Hoeveel onse het Afrikaans in sy pond? "Is ons wel op pad na 'n Afrikaanse ons? En indien wel, hoe gaan ons daaruit kom?"

Hoeveel onse het Afrikaans in sy pond? Een "ons" vir standaard Afrikaans? Een "ons" vir streektaal? Een "ons" vir letterkunde? Een "ons" vir joernalistiek? Een "ons" vir vaktaal? Een "ons" vir Pretoria? Een "ons" vir Stellenbosch? Een "ons" vir Potchefstroom? Een "ons" vir die Flats/Vlakte? Een "ons" vir Bloemfontein? Een "ons" vir Jo'burg? Een "ons" vir hip-hop Die Antwoord? Een "ons" vir Oudtshoorn? Een "ons" vir die hof? Een "ons" vir die mark? Een "ons" vir die Kerk? Totaal = sestien. Vol in die pond van gewig. GEEN "ons" bly oor vir Afrikaans as handelstaal nie ('n taal sonder groot geld sal kleinlik word en lelike streek-geveggies aanwakker). GEEN "ons" bly oor vir die liefde van 'n taal in totaal. Is dit nie jammerlik nie?

Vandag strompel ek oor LitNet se werf en val vas in  "Is ons wel op pad na 'n Afrikaanse Ons? En indien wel, hoe gaan ons daaruit kom?" My struikel was nadat ek en my muis en amper landwyd geloop en te doen gehad het met van klagtes oor Stellenbosch se skrywers wat Pretoria se skrywers se internasionale PEN-klub geannekseer het, en Pretoria se digters wat oor Pretoria se doen en late dig en fees vier daarmee. Die Kaap se letterkundiges wat Woordfees hou in Stellenbosch.  Die Vrystaters wat in Bloemfontein fees vier. Die Noordwesters hou fees in Potch! Elke plaaslike fees met eie goed en sonder veel uitruilgoed wakker die volgende situasie aan: twee vang vir twee en elke twee vreet die ander op. Niks bly oor nie. Aldus:

So lank as wat Afrikaans kortpad vat na die Woordfees in Stellenbosch, of kortpad na die of daardie ander fees in Paarl, in Kaapstad, in Oudtshoorn, in Potchefstroom, in Nelspruit, en kortpad na een of ander plaaslike deel van die land, sonder dat Afrikaans ooit daaraan dink om Afrikaans strategies landwyd te bevorder,  en met aksies wat die hele land betrek word 'n klimaat geskep waarin Afrikaanse skrywers op die plaaslike mark konsentreer. Reeds sien die oplettende hoe dit vyandigheid en verwydering tussen die noorde en die suide van Suid-Afrika aanwakker by gebruikers van Afrikaans. Bv rubrieke in Die Burger wat Gautengers uitkryt (omdat hulle in die Kaap kom vakansie hou en geld hier bestee - hoe dom - onnosel kan 'n rubriekskrywer tog wees, hoe kortsigtig van 'n koerant om so iets te druk!). Digters in Pretoria wat oor Pretoria dig. Lieflik - maar waar is die verse, lirieke ens, wat oor 'n groter gebied handel of sosiale sake van uit 'n groter oogpunt sien as net een lokaliteit. Hoe kleinlik is Afrikaans tog? Soos hierbo gesien is daar net sestien onse in Afrikaans se pond en een pond is nie genoeg vir 'n taal om gewigtig te wees en sy gewig polities rond te gooi nie. En so lank as wat dit die geval is, bly Afrikaans liggewig in die politieke bokskryt. 

Landwyd verwurg sulke verdeeldheid Afrikaans se eenheid. Die tyd het gekom vir LitNet, Vriende van Afrikaans en Die Taalraad om kennis te neem dat Afrikaans nie op die regte koers kan wees nie, want daar is nie eers 'n landkaart wat Noord aandui nie. Dit is hoe ver verwyderd die siek van politiek al ingedring het in Afrikaanse letterkunde deur mini-ekonomie van plaaslike kuns en kultuurfeeste geografies ver verwyderd van mekaar  sonder grootskaalse landwye uitruilbaarheid. Daar is seker ook talle ander bydraende faktore. LitNet, julle vra vrae, maar vra julle die regte vrae vir die huidige omstandighede en na aanleiding van die jongste verwikkelinge betreffende Afrikaans?

Henk Seymore
Kunstenaar/skrywer
1 Februarie 2013

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Henk,  

    Dis taamlik algemeen hoe min nasionaliste en die sogenaamde fundamentele stryders hul geskiedenis ken.  

    Daar is ’n diepgaande en wesenlike verskil tussen ’n Kapenaar en ’n Boer - al praat beide Afrikaans. Dis verseker dieselfde belediging vir ’n Boer om met ’n Kapenaar verwar te word as wat dit vir  ’n Skot of Ier is om met ’n Ingelsman vergelyk te word.  

    Ek glo dat selfrespek, dapperheid, ’n drang na onafhanklikheid en vryheid geneties is.  

    Toe die Ingelse die Kaap gekoloniseer het, was daar baie Afrikaanses wat vrede had om ’n tweede klas burger op die vlakte langs die Berg te wees. Hulle was rustig en het die luilekker lewe in ’n wynparadys aan die voete van die Berg bo alles verkies. Dis nou vandag se Kaapses.  

    Maar daar was ook diesulkes wat uit selfrespek kaalvoet oor die berge sou uit net om onder die Ingelse kom. Dis die Voortrekkers of te wel - die Boere/Afrikaners.  

    Behalwe vir die Ingelse meesters aan die Kolonie, het almal Afrikaans gepraat. Wit of swart - Protestant of katoliek had daarmee niks te make nie; veral as jy Adam Kok se geskiedenis leer en agterkom hoe die Vrystaters reeds van die vroegste tye as bakermat vir en met die Ingelse truuk genaamd nasionalisme, ook die Griekwas verraai het.  

    Die Boere/Voortrekkers het later ook as Afrikaners bekend geraak omdat hulle trots aan hul taal Afrikaans gehad het in opstand teen die Ingelse onderdrukking en neerhaling as sogenaamde tweede klas, of te wel kombuistaal.  

    Daarteen het die Kapenaars vrede om selfs hul Ingelse meesters se aambeie te lek. Hulle vergat hul taal met oorgawe tot wat dit vandag selfs ook oor die sogenaamde nasionale sender, RSG klink.  

    (Glad ook dan nie verbasend dat die Kaap vandag ’n bastion vir ’n Ingelse politieke antie is nie).  

    Dit pla my egter nie.  

    Die Kaap is nou maar eenmaal die Kaap (Oosgrens natuurlik uitgesluit - die gefrustreerde agtergeblewenes daar was dalk maar net medies ongeskik vir die Groot Trek).  

    Die Boere/Afrikaners word egter steeds vandag uit wraak vir hul seges oor die Ingelse deur helde soos Hans Dons de Lange vertrap.  

    Wat my wel pla is die klug om die titel Afrikaner as ’n nasionale opset te probeer voorgee. Nasionalisme is ’n gruwelike instrument waarmee die geskiedenis en redes vir die Groot Trek, en ook die selfrespek van die Afrikaner onder ’n kombers versmoor word.  

    Hierdie proses het reeds met Uniewording in 1910 begin.

    Henk, ek stel voor jy vergewis jouself met Boere letterkundiges  soos Gustav Preller, Totius en Eugene Marais se werk om die Afrikaner en hul taalstryd Noord van die Vaal beter te begryp.    

    Boeregroete,  

    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top