Onderhoud met Shéri Brynard oor haar boek Shéri, nes ek is

  • 10

Foto van Shéri Brynard: www.sheribrynard.co.za

Shéri, nes ek is
Shéri Brynard
ISBN: 9780796320308
NB-Uitgewers

Shéri Brynard is die enigste persoon met Downsindroom in die wêreld wat ’n tersiêre diploma het. Sy werk voltyds as ’n assistent by Lettie Fouché-skool vir kinders met gestremdhede. Sy gesels met Naomi Meyer oor haar boek Shéri, nes ek is.

Susette en Shéri Brynard voor die Taj Mahal

Shéri, baie geluk met jou boek! Vertel my asseblief iets van jou?

Ek is ’n doodgewone mens met ’n ekstra chromosoom, wat my fisiek en intellektueel bietjie stadiger maak. Maar dis al wat ek ken, so ek is eintlik heeltemal oukei om ek te wees. Ek kla net partykeer wanneer my ma so vinnig loop – dit lyk altyd of sy vir my wegloop.

Ek kan ook nie lank staan nie, sukkel met skoene en ek is maar lomp. Die mense by die gym probeer my daarmee help. Eintlik vat ek langer met alles wat ek doen, maar ons almal het mos maar dinge wat ons anders sal wil hê in ons lewens.

Wat doen jy elke dag? Vertel my ook ’n klein bietjie van jou kinder- en skooldae.

Sjoe, dit sal my ’n paar dae vat om hierdie vraag te beantwoord. My dae is baie vol, nes die meeste mense s’n, en om van my kinderdae te vertel sal lank neem.

My ma het ons altyd geleer toe ons nog nie in die skool was nie en dit was vir ons heerlik, want ons het baie gespeel tussenin en baie gelag. Marisa is 21 maande jonger as ek en sy het my gou verbygegaan, maar dit was vir my lekker om by haar te leer. Lank voor ons skool toe is, kon ons lees en skryf. Die somme was net vir my baie moeilik, maar my ma en ouma het my aanhou leer. Ons het baie gaan stap met ons poppe in stootkarretjies en baie gesing en sing-sing geleer ook. My pa kon ghitaar speel en dan het ons almal saam gesing – dis net ek en my ma wat nie so baie mooi kan sing nie, maar sing het ons gesing.

My kinderdae was baie lekker. My sussies het my geterg, met my gespeel en my gehelp met dinge. Ek het hulle ook nie gelos nie. Ons huis het baie gelag. Ons lag nou nog saam oor ons foute en huil saam wanneer een ’n hartseer beleef. My vriendinne speel ook ’n baie belangrike rol in my lewe. Die meeste is getroud en het kinders en ek is net so lief vir hulle. Ons het toe ons klein was, baie met die bure se seuntjies gespeel. Marnus, Wessel en Rikus Sonnekus was soos ons boeties. Ons is nou nog vriende. Daar was ’n hekkie tussen ons huise en hulle was so half deel van ons gesin.

Ek werk elke oggend by Lettie Fouché-skool, wat leerders met spesiale behoeftes help. Wanneer die onderwyseresse daar is, help ek hulle, en wanneer hulle siek is of ander werk het, staan ek in vir hulle. Hulle sê vir my watter werk ek moet doen en dan doen ek dit wat hulle sê met die leerders. Ek is baie lief vir die kinders en help hulle om nie sommer moed op te gee nie. Gister het ek met ’n dogtertjie gesels wat sê daar is kinders wat haar spot omdat hulle sê sy is dom. Ek het haar gevra of sy dink sy is dom en sy het gesê nee. Ek het haar vertel die kinders het my ook soms gespot en wat ander mense sê maak nie dat ons is soos hulle sê nie. Sy sal nou altyd met my kom praat wanneer sy hartseer voel oor wat mense sê. Dis vir my lekker om iets vir ander soos ek te beteken.

Na skool oefen ek by ’n gimnasium, gaan ek na ekstra Engelse klasse toe en ek neem nog drama ook. Ek gaan praat byna elke week by plekke, wat my ook baie besig hou.

Ané van den Berg en Shéri Brynard by die Vrystaatse Kunstefees 2017 en 'n plakkaat van die toneelstuk oor Downsindroom

Ek wil jou iets vra waaroor jy in die boek skryf. Maar terwyl ek jou boek gelees het, het ek gedink ek kan dit nie eens hoor in wat jy vertel nie. Hoe voel dit om Downsindroom te hê?

Ek wil nou half lag. Hoe voel dit om nié Downsindroom te hê nie? Mens dink nie daaroor nie. Ek is te besig om nog te dink aan dinge waaraan ek niks kan doen nie.

Dit voel vir my normaal om ek te wees – dis al wat ek ken. Ek weet ek sukkel bietjie meer om by te hou en ek is ’n bietjie meer afhanklik en ek lyk so ’n bietjie anders as gewone mense, maar tog weet ek dat eenders en anders baie na aan mekaar is.

Dit is waaroor my toneelstuk in Julie op die kunstefees gegaan het. Selfs mense wat sogenaamd normaal is, is almal anders. My ma sê altyd ons pas nie almal in dieselfde boksie nie en dis oukei. Moenie mense veroordeel wat nie soos jy is nie.

Hoekom het jy hierdie boek geskryf?

Ek wou aan mense verduidelik hoe my pad geloop het, omdat die Here my baie geseën het. My boek gaan nie net oor Downsindroom nie, dit gaan oor ’n pad van leer en verander en hard werk om iets te bereik. Dit gaan oor om nie vir jouself jammer te kry nie. Dit gaan daaroor dat mens nooit moed moet opgee nie. Dit gaan oor drome wat elkeen moet hê, al moet jy harder as ander werk en meer bid om die drome waar te maak.

Is mense vriendelik met jou?

Geen mens was nog ooit lelik met my nie, behalwe toe die seuns op skool my gespot het. Party mense het my aangekyk toe ek kleiner was en dan het my ma my geleer dat ek moet glimlag en groet. My ma sê altyd mense is vriendeliker met my as ek met hulle.

Ek kan nie anders nie, ek is baie gereserveer. Miskien is dit omdat my ma ons grootgemaak dat ons nie moet probeer om al die aandag te kry nie. Ons is nie meer of minder spesiaal as ander mense nie.

Wat maak jou bly?

Wanneer ek drama doen, is ek op my gelukkigste. Ek neem al meer as 20 jaar lank dramaklasse. Of dit op die verhoog of televisie is of net repeteer, dis vir my heerlik. Ek word iemand anders en dan kan ek sê en doen wat ek nie sal as ek ek is nie. Ek geniet dit om my woorde te leer en dit reg te kry om saam met wonderlike mense toneel te speel. Dis die heel lekkerste ding in my lewe.

Shéri saam met haar stiefpa, Sam du Plessis, en haar twee sussies Suzette en Marisa en ook Josua, Marisa se seuntjie

Wat maak jou hartseer?

Wanneer mense lelik is met ander mense.

Ek het in jou boek gelees hoe trots dit jou maak as jy iets self doen – soos op reis is en heeltemal onafhanklik is. Vertel my van jou lekkerste reis. En die snaaksste ding wat al gebeur het op so ’n reis. Of dalk iets wat jou bang gemaak het?

Dis die lekkerste wanneer my ma by die huis bly en ek alleen vlieg na plekke in Suid-Afrika toe. Dis lekker omdat ek presies weet wat om te doen. Selfs wanneer die vliegtuie vertraag is, het ek geleer om dit te hanteer. Eers was dit vir my baie sleg, want ek hou daarvan om my lewe te beplan.

Oorsee is die lekkerste dat ek en my ma soos vriende is. Ons koffie by Starbucks is ons geselstyd. Ons toer deur Israel was die hoogtepunt van al ons reise, alhoewel Indië en die Taj Mahal ook wonderlik was. My twee besoeke aan die Verenigde Nasies se kantore in New York en Genève vas vir seker ook vir my ongelooflike hoogtepunte, veral omdat ek vir die lede van die Verenigde Nasies kon vra om meer te doen vir gestremde mense in veral die armer lande.

Vertel my van jou gesin en jou vriende.

My sussie Marisa bly in Londen saam met haar man en twee kinders, Josua (3) en Mia Shéri (7 maande). Ons het soos ’n tweeling grootgeword. My sussie het haar dogtertjie na my ook vernoem. Hoe cool is dit nou?

My klein sussie, Suzette, en Jaco bly in Johannesburg en sy terg my altyd. Sy is baie soos my pa. Sy lag altyd en huil net so maklik.

Ek het ’n vriendin Sumarie wat getroud is, met ’n dogtertjie. Ek het vir die baba kleertjies oorsee gekoop. My ander twee vriendinne is Riana en Lanel. Hulle maak altyd tyd vir my.

  • Foto's verskaf

  • 10

Kommentaar

  • Maretha Maartens

    Jy is 'n onvergeetlike inspirasie, Shéri. Mag jou boek nog verder reis as jy. Ons is trots op jou!

    • Susette Brynard

      Dakie liewe Maretha.
      Sonder jou insette sou die boek nooit die lig gesien het nie. Jou onselfsugtige liefde en verhouding met die Here is vir my 'n voorbeld. Ek wens ek kan soos jy wees.
      Ek het regtig in jou 'n rolmodel gevind, sonder oordeel, sonder pretensies, met suiwer liefde vir jou naaste en jou Skepper.

    • Susette Brynard

      Baie dankie vir die mooi woorde aan 'n jong vrou met Downsindroom. Ons waardeer dit opreg.
      Groete
      Susette

  • Erica Ferreira

    Jy is 'n ster, Shéri. Mag jy nog baie mense se lewens aanraak met jou eie kosbare lewensverhaal en 'n verskil maak oral waar jy gaan.

    • Susette Brynard

      Baie dankie Erica
      Ons gebed is dat haar lewe betekenisvol sal wees. Daar is daaglikse uitdagings maar meeste van ons het daagliks uitdagings.
      Vriendelike groete
      Susette

  • Dankie Shéri! Jy help my om ons eie liefste kleindogtertjie met Downssindroom net nog liewer te kry!

  • Barend van der Merwe

    Dankie. Ek sal maar moet begroot en hierdie boek aanskaf! Ek kon ook darem al na haar luister in die jare toe ek nog self 'n Bloemfonteiner was, en het waardering vir wat sy doen vir haar medemense.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top