvolle gemeenskapsrol te vertolk.

Die Sheffield-stigting beskou geestesgesondheid as die emosionele en geestelike veerkragtigheid van ’n persoon wat hom in staat stel om daaglikse teleurstellings, frustrasies en irritasies sinvol te bowe te kom. Volgens Van Zyl (2009) is geestesgesondheid ’n toestand van betreklik goeie aanpassing wat gepaard gaan met 'n gevoel van tevredenheid, 'n entoesiasme vir die lewe en die aktualisering van eie potensiaal en vaardighede.

’n Kwalitatiewe studie

Reeds gedurende die dertigerjare het Botha (1933) is ’n ondersoek gedoen oor hoe droogte die mentaliteit van die boer beïnvloed (mentaliteit is ’n generiese term vir die menslike persoonlikheid wat uitdrukking vind in terme van kognitiewe, affektiewe en konatiewe veranderlikes). ’n Vergelykende studie is gedoen deur die antwoorde op ’n vraelys van 38 boere in die Philipstowndistrik met dié van 43 boere uit die Strydenburgdistrik te vergelyk. Die ligging van die deelnemers se plase het die onderskeie gebiede in die twee distrikte goed verteenwoordig. Die gemiddelde verskil in jaarlikse reënval tussen die distrikte (soos gemeet van 1911 tot 1931) was 2 dm 58 pte of 65,63 mm, met Philipstown as die distrik met ’n hoër neerslag en die Strydenburgdistrik dié met die laer reënval. Nadat die getal skape per morg asook die getal kere wat met vee getrek moes word en die beskikbaarheid van ondergrondse water vir die twee distrikte bepaal is, is die afleiding gemaak dat die boere in die Strydenburgdistrik vir die periode 1911–31 blootgestel was aan ’n groter impak van droogte as dié in Philipstowndistrik.

Die menings en houdings van die boere is deur middel van 22 gestruktureerde vrae tydens ’n onderhoud getakseer, en die antwoorde is verbatim neergeskryf en kwalitatief ontleed. Die vrae (wat verskillende faktore meet) is in twee breë groepe verdeel, nl droogteverwant in die algemeen en droogteverwant wat wetenskaplike boerderymetodes betref. Dit het geblyk dat die response binne en tussen die distrikte uiteenlopend en selfs teenstrydig was. Die hoofbevindings was dat droogte as ’n klimaatsverskynsel ’n groot invloed op die boere se persepsies het, veral ten opsigte van houdings teenoor wetenskaplike boerderymetodes, godsdiens en politiek.

’n Positiewe aspek van hierdie studie was dat die betrokke plase ruimtelik goed versprei was oor die verskillende gebiede binne die distrikte. Twee betreklik groot steekproewe is vir die doeleindes van die studie benut en die voer van 81 semigestruktureerde onderhoude was gewis geen maklike taak nie. Sekere noodsaaklike biografiese inligting oor die deelnemers ontbreek egter, soos chronologiese ouderdom, huweliki en sosio-ekonomiese status, ervaring en kundigheid van boerderymetodes, asook sekere belangrike bufferveranderlikes waaroor die navorser geen beheer gehad het nie, soos die volgende biografiese gegewens: vorige mediese en sielkundige geskiedenis (die pre-impact psychological instability-stelsel volgens Perry se model), getal verbande op plase uitgeneem, kerklike betrokkenheid, en vlak van belangstelling in onlangse politieke gebeure. Die waargenome verskille tussen groepe in hierdie studie kan dus nie sonder meer uitsluitlik aan die effek van droogte toegeskryf word nie.

Oorsigstudies

’n Kanadese navorsingsgroep (Yusa ea 2015) doen ’n literatuurstudie oor die verband tussen die blootstelling aan langdurige droogte en die uitwerking op geestesgesondheid van die slagoffers van die droogte. Droogte en die gepaardgaande finansiële laste gee aanleiding tot ’n toename in die ervaring van stres, angs, verlies en die belewenis van akute rou. Reeds bestaande onderliggende sindrome (byvoorbeeld depressiegeneigdheid) kan deur die blootstelling aan langdurige droogte versterk word. Groepe met lae sosio-ekonomiese status word tydens droogtes meer blootgestel aan hoër voedselkoste wat voedselskaarste in die hand werk met ’n negatiewe impak op geestesgesondheid. Bewese negatiewe geestesgesondheidsimpakte bestaan vir ouer vrouens en landelike volwassenes en landelike jeugdiges. Beduidende positiewe verband bestaan tussen toename in stres en duur van die droogte. Daar is ’n toename in risiko vir hospitalisasie weens depressie tydens langdurige droogtes. Droogtes lei tot verhoogde stres met ’n gevolglike negatiewe impak op die gehalte van persoonlike verhoudings van gesinne en families wat op plase boer. Hoe langer die droogte duur hoe meer stres word by plattelandse gemeenskappe waargeneem. Mense met ’n sterk gebondenheid aan die natuur kan weens blootstelling aan langdurige droogte solastalgie ontwikkel. ’n Positiewe korrelasie word gerapporteer tussen die duur van droogtes en die toename in selfdodingspogings.

Oorsigstudies is natuurlik veral nuttig om ’n vinnige oorsig en indrukke oor ’n navorsingsterrein te vorm, maar dit beantwoord nog steeds nie alle vrae nie. Hoe geldig is die term solastalgie byvoorbeeld? Is dit ’n erkende term wat in diagnostiese klassifikasiestelsels opgeneem is, of is dit bloot ’n neologisme? Hoe word stres en roureaksies in hierdie studies gemeet? Wat behels die psigometriese eienskappe van die meetinstrumente? Hoe groot en verteenwoordigend is die steekproewe wat gebruik is? Watter teoretiese sisteme (of roetes) is as onderbou gebruik op grond waarvan die studies uitgevoer is?

Vins, Bell ea (2015), ’n Amerikaanse navorsingsgroep, doen ’n sistematiese literatuuroorsig van 82 gepubliseerde studies oor die sielkundige gevolge van blootstelling aan tydperke van intense droogte.

Hulle onderskei tussen drie sisteme: (a) oorsaaklike kwesbare eienskappe (of ’n risiko’s-sisteem), (b) beskermende faktore en (c) hanteringsmeganismes wat tydens die gevolge van die blootstelling aan droogte deurslaggewend is.

Risikofaktore sluit die volgende in: die persone is lede van landelike bevolkingsgroepe; die persone is lede van boerderygemeenskappe; die persepsie dat ’n stigma met geestesgesondheidkwessies geassosieer word; gebrekkige kennis van beskikbare geestesgesondheidhulpverleningsdienste; ’n persoonlike geskiedenis van vorige geestesgesondheidprobleme; die blootstelling aan lang en intense periodes van droogte.

Die ondersteunende faktore sluit in die benutting van sosiale ondersteuningsnetwerke asook gemeenskapbetrokkenheid; die benutting van beskikbare hulpdienste; ’n hoë mate van geestesgesondheidgeletterdheid, en die beskikbaarheid van staatsondersteuning.

Hanteringstrategieë (hetsy positief of negatief) sluit die volgende aspekte in: toepassing van praktiese oplossings en toekomsbeplanningsmetodes; positiewe denke, aanvaarding en herformulering van die probleemsituasie; benutting van hulpverlening en verbalisering van die probleem; groei in geloofsvertroue; alkohol- en middelmisbruik; ontkenning en vermyding van die probleem.

’n Opnamestudie

Stain, Kelly ea (2011) doen ’n pos-opnamestudie oor droogte en geestesgesondheid in Australië. 9 681 volwassenes ouer as 18 jaar woonagtig in die plattelandse gebiede van Nieu-Suid-Wallis is toevallig geselekteer uit die Australiese kieserslyste. Hiervan het 2 639 (27%) ingewillig om ’n vraelys wat per pos versend is, in te vul. Die gemiddelde ouderdom van die steekproefpersone was 53 jaar, waarvan 57% voulik en 77% getroud was. Die deelnemers was vir langer as 12 maande aan intense droogtetoestande blootgestel. Die droogteblootstellingsindeks vir die geografiese gebied is bereken deur ’n ruimtelike ontleding van die Australiese Buro vir Meteorologie se maandelikse reënvalgrafieke teen ’n resolusie van 0,25°-breedtegraad-lengtegraad.

Die resultate toon dat herhaalde of lang blootstelling aan droogte bydra tot ’n laer vlak van geestesgesondheid in die algemeen. Omgewingsdegradering hou positiewe verband met die voorkoms van depressie by volwassenes. Hoe laer die persoonlike hoopvolheid van die respondente was, hoe hoër hul gevoelens van morbiditeit. Slegs ’n klein persentasie deelnemers met hoë tellings op die droogtebekommernisse-indeks het ook hoë vlakke van sielkundige morbiditeit gerapporteer, wat daarop dui dat droogtebekommernisse en morbiditeit waarskynlik twee aparte dimensies is.

Die lewensomstandighede in droogtegeteisterde gebiede in Australië (veral van diegene wat op plase woon, wat getroud is en ’n beroep beoefen) skep ’n konteks van algemene onsekerheid en hou daarom ’n bedreiging vir die individu se voortbestaan in, en veral om in die behoeftes van ’n gesin te kan voorsien.

Aanbevelings

Indien die omvang en die intensiteit van die huidige droogte in die Wes-Kaap sou toeneem en ’n studie word onderneem om die sielkundige gevolge daarvan te ondersoek, kan oorweeg word om die teoretiese uitgangspunte van onder andere Perry (1983) en Yusa ea (2015) deeglik in ag te neem. ’n Volledige biografiese databasis van die deelnemers behoort saamgestel te word, insluitende die voordroogte mediese en sielkundige geskiedenis van die deelnemers. Faktore soos metings van die vlak van bekommernis oor die droogte en die aard van die persoonlikheidsamestelling van die deelnemers is verdere noodsaaklike vereistes vir die uitvoering van so ’n navorsingsprojek.

Weens die uiteenlopende aard van die bevolkingsamestelling in die Wes-Kaap, en die sterk moontlikheid van kulturele verskille in die persepsie van die intensiteit en omvang van die droogte (vgl Karanja ea 2017 se waarnemings in Nairobi, Kenia), word aanbeveel dat gestratifiseerde steekproefneming as ’n opsie oorweeg word, sowel as eksploratiewe faktorontleding en/of bevestigende faktorontleding as dataontledingsmetodes om sodoende die sielkundige gevolge van die droogte op geldige wyse te bepaal.

Die bevindings van Vins ea (2015), waar veral verwys word na risikofaktore, ondersteunde faktore en tipiese hanteringsmeganismes wat uit die blootstelling aan intense droogtes na vore kom, kan op ’n nuttige wyse in voorkomende hulpverleningsprogramme ingesluit word.

Voorkom dus dat droogtes deur die menslike faktor vererger word, soos Wilhite en Glantz (1985) dit stel, deur ook op vernuwende en voorkomende geestesgesondheidsontwikkelingsprogramme te fokus.

Beperkings

Hierdie artikel is ’n meningsartikel en gevolglik is geen volledige en omvattende literatuursoorsig oor die onderwerp uitgevoer nie. Die doel met die artikel was bloot om sekere tendense te identifiseer teen die agtergrond van die sielkundige gevolge wat die huidige droogtetoestand moontlik vir die inwoners van die Wes-Kaap in die toekoms kan inhou indien die droogte langer duur en/of vererger wat intensiteit betref. Dit is moontlik dat sinvolle en vernuwende voorkomende beplanning ’n aanvullende en selfs beter strategie is as remediëring en rehabilitasie tydens en na afloop van ’n droogtekrisis.

 

Eindnota

¹ Teorie oor die aard en ontwikkeling van hanteringsvaardighede (coping skills) word in die volgende bronne bespreek:

Folkman, S, M Chesney, L McKusick, G Ironson, DS Johnson, TJ Coates. 1991. Translating coping theory into an intervention. In Eckenrode, J (red), The social context of coping. The Springer Series on Stress and Coping. Boston, MA: Springer.

Hood, CG en CP Carruthers. 2002. Coping skills theory as an underlying framework for therapeutic recreation services. Therapeutic Recreation Journal, 36(2):137–53.

Bibliografie

Botha, AM. 1933. Hoe die klimaat die mentaliteit van die boer affekteer meer spesifiek tot die distrikte Philipstown en Strydenburg. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Harris, L, J Zao en M Visser. 2018. Nudging the city and residents of Cape Town to save water. The Conversation, 4 Maart.

Karanja, A, K Ondimu en C Recha. 2017. Factors influencing household perceptions of drought in Laikipia West Sub County, Kenya. Open Access Library Journal, 4, e3764. https://doi.org/10.4236/oalib.1103764 (15 Maart 2018 geraadpleeg).

Kaviti Musango, J en PK Currie. 2018. Cape Town’s plans for what happens after Day Zero just won’t work. Here’s why. The Conversation, 1 Maart.

Lloyd-Hughes, B. 2014. The impracticality of a universal drought definition. Theoretical and Applied Climatology, 117:607–11. DOI 10.1007/s00704-013-1025-7 (20 Maart 2018 geraadpleeg).

Palmer, WC. 1965. Meteorological drought. Research paper no 45. US Weather Bureau, Washington.

Passer, M, R Smith, N Holt, A Bremmer, E Sutherland en M Vliek. 2009. Psychology: the science of mind and behaviour. Londen: McGraw-Hill.

Perry, RW. 1983. Environmental hazards and psychopathology: Linking natural disasters with mental health. Environmental Management, 7(6):543–52.

Quiring, SM. 2009. Developing objective operational definitions for monitoring drought. American Meteorological Society. DOI: 10.1175/2009JAMC2088.1 (20 Maart geraadpleeg).

Kombuis, K. 2018. Nuwe dorslandtrekkers: Sewe stadia van rou. Die Burger By. 24 Maart.

Stain, HJ, B Kelly, VJ Carr, TJ Lewin, M Fitzgerald en L Fragar. 2011. The psychological impact of chronic environmental adversity: Responding to prolonged drought. Social Science and Medicine, 73(11):1593–9.

Vins, H, J Bell, S Saha en HH Hess. 2015. The mental health outcomes of drought: A systematic review and causal process diagram. International Journal of Environmental Research and Public Health, 12(10):13251–75.

Weiss, KR. 2018. Drying lakes. National Geographic, Maart.

Wilhite, DA. 2000. Drought preparedness and response in the context of Sub-Saharan Africa. Journal of Contingencies and Crisis Management, 8(2):81–92.

Wilhite, DA en MH Glantz. 1985. Understanding the drought phenomenon: The role of definitions. Drought Mitigation Center Faculty Publications, 20

https://digitalcommons.unl.edu/cgi/viewcontent.cgi?article=1019&context=droughtfacpub (1 April 2018 geraadpleeg).

Yusa, A, P Berry, JJ Cheng, N Ogden, B Bonsal, R Stewart en R Waldick. 2015. Climate change, drought and human health in Canada. International Journal of Environmental Research and Public Health, 12(7):8359-412. DOI: 10.3390/ijerph120708359 (15 Maart 2018 geraadpleeg).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top