Sewe lesse wat #PennySparrow my leer

  • 45

2016 het afgeskop soos ’n wilde perd wat bloots gery word, met #PennySparrow en #RacismMustFall in Suid-Afrika, #Y’alQaida en #VanillaISIS in Amerika en seksuele aanvalle op vroue deur georganiseerde groepe mans in Duitsland. Die gemene deler in al hierdie voorbeelde is dat ras die pot laat oorkook het.

Die KwaZulu-Natalse eiendomsagent, en haar skynbare oorbluftheid oor die wyse waarop haar Facebook-pos mense verkeerd opgevryf het, asook die absolute toondoofheid wat sy openbaar, het beslis in Suid-Afrika ’n heel nuwe gesprek oor ras begin, en nie altyd op ’n positiewe manier nie.

Hier is die lesse wat ek uit die voortslepende debakel leer:

1. Rasseoordeel is gendered.

Penny Sparrow is nie die enigste persoon wat die afgelope ruk rassistiese stellings op sosiale media gemaak het nie. Sy’s nie eens die enigste een wat oor swart gebruikers op strande gal afgegaan het, of swart mense met diere vergelyk het nie. Sy is egter die enigste persoon wie se telefoonnommers, huisadres, identiteitsnommer, werksbesonderhede en meer bekend gemaak is met ’n blanko uitnodiging vir mense om haar te kontak en te intimideer – ’n uitnodiging wat met soveel entoesiasme opgeneem is dat sy en haar dogter polisiebeskerming moes aanvra. Die dogter, wie, sover ek kon agterkom, nie self enige stellings op sosiale media gemaak het nie, en ook nie by haar bly nie, se besonderhede is ook gepubliseer.

 Die ander wat hulle rasse-oordeel uitgeblaker het, was oorweldigend mans. Die openbare reaksie teenoor hulle was nie naastenby so fel nie.

Dit laat die vraag: Is die ou dubbele standaard waar mans heelwat meer vergewe word as vroue, nog steeds aan die werk? Was Penny Sparrow geteiken soveel omdat sy ’n vrou is as wat sy rassistiese uitlatings maak? Is vroue nog steeds makliker teikens as mans, en is dit die rede vir die hatigheid?

2. Dié wat die felste oordeel uitspreek oor rassisme, se eie rassistiese onderrokke begin na ’n rukkie uitsteek.

Die taalgebruik, en die haat wat oorgekook het, het dit duidelik gemaak dat diegene wat Penny Sparrow die felste oordeel, gerus maar hand in eie boesem kan steek en hulle eie rassisme en seksisme moet ondersoek. Dreigemente om al wat wit is dood te maak, het begin kop uitsteek. Een persoon het selfs ’n foto geplaas waar hy met ’n vuurwapen staan, gereed om eiehandig die land van wittes te reinig.

Aan die ander kant van die spektrum was dié persone wat probeer om ’n intelligente, gelykmatige ontleding van die situasie te doen. Jy hoef egter nie ver te lees om agter te kom dat daar basiese aannames oor die meerderwaardigheid van een groep, of die inherente minderwaardigheid van ’n ander groep, voorveronderstel word nie.

3. Sosiale media het ’n “Here be trolls”-waarskuwingsteken nodig.

Soos die armes sal die trolls altyd met ons wees. Dis ’n feit soos ’n koei. Die manier waarop die troll mob-mentaliteit egter aangesteek het in hierdie geval, was skrikwekkend, iets soortgelyk aan ’n mediese epidemie met geen beskikbare teenmiddel nie.

4. Wit rassiste word vinniger en feller veroordeel as rassiste van ander kleure.

Rassisme is rassisme is rassisme is verkeerd. Dit behoort voor die hand liggend te wees. Maar as ’n swart man belowe om wittes uit te roei, is daar dié wat hom cheer en dié wat stilbly. As ’n wit man belowe om swart mense uit te roei, is die hel los en word daar siviele aksies, kriminele klagte, politieke druk en veel meer ingespan vinniger as wat jy “Orania” kan sê.

5. Intelligensie en logika is omgekeerd eweredig aan die graad van vooroordeel wat mense openbaar.

Rassiste sukkel met spelling en basiese sinskonstruksie. Beteken dit rassiste is subintelligent? Of is hulle bloot so haastig om hulle vitrioel te deel dat spellcheck by die venster uitgegooi word? Ek weet nie, en ek moet bieg dat ek nie regtig omgee nie. Rassiste kan nie spel nie, en wat hulle probeer oordra is in elk geval nie die energie werd om hulle woorde te probeer ontsyfer nie.

Rassiste sukkel met basiese logika. Een Facebook-pos wat my letterlik sprakeloos gelaat het, beweer dat daar minder rassisme tydens apartheid was. Penny Sparrow het haar Facebook-pos probeer verdedig deur te kenne te gee dat apies oulik is, en sy’s ’n diereliefhebber – skynbaar onbewus van hoe ver haar rassistiese onderrok uithang.

6. Rassisme, wit bevoorregting en magtelose swart woede is oral.

Drie keer in die afgelope twee dae het ek gesien hoedat ’n wit persoon ’n tou ignoreer, na die voorpunt stap en indruk by ’n konsultant wat besig is met ’n swart kliënt, want hulle kan nie wag nie. Die onderliggende boodskap is duidelik dat hulle tyd en hulle sake belangriker as enigiemand anders s’n is, en dit word gedoen met die outomatiese aanname dat dit in orde is om inbreuk te maak op ander se ruimte. Die woede wat in elke geval deur die res van die tou gegaan het, was tasbaar. Maar niemand het iets teenoor die wit persoon gesê nie.

Daai magteloosheid verklaar dalk hoekom dit makliker is om iemand oor die internet of telefonies aan te val, want daar is nie aangesig-tot-aangesig-interaksie nie.

7. Ek is siek en der dagen sat vir rassisme.

Ek kan nie begín om te verduidelik hoe siek ek daarvoor is nie. Ek is moeg daarvoor om die heeltyd te moet hoor van wit mense dat hulle so skuldig voel en wroeg oor die voordele wat hulle wit velle bring (nie dat hulle sleg genoeg voel om afstand te doen van daai voordele nie).

Ek is moeg daarvoor om te hoor hoedat swart mense dink die lewe skuld hulle iets omdat hulle lank swaar gekry het en gebuk gegaan het onder apartheid.

Ek is moeg daarvoor dat mense nie bereid is om mekaar die voordeel van die twyfel te gee en te probeer om eerlik met mekaar in gesprek te gaan nie. Was dit Rumi wat gesê het: “Out beyond rightdoing and wrongdoing is a field. Let’s meet each other there”? Hoekom is dit so moeilik?

Ek is moeg daarvoor dat mens jou nie kan draai in hierdie land sonder dat iemand jou moet herinner aan jou kleur nie. Want dis mos nie moontlik om net mens te wees in Suid-Afrika nie; jy’t ’n rassequalifier nodig sodat almal presies weet in watter boksie jy tuishoort.

En dít maak my gatvol.

  • 45

Kommentaar

  • Florence Taljaard

    Dankie. Ek voel net so. Rassisme is so agter die tyd. 'n Mens is 'n mens, is 'n mens! Nie 'n ras of 'n kleur nie.

  • Goed opgesom. Bettina, behou die sin vir humor tot aan die end. Dis immers die een ding waarvan die meeste SAfrikaners het!

  • Wit- OF swartmense wat indruk is pleinweg onopgevoed en ongeskik. Toevallig het ek twee voorvalle beleef waar swartmense eenvoudig die feit dat EK as kliënt, bedien word, geïgnoreer, en diens vereis. Op een dag! Laat my moermeter kook.

  • Hannes Visser

    Uitstekende stuk Bettina. Ons moet almal eers by daardie punt kom voordat ons iewers kan probeer om 'n verskil te maak.

  • Annette le Grange

    Ek wens elke mens in Suid-Afrika, sommer elke mens in die hele wêreld kan die openhartige opsomming van jou te lese kry, dit sommer met 'n magneet teen die yskas hang en dit ELKE dag lees. Dankie Bettina, jou opsomming is al so lank my gevoelentheid, is net nie so belese om dit so mooi te kan verwoord nie. DANKIE.

  • Dirk Pansegrouw

    My slimfoon ('n absurde term!) wys slegs 4 reaksies, ek glo daar is meer (en tussen nog hakies met die piepklein sleutelbord spel mens maklik verkeerd en netnou laat 'n klomp spelfoute my met 'n negatiewe klassifikasie - wie op sosiale media kan immers spel?) maar almal, dis nou die reaksies (mens verloor tred met lang sinne), is opvallend vroulik? Ek lees te min en is te oningelig om te weet wie jy is, Bettina, maar goeiste, jou kommentaar val goed op die oor en tref in baie opsigte die kol. Dankie vir jou eerlike, weldeurdagte perspektief. Rassisme is 'n afstandding. Wie eerlik 'n nuwe toekoms wil help bou, moet doelbewus, aktief en kreatief begin om afstande te oorbrug op alle lewensterreinne.

  • Bettina, ag ek het sommer ook lus om 'n eiertjie te lê - ek is 'n kunstenaar en hou baie van kleur. Ek wens ek kon met jou gesels (dit is seker arrogant van my) maar ek hou van jou.

  • Ek werk vir jare lank transkultureel. Ek het baie duidelik gesien dat rassisme net 'n simptoom is ('n vrug van 'n boom) waarvan die werklike wortel geestelike onvolwassenheid is. Dit is die werklike kanker wat nooit met blote politieke krete en wette opgelos sal word nie. Ek het dikwels gesien dat mense van alle rasse wat 'n werklike ingrypende geestelike verdieping ervaar het radikaal van hulle rassisme genees word.

  • Ek is jammer, ek glo glad nie dat jy 3 keer in 1 week gesien het hoe wit mense 'n tou ignoreer nie. Hoekom sien ek nooit sulke dinge? 'n Vriend het wel vertel van 'n swart man wat die tou wou spring en hy het homself verdedig deur te sê hierdie is nou die nuwe Suid-Afrika. Ek stem saam met heelwat wat jy sê maar jy oordryf ook om jou punt sterker te maak en dit bederf jou hele artikel.

  • Louis le Roux

    Is dit rassisties om polities nie korrek te wees nie? En wat het geword van Khumalo se haatspraak om blankes uit te roei soos die Duitsers met die Jode gemaak het? Niks! Al antwoord wat ons kry is "dit is sy persoonlike siening". Ek sal nie polities korrek wees om 'n klomp idiote tevrede te stel nie.

  • Carmen Henecke

    Puik samevatting Bettina! Ek is net so gatvol! Ek is eerstens 'n mens voor ras ter sprake kom. Baie is geneig om die splinter in 'n ander se oog te sien voor hulle die balk uit hul eie oog sal haal.

  • Ek ook gatvol vir al die nonsens. Ons het groter probleme om oor te worry soos droogte en water. Dis nou saamstaan en bou-tyd.

  • 1. Miskien, maar dan dan tot voordeel van die vroulike geslag: Niemand het hierdie soort vergryp van 'n vrou verwag nie; net mans is mos simpel genoeg.
    2. Daar gee ek jou gelyk. Die mate van onthutsheid (hoop daar's so 'n woord) toon 'n paternalisme wat in sigself rassisties is, so al asof die wat beledig sou word nie hulle eie man kan staan nie.
    3. Ek weet nie wat 'n troll is nie.
    4. Netso.
    5. Verkeerd. Die slegte spelling het niks met 'n rassistiese uitkyk te doen nie. Die meeste Afrikaanssprekendes se spelling en taalgebruik is uiters swak, kyk maar op Facebook, jou hare sal regop staan. Die indruk mag geskep word dat diegene wat dié aanvat wat rassistiese uitlatings maak die intelligenter groep verteenwoordig is omdat hulle juis die akademici is; dis sy job om onthuts te wees en blou moord te skreeu.
    6. Ek weet nie waar jy bly nie maar hier (Johannesburg) het ek dit nog nooit gesien nie. Trouens, ek het al meer as een keer die teenoorgestelde waargeneem.
    7. Jy kan nie wees nie omdat daar streng gesproke nie eintlik so iets is nie. Indien 'n persoon van velkleur x 'n aksie teen iemand van velkleur y het dan kry x die rassis-etiket, of andersom. Onmin tussen x en x of tussen y en y is in die haak maar tussen x en y is rassisme, dis mos absurd. Kyk byvoorbeeld na die Engelse se grappies oor die Iere, of die Hollanders s'n oor die Belge (en anders om) en g'n haan kraai daarna nie maar as hierdie volke van verskillende velkleur was, was die hel los soos jy sê.

    • 6. Gebeur gereeld. Het dit twee keer Saterdag by Carnival City ondervind. Veral met die ouer garde.

  • Esme De Andrade

    Toe ek die storie van die uitlatings gehoor het, was my reaksie alweer diesefde ou deuntjie oor kleur en rassisme, dit het skoon die genuus gemaak, soos dit vir my blyk is dit nog 'n manier om die aandag af te trek van sake wat regtig aandag moet kry, ek sal my nie eens daar oor uit laat nie. Die probleem is daar is gevoelens wat nooit reg uit gestryk is nie, en dis hoekom ons is waar ons is vandag. Mense moet leer om sake uit te sorteer op 'n respektabele manier in plaas van rassistiese manier. Ek is 'n mens en nie 'n kleur nie.

  • Goeie opsomming, sou dit nie beter kon stel nie. Wat ek al in my lewe agter gekom het wanneer 'n persoon aanjaag, gefrustreerd, onvergenoegd en gewoonweg sleg is blameer hy/sy omstandighede "buite hul beheer" vir die situasie waarin hul hulself bevind. Ek praat van eie ondervinding. Ek het agv 'n keuse wat ek gemaak het my laat "mislei" deur negatiewe, pessimistiese en swartgallige omgang met mense. Ek het die besluit gemaak om van die mense in my lewe ontslae van te raak. Solank daar mense op die aardbol rondloop sal daar rasseverskille wees. Die probleem kom in wanneer die verskillende rasse "gedwing" word om te "integreer". As jy dit nie wil doen nie, word jy as rassis gebrandmerk. Ongelukkig is daar mense van alle bevolkingsgroepe wat hul skuldig maak aan haatspraak. Ongelukkig sal ons as wittes maar die pak moet vat vir die dade van die verlede. Ons sal ook maar die pak moet vat omdat ons velle wit is.

  • Ander JanRap.

    Ek is wit en stem vir die ANC. Ek beskou myself as ń brugbouer en ervaar geen rassehaat teenoor ander landsburgers of teen myself nie. RSA bo.

    • Jy konstateer die ooglopende; ek glo nie enigiemand wat hier skryf/kommentaar lewer haat enige ander ras nie (en rassehaat teenoor jouself is ... wel ... onmoontlik). Die feit dat jy wit is en ANC stem is baie interessant. Ek sal graag wil weet hoe voel jy oor die agteruitgang van Afrikaans (in die skole, howe, openbare sektor, universiteite ens). Ook oor hoe jy voel oor die rou riool wat in die riviere gestort word en sommer oor die algemeen oor die agteruitgang van die infrastruktuur en die tuimelende rand.

  • Het iemand al ooit gevra hoekom die raskwessie in Suid-Afrika bly gloei. Een rede wat ek dink is die feit dat die proses forseer word. Dink aan ’n tamatie as jy hom druk word hy eerder vrot as ryp. Respek is die ander aspek. Respek is iets wat jy moet verdien in die samelewing en is ’n swaard wat twee kante toe sny. Jy kan nie verwag om gerespekteer te word nie as jy nie respek betoon nie. Hieroor kan ons ’n boek skryf. As jy op ’n Sondagmiddag in ’n woongebied jou motor se deure oopgooi en jy speel musiek wat twee strate verder siele laat vergaan, hoe kan jy respek van jou mede-inwoners verwag? Ek wil nie eens met voorbeelde begin nie. Dit het geen end nie. Die volgende aspek is die regering wil die raskwessie lewendig hou, want hy skryf wette wat dit aanblaas. As jy ’n wond wil genees bevoordeel jy nie die plek rondom dit nie, jy behandel die wond sonder om die plek rondom dit te beskadig. Bedoelende jy kan nie een benadeel deur die ander te bevoordeel nie. Kortom gesê, jy behandel almal gelyk maw die beste man speel die spel.

    • @ Jan Grobler. Daar is 'n hele aantal aspekte. Die politieke partye moet hulle mislukkings vergoeilik en daarom is alle mislukkings apartheid se skuld. In hierdie verkiesingsjaar gaan die rassekaart baie gespeel word wat eintlik 'n refleksie is van onmag. Dan is daar te min mense van alle rasse wat werklik pogings aanwend om na mekaar uit te reik. Voorbeeld: Ek het net 'n bietjie Zoeloe geleer en as ek 'n pompjoggie vriendelik in Zoeloe groet en belangstellend uitvra na sy huis en gesin en waar hy woon, sien jy groot glimlagte en mense wat agteroorbuig om flinker diens te lewer. By een plek waar ek gereeld kom word ek met glimlagte ingewag en vriendelik gegroet en gevra hoe gaan dit met my, nog voor ek iets kwytgeraak het, en doen van hulle moeite om my in Afrikaans aan te spreek deur te groet met: "Totsiens, lekker dag verder ..." waarop ek reageer met “Ngiyabonga Baba, sobonana futi. Sala kahle.” Respek en vriendelikheid wek respek en vriendelikheid.

  • Baie van dit wat jy aanraak is waar maar die ding oor die ry - ek het die teenoorgestelde beleef en dit was 'n swart vrou wat die swart man aangevat het - tot so 'n mate dat hy teenoor my man opgemerk het toe hy agter hom inval "that woman is dangerous".

  • Stephnie Crouse

    Dankie vir die perspektief. Ek is tot die dood toe van rassisme, regstellende aksie, verskonings, blamering en "entitlement". Ongelukkig het bykans elke ANC-spreker eerder oor rassisme gepraat en meer olie op die vuur gegooi as wat hulle konkrete planne op die tafel gesit het. Blade Nzimande kan groot moeilikheid v studente verwag binne die vlg maand. Tog "fuel" hy eerder nog meer rassisme. Julius gaan kuier vir die koning in die tronk. Hy sê daarna dat "royal blood" spesiale tronkstraf vereis ... hy vergeet dat ons almal voor God net mense is. By God tel bloedlyne of kleur nie. Hy lief ons almal. Die dag wat ons gereken word as net SA inwoners ... daardie dag is ons eers vry.

  • Hier in die buiteland waar ek werk is almal net mense. Die land is so gemeng soos kots in 'n tumble dryer, maar almal werk saam, kuier saam, swem saam, koop saam en dies meer. Ek het nou nie die wêreld se kennis nie, maar dit wil vir my voorkom asof rassisme net 'n wesenlike probleem in Suid-Afrika en Amerika is.

  • Ek dink meeste van die rassistiese poste, hetsy deur wie, is doelbewuste aksies deur politieke partye om die massas se gemoedere op te jaag. En hulle kry dit reg. Penny kry "polisiebeskerming" ? En die staatsman met sy Hitler-propaganda gaan "aangespreek" word, die spreekwoordelike goue handdruk kry en die ANC lyk weer goed en regverdig in die ondersteuners se oë?

  • Joan Fulton, snaaks, maar ek het ook al gewonder of hierdie storm oor Jenny Sparrow maar nie net 'n verkiesingsfoefie is nie. Diesulke aanmerkings word daagliks op sosiale media gemaak, maar nooit voorheen is daar opgetree nie. Verdermeer, dit is interessant dat net wit-rassisme deur die ANC aan die kaak gestel word, maar nie die daaglikse swart-rassisme nie. Gaan kyk op The Sowetan se blad as iemand my nie wil glo nie. Ons gaan sien hoe die ANC wetgewing nou gaan deurdruk om 'rassisme' te onderdruk, maar eintlik gaan keer dat mense die ANC kritiseer.

    In iedergeval, mooi artikel, Bettina. Knap gedaan!

  • StopTheMadness

    Dankie vir ’n eerlike perspektief Bettina. Die realiteit is dat rassisme nie ’n eenvoudige konsep is wat in isolasie gedefinieer kan word nie maar liewer ’n begrip wat dinge insluit soos meerderwaardigheid, paternalisme asook minderwaardigheid en prestasie, of die tekort daaraan. Ek stem volkome saam met Flip Buys rakende sy siening dat rassisme ’n manifestering van geestelike onvolwassenheid is. Is dit nie ook toevallig hoe gereeld rassistiese klanke opklink uit die kele van onderpresteerders nie? Ongelukkig bly rassisme ’n werklikheid en het ons ’n owerheid nodig wat die saak met omsigtigheid hanteer in plaas daarvan om dit aan te blaas. Ons is mos ’n nie-rassige samelewing ... nie waar nie? Nie-rassig met ’n Black Management Forum, Black Lawyers Association, Black Editors Forum. Hoe nie-rassig is ons regtig as die regering aan diesulke organisasies erkenning gee en hulle arbeidsbeleid dryf deur regstellende aksie wat op sy beurt weer op ras gegrond is? Veralgemenings is nog ’n kanker wat uitgeroei moet word, een wit vrou wat voor in die tou indruk beteken nie alle wit vroue sien hulleself as meerderwaardig nie. In my onmiddellike omgewing is alledaagse rasseverhoudinge goed, eintlik vriendskaplik, en dit moet gekoester word. Geïsoleerde insidente soos Sparrow-gate vertroebel die belofte van samewerking. Stop The Madness!

  • StopTheMadness

    Die probleem hier is baie keer nie rassisme nie maar die beheptheid daarmee. Neem Chris Hart as voorbeeld.

  • Mooi opgesom. Kom ons werk daaraan. 'n Nederige houding teenoor mekaar sal baie doen om dinge te verbeter. Begin met net een persoon. Kom ons sien mekaar as mede Suid-Afrikaners met 'n groot verantwoordelikheid om saam nasie te bou. Geen regering gaan dit regkry nie. Ons kan as ons wil. Sterkte!

  • Ek het altyd baie van geskiedenis op skool gehou. Dit gee perspektief. Weet julle waar was ons net so rukkie gelede? Ek het die stukkie iewers op 'n historikus se blad gesien: "Despite its hundreds of bathrooms, one of Versailles’ marks of luxury was that the staff removed human faeces from the hallways regularly, sometimes as often as twice a day, and always more than once a week. We cannot make an accurate movie of this – it will please no one."

  • Rassisme van watter aard ook al is net so 'previous millennium'. Ons is almal mense en as ons nie nou baie vinnig ons nonsens los en saamstaan om ons land en ons planeet van ondergang te red nie, is ons almal in ons dinges!

  • @Jan Grobler. Jy slaan die spyker op die kop.
    Die forseerstorie is 'n onding; dit is al of dit klem lê op 'n ONversoenbaarheid want daar is alewig vanuit alle oorde en vir jare al oproepe tot versoening. Ook impliseer oproepe tot versoening 'n heersende vyandskap wat daar eintlik nooit was nie. Die ironie is dat hierdie oproepe tot versoening, al is dit hoe goed bedoel, die teenoorgestelde effek het; dit bring verbittering en vyandskap mee.
    Dit laat my dink aan die ma wat haar kindertjies alleen by die huis gelos het elke keer as sy gaan inkopies doen. Een aand lees sy hoe gevaarlik dit is as kinders boontjies in hulle neuse druk en met haar volgende inkopieslag, met die wegstap, sê sy "en julle moenie boontjies in julle neuse druk nie." Toe sy terugkom, staan al daai kinders se neuse net sulke knoppe van al die boontjies wat hulle daarin gedruk het.
    Nie 'n goeie analoog nie ek stem maar hierdie gedurige oproepe tot handevat en versoening is 'n gekrap waar dit nie jeuk nie.

  • Elke mens op deeske aardbol is 'n rassis, want die lewe, die mens, is die produk van evolusie. Darwin het dit jare gelde al vir ons bewys met sy Galopogos-eilande se vinke. Met skeiding kom verwydering tot so 'n mate dat nuwe spesies wat niks met mekaar te make wil hê nie, gevorm word.
    As iemand vir my sê hy's nie 'n rassis nie, sê ek vir hom hy lieg.
    Ek is 'n rassis en moenie vir my kom vertel dis daarom dat ek spelvoute maak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top