Sewes

  • 2

Seabelo Senatla, Werner Kok, Kwagga Smith en Cecil Afrika (Foto: Twitter)

Vandag is ek nie lus om oor die Springbokke te skryf nie. Maar dalk moet ek. Ek skryf hier na afloop van die laaste toets van die jaar, teen Wallis, wat ons manne met 22 teen 24 verloor het. Maar insiggewend ook nadat die seweskode se Blitsbokke dieselfde naweek die eerste toernooi van die jaar in Dubai gewen het. Die vraag is wat die verskil maak tussen die lamlendige vertoning van die Springbokke hierdie jaar, en die Blitsbokke wat in die seweskode speel.

Kom ons begin sommer met die olifant in die kamer: rassekwotas. Hier is die persentasie swart spelers in die onderskeie spanne wat in die laaste naweek van die internasionale seisoen gespeel het:

Springbokke: 9 uit 23, wat 39% swart spelers is.

Blitsbokke: 6 uit 12, wat 50% swart spelers is.

Dit sou dus nie help om rassekwotas vir die Springbokke se treurmare te blameer nie. Trouens, daar kan selfs ’n saak uitgemaak word dat daar meer swart spelers behoort te wees. Dink maar aan die volgende name in die vyftienmankode wat volgens geharde voorstanders van meriete soos ek aanbeveel word, en nie tot hulle reg kom nie: Rudi Paige, Lukhanyo Am en Warrick Gelant. En moenie vergeet van Siya Kolisi nie, wat tog sekerlik die nuwe kaptein moes gewees het nadat die vorige kaptein, Warren Whiteley, beseer is? In sy kort tydjie in die rol by die WP en die Stormers, was hy ’n inspirerende kaptein.

Dan is daar nog ’n rasse-olifant in die kamer: die afrigter. Alister Coetzee is swart, en Neil Powell is wit. Maar die wit afrigter kies meer swart spelers as die swart afrigter. Soos die Engelsman sê: Go figure.  

Ek kan nie help om te glo dat Neil Powell in sy lewe nog nooit ’n sewesspan met rassekwotas in sy agterkop gekies het nie. Hy het gewoon die beste span vir elke wedstryd of toernooi gekies. Daar is in ieder geval geen twyfel nie: Die stergehalte van hierdie span is sy swart spelers.

Kom ons begin sommer by Seabelo Senatla. Senatla is nou 24 jaar oud, en hy is reeds die rekordhouer vir die meeste drieë deur ’n Suid-Afrikaner in die kode. Nie net dit nie: Hy word telkens op grond van die sogenaamde “performance tracker” se statistiek uitgewys as die speler wat die beste in enige toernooi vertoon op grond van sy lakwerk, meters met die bal gevorder en suksesvolle uitgeë. Cecil Afrika weer is een van die ouer lede in die span, en nie net jaar na jaar een van die groot plannemakers op die veld nie, maar is alreeds by geleentheid as Internasionale Sewesspeler van die jaar aangewys. Toe Senatla verlede seisoen afgestaan is om verpligtinge in die vyftienmankode na te kom, het Rosco Spekman en Justin Geduld met verbysterende vaardigheid en spoed in sy skoene as sterre in die sterbelaaide span getree.

Wat wel opvallend is, is dat die sewesgroep meer ondervinding het as die vyftienmangroep, maar met ’n myl. En daar lê dalk deel van die antwoord: Die sewesgroep is met konsekwente bestuur geseën. In die laaste 13 jaar het die span net twee afrigters gehad, waarvan Paul Treu die eerste was oor ’n tydperk van nege jaar. En die huidige afrigter, Neil Powell het by hom oorgeneem en voortgebou op sy tradisie. Nie net dit nie: Die span hou by sy patroon en sy tradisie. Dink hier maar aan die All Blacks met Graham Henry en nou Steve Hansen.

Wat is daardie tradisie van ons Blitsbokke? Die SA Sewesspan het tradisioneel sekere sterk punte en kenmerke. Een ding wat uitstaan is dat spelers nog nooit op grond van hulle grootte en krag alleen gekies is nie – ten spyte van die feit dat hulle grootste teenstanders, die Fiji-span, die All Blacks en Engeland, feitlik deurgaans vinnige spelers kies wat groter en sterker as die Blitsbokke is. Wat die Blitsbokke onderskei, is hulle absolute balvaardigheid, en natuurlik, rou spoed. Daarmee propageer ek geensins die beginsel dat ons net vir rou spoed ’n Springbokspan moet kies nie. Maar eerder dat die sewes vir my smaak meer suksesvol is omdat hulle ’n spelpatroon kies wat vir SA spelers werk, en dan konsekwent fokus en konsentreer om die span daarvolgens af te rig. En die Blitsbokke draai een mite vir goed nek-om: En dit is die idee dat Suid-Afrikaanse spanne nie hardlooprugby kan speel nie. Behalwe dalk die Fijiane, is daar nie nog ’n span wat die bal met soveel vaardigheid en vertroue rondgooi nie. En met die absolute oortuiging speel dat hulle eenvoudig enige oomblik ’n drie gaan druk. Miskien maak dit die grootste verskil.

En nog ’n ding: Ongeag grootte, die sewesspan wys ’n goed-afgerigte speler kan enige teenstander grond toe bring – maak nie saak hoe groot en vinnig nie – as hy net behoorlik afgerig is om dit te doen. Seabelo Senatla is een van die kleinste spelers in enige wedstryd waarin hy speel, net soos Cecil Afrika, Rosco Spekman en Justin Geduld. Maar hulle trek die grootste teenstanders keer op keer neer. Dieselfde geld die wen van omgekeerde besit. Die Blitsbokke slaag konsekwent daarin om omgekeerde besit te wen, omdat hulle afgerig is om dit te doen.  Hulle fokus daarop om ’n paar noodsaaklike tegnieke, onder meer om die baldraer op te hou en sodoende ’n losgemaal en ’n skrum in hulle guns af te dwing, en ook hoe om die teenstanders se bal op die grond vas te hou en ’n strafskop af te dwing.

Nog ’n ding: Ek glo nie hulle sou enige van hierdie dinge kon doen as hulle nie waarskynlik die heel fiksste span in die kompetisie was nie.  

Nog iets wat mens heelwat oor die span se etos in hierdie verband vertel, is dat wanneer Neil Powell (wat ten spyte van sy naam so Afrikaans soos koeksisters is) rustyd spanpraatjie hou, praat hy net Afrikaans. En sy Xhosa-, Engels- en Sothosprekende spanlede luister aandagtig. Hoe dit werk, weet ek nie. Tim Agaba, sedert verlede jaar ’n taamlik gereelde lid van die span, is ’n Ugandees van Kampala en later die Oos-Kaap. Of hy die woorde verstaan wat Powell gebruik weet ek nie, maar die boodskap kom oor. Gaan op die veld, gee alles wat jy het en geniet elke sekonde. Dit verstaan hy en sy spanmaats duidelik. In enige taal.

  • 2

Kommentaar

  • Chrisna Botha

    Meer kan ek nie saamstem nie! Die Sewes is daar vir mekaar - ongeag kleur, waar hulle bly of hoe hulle bid. En moet NOOIT Neil Powell se bydrae mis nie. Hy is 'n grote!

  • Johan schamrel

    Die verskil in afrigtingstyl speel 'n enorme rol. By die 7's speel elke speler, binne ’n wedstrydplan, maar tot hul eie potensiaal. In die 15-brigade speel hul ook binne 'n sogenaamde wedstrydplan, maar die groot verskil is hier speel hul tot die afrigters se potensiaal. Vir die 15's kan hul enige speler kies, want die afrigter dikteer sy/hul plan. Kyk bv na enige wedstryd, die speler in die eerste ontvangposisie is 'n voorry of slot baie minder die nommer 10. So voorspelbaar en so kan mens voortgaan. Nul spelskeppers. Ens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top