Vraag vir Chris en Cornelius oor oa die wederkoms en vallende sterre

  • 12

Die groot klip wat verlede week so ra-rakelings by ons planeet verbygeskuur het en die chaos wat gevolg het met die meteoor oor Rusland dieselfde aand, maak ’n mens ietwat bekommerd. Selfs NASA het aangekondig dat hulle die opsporingsprogram vir “NEO’s” gaan opgradeer.

Bybelse agtergrond: Mark  Twain het geskryf: “It ain’t those parts of the Bible that I can’t understand that bother me, it is the parts that I do understand.”

’n Goeie voorbeeld is ongetwyfeld Matheus 24: 29 — 31 waar Christus tydens die bergrede bekend gemaak het dat kort na die verdrukking van daardie tyd, die sterre uit die hemel sal val en dat al die volke van die aarde die Seun van die mens op die wolke van die hemel sal sien kom. In hierdie oënskynlike duidelike tekse is daar vir my egter ’n hele paar verskuilde kwelvrae wat ook vir Mark Twain sou ‘bother’.

Die Bybel maak slegs van die volgende hemelliggame melding, nl die aarde, die son die maan en die sterre. Daar word nêrens in die Bybel na planete of hulle satelliete, of na komete, asteroïdes en ander tipes voorwerpe verwys nie omdat die outeurs van die Bybel eenvoudig onbewus was van die bestaan van sodanige voorwerpe. Selfs die vyf planete wat met die blote oog sigbaar was is as wandelende sterre beskou en daar word ook iewers na Venus as die môrester verwys. Dan was daar mos ook die ster van Bethlehem ( Mat 2: 1 — 16) . Net sterre, sterre en sterre? 

Om terug te kom na Mat 24: 29 — 31:

Eerste probleem: Waarna sou verwys word as “na die verdrukking van daardie tyd” ? Die holocaust, toe daar na bewering meer as 6 miljoen van God se uitverkore volk deur die Nazi’s vermoor is, sou seker hiervoor kon kwalifiseer, alhoewel dit vir my voorkom of die verdrukking nog voorlê want daar het nog nie sterre daarna geval nie.

Tweede probleem: Kyk, as daar nou één was wat veronderstel was om te weet hoe groot en hoe ver die sterre is, dan moes dit mos darem seker Christus gewees het. Hy sou dus ook moes weet dat die sandkorreltjies en klippies wat in die aarde se atmosfeer uitbrand en sulke mooi helder ligstrepe maak, nie regtig vallende sterre is nie. Nou ek kan half en half glo dat die aarde dalk op ’n ster kan val maar daar is wragtig mos nie plek vir ’n ster om op die aarde te kom lê!

Derde probleem:. Die gevallery van die sterre gaan waarskynlik ’n lang uitgerekte storie afgee want as die naaste ster Proxima nou vandag begin val en sê maar dit val teen die spoed van lig, sal dit nog 4.24 jaar vat voor dit ons in ons moer in val. En as ons dit, genadiglik weens bonatuurlike ingryping, oorleef, sal ons 46 dae later weer moet koes vir die volgende twee, Alfa Centauri A en B, en net so onder twee jaar later weer vir die ster Barnard. Maar Rigel wat bykans 1,7 miljard (een duisend sewe honderd miljoen) keer groter as die son is, wat op sy beurt weer 1,3 miljoen keer so groot as die aarde is, se val sal bykans ’n millennium (777jr) lank duur, voor dit iewers ’n lêplek op die aarde gaan soek. En dan is daar nog volgens NASA-foto’s, selfs sterre so ver as 13 miljard ligjaar en verder. Gaan die spulletjie ooit ’n einde kry?

Vierde probleem: En wie is dié Seun van die mens, (soos daar in die teks na dié karakter verwys word) wat so op die wolke gaan ry”? Is dit iemand anders as die Seun van God? Eintlik wil ek weet of die ‘mens’ wat in die Bybel met ’n kleinletter geskryf is, ’n sinoniem is vir ‘God’ ?

Vyfde probleem: En hoe gaan almal dié verskynsel van die wederkoms op die wolke waarneem soos Christus voorsien? Die aarde is ’n sfeer en die menslike bevolking is rondom die aarde versprei en ons hier in Suid-Afrika kon bv nie eers die sonsverduistering verlede jaar oor die ooste van Australië en oor die Stille Oseaan sien nie?

’n Moontlikheid is natuurlik dat die ongeletterde Christus — hy was mos? — nie ’n benul gehad het van hoe groot en ver die sterre is nie en dat hy ook onder die indruk was dat die aarde plat was, soos destyds tog algemeen geglo is.

By voorbaat dankie vir julle toeligting.

Groetnis

Panda

  • 12

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Jy 'like', Trienie? Waarom lewer jy nie self getuienis nie? Dit sou ek baie kon waardeer.

    Panda is een van die residensiële ateïste, as jy dit nog nie weet nie en hy het al baie kommentaar gelewer ens en hy bedoel dit glad nie goed met die Woord en die HERE, nie. Dit blyk ook uit sy keuse van respondente - Chris  die obsessiewe ateïs en Cornelius, die berugte spirituele leuenaar, wat bekend is vir talle dwaalleringe wat hy onder die HERE se Heilige Naam verkondig. Dit is dus duidelik dat Panda nie wil hê dat iemand met insig en kennis moet reageer, nie, want dit sal sy ondergrawende agenda glad nie pas, nie.

    Dit is dus te verstane dat hy as agnostikus nie weet wat daar in die Woord wat hom 'kwel', aangaan nie - maar jy is immers 'n gelowige met 'n persoonlike verhouding met die HERE, vir Wie Panda so graag wil diskrediteer met sy stukkie lis en jy wil oënskynlik op die kant sit en 'dophou'?.

    Die doel van Panda se vrae is om die Woord te probeer afkraak en die Persoon van die HERE Jesus Christus te verkleineer ... en jy 'like'?

    Jy laat ongelukkig die algemene indruk met jou uiters kriptiese reaksie, dat jy, ongeag dat jy 'n gelowige is, dit 'dophou' soos 'n teaterstuk waarin jy jou kan verlustig, dalk?

    Verstaan ek jou verkeerd? Sê asseblief as ek verkeerd is, want dalk bedoel jy dat jy weet die ateïs gaan op sy jis kry en jy hou dop dat dit gebeur ... of soiets.

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    Beste Panda,  

    Baie dankie vir jou vertroue in jou opskrif.  

    Ek jeuk al vir jare om die openbaringe van Bertha Dudde op die werf te deel.  

    Een van haar vele openbarings en visioene lees as volg:  

    Die nadering van `n ster:
    (Visioen ontvang op 3 Augustus 1955)  Open u hart wyd en maak uself ontvanklik vir My “Liefdestraal van bo” - Luister na wat EK vir u wil sê. `n Sekere teken van die aanstaande einde is die sigbaar word van `n ster wat homself in die rigting van die aarde beweeg en tog `n sonderlinge baan sal inslaan. Hy sal homself dikwels van u blik onttrek en dan weer plotseling tevoorskyn kom, want hy is deur ondeurdringbare newels omhul wat af en toe oplos, en wat homself dan steeds weer opnuut verdig. U mense beleef iets wat tot nog toe aan u onbekend was. Want die uitwerking van hierdie ster op die aarde is sodanig dat dit u bang om die hart sal maak. U sal bemerk dat die aarde wel eens ten offer kon val van die onbekende hemelliggaam, want hy veroorsaak aansienlike storings op die aarde wat egter vir u onverklaarbaar is. Daar is mense wat deur niks wat daar om hulle heen gebeur ontstel kan word nie, maar wat nou hulle rus verloor. Hulle voel asof hulleself en die hele aarde oorgelewer is aan natuurkragte wat hulle vrees, omdat hulle dit nie kan beheer nie. En terwille van hierdie mense is die “kragte van die Hemele” in beweging. Hierdie mense wil EK in die besonder aanspreek om te bereik sodat hulle hulleself aan die enige GOD en Skepper kan toevertrou, as hulle hulleself heeltemal magteloos voel. Wat deur mense veroorsaak word, beroer sulke mense nie, al is dit hoe verskriklik in sy uitwerking. Maar swak en hulpeloos word hulle as hulle hulleself oorgelewer voel aan die natuurgeweld. En dan is die moontlikheid dat hulle hulle toevlug tot HOM sal neem wie Meester en Skepper is van alle dinge. Dan eers is dit moontlik dat hulle die weg na My sal vind in hulle nood. En die skouspel van die natuur sal `n enorme beroering onder die mense veroorsaak en hulle angs sal ook nie ten onregte wees nie. Want sonderlinge verskynsels sal hierdie ster begelei en hy kom steeds nader aan die aarde. `n Botsing skyn onvermydelik te wees volgens die berekeninge van hulle wat die verskyning ontdek het, en wat sy verloop volg. Maar ook dit het EK u al lank tevore gesê, dat EK u `n “vyand uit die lug” sal stuur. Dit is `n natuurkatastrofe van die grootste moontlike omvang wat die definitiewe einde sal voorafgaan, dit is die totale omvorming van die aardoppervlak, wat u mense nog te wagte staan en tallose offers sal kos. En steeds weer wys EK u op hierdie aankondiging en My Woord is Waarheid en sal vervul word. Maar u moet voor die tyd al daarop gewys word, sodat u mense My wil en mag sal insien, omdat u moet weet dat niks kan geskied sonder My wil nie nie, want EK dink ook aan hulle wat nog heeltemal sonder geloof is, maar wie EK tog nie aan My teenstander wil verloor nie. Daarom moet u mense weet wat u te wagte staan, sodat u makliker tot geloof kan kom. Veral as u in u nood dink aan HOM, wie Meester is oor Hemel en aarde en oor alle hemelliggame en wêrelde - en aan WIE se wil alles onderwerp is. U moet vooraf reeds kennis daaroor ontvang, en dit kan u dan tot geloof help as u van goeie wil sou wees. Daar kom `n onheil oor u, maar dit kan vir elke wese tot seën wees as hy daardeur die lewe vir sy siel wen, selfs as dit liggaamlik die dood vir die mens sal beteken. Want die hoofsaak is dat hulle My in hulle nood sal aanroep. 

    (einde van aanhaling)  

    Panda, wat kon 'n huisvrou in 1955 reeds weet van die astrologie wat die mens eers onlangs begin spekuleer het - onthou, Zecharia Sitchen het lank na haar sy voorspellinge gemaak?

    Bertha Dudde se visioene kan hier gelees word: http://www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php?action=show&id=99  

    Dan is daar nog die UFOlogie ...  

    Dis als baie uitgebreide onderwerpe wat my nou reeds 'n leeftyd fassineer - balangrik daarby my beskeie mening dat ek ook nie als wat daarin aangebied word vir soetkoek opeet nie...  

    Ek kan jou wel help dat "sterre" en "wolke" in menige openbaring in antieke skrif skynbaar na vliegtuie en ruimtetuie verwys.  

    Ek is geheel in my hart oortuig dat die Ster van Bethlehem, Jesus Christus onse Skepper se astrale tuig is. Dit het Jesus Christus ook weer in 'n "wolk" kom haal.  

    Lees gerus onder meer die boek Esegiël en Openbaring in die Bybel. Hierdie spesifieke boeke sluit byvoorbeeld nou by die Vedas aan.  

    In my hart en katolieke belydenis glo ek Jesus Christus is GOD - ons Almagtige Lewende Skepper wat 'n regte mens geword het as deel van Sy liefde en genade vir ons mense.

    God openbaar ook in 'n menigte aansigte - nie net in die "drie hoofgode" van die Protestante nie. Ek hoop ek antwoord hiermee dan jou "vierde probleem" ook.  

    Panda, ek ken nie al die antwoorde nie  - hierdie is beslis ook maar my beste poging hier diep vanuit die bos.  

    Vra asseblief nog totdat ons rigting in hierdie uiters interresante onderwerp het...  

    Hindoe-, Moslem-, Joodse-, katolieke-, Boeddhistiese-, Boeregroete en Afrikaliefde,  

    Cornelius  

  • Chris Dippenaar

    Hello Panda

    Ek is nie heeltemal seker hoekom jy hierdie vrae/probleme aan my rig nie. Miskien het jy bedoel om dit aan Kobus te stel? Ek gaan in elk geval my opinie gee op die eerste probleem. Of dit gaan lei tot toeligting is natuurlik 'n ope vraag.

    Daar is redelike ooreenstemming dat Jesus (as daar 'n historiese figuur was, iets wat ek nie dink met enige sekerheid geweet kan word) 'n apokaliptiese profeet was, wie, in die tradisie van Judaïsme (soos gereflekteer in die geskrifte van die Qumran sekte), geglo het in 'n komende konflik tussen goed en kwaad. Hierdie konflik sou nie net beperk gewees het tot die aarde nie, maar sou ook plaasvind in die hemele. Hierdie stryd is gesien as iets met kosmiese proporsies en vandaar, dalk, die verwysing na vallende sterre. Ek dink dit sal verkeerd wees om hierdie beskrywing van Matteus letterlik op te neem en dit sal dalk beter wees om dit te sien as beeldspraak om die omvang van die apokalips te beklemtoon. Verder dink ek ook dat iets soos die verwoesting van Sodom en Gomorra met vuur dalk meer in lyn sal wees met wat Matteus in gedagte het. Hier kan mens dalk ook onthou dat vuur, as een van die vier elemente, geneig het na die hemel. Om sterre as vuur te sien was nie teenstrydig met die siening van antieke kosmologie. Gesien as 'n beskrywing van sterre volgens die kennis van die tyd, moet mens seker dan erken dat dit heelwat sin gemaak het.

    Dat hierdie beskrywing geplaas word in die mond van Jesus, maar wat as God van beter behoort te weet, is net 'n probleem as jy glo dat hierdie karakter bestaan (het). Hoeveel meer sin maak die Bybel nie as dit gelees word as 'n menslike teks en nie as die onfeilbare woord van 'n god nie? Wanneer hierdie apokalips/kosmiese konflik, soos gesien deur Jode en Christene van die antieke tydperk, geplaas word in 'n historiese konteks saam met die idees van Gnostisisme en Zoroastrisme maak dit nog meer sin as iets wat deur mense uitgedink is. Interessant in die gedeelte uit Matteus is vers 34:"Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie". Twee duisend jaar nadat "hierdie geslag" begrawe is sit baie Christene nog steeds geduldig en wag dat al hierdie dinge gebeur.

    Chris

  • Beste Panda, 

     Verskoon tog die anglisisme, maar ek bespeur ? yslike tong in jou kies. Ek wil jou skrywe graag beantwoord, maar my antwoord gaan nie vir jou nuus wees nie, want ek kan sommer sien dis waarop jy afstuur.
     
     Die Bybel is Christenmitologie; dus ? skepping van die menslike verbeelding. Binne die wêreld van die mitologie heers daar ander natuurwette as in die wêreld waarin ons ons bevind. Sterre kan op die aarde val, plante en diere kan praat, mense kan op water loop, op wolke ry, en babas kan maagdelik gebore word. In ? bekende gedig van D.J. Opperman kom daar kuddes vee uit die holtes van  ? boom te voorskyn, en in ? ander gedig gesels twee erdwurms met mekaar. Al jou probleme moet in die lig daarvan gesien word dat die Bybelverhale die skepping  van die menslike verbeelding is, maar tog raakpunte het met gebeure in ons wêreld, soos bv. die “verdrukking in daardie tyd”, wat verwys na die oorheersing van die Jode deur ? vreemde volk.
     Kwel jou dus nie oor wat in die Bybel staan nie, maar lees dit met ? oop gemoed, as jy dit lees. En glo my dis maar moeilik, want ons is almal onderhewig aan die skade wat eeueoue indoktrinasie aangerig het.
     
     Groete, 
     Angus
  • mj hauptfleisch

    Die mense wat hierdie stories vertel en skryf is pedofiele en 'n klomp NIERs.

    Veral die NGK-predikante is NIERs.

    (Wenk: Spreek NIER uit in Engels soos die Amerikaners wat dit opbreek in twee lettergrepe.)

    En ja, ek weet uit ondervinding (van die NGK-predikante.

    En hier is my vraag:

    Sal jy regtig hierdie klomp pedofiele en NIERs se stories glo?
    .
    .
    .
    ... het so gedink ...

  • Kobus de Klerk

    Nou sien, die kletterende leë blik van 'n Hauptfleisch-karakter is die tipe wat getrek word na 'n bespreking van dinge Gods tussen agnostici. Wys jou, brommers kan maar net nie van bollie af wegbly, nie.

    Ag, mens kry julle so opreg jammer, net tragies dat julle self nie genoeg insig het  om julself nie ook daaroor jammer te kry, nie.

    Kobus de Klerk

  • Kobus is nou heeltemal van lotjie getik. Hy noem dinge Gods sommer bollie waarvan brommers nie kan wegbly nie. Dis mos laster, is dit nie?

  • Cornelius, Chris en Angus:
    Cornelius – Dankie, vir jou kommentaar en ook vir  die visioen van Bertha Dudde  wat jy gedeel het. Jou opmerking “. . . wat kon ’n huisvrou in 1955 reeds weet van die astrologie . . .” laat my nog kopkrap. Ek wil maar net terloops noem dat astrologie en astronomie so ver soos die Noord- en die Suidpool van mekaar verwyder is. Astronomie is ’n hoogs ontwikkelde wetenskap wat deur opgeleide wetenskaplikes/sterrekundiges  beoefen word terwyl astroloë hulle besig hou met voorspellings van toekomstige gebeure wat gebaseer word op o.a. die posisies van planete en die konstellasies van die sodiak en so ver dit my aangaan, slegs in die verbeeldingswêreld van sangomas en  sg. spiritueel begaafdes figureer. Ek het toevallig die boek van Sitchen ‘Twelfth Planet’ wat deur ’n vriend aan my geleen is, op sy versoek gelees omdat hy in my kommentaar belang gestel het. Nee, wat – ek hou maar wyd as dit by astrologie kom en ek is bly jy noem dit dat jy ook nie alles wat hulle voorhou vir soetkoek opeet nie. Ongelukkig moet ek daaruit aflei dat jy dit nie totaal verwerp nie. Jou suggestie dat die sterre waarna Christus verwys het, in werklikheid vliegtuie en ruimtetuie is, is interessant. Ons kan by ’n ander geleentheid oor sg. VVV’s gedagtes wissel.
    Chris: Dankie, vir jou kommentaar. Ek stem hartlik saam met die volgende opmerking van jou: “Hoeveel meer sin maak die Bybel nie as dit gelees word as 'n menslike teks en nie as die onfeilbare woord van 'n god nie?” Dit is presies wat ek probeer tuisbring het. Ja – ek het ook al die vraag oor die versekering in Mat. wat jy aangehaal het, gevra en nog nie ’n antwoord gekry nie.
    Angus: Jy is soos gewoonlik 100% in die kol met jou vermoede en opsomming.
    Groete
    Panda

  • CorneliusHenn

    Beste Panda,

    Verskoning en regstelling: ek het "astronomie" bedoel.  

    Astrologie is sterrewiggelary  - die leer van die afhanklikheid van die menslike lot en lewe van die loop van die sterre - 'n primitiewe vorm astronomie.  

    Astronomie is die wonderlike wetenskap wat hom met die bestudering van son, maan en sterre besig hou - sterrekunde.  

    Dus ... wat kon ’n huisvrou in 1955 reeds weet van die astronomie ... wat ons eers onlangs begin ontdek het?  

    (Dit help nogals as ek my bril opsit).  

    Groete van hier iewers aan die donkerkant van die maan,  

    Cornelius

  • Panda,
    In Jesus se tyd op aarde en Johannes se tyd op Patmos het mense net geweet van die Son, die Maan en die sterre. Dit is nie Jesus wat "ongeletterd" was of is nie. Hy het met mense gepraat wat ongeletterd was. Hy kon nie van meteore praat nie want sy dissipels sou nie weet waarvan Hy praat nie, want alles wat geblink het in die hemelruim behalwe die Son en Maan was sterre vir hulle. As hulle dalk bevoorreg sou wees om bv n komeet te sien sou hulle gedink het dis ’n ster met ’n stert. Dieselfde geld vir Johannes op Patmos. Hy het geskryf vir die mense van sy tyd.
    Ek glo nie eens hulle het geweet van die atmosfeer wat alles wat daardeur beweeg teen hoë spoed uitbrand nie.
    As daar dus gepraat word van sterre wat op die aarde val dan neem ek aan dat daar ’n "sterrereën" gaan wees. (of noem dit dan ’n meteoorreën as jy wil). Hierdie meteore sal massief wees en sal nie totaal deur die atmosfeer verbrand kan word nie en uiteindelik die aarde bereik. Soos ons ’n voorbeeld van het in Grootfontein in Namibië. Stel jou voor as daardie grootte stuk yster op ’n dorp val watter vernietiging dit teweeg sal bring. Hierdie verskynsel sal nie net op een stukkie landstreek plaasvind nie, maar wêreldwyd. As goed in die Bybel nie vir jou sin maak nie moenie dit botweg afmaak as snert of leuens nie. Dit mag dalk, gesien in die regte konteks, sin maak.
    Groetnis
    George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top