Oor dood en Lewe en die agnostikus

  • 23

Johannes Comestor, self ’n ateïs (was immers nog so tot onlangs) wat God wegwens omdat hy reken dat daar nie nut is vir die Godheid nie (het sy siening al verander oor die afgelope paar jaar, het hy meer wys geword en vordering gemaak?) skrywe oor die dood en daarná. Dit is nie die eerste maal nie, hy het dit al verskeie kere aangeraak en wil dit voorkom asof dié kwessie hom net nie met rus kan laat nie en asof hy ’n inherente onrustigheid daarmee wil besweer – ’n onrustigheid wat beslis nie ongefundeerd is nie. Sy seleksie van ander (meestal agnostici en verblinde soekendes soos Abel Pienaar en Anton van Niekerk) wat hy daaroor papegaai, dui daarop dat hy vir homself graag die saak wil uitmaak dat hy hom nié hoef te kwel daaroor, nie. Die feit dat hy dié kwessie gereeld in die openbaar aanspreek, dui egter daarop dat hy nie rus kan vind daaroor nie – weereens, tereg so.

Die feit is dat die persepsie dat die mens se fisiese afsterwe ’n einde aan alles bring, soos Comestor andere daaroor aanhaal, ’n voor die hand liggende hersenskim is.

Die Woord swyg ook nie oor dié kwessie nie.

Die fisiese liggaam vergaan en keer terug na sy oorspronklike formaat – na die aardelemente (stowwe) waaruit dit in die eerste plek deur God geformeer en geskape is (Genesis 2:7) soos ’n pottebakker wat sy klei formeer (Jesaja 29:16; Romeine 9:21) en die gees, dié keer terug na God en die plek wat God daarvoor bestem het (Genesis 3:19; Prediker 12:7) – na alles – dit is juis dié gees van lewe wat in die eerste plek deur God gegee is (Genesis 2:7) en waarvoor die agnostici met hulle kwansuis ‘omvattende’ evolusieleer absoluut géén antwoord of verklaring voor kan vind, nie en ook vermy vir die brander wat dié kwessie vir hulle gedrogtelike tipe evolusie leerstuk is … hoe lewe ontstaan, nie.

Die HERE Jesus Christus waarsku dat die siel nié gedood kán word nie en dat daar lewe ná die fisieke aardse bestaan is en dat daar verskillende bestemmings is (Mattheus 10:28; Johannes 14:1-4).

Daar is ’n besondere beskrywing in die Woord van die lewe ná die fisieke dood wat direk op die afsterwe van die liggaam volg – die betreding van die spirituele realm, waar die lewe voortgaan, baie interaksie plaasvind, maar waar die skeiding met die fisieke realm soos ons wie nog in die fisieke lewe is, dit ken, ’n voldonge feit, is (Lukas 16:23-31). Die HERE Jesus Christus het ook bevestig dat mense ná hulle afsterwe, glad nie ‘dood’ is soos die agnostici dit bedoel, nie (Markus 12:26-27).

Hoe staan sake in die praktyk van ons lewe en afsterwe op aarde?

Dit het geen sin in om voor te hou dat lewe sommerso ontstaan asof uit niet en dan ook net weer vergaan asof dit nooit bestaan het, soos die agnostikus wil voorgee, nie. Dit is só onhoudbaar en onlogies. Hulle is ook diegene wat aandring op bewyse vir alles, maar daar is boonop géén mediese of ander bewys vir soiets nie, aangesien die mediese wetenskap nog só onontwikkeld is dat dit nie daardie aspek kan aanspreek, nie. Die bewering wat hulle maak om hulleself mee te probeer troos en te verkul, naamlik dat die afsterwe van die liggaam die einde van alles beteken, is ’n wilde, ongefundeerde en onbewysbare bewering – geeneen van hulle wat dít beweer, was al in daardie posisie, of ken iemand wat in daardie posisie was of het énige mediese getuienis daarvoor, nie.

Daar is egter heelwat getuienis, selfs indirek, wat tot die teendeel spreek.

Comestor se redelik gereelde aanspreek van hierdie netelige (vir hulle) kwessie en die agnostiese bronne wat hy so papegaai daaroor, het één nut – die feit dat dié bronne algar van hulle se ongemak met die niks-na-afsterwe idee en dan ook daardie soms flambojante konstrukte wat hulle formuleer om hulself mee te kul (deel van daardie selfdesepsie psigose van die agnostikus om sy agnostisisme mee te bly voed) en die feit dat hulle hulself ook nie werklik glo nie, beklemtoon. Natuurlik sukkel hulle om hulself te glo – wat hulle hulself probeer wysmaak is só verregaande en onrealisties. Die agnostikus Barnes, wat deur Comestor gepapegaai word, kan tipies blykbaar nie vrede met die ‘dead-and-doneness’ van sy eie selfdeseptiewe konstruk, maak nie. Natuurlik nie, want dit is só onrealisties.

Brianvds praat van onsterflikheid ‘begeer’. Maar hy het dit mis. Daar is geen enkele mens wat werklik onsterflikheid ‘begeer’ nie – allermins gelowiges, want húlle weet hoe dit werk – dat mense nie onsterflikheid begeer nie, want mense het gewoon geen keuse of seggenskap daarin nie. In die hiernamaals ís daar onsterflikheid, of die mens dit só wil hê of nie – ook vir die agnostikus. Ál wat die mens kán begeer – en dít is wat die gelowige wél doen, is om te begeer om die onsterflike toekoms in die hiernamaals met sy Skepper, met God, deur te bring en dan sy lewe hier op aarde só in te rig volgens die riglyne wat van sy Skepper daarvoor neerlê is (Mattheus 22:37-40; Prediker 12:13-14), dat dit só sal verwesentlik uit SY genade – dit is juis ook die doel van die lewe op aarde soos ons dit ken.

Die probleem is dat die agnostikus, juis vanweë die deseptiewe staat waarin hy verkeer, wat die agnostisisme onderlê, nie kan onderskei tussen die fisieke en die spirituele dimensie van sy lewe as mens, nie. As hy sou kon, sou hy nie getwyfel het oor die lewe in die hiernamaals, nie. Hy sou besef dat dit juis die Spirituele is, wat die lewe aan die vlees gee, en dat die vlees kan ophou funksioneer, afsterf, kan vergaan, maar nie die spirituele, nie.

Maar die mediese wetenskap het wél al te doen gekry met getuienis wat heeltemal die ‘dead-and-doneness’ nosie van agnostikus weerspreek. Ons praat hier van die sogenaamde NDE. Mense wat klinies dood verklaar is, omdat die liggaam in alle opsigte ophou funksioneer, maar die persoon dan in die gees, in daardie sogenaamde ‘dooie’ toestand, besige en alles behalwe dooie spirituele ervarings het in die spirituele dimensie en dan terugkeer na die fisieke lewe om daaroor te getuig. Daar is ook die gevalle van mense wat as geheel en al ‘bewusteloos’ gediagnoseer is, maar wat wél spirituele ervarings in dié toestand het, terwyl die liggaam vir alle praktiese doeleindes nutteloos is.

Wat dit vir ons bewys, is dat die menslike bewussyn, wél bly funksioneer onafhanklik van die onbruikbare fisieke fakulteite van daardie mens. Daar is talle uit-die-liggaam ervaringe waarvan getuig word en waarby ek self ook al betrokke was in die sin dat die persoon waar ek by was in die vertrek, maar wie bewusteloos was, agterna haarfyn beskrywe het wat gebeur het en wie gekom en gegaan het en wat elk gedoen het terwyl dié persoon in die gees asof van bokant die mense af, die proses gade geslaan, het. Verskeie gevalle is daar waar mense onder swaar narkose sulke ervaringe het en sien en hoor wat gebeur tydens die prosedure. Michael Sabom rapporteer selfs ’n geval waar die vrou gedurende die prosedure ’n hartversaking beleef het waar geen lewenstekens op die EEG geregistreer het, nie, maar sy agterna kon kommentaar lewer omdat sy op daardie stadium ’n buite-die-liggaam ervaring had.

Jefferey Long is ’n wetenskaplike wat spesialiseer in stralingsonkologie en hy is oortuig daarvan dat bewustheid na die afsterwe van die liggaam voortduur op ’n georganiseerde en helder manier.

Wat ook al die antagoniste probeer aanvoer vir die feit van voortsetting van bewustheid en lewe ná die fisieke afsterwe van die liggaam, hoe hulle dit ook al sal wil probeer wegpraat en afmaak, die feit daarvan staan soos ’n paal bo water want dit gebeur alles terwyl die liggaam juis in onbruikbaarheid, die sogenaamde staat van ‘dead-and-doneness’ verval het en só sou bly, was dit nie vir die terugkeer van lewe en bewustheid na daardie ‘dead-and-done’ liggaam, nie. Dié gebeure is al die onderwerp van wetenskaplike studies en die voorkoms daarvan is al in gesaghebbende mediese tydskrifte soos Lancet gerapporteer terwyl géén mediese verklaring (op hierdie stadium van ontwikkeling) daarvoor gegee kan word, nie.

Daarom kan ons met gemak en oortuiging sê – daar ís lewe na die afsterwe van die liggaam, want die beskikbare getuienis dui daarop en die getuienis van die wetenskap, hoe ongesofistikeerd die rapportering en hantering daarvan nou ook al op hierdie vroeë stadium van die ontwikkeling van die wetenskap is, bevestig weereens die betroubaarheid van die Woord in daardie opsig óók …

En met reg is die Johannes Comestors en die Barnes’e van die agnostiese lewe in die plek waar hulle net eenvoudig nie vrede kan maak met hulle selfdeseptiewe nosie van ‘dead-and-doneness’ nie, ten spyte van die vermeerdering van sogenaamde kennis wat hulle sou moes kon vertroos, nie. Dit pla hulle, tereg, só baie, dat hulle ’n studie prober maak daarvan en selfs boeke daaroor skywe. Maar soos dit ongelukkig met hulle is, soek hulle al op die verkeerde plek vir dié kennis en ignoreer hulle doelbewus (’n tipiese metodiek) die tersaaklike kennis, omdat dié hulle hopelose ‘dead-and-doneness’-hoop sal verpletter.

Dan is dit soos Trienie opmerk – ons kry hulle jammer oor hulle troostelose hopeloosheid sonder die deelname aan die belofte van God, die Gewer van die Lewe.

Groete … en sterkte vir dié wat dit nodig gaan hê …

Kobus de Klerk

  • 23

Kommentaar

  • Kobus

    Jy kan glo wat jy wil en soveel mense as wat jy kan opnoem kan oortuig wees van lewe na die dood. Die harde werklikheid is dat daar nie 'n flentertjie wetenskaplike bewys vir die bewerings is nie. Die brein is 'n komplekse orgaan en die mediese wetenskap kan nog nie alles verklaar nie. Dit beteken egter nie ons kan wilde bewerings as feite aanvaar nie. 

    Soos ek al dikwels vir jou gesê het: miskien in kammaland ................!

    Thomas

  • Johannes Comestor

    Op 13 Januarie is Susan Jacoby se boek, The great agnostic oor Robert Ingersoll, in Amerika gepubliseer. Dit is 'n boek wat ek reeds gelees het en eersdaags wil "papegaai". Billikheidshalwe vestig ek die aandag daarop dat ek (1) 'n aanduiding van die inhoud van 'n boek probeer gee, (2) van my eie idees byvoeg, maar dan op so 'n manier dat dit nie met die van die outeur verwar kan word nie en (3) nie noodwendig saamstem met 'n outeur nie, al verskaf ek dikwels nie besonderhede hieroor nie, onder andere weens die ruimtebeperking.

    Johannes Comestor

  • Jinne Kobus,

    As daar enige een is wat nie hierdie duidelike skrywe van jou begryp nie, dan is dit bloot hardkoppigheid. Weereens, ekself het dit baie geniet en vind geen iets waarin ek verskil of anders insien. Daarvoor is die skrifte te duidelik op die tafel. Alhoewel ek nie altyd voel dat jul debatteering en argumenteering met mekaar  enigsins nuttig of kundig is (jammer, ek sien dit as tydmors). Veeleerder sou ek verkies om jou kennis in 'n ander meer leerbare vorm hier op die Net te sien, en jou eie tyd nie so vermors met die wat nie WIL hoor. Gee jou opinie oor 'n saak, en beweeg aan. Ek glo jy het baie perels, maar soms mors jy dit op die verkeerde mense.

    Hierdie stuk van jou print ek defnitief en plaas dit onder sy onderwerp. Ekself sal daarvan hou om sulke skrywes van jou te lees in tydskrifte soos die JUIG! of selfs in boekformaat. Of selfs onder godsdienswetenskappe.

    STerkte met die tikkery.

    Trienie  

  • Kobus de Klerk

    Thomas,

    Die probleem met julle is dat julle die wetenskaplike aanwysers en bewyse wat op alreeds op hierdie vroeë stadium  van wetenskaplike ontwikkeling  wel bestaan en wat julle nosie van 'dead and doneness' alreeds lynreg weerspreek. geredelik verwerp omdat dit julle nie pas, nie - mos deel van daardie selfdesepsie wat julle vreemde dinge laat dink en doen - ook wetenskaplike vreemde dinge.

    Ek wil jou herinner - jy met jou poging dat die brein 'n komplekse orgaan is (juis getuienis van Goddelike ontwerp en handewerk, natuurlik) - hierdie dinge gebeur juis ook wanneer die brein en die liggaam klinies dood verklaar is - wat essensieel die breinfunksies insluit. Jou argument is dus plat nog voor dit kon orent kom.

    Maak nie saak hoe julle die tendense en implikasies van NDE, onder meer, probeer verdraai of wegpraat nie - die blote fenomeen daarvan weerspreek enige nosie van 'dead and doneness' en sluit aan by wat die Woord ons leer.

    Ek het dit al telkemale uitgewys - die bona fide wetenskaplike bevindinge en fenomene is geheel en al versoenbaar met die Woord en getuig immers van die betroubaarheid van die Woord, nes die Woord sê in Romeine 1.

    Maar waarvoor daar nou sowaar geen bewys voor is nie, nie eens die geringste nie, is julle bewerings van 'dead and doneness' wat julle aanhang asof dit bewese is - deel van julle selfdeseptiewe agnostiese geloof sonder enige bewyse, hoegenaamd.

    Soos jou plaaslike hoof papegaai, George Claassen, jou leer - vra tog, waar is die bewyse vir die bewering van 'dead and doneness'. Jy kan mos nie diskriminerend selektief te werk gaan met sy papegaai raad nie... Wat ek hierbo weergee, is juis bewyse tot die lynregte teendeel. En soos Claassen dan aanbeveel, as daar niei bewyse voor is nie, moet dit nie aanneem nie. Volg nou sy raad - julle is mos in dieselfde kamp, of hoe? Of lê julle net reels vir die oorgrote meerderheid en massa normale mense neer wie nie met  julle snert saamstem, nie.

    Soos jy sê, mens kan mos nie wilde bewerings as feite aanvaar, nie. Julle bewerings van 'dead and doneness' is by uitstek juis so 'n bewering.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Comestor,

    Ek verneem nou uit wat jy antwoord dat jy voel tog jou eie opinie ook vorm en nie net papegaai nie. Maar, soos jy self ook erken, weergee jy nie jou juis eie opinie nie en is die idees wat jy sê jy weergee van jouself, nie werklik so onderskeibaar, nie en dit is werklik jammer. Ek sou sê, dit is eintlik waarin ek belangstel. Om 'n boek, wat vir algar beskikbaar is wat daarin belangstel om dit te lees, op te som met enkel verwysings daarna en ander skrywers se werk, is nie vir my waardevol nie. Jou opinie daaroor sal wel waardevol wees al sal ons waarskynlik nie saamstem nie.

    So, indien ek jou ten onregte as 'n papegaai uitmaak, bied ek graag my verskoning aan. Maar jou eie weerhouding van jou eie opinie skep daardie papegaai indruk - so eie aan wat ons by ander agnostici waarneem.

    Dit is duidelik dat jy moeite doen met jou materiaal, maar dit kom nie tot sy reg nie want as jy dan nie jou eie opinie weergee nie, dan ontbreek die Johannes Comestor  grootliks in jou aanbieding, behalwe net vir die afleidings wat mens kan maak uit die wyse en aard van die materiaal wat jy selektief aanbied omdat dit in jou kraal skyn te pas. Miskien sal jy dit in die toekoms oorweeg om minder aan te haal uit boeke, materiaal wat mense self kan gaan oplees as hulle belangstel en meer van jou eie insig of opinie daaromtrent weergee. Daarmee kan mens werk en gesels.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Trienie,

    Baie dankie vir jou ondersteuning. Ek put altyd krag uit sulke opregte ondersteuning.

    Die lewende mens - en so ook die agnostikus en dalk veral die agnostikus -  is te waardevol (Psalm 139) om as 'n vermorsing  van tyd te etiketteer. Die HERE van die leërskare en die allerhoogste  Hemele het vir jare lank SY tyd en Heerlikheid afgestaan om hier op aarde in die gemors te kom bedien en juis ook vir diesulkes - die spiritueel terminaal siekes - te kom bedien (Markus 2:17). op alle vlakke van die samelewing, veral juis ook op die gebied waar hulle hul bevind (Mattheus 9:10-13). 

    En toe ons HERE terugkeer na Sy heerlike Hemeltroon, het HY ons met die opdrag gelaat om sonder uitsondering en onverpoosd alle nasies te gaan bedien en hulle alles (is HY dan nie die God van insig en kennis omtrent alle dinge, nie?) te leer wat HY ons opdra (Mattheus 28:19) - dit is 'n aaneenlopende en toegewyde proses.

    Dit is juis in die wetenskap waar hulle probeer skuil en wegkruip vir God, maar ook daar sal die HERE hulle uitsnuffel omdat daar geen skuiling van God is, nie (Psalm 139). Maar dit is ook in die wetenskap, daar waar hulle vir God probeer wegkruip, ironies genoeg, waar die getuienis van God so duidelik sigbaar is (Romeine 1:20; Job 12:7–9; Psalm. 19:1–6; Jeremia 5:22).

    Wie is ek dan om hulle as 'n vermorsing van tyd af te maak, terwyl my HERE ook vir hulle, net soos vir my en jou, SY Lewe afgelê en weer herwin, het?

    Daar is baie wat die pêrels wat die HERE my mee toevertrou het, lees. Almal wat dit moet lees, lees dit, nes met die kosbaarhede wat jy en Dolf gereeld en andere (soms) ook hier weergee uit die inspirasie wat jul daartoe ontvang - daarvoor sorg die HERE.

    Baie groete, en baie dankie vir jou inspirerende bydraes oor alles en nog wat - want dit alles is 'n getuienis op een of ander manier van die HERE se betrokkenheid in jou lewe en dit is so kosbaar.

    Kobus de Klerk

  • Ek sou graag ook wou deelneem aan die gesprek, maar ek weet nie wat 'n agnostiekus issie.

     

    Sê maar net

    Duitswester

  • CorneliusHenn

    Triene, Kobus de Klerk lieg onder andere oor sy teenwoordigheid by iemand se NDE. Hy doen dit om geloofwaardigheid te probeer heg aan sy algemene spoeg en plak uit ander se webwerwe. Kobus is reeds menigmaal en al oor baie jare heen hier daarvoor uitgewys. Derhalwe staan sy monumentale waansin ook baie duidelik onder “meeste komentaar”. Jou opgewondendheid oor sy bedrog is maklik verstaanbaar gereken teenoor jou eie onkunde rakende Kobus de Klerk, en ook die onderwerp. Glo jy ook Jupiter se mane is onsigbaar deur ‘n verkyker of teleskoop? Weet jy ooit wat die verskil tussen 'n agnost en 'n ateis is? Jy wil maar net gewoon Kobus de klerk se perdedrolle as vyekonfyt smaak. Onthou Trienie; Satan is listig en selfs meer spiritueel intelligent as jou held Kobus de Klerk. Die HERE leer dat Sy skapies Sy stem sal ken. Wel, Kobus de Klerk se gedurige en hatige neerhaling van ander se harte met sy onsinnige opstel van "julle agnostikuste" is beslis nie die Evangelie nie. Kobus de Klerk dien so sy bose meester deur ander gelowiges en ongelowiges finaal van die Evangelie te keer. Mag Jesus Christus onse Herder self die Tuinier in jou hart wees. Cornelius.

  • Mense, dis waar! Daar is lewe na die dood.  'n Neef van my het  'n skyndood beleef, en in daardie tyd was hy in die hemel. Hy het ons oupa en ouma daar gesien. Oupa het hy uitgeken aan die pyp wat gedurig in sy mond is, en buitendien was ouma oudergewoonte aan sy sy. Haar het hy uitgeken aan  haar blommetjiesrok waarvoor sy so lief was. Nou wonder ek net of ek my Range Rover ook kan saamneem? Of is dit net pype en rokke wat daar toegelaat is?

    Ns. My neef is 'n eerlike ou en sal nog so nooit as te nimmer lieg nie.

    Angus

  • Kobus, die God wat jy beskryf is so 'n psigopaat hy gaan JOU waarskynlik in die hel sit en my in die hemel, net om te kan lag vir jou gesigsuitdrukking. 

    Die blote gedagte aan ewigdurende straf is iets wat elke beskaafde mens behoort te laat ril. Wanneer iemand dit nou nog gaan voorhou as die hoogtepunt van goedheid en genade, dan moet mens maar wonder oor hoe so 'n persoon se kop werk. 

    Mens wonder ook waarom Oom Desmond Tutu se God so anders is as KdK s'n. Aanbid hulle verskillende gode, of wat?

  • Kobus de Klerk

    Brianvds,

    Dit is soos jy sê – jy verstaan nie. Jy verstaan werklik niks.

    Dit het niks te doen met God se woede of wraak of enige soiets van God, nie, maar jou eie toedoen. Jy sien, dit is God wat jou op die Oordeelsdag in die rigting sal stuur waarheen jy deurentyd op aarde heen geneig en gebeur  het – weg van God af. En dit sal jy self wees wat die oordeel oor jouself bring – jou eie woorde en optrede daarvolgens. Die oordeel is aan die HERE gegee (Johannes 5:22) en die HERE wil jou ook nie oordeel nie (Johannes 12:47) maar HY het in SY Wysheid en regverdigheid besluit dat die wyse waarop HY wél sal oordeel, sal regverdig wees (Johannes 5:30; 8:26; 12:48) deurdat HY bepaal dat dit jy self is wat sal oordeel oor jouself deur wat jy verkies om te sê en te doen (Mattheus 12:37). Dus met jou eie tong en met jou eie optrede dienooreenkomstig, teen alle vermaning in, praat jy vir jou ’n plek in die hel los…

    Wat is meer regverdig as juis dit? Dit het dus niks te make met God se ‘woede’ of wraak of enige soiets nie, maar met jou eie hardkoppige keuses en voorkeure. Moet dus nie die verantwoordelik dáárvoor ook op iemand anders, in hierdie geval God, probeer afskuif nie – jy is die argitek van jou eie helse huisie van vuur, smart, geween en gekners van tande waarmee dit gebou word, op jou eie ontwerp.

    Dus, jy sal in die hiernamaals uiteindelik jou sin kry, as  jy op jou huidige dwase koers probeer volhard – weg van God - maar anders as was jy nou daaroor dink en verwag, sal daardie ervaring ’n helse een wees. Nou, hier op aarde, is jy allermins ontslae van God – hoewel jy Hom probeer wegwens, doen HY in Sy weldadigheid nie ook met jou, nie en leef jy in SY Genade elke oomblik van jou lewe. God onderhou jou nes hy alles anders hier getrou onderhou. Jou geleenthede wat jy ontvang nes alle ander mense (Jesaja 26:10; Mattheus 5:45). Want jy sien, dit is wat sal gebeur – God sal jou in die hiernamaals wegstuur van Hom af, omdat jy so graag wil weg wees van Hom, af. Maar daarmee saam sal God ook Sy genade en guns van jou onttrek.

    Chris,

    Hoe swak en skamel is die ou poginkie nie. Jy het gewoon nie die insig om te besef en in te sien wie werklik met die bloedneuse rondloop nie - juis vanweë die aangekoekte eier in jou eie gesig. Jy en Cornelius is werklik ewe desperaat en jy is vvinnig op pad om ook net so leuenagtig, ongeloofwaardig en irrelevant soos hy te word - wat 'n vooruitsig... Maar nou ja, dit is maar die koers van die agnostikus.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Chris,

    Hoe swak en skamel is die ou poginkie nie. Jy het gewoon nie die insig om te besef en in te sien wie werklik met die bloedneuse rondloop nie – juis vanweë die aangekoekte eier in jou eie gesig. Jy en Cornelius is werklik ewe desperaat en jy is vinnig op pad om ook net so leuenagtig, ongeloofwaardig en irrelevant soos hy te word – en dit wil gedoen wees. Wat 'n vooruitsig... Maar nou ja, dit is maar die koers van die agnostikus.

    Ateïs Angus,

    Jy sit die pot heeltemal mis... jy, in die hemel? Op die koers waarop jy steeds volhard?

    Nee wat, jong, daar waar jy op hierdie stadium vir jou 'n warmplek met jou lastering en spottery uitkerf, help dit nie jy hunker na jou Range Rover nie – die goed is nie so hittebestand nie en daar waar jy heen neig op hierdie stadium, sal die ding verkool voor jy nog 'n voet daarin kan sit...

    Kobus de Klerk

  • Kobus

    Uit jou wetenskaplike kleitrappery oor die Jupiter-se-mane-debat het jy duidelik gedemontreer dat jou insig baie beperk is en dat jou wetenskaplike kennis weglaatbaar min is. Indien jy enige beduidende wetenskaplike vermoëns gehad het sou jy nie die sotlike redenasies gevoer het om jou argument te probeer bewys nie - met jou rekord van kluitjiesbak is dit seker moontlik dat jy van beter weet maar bloot net weer kluitjies versin het om jou argument te staaf.

    Ewenwel die mees basiese beginsel in die wetenskap is dat jy moet bewys wat jy beweer. Om te beweer dat daar lewe na die dood bestaan en jou argument te bou op die feit dat niemand kan bewys jou aanspraak is verkeerd nie, is gewoon absurd. Dan bestaan die wentelende teepot en die vlieënde spaghetti monster sekerlik ook - of kan jy bewys hulle bestaan nie?

    Thomas

  • Chris Dippenaar

    Duitswester, 'n agnostiekus is ouens soos ek en jy wat nie soos Kobus 'n antwoord het vir allessie.

  • Cornelius,

    Dankie jou skrywe. Dit is mooi gestel, en ja, Jesus Christus is die Tuinier in my hart. Verseker hang ek nie KdK aan nie, daarvoor is ek te lief vir my Meester.

    Maar ek verstaan jou nie, glo jy dan nie aan die hel nie? Dit klink tog of jy aan die duiwel (bose meester) glo?  Ek verseker jou dat ek nie agter KdK se kennis skuil nie. Ek het my Polemiek asook Bedelingsleer geslaag op Univ, self paar keer die vak aangebied. My kennis omtrent die hel, 3 hemele, graf, doderyk met sy regverdige en onregverdige kant, bodemlose put, Paradys, wat alles deel van die onderwerp vorm, ken ek baie goed. Ek sien egter geen nut daarin om met die ongelowiges daaroor te stry en redeneer nie. Tydmors. Ek verkies om met positiewe mense om te gaan wat my kennis verbreed, nie afbreek. Ek is seker daarvan dat KdK al tientalle keer hierdie onderwerp aan hulle verduidelik het.

    LitNet het pragtige ander besprekings ook – ek geniet dit om te sien wat in my wêreld om my aangaan! Ek is bly dat Jesus Christus die tuinier in jou hart is. Bewaar net jou hart en moenie haatdraend of bitter word teenoor KdK. Selfs al voel jy hy het jou benadeel. Laat los liewer en gaan aan met jou mooi lewe hier op aarde. Dit is wat Jesus sou doen...

    Trienie

  • CorneliusHenn

    Trienie, my besorgdheid is die feit dat jou en Kobus de Klerk se gedweep oor die hel eerder onder hoofde “Sondaars in die hand van ‘n woedende God” kan heet (duidelik het Kobus de Klerk nou voor op die wa van jou omstrede poging gespring)… die werf is nie kerk nie… enigeen met respek vir die onderwerp en/of hul medemens sou weet dat geen vorm van berading en/of bekering van ‘n indiwidu in die openbaar gedoen word nie – dis waarvoor daar die intimiteit van ‘n regte Kerk is… reken nou Kobus de Klerk se verwaandheid teenoor die sogenaamde agnoste en hom as ‘n sogenaamd spirituel intelligente se gebraak (Kobus de Klerk verdraai gereeld ook die betekenis van die term agnost nes dit hom in sy egotistiese waansin pas)… Kobus de Klerk se oordrewe gekners oor die hel sonder om ooit die GOEIE NUUS geesdriftig met God se liefde in sy hart met ander te deel, is duidelik sy eie wraak teenoor almal wat hom nie eer nie – veral teenoor diegene wat hom ontmasker… jy is egter reg dat ek daarteen moet waak dat Kobus de Klerk se haat nie wortel skiet in my eie hart nie… dankie Trienie; daarom bid ek dat Jesus Christus onse HERE ons almal sal vergewe en self die Lig in ons harte sal wees. Cornelius

  • Kobus, as God is soos jy hom beskryf gaan ek saam met ouens soos Carl Sagan en Oom Tutu en die Dalai Lama in die hel sit. Ten minste gaan ek beter geselskap hê as wat jy mee opgeskeep gaan sit.

  • Chris Dippenaar

    "Ek het my Polemiek asook Bedelingsleer geslaag op Univ, self paar keer die vak aangebied."

    Trienie, ek sluk baie swaar aan hierdie een. Vertel ons 'n bietjie meer. Watter universiteit? Vir wie het jy dit aangebied?

    Mors 'n bietjie tyd met jou Bedelingsleer kennis. Ek is baie nuuskierig om te lees wat 'n universiteit te sê het oor "die hel, 3 hemele, graf, doderyk met sy regverdige en onregverdige kant, bodemlose put, Paradys, wat alles deel van die onderwerp vorm". Is al hierdie teologie deel van die twee vakke wat jy gedoen het?

    Is hierdie vakke nie maar net soortgelyk aan dit wat 'n verkoopsman/vrou doen as hy beter verkoper wil wees nie?

    Dit wat jy tot nou toe geskryf het oor jou geloof is kinderlik en kinderagtig. Daar is geen intellektuele murg agter enige van jou stellings oor die Bybel, en ek sal baie verbaas wees as dit 'n universiteit se skuld is.

  • Kobus de Klerk

    Trienie,

    Dit is duidelik dat jy nie weet wat in Cornelius se hart omgaan  nie – die lasterlikheid wat hy telkemale oor jare heen hier teenoor die HERE pleeg, nie. Een van die truuks van hom is juis dat hy die HERE se Naam misbruik daarvoor en dan niksvermoedende Christene daarmee van hul voete af boul, totdat hulle agterkom wat werklik aangaan. Jy sien, hy gebruik die Naam van die HERE en hy misbruik aanhalings uit die Bybel om mense te mislei op die oppervlak, maar as jy agterkom wat hy met die HERE se Naam verbind en assosieer en die lastering en dwaalleringe wat hy onder die HERE se Naam verkondig, sal jou hart in jou binneste skeur, want jy is werklik lief vir die HERE.

    Die rede waarom hy my haat, en waarom hy sê ek hom te na kom, is omdat ek hom nie daarmee kan laat begaan, nie.

    Lees gerus hierdie skakels met talle aanhalings uit verskillende briewe van hom. Dit is weersinwekkend, so lasterlik is dit – deel 1; deel 2; deel 3deel 4; deel 5; deel 6; hier hits hy agnostici teen ware gelowiges aan op dramatiese wyse en demonstreer ook sy New-Age tipe sinkretisme;  wanneer dit hom pas, erken hy die Drie-Eenheid, maar net die volgende oomblik ontken hy die Drie Eenheid as hy my wil teengaan, terwyl hy nie skroom om die HERE gelyk te stel aan Kanaänitiese afgode soos asjera, ens, nie  – en volg hulle op om te weet met wie jy werklik te make het in die persoon van Cornelius Henn, die lasteraar en verloënaar van die HERE Wie se Heilige Naam hy so misbruik vir sy eie lasterlike doeleindes.

    Cornelius is een van die sluste karakters wat ek nog teëgekom  het die afgelope 10 jaar en ek het hom daarvoor uitgewys, daarom verpes hy my en probeer hy alles in sy vermoë om my teen te gaan – vandaar dat hy sê dat ek nie ander gun wat sogenaamd in hul harte aangaan nie.

    Dit wil voorkom asof hy met sy slu aanwending van Gods Naam besig is om jou ook om die bos te lei en te probeer draai teen jou mede gelowige, vandaar my plig om hierdie dinge aan jou uit te wys – en daar is vele meer.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Thomas,

    Jy is werklik die laaste persoon wat ’n ander kan beskuldig van wetenskaplike kleitrappery en baie beperkte insig en van weglaatbare wetenskaplike kennis en van sotlike redenasies. Jy sien, dit is inderdaad van jouself wat jy praat en dit is nie moeilik om na te gaan nie. Al wat mense hoef te doen is om jou kommentare na te gaan en die inhoudlose onvolwassenheid daarvan gade te slaan, keer op keer, sekerlik omdat jy nie tot beter instaat is, nie.

    Dit is weens jou eie insigloosheid en jou eie onvermoë dat jy nie kan verstaan wat ek skrywe nie, selfs op die gebied waarop jy probeer aanspraak maak, maar nog nooit enige bydrae kon lewer nie – slegs kinderagtige gekoggel soos ’n aap – wat nog te sê, n sinvolle redenasie voorhou. Naas Cornelius se inhoudlose verdagmakery sonder enige fut, is jy en Chris werklik die volgende kandidate.

    Som die enigste manier hoe julle kan probeer hanteer wat ek voorhou, is nie om my verkeerd te bewys nie, want julle kan nie, maar om my  te probeer verdag maak en op kinderagtige manier te probeer slegsê – intussen het julle nie die insig om te besef hoe futiel daardie pogings is nie, want wat ek sê, en wat julle sê, is ’n saak van rekord vir algar om te sien en dit weerspreek julle basislose aantygings.

    Wat bewyse aanbetref, het ek vir jou heelwat voorsien wat jy nie instaat is om te weerlê nie. Om my in die lig daarvan steeds te probeer verwyt van gebrek aan bewyse, is net om die aandag te vestig op jou eie onbeholpenheid weens gebrek aan die vermoë om self selfs net te verstaan wat aangaan. Die logiese sou  wees om bewyse vir julle ''dead and doneness' bewerings te voorsien – maar jy weet dit is gewoon onmoontlik. en nou probeer  jy die aandag op daardie onbeholpe en onvolwasse manier afwentel.

    Dit is werklik nie die moeite werd om aanhoudend jou snert uit te wys nie – dit is al wat jy in jou het en dit is al wat mens van jou te wagte kan wees. Jy is eenvoudig nie tot beter instaat nie, anders sou jy dit tog immers aangebied het.

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    Trienie, ek hoop en bid jy lees elke liewe skakel wat Kobus de Klerk in sy woernaal hierbo aanhef – en dat jou mening van my NOOIT weer dieselfde sal wees nie... neem ook net miskien in ag dat Kobus de Klerk in die gang van sy algemene boewery en erge – dog tragiese – onthutsing omtrent die betekenis van woorde en verskil daartussen soos in mites en leuens, eenheid en enige, agnost en ateïs, wetenskap en fiksie, ensovoorts ... doelbewus weglaat. Cornelius.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top