Michael Ruse, neutrinos en die ouderdom van die aarde deel II: Die fisika van Alice in Wonderland

  • 13

‘Twas brillig, and the slithy toves
Did gyre and gimble in the wabe:
All mimsy were the borogroves
And the mome raths outgrabe.

Met die deurlees van Kobus de Klerk se skrywe is ek onwillekeurig herinner aan Lewis Carroll se bekende nonsensgedig “Jabberwocky” in sy boek Alice through the Looking-Glass omdat De Klerk se weergawe van die wetenskap omtrent net soveel sin maak as die woorde in die gediggie. Die titel van die boek is in hierdie geval sommer heel gepas aangesien Alice in die verhaal alles agterstevoor ondervind, wat mens sterk herinner aan De Klerk se, ummm, wetenskap. Dalk moet mens nie praat van De Klerk se “wetenskap” nie – ek gaan ’n kersie by Carroll opsteek en ’n nuwe woord skep: De Klerk se wetenspap. En laat dit nou maar toegee: De Klerk is ’n wetenspaplike van formaat.

De Klerk: “Dit sluit natuurlik Claassen se verregaande bewerings en baie stellings oor sake Gods sonder ’n enkele bewys daarvoor, óók in – en ook dié bespreek ek en sien ek dat Retief daaroor tjoepstil, is.”

Ek het vrede daarmee of iemand die bestaan van ’n god of gode aanvaar of verwerp en sien geen rede waarom ek hieroor iets moet skryf nie. Voorts het ek nie die tyd om te reageer op elkeen van De Klerk se stellings soos gemaak in sy aanvanklike kommentaar op Claassen se rubriek nie en ek het dit dan reg aan die begin ook genoem. Die rede waarom ek wel op sommige van De Klerk se stellings geantwoord het (te wete die sogenaamde variasies in radio-aktiewe verval en Michael Ruse sogenaamde verandering van opinie) was omdat dit ’n aansienlik meer as gewoonlik blatante verdraaiing van feite bevat het. Ek merk op dat De Klerk steeds swyg oor sy wanvoorstelling van wat gebeur het tydens Ruse se toespraak by die AAAS toe die voorsitster kwansuis die podium van hom probeer wegneem het.

De Klerk: “Retief noem my mededeling van vorige lewe op aarde ’n verbeeldingsvlug en maak dit daarmee af – is dít ’n wetenskaplike metode van hom? Kan hy dit verkeerd bewys?” asook: “die feite, die fossielrekord, vir een, ondersteun dit volkome”

As ek De Klerk reg verstaan dan bedoel hy dat lewe eens op ’n tyd op aarde bestaan het, dat dit geheel en al, dwarsoor die aardbol, uitgewis is en weer later te voorskyn gekom het. Daar is geen aanduiding in die geologiese kolom of die fossielrekord van ’n sodanige totale uitwissing van alle lewe op aarde nie. Dit sal nogal gaaf wees as De Klerk ’n paar verwysings kan gee na akademiese publikasies in wetenskaplike joernale wat sy standpunt ondersteun.

Met moet natuurlik wonder – as lewe dan inderdaad voorheen bestaan het, waarom is dit uitgewis? Het De Klerk se god soveel flaters gemaak dat hy besluit het om sy foute uit te vee en maar liewer van voor af te begin?

De Klerk: ”Die feit is, Retief se woordkeuses verklap sy onopregtheid en persoonlike antagonisme. In sy poging om dit te probeer regstel, doen hy dit toe weer, waar hy selfs tóé sê dat hy meen Fischbach en “sy trawante”, eerlik was. Weereens spreek sy woordkeuse vir sigself.”

Nou toe nou. In my vorige skrywe het ek getoon hoe De Klerk die feit dat ek Fischbach en kie se eksperimentele resultate op wetenskaplike gronde bevraagteken subtiel verwring het in ’n poging om dit te laat lyk asof ek hul integriteit in twyfel getrek het. Nou “spreek (my) woordkeuse vanself” (wat dit ook al mag beteken) en word ek sommer op die koop toe van onopregtheid beskuldig. Ag nou ja ...

De Klerk: “Retief speel ook met die begrippe “kwalitatief” en “kwantitatief” om die werklike issue te verbloem én hy verstaan klaarblyklik nie die implikasies van dié begrippe nie... As ’n toetsapparaat of –metode kwalitatief ontoereikend is, is dit gewoon nié moontlik om deur aanwending van daardie selfde apparaat of metode, die kwantitatiewe aard van aberrasies vas te stel nie en is die volle aard en omvang van sulke aberrasies ook nie bekendes nie.

Fischbach en sy trawante se resultate het vermeende kwantitatiewe afwykings aangetoon – nie kwalitatiewe afwykings nie en ek het dit dan ook so gestel. Dit is inderdaad De Klerk se voorstelling van hul resultate wat dui op ’n totale wanbegrip van wat waargeneem is. Veronderstel iemand klim op ’n skaal en sy gewig word aangedui as 80 kg. Net daarna klim die persoon op ’n ander skaal en sy gewig word gemeet as 80,1 kg. Is daardie twee syfers kwalitatief onbetroubaar? Geheel en al nie, beide gewigte word in kilogram aangetoon, daar is alleenlik ’n kwantitatiewe verskil. Sou die tweede gewig in liter of aartappels aangedui word sou dit kwalitatief onbetroubaar wees.

Fiscbach en kie het ’n syfer vir die gewaande afwykings verskaf: 0,1%. Oftewel, hulle het ’n (vermeende) kwantitatiewe afwyking demonstreer. Kwantitatief: kyk, dis wat mens iets noem wanneer daar ’n syfer aan gekoppel kan word, soos wat Fischbach en trawante gedoen het. De Klerk is egter nie in staat om tussen kwantitatief en kwalitatief te onderskei nie, soos ek reeds in my eerste skrywe aangetoon het. ’n Kwalitatiewe afwyking sal wees soos wanneer mens iets waarneem as soet terwyl dit in werklikheid suur is sonder dat daar ’n syfer verskaf word – of dan wanneer resultate vir dieselfde eksperiment eers in kilogram en dan in aartappels aangedui word soos ek hierbo beskryf het. Indien de Klerk dan Fischbach en sy medewerkers se resultate as kwalitatief ontoereikend beskou dan hoor ek graag van hom presies wat hy dan as kwantitatief afwykend sou beskou.

De Klerk: “Dus, in praktyk – en dit is waarop die Purdue-eksperimente ons attent maak, is die metodes en apparaat nié gesofistikeerd genoeg om die aberrasies en gevolglike invloed en effek van wat vermoed word, neutrinos te wees, betroubaar uit te wys nie en ook nie om dit voorkoms daarvan geredelik uit te wys nie. Kortom, te veel val blykbaar deur die sif van die huidige argaïese toetsmetodes ... Daardie toetsmetodes wat hulle so papegaai is al meer as ’n halfeeu oud in ’n baie snel ontwikkelende wetenskaplike wêreld..”

Ek het De Klerk reeds gevra om aan te toon waarom hy die metode(s) as ontoereikend beskou en hy is my steeds ’n antwoord skuldig. Om sulke ongegronde stellings maar net telkemale te herhaal sonder om enige bewyse te verskaf kom net eenvoudig nie die mas op nie. Ek versoek hom dus weereens: in watter opsig(te) is hierdie metodes onbetroubaar, ongesofistikeerd en argaïes? Om net te sê dat dit onbetroubaar en dat te veel dinge deur “die sif” val is nie goed genoeg nie, mens moet darem besonderhede kan verskaf. Wat is dit wat dan nou deur die sif val? Kan De Klerk enige aanduiding gee en indien wel, watter verwysings kan hy verskaf om sy bewerings te staaf?

Ek het hom ook versoek om te verduidelik waarom die apparate (volgens hom) die effek van solêre neutrinos kan waarneem maar nie van neutrinos afkomstig vanaf die aarde of elders in die heelal nie en ook in hierdie geval wag ek nog steeds op ’n antwoord. As De Klerk die metodes wil kritiseer staan dit hom vry om so te maak, maar dan verwag mens darem so bietjie tegniese besonderhede in stede van vae stellings wat ooglopend op wensdenkery gegrond is.

Dit is bekend dat neutrinos nie baie ywerig met materie reageer nie. Die Super-Kamiokande detektor bevat 20 kiloton water en daagliks word slegs ongeveer 10 neutrinos se interaksie met water waargeneem. Dan moet mens noodwendig wonder: as so min neutrino-interaksies in daardie apparaat waargeneem word, waarom (volgens De Klerk) val neutrinos oor hul eie voete om met die materie in Fischbach se eksperiment te reageer? Kan De Klerk enige teoretiese of empiriese bewyse hiervoor gee?

In werklikheid is die betrokke toetsmetodes alles behalwe soos deur De Klerk beskryf. Terwyl die beginsel, naamlik die waarnemings van subatomiese partikels wat tydens radio-aktiewe verval afgegee word steeds geldig is, is die metodes uiters verfynd, sensitief en akkuraat. De Klerk is ooglopend onbewus van die feit dat daar gedurig boeke gepubliseer word wat verdere verfyning en afronding van hierdie metodes beskryf, asook dat daar verskeie aktiewe wetenskaplike joernale bestaan waarin nuwe verwikkelinge van sulke metodes beskryf word.

Een so ’n joernaal wat moontlik De Klerk se belangstelling sal prikkel is Nuclear Instruments and Methods in Physics Research Section A: Accelerators, Spectrometers, Detectors and Associated Equipment.

Voorts mag De Klerk ook belang stel in die volgende artikel wat in 2010 gepubliseer is in volume 622 (1) van hierdie joernaal: Study of the dependence of 198Au half-life on source geometry. In hierdie eksperiment het die navorsers die invloed van neutrinos op radio-aktiewe verval bestudeer om vas te stel of dit inderdaad neutrinos is wat die gewaande fluktuasies veroorsaak. Hulle bevinding was dat die vervaltempo van die radio-aktiewe goud wat aan ’n neutrino-fluks onderwerp is konstant was.

Oftewel, daar was geen fluktuasies in hierdie konstante nie ten spyte van die feit dat hierdie isotoop deur neutrinos bestraal was. Dit is nodig om te beklemtoon dat die fluks van neutrinos in hierdie eksperiment aansienlik groter was as die neutrino-fluks vanaf die son. Richard Lindstrom, een van die navorsers, se kommentaar was dat die variasies wat voorheen waargeneem was na alle waarskynlikheid te wyte was aan omgewingsfaktore wat die eksperimentele apparaat beïnvloed het.

De Klerk mag dalk ook belang stel in die name van die betrokke wetenskaplikes: RM Lindstrom, E Fischbach, JB Buncher, GL Greene, JH Jenkins, DE Krause, JJ Mattes, A Yue.

Klink die name van Fischbach en Jenkins dalk bekend?

Voorts: as dit dan nou wel neutrinos is wat die vervaltempo beïnvloed, waarom was dit in hierdie eksperiment afwesig? En as dit iets anders as neutrinos was, waarom is dit ook afwesig?

De Klerk: “Byvoorbeeld – radioaktiewe koolstofdatering (C14) van voorwerpe wat ouderdomme aangee van miljoene jare is uiters verdag, aangesien koolstof-radioaktiwiteit verval na duisende jare en dus nie meer meetbaar behoort te wees, nie.” Ek weet nie waarom De Klerk hierdie hoegenaamd noem nie. Niemand het nog ooit probeer om die ouderdom van gesteentes met behulp van 14C te bepaal nie. As De Klerk van sulke pogings weet sal ek ’n paar verwysings waardeer.

De Klerk gaan voort: “Koolstof-radioaktiewe verval (na stikstof) is ook nie konsekwent nie, want sommige koolstof atome verval teen verskillende tempo’s.” Slegs drie isotope van koolstof word in die natuur aangetref, naamlik 12C, 13C en 14C. Van hierdie drie is slegs 14C radio-aktief. Ek weet dus nie wat De Klerk bedoel wanneer hy skryf dat sommige koolstof-atome teen verskillende tempos verval nie. ’n Verwysing na ’n publikasie wat sy stelling ondersteun sal waardeer word.

De Klerk: “Die toetsmetode wend, baie kortliks, ’n proses aan waar die sogenaamde ‘beta’-partikels wat uit ’n vasgestelde hoeveelheid oor ’n vasgestelde tyd vrygestel word, gemeet word en daar word vermoed dat een beta-partikel een koolstof een koolstof atoom wat verval het. Maar wat glip nie alles deur dié toets, nie? Die toets is klaarblyklik nie gesofistikeerd genoeg om ánder inwerkende partikels, wat die verval proses nog méér versnel - soos die vervallende uitwerking van wat vermoed word, neutrinos, te registreer nie ...”

Dit is geheel en al nie nodig om sogenaamde “inwerkende partikels” te registreer nie. Wat hier van belang is is die vervaltempo van die element wat ondersoek word, dit wil sê die partikels wat die element vrystel tydens afbraak en die hoeveelheid en tempo van verval van die moeder-isotoop sowel as die hoeveelheid en tempo van formasie van die dogter-isotoop. Die registrasie van sogenaamde “inwerkende partikels” het met die hele saak totaal niks te doen nie.

14C verval na 14N deur ’n elektron (beta-partikel) en ’n elektron antineutrino vry te stel. Indien die vervaltempo dus deur een of ander gewaande verskynsel versnel word sal dieselfde partikels steeds vrygestel word omdat dit al manier is waarop hierdie isotoop na stikstof omgeskakel kan word. Oftewel, as daar dan nou “ander inwerkende partikels” is, sal elektrone en elektron antineutrinos steeds vrygestel word en sal dit deur die detektor waargeneem word. Daar is dis niks wat deur hierdie toets kan glip nie. Indien de Klerk van hierdie stelling verskil sal ek dit waardeer as hy bewyse vir sy stelling kan voorlê, bewyse in die vorm van publikasies in akademiese joernale wat toon dat (1) daar ander “inwerkende partikels” is (2) dat ander partikels as die wat ek hierbo genoem het vrygestel word (3) dat 14C na iets anders as 14N kan verval.

Die feit is doodeenvoudig dat ons tans baie goed (en ek bedoel baie goed)weet hoe elke radio-aktiewe isotoop verval, en hierdie kennis is gegrond op ’n vaste teoretiese basis sowel as ewe vaste empiriese waarnemings wat oor baie dekades strek. Elke en iedere onstabiele isotoop kan net op net die bekende maniere verval en op geen ander wyse nie. So kan 14C slegs en alleenlik na 14N verval en nie na byvoorbeeld 6Li nie.

Ek moet ook op die volgende wys: as element A sou verval na element C en nie soos verwag na element B nie sal dit beslis waargeneem word en sal wetenskaplikes alles in hul vermoë doen om vas te stel wat die rede(s) vir hierdie onverwagte gebeure is. Tot op hede is sulke anomalieë nog nie waargeneem nie.

De Klerk: “Retief vermeld die oënskynlik klein persentiel verskil in die vervaltempo wat uit die Purdue-eksperimente geblyk het, maar wat hy verswyg is dat dit oor ’n relatief baie kort periode geskied het en dat dié oënskynlike klein invloed egter kumulatief oortyd heen ’n yslike verskil kan maak ...” Hierdie grashalm gaan geen drenkeling red nie. Ten eerste is dit nie ’n “oënskynlike” klein verskil nie – dit is ’n klein verskil. Soos ek heel aan die begin uitgewys het toon die afwykings wat deur Fischbach en medewerkers gevind is nie ’n konstante op-of afwaartse tendens nie maar fluktueer dit bo en onder die basislyn. Daar is geen veranderinge in frekwensie of amplitude gevind nie en dus kan daar nie sprake wees van ’n gewaande kumulatiewe effek nie. Indien de Klerk oor enige bewyse of selfs eers oor ’n teoretiese basis vir ’n kumulatiewe effek beskik versoek ek hom om dit aan lesers voor te lê. Mens maak nie sommer wilde bewerings wat op wensdenkery gegrond is nie, daar is data nodig.

De Klerk: “Daar is egter nóg ’n wankelrige aspek omtrent die toetsmetodes. Daar word aangeneem dat koolstof konstant vorm in die bo-atmosfeer (waar die konsentrasie stikstof 14 die digste is) en dat alle lewe se koolstofatome ook ’n konstante is. Maar, nou word daar gewoon aangeneem dat vorige lewe, óók teen daardie tempo en op daardie vlak gefunksioneer! – daar is egter absoluut géén bewyse voor, nie.

Die stelling “Daar word aangeneem ... dal alle lewe se koolstofatome ook ’n konstante is.” maak totaal geen sin nie. Wat word daarmee bedoel?

Daar bestaan geweldig baie data oor die fluktuasies in atmosferiese 14C met verloop van tyd. Kom ek noem sommer net ’n paar artikels wat oor ’n paar dekades strek, by wyse van voorbeeld oor hoe lank sulke navorsing al gedoen word: H Suess, Journal of Geophysical Research vol 70, 1965; PE Damon en CP Sonett, The Sun in Time, University of Arizona Press, 1991 en G Castagnoli en D Lal, Radiocarbon vol 22 no 2, 1980. Voorts is baie informasie verkry uit die Vostok-yskerne, informasie wat terug strek tot 160 000 jaar gelede.

Ek neem aan dat De Klerk met sy stelling dat “vorige lewe, ook teen daardie tempo en op daardie vlak gefunksioneer (het)” verwys na die metabolise tempo van voorheen bestaande organismes. Dit het geheel en al niks met die saak te doen nie. Die beginsel van 14C datering berus op die verhouding tussen 12C en 14C en ’n vinnige of stadige metaboliese tempo sal nie die resultaat beïnvloed nie.

De Klerk: “Maar plaas van vernuwing in denke en metodes om by die nuwe data aan te pas, sien ons dat die Retiefs van die wetenskaplike wêreld eerder vanweë hulle vooroordele en bekrompe benaderings vanuit hul agnostiese verwysingsraamwerk ander en veral ook hul werk, sal probeer afkraak en verdag maak as om progressief te dink – let maar op die kritiek teenoor een van die Purdue-spanlede omdat hy dit durf waag om buite die sogenaamde ‘mainstream boundaries’-hokkie van die agnostiese wetenskaplikes probeer ondersoek instel.

De Klerk verwys hier na Sturrock wat die Journal of Scientific Exploration tot stand gebring het. Ek het regtig nie nou die tyd of lus om die twak wat in hierdie joernaaltjie gepubliseer word te bespreek nie. As De Klerk dink dat dit ’n teken van progressiewe denke is om reïnkarnasie te aanvaar (soos een van die artikels in die joernaal bepleit en dis maar net een voorbeeld) dan staan dit hom natuurlik vry.

Die gebruik van die woorde “mainstream boundaries-hokkie” spreek boekdele. Had De Klerk selfs maar net ’n uiters oppervlakkige kennis van die wetenskaplike vakliteratuur (wat baie ooglopend nie die geval is nie) sou hy besef het dat daar slegs een “grens” bestaan, naamlik dat hipoteses en teorieë darem kontak met die werklikheid moet hê en darem tot ’n mindere of meerdere mate ’n feitelike basis moet besit – so ietwat anders as die fantasieë wat De Klerk aan lesers opdis. Dit is een van die verskille tussen wetenskap en wetenspap. Meeste nuwe teorieë by mettertyd in die stof maar dis soos die natuurwetenskappe werk. Fischbach en kie se eksperimente is dus stewig deel van hoofstroom-wetenskap, maar soos meeste ander teorieë het dit nie die toets van die werklikheid geslaag nie.

De Klerk: “Die motivering is natuurlik die feit dat die agnostiese darwinistiese evolusieleer en sy kosmiese eweknie, die standaardmodel, se massas teorieë en hipotese gebou is op dié aannames en dat dié nou ernstig onder verdenking staan.”

Ek sal graag wil weet by wie die standaard model nou juis onder ernstige verdenking staan en waarom. Kan De Klerk dalk voorbeelde gee? Per slot van rekening, as die standaard model so bedenklik is sou daar nie kernwapens of kernreaktors gewees het nie om maar net twee praktiese voorbeelde te noem. Voorts het die standaard model terwyl dit nog in sy kinderskoene was reeds die bestaan van subatomiese partikels suksesvol voorspel, so lank terug soos 1930 en dan noem ek nie eers die Higgs boson nie – ’n partikel wat fundamenteel tot die standaard model is. Vanselfsprekend sal die standaard model verder uitgebrei word soos wat die geval is met enige suksesvolle wetenskaplike teorie, maar saam met kwantumfisika is dit een van die mees suksesvolle teorieë in eietydse fisika. As De Klerk dalk ’n alternatiewe teorie kan voorstel dan hoor ek graag daarvan. Enigiemand kan ongegronde stellings kwytraak oor ’n teorie waarvan hy niks weet nie maar dan verwag mens darem dat daardie persoon ’n lewensvatbare alternatief kan voorstel.

De Klerk: “Die Purdue-span het toevallig op nuwe data afgekom wat die ou metodes nie uitgewys het, nie. Nuwe metodes en nuwe benaderings is nodig om die nuwe data in sy volle konsekwensie te ondersoek.”

So ... die Purdue-span het “nuwe data” gevind wat nie deur “ou metodes” uitgewys is nie. Ek het De Klerk voorheen gevra of daar enige verskil(le) is tussen Fischbach en medewerkers se metodes en die van ander fisici. Hy is my steeds ’n antwoord skuldig. Fischbach en medewerkers het geheel en al nie nuwe metodes gebruik nie – hul deteksie-metodes was presies dieselfde as die van derduisende ander fisici wat hierdie verskynsels al oor hoeveel dekades ondersoek het. Dus: as die bestaande metodes dan nou so ontoereikend en argaïes is, waarom het het Fischbach en trawante ander resultate verkry? Wat was sodanig anders aan hul metodes? Die enigste rede vir hul resultate is omdat hul eksperimentele ontwerp slordig was

De Klerk: “Die wetenskaplike wat steeds op argaïese metodes aandring het tred verloor en moet liefs uittree in ’n snelontwikkelende era van die kennisrevolusie.” Ek sou voorstel dat wetenspaplikes met geen kennis van en nog minder insig in die natuurwetenskappe liefs enige gesprek oor sodanige onderwerpe verlaat.

De Klerk: “Ek verstom my oor Retief se onbegrip vir my eenvoudige, redelike verduideliking ten aansien van die radon. Wat ek daarmee sê is dat die eenheid atmosfeer nie in isolasie bestaan nie (die verwysing na vakuums verduidelik dit en ek sê juis dat ’n vakuum nie ontstaan nie omdat die aantal molekules konsekwent bly weens vrye vloei).

De Klerk se “verduideliking” is nog net so deurmekaar en irrelevant soos voorheen. Daar is geheel en al geen sprake van ’n vakuum wat hier teenwoordig kan wees nie en niemand het ook ooit so iets genoem nie. Om woorde soos “vakuum”, “termodinamiese effek” en “kompaksie” rond te strooi in ’n poging om die indruk te wek dat hy weet waarvan hy praat is eintlik komies.

Die feit is doodeenvoudig dat enige gegewe volume atmosfeer se digtheid sal toeneem wanneer die temperatuur daal, derhalwe sal dit meer gasmolekules bevat – insluitende radon – en sal die hoeveelheid bestraling vanuit daardie volume dus hoër wees as by a hoër temperatuur. Niks was De Klerk gesê het weerlê hierdie feit nie.

De Klerk: “... dit (die verskynsel in die paragraaf hierbo beskryf) is boonop ’n tipe konstante waarvan alle wetenskaplikes wat met dié dinge werk, tog van bewus is en dit ook dan só verdiskonteer in hul toetsresultate – waarom sou die Purdue-span nou anders wees?

Ek stel voor dat De Klerk Fischbach en medewerkers se oorspronklike publikasie gaan opsoek, spesiaal aandag skenk aan die seksie waar hulle die metodiek beskryf en dan met vers en kapittel aantoon waar hulle wys dat hulle hiervoor gekontroleer het.

Wat die situasie ook al mag wees, selfs al neem ons ter wille van die argument aan dat Fischbach se resultate korrek is gaan dit geen betekenisvolle invloed op radiometriese datering hê nie soos deur Fischbach self aangetoon is. ’n Fluktuasie van ± 0,1% val nog baie gerieflik binne die eksperimentele fout.

Fischbach het self gesê dat hul resultate nie radiometriese datering beïnvloed nie, iets wat versigtig deur De Klerk verswyg word. Die Purdue-groep het ook geen woord gerep oor ’n sogenaamde “kumulatiewe effek” waarvan slegs De Klerk bewus is. Sy pogings om die indruk te skep dat hy meer weet van die eksperiment as Fischbach en medewerkers self is nie juis ’n klinkende sukses nie.

Nóg minder het die Purdue-span iets kwytgeraak oor die sogenaamde “ontoereikendheid” van huidige eksperimentele metodes en apparaat, weereens iets waarvan slegs De Klerk bewus is.

De Klerk: “Oor die Ruse-kwessie en sy kommentaar soos aangehaal, volstaan ek. Retief kan nie wat Ruse gesê het, ongedaan maak, nie, al wil hy so bitter graag.”

Ek wil inderdaad niks wat Ruse gesê het probeer ongedaan maak nie. Hier is De Klerk se eie woorde: “Ruse word na verwys en aangehaal by die jaarvergadering van die American Association for the Advancement of Science te gesê het dat die evolusieleer nie van sy sekularistiese religieuse aard kan ontkom, nie ...” Ek het skakels verskaf na Ruse se toespraak by die AAAS, wat hy gesê het tydens die betrokke hofsaak waarna ek ook verwys het asook my persoonlike korrespondensie met Ruse. Ek het hom versoek om met vers en kapittel aan te dui dat sy bewerings oor Ruse korrek is. Hy is steeds ’n antwoord skuldig.

De Klerk (oor die AAAS- vergadering): ”... dit het só verloop: "Wait a minute!" called the moderator, trying to take back the podium from the speaker at the AAAS. Still looking at the audience, the speaker, Professor Michael Ruse, wryly commented, "Before you start applauding, she's going to cut off all of my buttons, and drum me out of the society!" Ek het ’n skakel verskaf wat duidelik toon dat bogenoemde beskrywing blatant onwaar is. Nou skryf De Klerk: “... sy beklemtoning van beuselagtighede soos die stilmaak-en-knopies-kwessie juis wees wat mens van hom te wagte kan wees.” Die uitwys van sulke blatante verdraaiings van die werklikheid word meteens ’n beuselagtigheid, en dit nadat De Klerk hierdie onwaarheid met groot fanfare bekend gestel het. Nou toe nou ...

Die deurlees van De Klerk se wetenspap herinner mens aan nog aanhalings uit Lewis Carroll se boeke:

“What I tell you three times is true.” (The Hunting of the Snark)

“But what is the whole argument called?

A Sillygism.” (Sylvie and Bruno)

“Why, sometimes I’ve believed as many as six impossible things before breakfast.” (Alice in Wonderland)

Om De Klerk se wetenspap te kan aanvaar moet mens sommer baie meer as ses onmoontlike dinge voor brekfis glo ...

Leon Retief

  • 13

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Die ironie is dat Retief telkens my weergawes probeer verkleineer en vertel hoe nutteloos en vêrgesog dit is  en hoe hy nie tyd of lus het om daarop te reageer, nie, maar tog vind hy dit nodig om drie bydraes van gesamentlik bykans 10,400 woorde wat min of meer 23 getikte bladsye beslaan, om dit wat ek weergee, te probeer weerlê.  En sy pogings is 10,400 woorde van  ou herhalende begrippe wat niks nuuts op die tafel bring nie - en hy dink ons sal dit nie agterkom, nie?

    Dalk is dit wat ek weergee, vir hom werklik soos Alice in Wonderland, of ander onverstaanbare dinge. Hy verstaan duidelik  nie wat ek weergee nie. Kyk maar net na sy hantering van die begrippe kwalitatief en kwantitatief en sy totale onbegrip vir my aanwending daarvan, om die intensiteit van die deurlopende onbegrip vir wat ek weergee, te sien. So kan ek nog talle voorbeelde noem uit wat hy skrywe. Hy kan eenvoudig nie begryp wat ek weergee, nie en probeer dan sy onkunde toegooi met letterlik duisende woorde en bladsye vol herhalings en details van sulke herhalings, wat die saak vir hom niks verder neem nie en allermins ook die kwessies wat ek weergee, kan hanteer of weerspreek, nie. Hy is ook so onoorspronklik soos 'n papegaai behoort te wees - soos al sy ander agnostiese sielsgenote, is hy ook behep met die verspotte Russel se teepot storietjie en daardie tipe van kinderagtige onvolwasse verdagmakery om insigloosheid mee te probeer optooi. Die dinge wat ek weergee, en wat deur die Purdue span, byvoorbeeld, se bevindings ondersteun word, is dat daar ander tot hede 'onsigbare' faktore en partikels 'n rol speel by afbreking van koolstof ens deurdat die effek daarvan waargeneem word, maar die identiteit en omvang nog nie bekend is, nie - baie soos die veelbesproke donker energie. Oor die sake Gods wat ek aanraak, is hy duidelik hulpeloos en skarrel rond met uitlatings hoe dit hom nie aangaan wat mense glo, nie - terwyl die eintlike issue wat ek sy mede-papegaai Claassen ten laste gelê het, juis is dat Claassen allerlei bewerings aangaande sake Gods gemaak het  waarvoor hy geen bewyse het of ooit sal hê, nie, in dieselfde stuk waar hy mense aanraai om nie sommer dinge te aanvaar nie, maar te vra, 'is daar bewyse voor'. Ek daag die twee papegaaie toe vir daardie bewyse daaromtrent, maar die een het op sy snawel geval; en die ander een babbel onsamehangend en i=onintelligent, soos dit van papegaaie te wagte is, daaroor voort. Retief sal eerder na sy simpel Alice in Wonderland-tipe teepot gryp om sy onkunde, insigloosheid en radeloosheid meer te probeer versuip, as om te erken dat hy nie raad het vir wat ek weergee, nie.

    Retief vra gedurig dat ek vir hom dinge moet uitspel deur aanhalings  - wat daarop dui dat hy eenvoudig nie begrip het vir die implikasies van wat hy lees nie. Maar miskien is dit juis daarom dat Retief nou na Alice in Wonderland gryp en ook so met die ander hand na Russel se teepot - ons weet mos watter belangrike funksie teepotte in Alice in Wonderland speel - dalk is fabelagtige Russel en Alice in Wonderland - tipe teepotte juis alreeds  te veel van 'n uitdaging op die gestagneerde vlak van hierdie mense se begripsvermoë, wat nog te sê die dinge wat ek weergee.

    En die voorspelling is dat sy ewe insiglose teepot brigade agnostiese maatjies sy teepot lof sal besing, want hulle is ook nie tot beter in staat nie ne word ook grensloos geïmponeer deur teepotte - ongeag of dit nou Russel s'n of die Mad Hatter s'n, is.

    Dus, net nog 'n gesprek met 'n sogenaamd geleerde agnostiese papegaai wat skipbreuk ly en eindig in en as gevolg van die vooropstelling van daardie kenmerkende agnostiese kinderagtigheid en insigloosheid.

    Retief het blykbaar nie die intelligensie en insig om te besef hoe hy homself diskrediteer en weerspreek in die verskille tussen wat hy sê en doen, nie. Maar hy moet nie die fout maak om ander se intelligensie so te onderskat nie.

    Kobus de Klerk

  • Leon

    Dis duidelik dat Kobus so bietjie uit sy liga probeer speel en nie 'n snars verstaan van wat hy ge-Google het in sy aanval op jou, en jou antwoord aan hom nie. Ek het al lankal besluit om nie in enige gesprek met hom betrokke te raak oor 'n onderwerp waarvan hy duidelik niks weet nie. Die wetenskap is vir hom een groot stekelrige monster wat sy godsdiens-seepbel telkens prik. Sy onkunde oor die onderwerp word gou duidelik wanneer hy kreasionistiese webwerwe Google en nie kan onderskei tussen feit en fiksie nie. Wanneer hy met 'n wetenskaplike van formaat soos jy te doen kry is dit werklik vermaaklik om sy kleitrappery te aanskou.

    Ek het jou deeglik begronde antwoorde aan hom intens geniet en heelwat geleer, maar soos jy al lank terug geskryf het kan 'n mens nie teen 'n duif skaak speel nie.

    Groetnis
    Thomas

  • Kobus de Klerk

    Inderdaad nog meer ironie. Thomas die nikssêgger swaai Retief lof toe, asof Thomas enigsins weet wat aangaan. En dan daardie goedkoop heuningsmeerdery tipies van Thomas en ander soos hy - vertel hoe 'n 'wetenskaplike van formaat' Retief is, maar selfs 'n lae status ensiklopedie soos Wikipedia weet nie van onse Retief papegaai nie en probeer maar gerus om hom op Google te kry - interessant hoe Thomas altyd van Google praat wat ek sou raadpleeg, maar nog nooit die skakels kon voorsien nie, ten spyte van uitdagings daartoe.

    Terug by ons 'wetenskaplike van formaat' papegaai - die einste Google is ook maar sku vir hom. Nou wonder ons waar die 'van formaat' vandaan kom - maar besef onmiddellik dit is 'n niksseggende spirituele  analfabeet en insig-sukkelaar met 'n ego soos 'n ballon soos Thomas wat dit kwytraak.

    Die eerste skakel op Google wat ooglopend is as mens Dr Leon Retief Google is juis onder die hofie "doctors to avoid"... en daarmee gee ek nou nie voor ons papegaai van 'formaat' is daardie dokter nie, maar dit is net te kostelik om te sien wat Thomas se leë 'komplimente' in die kategorie van betekenisloos oplewer.

    Ons weet mos nou al - as iemand werklik 'n merk laat, al is dit nou ook net in eie geledere en sal kwalifiseer vir die 'van formaat' titel, dan kry mens hulle op ten minste Google en selfs Wikipedia, omdat ander ouens ten minste belangstel om oor hulle te praat of omdat hulle een of ander merk gemaak het iewers... maar hoe sal Thomas dit nou ook weet.

    Nou ja, hoe meer dae, hoe meer dinge met die koortjie papegaaie.

    Let op Thomas - tipies soos 'n papegaai waarin die baas belangstelling verloor het, hak die kreatuur vas by dieselfde refrein - elke keer sonder  uitsondering. Is daar nie iemand wat hom oor Thomas papegaai sal ontferm om vir hom 'n ander refrein te leer nie? Iemand met moed en deursettingsvermoë. Lyk my daar by die universiteit  se besigheidskool het hulle moed opgegee, anders sou Thomas papegaai darem mos al teen die tyd 'n ander refrein kon koggel.

    Kobus de Klerk

  • Thomas, dankie vir die "van formaat" kompliment, maar ek is nie meer aktief betrokke by navorsing nie en ek dink dat mens slegs iemand wat die wetenskap aktief beoefen 'n wetenskaplike kan noem. De Klerk het nie een van my heeltemal redelike vrae beantwoord nie en ek stem saam dat dit geen doel dien om voort te gaan nie so ek volstaan hiermee. Kan iemand in SA nie asseblief vir hom 'n sakdoek gee om die skuim van sy mond af te vee nie?

  • Kobus de Klerk

    Retief skop teen die prikkels met die Purdue en Stanford eksperiment resultate.

    Hier is 'n Stanford publikasie wat die kan wurms wat oopgemaak en sommige van die aberrasies en moontlike redes daarvoor, kortliks uitwys.

    Die weergawe wat ek voorsien neem die saak verder en kyk na die implikasies daarvan oor die breë spektrum.

    Sturrock se mening, dat daar selfs 'n tot hede onbekende partikel vir aberrasies verantwoordelik kan wees, word summier deur Retief afgemaak en onder die mat ingevee, omdat hy nie raad het daarmee nie. Soos hy met my maak, sal hy veel eerder Sturrock se integriteit probeer aanval - watter bewyse het hy daarvoor?

    In teenstelling met Retief papegaai, word John Barrow van Cambridge aangehaal te sê dat dit 'n 'gigantic' effek het op die verval tempo, maar hy stem nie saam dat dit die son se neutrinos kan wees nie.

    Fischbach maak die stelling direk - "What we are showing is that decay constants are apparently not fundamental constants of nature " - Fischbach en Jenkins van Purdue se mening is " that, far from being fixed, certain decay “constants” are influenced by the Sun. It is a claim that is drawing mixed reactions from others in the physics community, not least because it implies that decades of established science is flawed."

    Wat ook duidelik blyk uit die werklike geleerdes se artikels en besprekings, is dat die apparaat nie almal dieselfde proefstukke gebruik, nie en dus nie die fluktuasies en aberrasies sal registreer, nie.

    Michael Smy van Kalifornië spreek hom ook uit oor die feilbaarheid van die huidige metodiek en apparaat - "Long-range time variations are notoriously difficult measurements vulnerable to systematic effects". Hiervoor is Retief blykbaar blind of hy verstaan nie wat hy lees nie.

    Cornell universiteit rapporteer oor die aangeleentheid en maak die aanmerking dat dit 'n "significant decrease in the decay" verteenwoordig.

    Die Purdue bevindinge is ook nie 'n uitsondering wat in isolasie staan, nie. "... this time by a US paediatrician who was investigating the decay of plutonium–238–beryllium in 1990. What our data are showing is that the half lives, or the decay constants, are apparently not fundamental constants of nature, but appear to be affected by solar activity. To summarize, what we are showing is that the decay constant is not really a constant."

    Dit is dalk beter dat Retief papegaai onttrek het van wetenskaplike navorsing.  Van watter 'navorsing' is daar nou sprake as die navorser so stagnant en onbuigbaar in sy bekrompe siening is. 10,400 woorde van ons Retief papegaai om op die ou end niks te bereik, behalwe sy eie agnostiese vooroordeel, verstarring en insigloosheid te demonstreer, nie.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    En net so terloops - die wetenskaplikes wat aangehaal word is uit sekulêre geledere. Na die beste van my wete, is geeneen van hulle kreasioniste nie.

    Julle kan dus gerus ophou om so bevooroordeeld teen kreasioniste uit te vaar. Dit blyk ieder geval dat kreasionistiese en gelowige wetenskaplikes soos John Sanford, Bloch, Wilder-Smith (redelik onlangs oorlede) en baie andere, klaarblyklik baie meer eerlik en oopkop met wetenskaplike gegewens omgaan as julle bekrompe klompie papegaaie wat aan die selfopgelegde agnostiese 'mainstream boundaries' vasgeketting is.

    Kobus de Klerk

  • Kobus

    Miskien moet jy vir ons empiriese bewyse bring van wat die effek wat al hierdie hipoteses op radiometriese datering het. Tot dan moet ons aanvaar dat jy alweer besig is met kluitjies bak.

    Anders as godsdiens is enige wetenskaplike konsep voortdurend aan toetsing en verfyning onderworpe. Dis hoe dit werk in die regtige wêreld van die wetenskap. Maar hoe sal jy nou sulke dinge weet daar in jou kammawêreld van ewige waarhede.

    Deur my en Leon sleg te sê maak geen een van jou troetelgelofies meer geloofwaardig nie. Gaan swot eers Fisika 101 en dan praat ons weer.

    Thomas

  • Suggg ... Nou maar goed, ek versoek de Klerk om dan 'n skakel te plaas na wat (indien enigiets) oor my te lees is by die "doctors to avoid" webwerf. Ek wonder of daar 'n "Lawyers to avoid" webwerf is?

    De Klerk se skakels verskaf geen nuwe inligting nie - als wat daar te lees is was reeds te sien in hul aanvanklike publikasies wat ek reeds bespreek het. Hierdie aanvanklike publikasies het onder andere staatgemaak op waarnemings wat voorheen deur ander navorsers gedoen is en wat metodologies onder bedenking was. Indien Fischbach en kie se bevindings inderdaad korrek is, sal dit wel opspraakwekkend wees, maar soos ek reeds gewys het word hierdie resultate sterk bevraagteken. En soos ek ook reeds genoem het, het Fischbach self gesê dat sy resultate nie radiometrise datering affekteer nie. Smy se opmerking wys bloot daarop dat sommige eksperimente moeilik is om akkuraat uit te voer, nie dat die metodiek noodwendig agraies is nie.

    Maar nou ja, soos Thomas genoem het, met 'n duif kan mens nie skaak speel nie en dus - sela, finaal.

  • Kobus de Klerk

    Juistement, Retief, my skakels verskaf nie nuwe inligting nie, maar klaarblyklik inligting waarop ek dit wat ek weergee, baseer, maar wat jy nie kan begryp en verwerk en weerspreek in jou bekrompe siening nie - gelewer deur geleerde mense en betrokke mense, wetenskaplikes, wat vir hulself al naam gemaak het, wat jou weerspreek en jou Alice in Wonderland storietjies en rookskerm soos eier op jou gesig laat.

    Probeer dit ten minste insien.

    En terloops, enigeen wat kan lees en verstaan, sal ook verstaan dat ek nie te kenne gegee het dat jy die 'doctor to avoid' is nie, inteendeel, maar dit dui aan die resultate van Thomas se goedkoop en verspotte komplimente om jou heuning om die mond te smeer - soveel so dat selfs jy hom moes reghelp in sy onsinnigheid.

    Ek sê julle nie sleg nie, Thomas - ek plaas 'n spieël voor julle. Insiggewend dat jy daardie ervaring omtrent jouself as slegsê tipeer. Goed so - dalk is jy nie so ver heen soos wat dit voorkom, nie.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Ek vind dat die advertensie skakels soms wissel in Google se soek venster, maar die betrokke skakel se bewoording heel onderaan die soek venster is :

    "Ad related to Dr Leon Retief
    Doctors to avoid
    http://www.ratemds.com/
    Free reviews and ratings of local doctors and dentists.112 people +1'd this page"

    Die punt wat ek maak is juis dat selfs dit ook nie van toepassing is op Retief papegaai se profiel nie (dit verwys klaarblyklik na 'n mediese dokter met dieselfde naam) en dat daar eintlik  niks van die sogenaamde "wetenskaplike van formaat"  papegaai te siene is nie en dat Thomas se blertse baie minder werd is as die kuberpapier waarop dit geskrywe is.

    Terloops, ek sien uit Thomas se laaste blerts dat hy steeds dieselfde rympie refrein - hy kan mos immers nie die bewyse waarna ek verwys verstaan en interpreteer nie, synde 'n klakkelose papegaai - maar wil iemand tog nie asseblief vir hom 'n ander, minder afgesaagde rympie leer wat hy kan papegaai nie? Want papegaai, moet 'n papegaai nou ten ene male, papegaai.

    Kobus de Klerk

  • Al wat Kobus bewys het met sy “briljante” skakels, is dat wetenskaplikes se werk gedurig ondersoek en verfyn word. Hy raak verniet so gaande oor sy kan wurms wat kastig losgelaat is. 

     Ag, en dan raak hy so gaande oor die neutrino’s en onbekende partikels wat hy raakgegoogle het! 

    Ou Kobus, daar is baie snaakser goed as dit. Daar is bv. spartikels wat help om swart materie te verklaar, en wat van supersimmetriese neutralino's wat bestaan uit fotino's, higgsino's en zino's? Ag, ou Kobus, en dan is het nog einde niet. Hierdie supersimmetrie vra ook nog vrae waarvan jy in jou wildste spiritistiese drome nog so nooit as te nimmer sal kan by uitkom nie. Ou Kobus, al jou skakels wil nog nie sê daar is ’n god wat ’n man in ’n kits uit ’n hopie grond kan maak nie, en boonop nog vir hom ’n vrou uit ’n ribbebeen nie. Bewys dít eers vir my voordat jy jou kop in ’n bynes insteek.

     Groete,  Angus

  • Kobus

    Jy laat my so dink aan 'n persoon wat deur die begraafplaas loop en fluit. Jy is duidelik uit jou diepte wat die wetenskap aanbetref maar probeer kliphard om dit te verdoesel met vurige aanvalle op jou opponente. Jou skrywes openbaar sonder uitsondering jou groteske onkunde.

    Vind jy dit nie snaaks dat niemand jou ooit jou wetensaplike hipoteses ondersteun nie? Maar ons weet mos dat mense wat die mees uitsonderlike aansprake sonder enige bewyse maak die enigste mense is wat vas oortuig is dat hulle reg is.

    Thomas

  • Angus, soos ek nou al met die jare agtergekom het – wetenspaplikes kan nie mens se vrae antwoord nie, dus wend hulle hulself tot persoonlike beledigings, soos de Klerk nou al telkemale gedoen het. Ek besef dat jou woord “spartikels” ‘n blote tikfout was, maar dis nogal baie toepaslik – met die dat de Klerk so spartel met spartikels. Jy mag dalk belang stel in die volgende publikasie:

    http://donuts.berkeley.edu/papers/EarthSun.pdf

    Ek het onlangs ‘n kennis wat ‘n fisiskus gevra oor sy opinie. Hier is dit:

    There is one environmental effect that has been scientifically well established for a long time. In the process of electron capture, a proton in the nucleus combines with an inner-shell electron to produce a neutron and a neutrino. This effect does depend on the electronic environment, and in particular, the process cannot happen if the atom is completely ionized.

    Other claims of environmental effects on decay rates are crank science, often quoted by creationists in their attempts to discredit evolutionary and geological time scales.

    He et al. (He 2007) claim to have detected a change in rates of beta decay of as much as 11% when samples are rotated in a centrifuge, and say that the effect varies asymmetrically with clockwise and counterclockwise rotation. He believes that there is a mysterious energy field that has both biological and nuclear effects, and that it relates to circadian rhythms. The nuclear effects were not observed when the experimental conditions were reproduced by Ding et al. [Ding 2009]

    Jenkins and Fischbach (2008) claim to have observed effects on alpha decay rates at the 10^-3 level, correlated with an influence from the sun. They proposed that their results could be tested more dramatically by looking for changes in the rate of alpha decay in radioisotope thermoelectric generators aboard space probes. Such an effect turned out not to exist (Cooper 2009). Undeterred by their theory's failure to pass their own proposed test, they have gone on to publish even kookier ideas, such as a neutrino-mediated effect from solar flares, even though solar flares are a surface phenomenon, whereas neutrinos come from the sun's core. An independent study found no such link between flares and decay rates (Parkhomov 2010a). Laboratory experiments[Lindstrom 2010] have also placed limits on the sensitivity of radioactive decay to neutrino flux that rule out a neutrino-mediated effect at a level orders of magnitude less than what would be required in order to explain the variations claimed in [Jenkins 2008]. Despite this, Jenkins and Fischbach continue to speculate about a neutrino effect in [Sturrock 2012]; refusal to deal with contrary evidence is a hallmark of kook science. They admit that variations shown in their 2012 work "may be due in part to environmental influences," but don't seem to want to acknowledge that if the strength of these influences in unknown, they may explain the entire claimed effect, not just part of it.

    Jenkins and Fischbach made further claims in 2010 based on experiments done decades ago by other people, so that Jenkins and Fischbach have no first-hand way of investigating possible sources of systematic error. Other attempts to reproduce the result are also plagued by systematic errors of the same size as the claimed effect. For example, an experiment by Parkhomov (2010b) shows a Fourier power spectrum in which a dozen other peaks are nearly as prominent as the claimed yearly variation.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top