God se openbaring van Homself aan die mens

  • 17

Brianvds skryf in ’n kommentaar dat hy meen God is skugter om na vore te kom om Homself te openbaar en meen dit is ’n aanduiding van die Goddelike nie-wees.

God is egter op geen manier ‘skugter om na vore te kom’, nie. Ons as ware gelowiges weet dit want ons het kontak met God en HY figureer in haas elke aspek van ons lewens op een of ander wyse. Maar God is nie opdringerig soos ’n mens wat reklame moet maak vir homself nie – God is absoluut verhewe bo sulke gedrag en het dit allermins nodig. Dit strek God tot geen voordeel as ’n mens in Hom glo nie, want die mens kan God met niks behaag waaroor God nie alreeds in oormaat oor beskik nie. Die feit dat God Homself dus aan mense beskikbaar stel om ’n verhouding met Hom te hê as God en hulle Skepper, is deur en deur slegs tot voordeel van die betrokke mens en ’n Genadedaad van God. God is dus nie ter wille van enigiets, allermins SY Eie bekendheid, manipuleerbaar soos mense is, nie en hoef ook hoegenaamd niks aan mense te bewys om hulle guns te wen, nie.

Alle mense leef dus in God se goedertierenheid en om te wil dink dat mens nie genade (goedertierenheid) van God nodig het, nie, is eerder ‘n bewys van God se milde vrygewigheid deurdat HY alle mense só gelykmatig behandel dat die onkundiges en insigloses onder hulle selfs nie eens besef tot watter ingrypende mate hulle op SY genade leef, nie. Die feit dat die agnostikus dit misbruik, maak dit nie minder goedertieren en genadig nie, maar beklemtoon dit eerder.

God het SY reëls op aarde in die fisiese dimensie gelykmatig gestel het vir almal want God is nie partydig nie (Handelinge 10:34). Deel van God se reëls hier is SY genade aan al SY skepsels, welke HY regverdig, deur die bank, beskikbaar stel. Elke mens kry dus dieselfde geleentheid om sy lewe te leef MAAR ook sy verhouding met God te vind en uit te brei en soos met enige ander stelsel op aarde, is daar ook sekere riglyne en reëls wat gevolg moet word om suksesvol dáárin te wees – dit is waar gehoorsaamheid aan God die deurslaggewende rol speel. God het só beskik dat HY van almal verwag om Hom te gehoorsaam en dat hulle Hom sal eer en daartoe gee God aan hulle almal ’n gelykmatige geleentheid om dit te doen.

Agnostici het ongelukkig die manier om van God te verwag om op hulle vlak vir hulle op hulle voorwaardes ’n eiesoortige en identifiseerbare vertoning te kom lewer om Homself aan hulle te kom bewys … hoe onnatuurlik van hulle. In die natuurwetenskap is daar hoegenaamd niks wat na vore kom en vir agnostiese wetenskaplikes vertonings kom lewer om laasgenoemde van hulle bestaan te kom oortuig nie. Die waarheid is eerder dat wetenskaplikes deur onverpoosde soektogte en indringende ondersoeke dinge in die Goddelike natuurskepping vind, wat lánk reeds bestaan het, maar nou eers in die bewustelike realm figureer omdat die wetenskaplikes genoeg moeite en toewyding aan die dag gelê het om dit te vind. Dit is die natuurlike, Goddelike reël - dit is die mens se plig, met álles, so ook ’n suksesvolle verhouding met God. As jy iets te wete wil kom, moet jy daarvoor gaan soek waar dit waarskynlik te vinde is en met genoeg toewyding, sal jy dit vind. Hierdie is ’n universele Goddelike reël wat vir alles en almal geld (Lukas 11:10-13). Tog doen die wetenskaplike dit geredelik, maar wanneer dit by sake Gods kom, wil hy ’n vertoning hê - hoe onnatuurlik en onsinnig.

Maar dit is nie die reël nie. Elke mens op aarde kry dieselfde geleenthede met God – soek en jy sal vind - der miljoene gelowige mense volg die reëls daarvan en verkry hulle verhouding met God ooreenkomstig die leer van die HERE Jesus Christus want God lewer nié sulke ‘reklame’ vertonings nie (Mattheus 12:38-45) vir die redes daar genoem.

Niemand hoef God ‘blindelings’ te glo nie. Blindelings? Gelowiges is juis nié blind nie. Daar is meer as genoeg aanwysers (pointers) na Goddelike betrokkenheid in die natuur om ons. Maar sommige mense, die agnostici, verkies om die aanwysers te neem en doelbewus ’n interpretasie daaraan te probeer heg en hipotese daaromheen weef sodat hulle Goddelike betrokkenheid daardeur kan probeer ontken en wegpraat. Dit is baie moedswillig.

Gelowiges glo baie dinge wat hulle nog nie verstaan nie, maar hulle is seker van God se integriteit en neem Hom op SY Woord omdat hulle Hom ken. In daardie proses neem God hulle op ’n weg waar HY dan mettertyd en gaandeweg openbaarmaak die dinge wat hulle tevore ter goeder trou geglo het. Omdat God, GOD is, verwag HY van mense sulke geloof, want HY is betroubaar. Dit is die Weg. Dit geld vir almal – vir gelowiges en vir ander, daar is geen uitsonderings nie.

God sal niemand wegstuur wat glo, nie. Daar is die geleentheid vir die agnostikus om God te ontmoet nes daar ook vir enige gelowige is. Verskil is dat die gelowige die geleentheid benut en die agnostikus verkies om die rug te draai. Om te sê alles sal tog in elke geval in die hiernamaals geopenbaar word, is duidelik opportunisties en wederstrewig. Dit is duidelik dat God reeds van die mens in lewe verwag om sy verhouding met God te vestig, sodat daar ’n konklusie - vervulling van verwagtinge en vervolmaking van verhoudinge - in die hiernamaals tussen God en die gelowiges kan verwesentlik. Watter geleentheid is daar vir ’n agnostiese mens wat in lewe, met allerlei verskonings en jakkalsdraaie doelbewus distansie van God soek, dat daar skielik in die hiernamaals verbetering sal intree? Nog rebellerende bendes wat soos die satan en sy bende sal wil optree? Dit is tog duidelik dat God it nie só wil hê, nie. God verwag die kennismaking en verbintenis en verinniging van die mens met God, met die HERE, komende van die mens (Johannes 3:16; 1 Timoteus 2:3-5; Openbaring 3:20) terwyl die mens nog lewe op aarde, sodat die hiernamaals daardie verhouding kan volbring daardeur te vervolmaak en verewig, soos ’n Bruidegom met sy bruid (Jeremia 7:34; 16:9). Watter suksesvolle ‘huwelik’ is daar moontlik tussen partye as die een weens doelbewuste Goddeloosheid gedurig probeer wegbeur van die ander (Openbaring 18:23)? Geliefdes doen moeite en soek mekaar op en vind mekaar. Vreemdelinge beur egter weg en word dus ook weggewys en moet dan nie behandeling soos en binnekennis van, ’n huweliksgenoot verwag, nie.

En dit is ook hoegenaamd nie asof God SY skepsels ignoreer oor SY identiteit en wese, nie. Die HERE het op verskillende maniere immers alreeds en steeds, in baie detail SY aard en wese, van God, aan die mensdom kom voorstel (Johannes 14:6-7). Na die Hemelvaart van die HERE, het HY verskeie mense deur die Heilige Gees geïnspireer (Johannes 14:16-17) om op skrif te stel (die opgeskrewe Woord - Bybel) alles waartoe HY hulle inspireer, sodat algar kennis kan opdoen oor God en dan dit voortsit en daarop te bou deur ’n persoonlike verhouding met God op te bou (2 Timoteus 3:16-17).

Voor dit, het die HERE aan verskeie mense as profete (sien die Pentateuch en die Ou Testamentiese profete boeke) SY aard, Wese en Wil kom openbaar. Nog voor dít, het God wél direk met mense gekommunikeer, maar dié ervaring was vir mense een te veel om te hanteer, vanweë die Heerlikheid van God en hulle het aangedring op ’n tussenganger tussen hulle en God, waarop God dan tot vandag toe, die stelsel van profete as tussengangers ingestel het as kommunikasie metode tussen God en mens (Deuteronomium 18:15-19), tesame met SY Eie direkte openbarings aan gelowige mense deur SY Heilige Gees (Eksodus 31:2-3; Numeri 11:17; Nehemia 9:20, 30; Haggai 2:5; 1 Korinthiërs 3:16–17; Romeine 8:11).

Die vraag of hindoes en moslems en animiste en so aan ook darem Hemel toe gaan, is baie maklik om te beantwoord omdat die HERE die kwessie van Hemel toe gaan, in geen onduidelike of dubbelsinnige terme aanspreek en dit dus vir geen mens nodig sal wees om eens ’n oningeligte opinie daaroor te waag nie – die Reël (Johannes 14:6) is presies dieselfde vir alle mense – gelowiges, moslems, agnostici, hindoes, animiste en wie ook al anders – en elkeen sal by die nakoming of nie- nakoming van daardie reël staan of val.

Daar is dus geen regverdiging vir die agnostikus om te sê hy ken God nie. Dit is dan eerder ’n geval dat hy op die stadium wat hy agnosties verkeer, doelbewus nie wíl leer van en kennis maak met God, nie.

Kobus de Klerk

  • 17

Kommentaar

  • Dit wil voorkom of Kobus saamstem dat mense nie in gode glo vanweë konvensionele wetenskaplike bewyse nie, want daar is geen. Mense wend hulle tot religie vanweë baie intense persoonlike spirituele ervarings.

    Hiermee het ek ook geen probleem nie. Dit word net problematies wanneer individue dink hul eie spirituele ervarings is beter as enigiemand anders s'n. Sulke ervaring lei mense immers nie outomaties na die fundamentalistiese Christendom nie. Aanhangers van ander religieë ervaar hul spirituele lewe met dieselfde mate van intensiteit en eerlikheid as fundamentalistiese Christene. 

    Om dus te dink dat God (indien hy bestaan) net een spesifieke religie erken is aanvegbaar, tensy God 'n psigopaat is.

  • Kobus de Klerk

    Brianvds,

    'Konvensionele wetenskaplike bewyse' soos jy daarna verwys, is ’n baie wankelrige platform om geloof in God te lanseer.

    Die rede daarvoor is dat wetenskapsbeoefening nog so onderontwikkeld is – dit is maar ’n paar eeue oud vergeleke met die derduisende jarige bestaan van die mens – dit is nie eens gesofistikeerd genoeg om te toets vir Spiritualiteit nie, wat nog te sê, die aard en Wese van God.

    Om dus ’n ooglopende onderontwikkelde, tekortkomende stelsel te wil gebruik as rede om die bestaan van dit wat die stelsel nog nie kan hanteer nie – in hierdie geval, God en Spiritualiteit – te ontken, terwyl daar talle aanduidings en wegwysers vir die bestaan van God is, is die denkproses van ’n opperste dwaas, veral ook ’n wetenskaplike dwaas.

    Die ware wetenskaplike sal neem wat hy kan vind en dan n weg vind om dit te akkommodeer en daarmee sal hy sy wetenskaplike funksies en metodes uitbrei om uiteindelik bekwaam te wees om die nuwe half onbekende veld , te kan akkommodeer. Weiering om dit te doen, lei tot selfdesepsie en wanopvattings... en dit is waar julle as agnostici jul bevind.

    Die gelowige se aanvanklike geloof sonder handige bewyse, lei mettertyd tot die bewyse vir dit waaraan hy glo. Die weg waarlangs om te gaan soek, is juis die weg van geloof, want dit motiveer jou om meer te wete te kom en beter te verstaan.
     
    Wat betref mense se spiritualiteit.

    Dit is so dat verskillende mense verskillende spirituele ervaringe het, want God is die pinakel in die spirituele dimensie met baie spirituele wesens. Om spiritueel aktief te wees, beteken nog nie dat mense Godgelowiges is, nie. Hulle het te doen met ander spirituele wesens in die spirituele realm, sommige waarvan hulle waarskynlik van God sal verwyder eerder as nader bring. Omdat die mense met spirituele wesens te make het, doen daardie spirituele wesens  hulle  vir diesulkes voor soos gode en ook omdat spirituele wesens seker bomenslike eienskappe besit (hulle vermoë om vanuit die spirituele realm na die fisieke realm te fungeer). Kyk maar na die hindoeïsme, byvoorbeeld waar daar meer a 21 verskillende gode geïdentifiseer, is. 

    Ons wie vir God wel ken, besef en sien maklik hoe mislei daardie mense is. Dit is waarom die HERE Jesus Christus dit nodig geag het om dit baie duidelik te stel dat HY die Waarheid is (Johannes 14:6-7), sodat daar nie meer twyfel is, nie. Dit is ook waarom God die mens verbied het om met sulke spirituele wesens kontak te hê (Levitikus 19:31).

    Dus, die mense weet van God, maar ken God nie vanweë hul assosiasie met verkeerde spirituele wesens strydig met God se riglyne daaromtrent, maar verkies ten onregte om eerder met ander spirituele wesens (hulle is nie God se gelykes nie, maar bewoon ook die spirituele realm vir ander doeleindes) te assosieer as hul gode omdat hulle kulturele religieuse praktyke dit promoveer. Boeddhiste en hindoes, byvoorbeeld, word so mislei deur die assosiasies dat hulle in die onsinnige stelsel van reïnkarnasie glo en dus nie besef hoe hulle hul destinasie in die hiernamaals na die verkeerde kant toe, uitkerf, nie.

    Daarom is dit noodsaaklik om ook Spirituele suiwerheid te handhaaf, deur tot God te nader, net soos dit belangrik  is om fisiese suiwerheid te handhaaf, ter wille van goeie gesondheid.

    Jy sal dalk nou kan besef  waarom jou stellings omtrent aanhangers van ander religieë en God se houding daaromtrent, onsinnige lastering is.

    Kobus de Klerk

  • Kobus skryf:

    "Brianvds,'Konvensionele wetenskaplike bewyse' soos jy daarna verwys, is ’n baie wankelrige platform om geloof in God te lanseer." 

    ---Wel, dit is die enigste platform waarop ek geloof in enige objektiewe waarhede lanseer. Die ander platforms werk nie.

    "Omdat die mense met spirituele wesens te make het, doen daardie spirituele wesens  hulle  vir diesulkes voor soos gode en ook omdat spirituele wesens seker bomenslike eienskappe besit (hulle vermoë om vanuit die spirituele realm na die fisieke realm te fungeer). Kyk maar na die hindoeïsme, byvoorbeeld waar daar meer a 21 verskillende gode geïdentifiseer, is.  Ons wie vir God wel ken, besef en sien maklik hoe mislei daardie mense is."

    ---Jou en jou mede-fundamentaliste se arrogansie slaan telkens my asem weg.

    In ieder geval, genadiglik (dalk moet ke sê 'dank die Liewe Vader"?) is ek vry van bygelowe, en hoef nie geeste en duiwels en wie weet wat se ander goggas agter elke bos te sien nie.

  • Kobus de Klerk

    Jy kan nie eerlik sê ander platforms werk nie, Brianvds, veral as jy nog nie self die pad daarmee gestap het, soos ons gelowiges, nie. Dit is juis waarom jy as agnostikus net op een plek bly en stagneer.

    Wat jou bewering van arrogansie betreffende die verduideliking van hoe dinge in die spirituele realm werk, is misplaas, want dit is dit nie arrogansie nie, maar kennis. Wat jou asem wegslaan (ek glo dit nogal) is die resultaat van die diepte van jou eie onkunde en insigloosheid oor die aspekte waaroor gesprek gevoer word. Eerder as om dan te leer en te wete te kom, sal jy jou matelose onkunde eerder bolster deur ander se kennis en insig as 'arrogansie' te probeer afmaak.

    Jy sien, jy is eintlik vry van niks, hoe ironies. Dit is juis julle wat so gebuk gaan onder die invloed en gebondenheid van die onreine geeste, wat al so deel geword het van jul bestaan dat julle dit nie meer herken en erken, nie.

    Die eienaardigste ding is dat jy meen algar moet so insigloos en onkundig wees oor sake Gods en die spirituele realm, soos die paar van julle. Is dit moontlik dat jy telkens vergeet dat jy verteenwoordigend is van 'n minuskule groepie spiritueel onbekwames ?

    As jy iets te wete wil kom, moet jy bietjie meer eerlik en ontvanklik wees in die gesprek.

    Kobus de Klerk

  • "Jy kan nie eerlik sê my platform werk nie, Kobus, veral as jy nog nie self die pad daarmee gestap het, soos ons rasioneles, nie. Dit is juis waarom jy as gelowige net op een plek bly en stagneer." 

     
    Kyk nou maar self hoe sien jou tipe argumente daar uit, as mens hulle presies dieselfde hou en net hier en daar 'n woord verander: leë, betekenislose stellings. 
     
    Nou ja, ek weet beter as om met fundamentaliste te redekawel, veral ná ons avontuur met Jupiter en sy mane. As jy oral geeste en gode en demone en goed wil sien is jy welkom. Of ek deel is van 'n minuskule groepie weet ek nie en ek gee ook nie om nie - die waarheid is nie 'n demokrasie nie. Met 'n bietjie geluk sal ek darem nie op 'n brandstapel beland soos in die dae toe jou tipe mense nog politieke mag gehad het nie.
     
  • Kobus de Klerk

    Tipies die antwoord van een wat uit sy liga is en probeer loswoel, Brianvds.

    Ek bemerk my antwoorde ontstel jou ... Wys jou hoe onseker jy van jouself is. En in teenstelling met wat jy sê, kom jy tog maar keer op keer terug na die gesprek toe.

    Leë woorde kry jy nie van my nie. Maar jy is leeg van binne en dit is dus al verwysingsraamwerk wat jy het. Kom ek demonstreer –

    Maar jy is verkeerd oor die aanname dat gelowiges nie die pad van onkunde en onsekerheid gestap het, nie. Geen ware gelowige se vaste geloof val sommer in sy skoot, nie. Die gelowige en die ongelowige  ervaar dikwels dieselfde onkunde en onsekerhede, maar die manier hoe hulle dit hanteer, verskil letterlik hemelsbreed.

    Die ongelowiges stagneer en bly in die agnostiese staat en gaan vandaar agteruit en dit is mos  juis nie rasioneel nie. Die gelowige byt vas, gaan op die koers waar die belofte en die hoop lê, kom baie struikelblokke en teëstand teë op die Weg en sy geloof word ook deeglik  onderweg getoets op allerlei maniere. Maar uiteindelik, word die geloof beloon met die werklikheid  van en insig in God se bestaan en SY betrokkenheid in ons lewens. Dan maak die ontberings en twyfel plek vir eerstehandse kennis, ervaring en Vrede.

    En daarvan weet jy niks, omdat jy by fase een bly vassteek het en daarvandaan eenvoudig agteruitgaan. Ek ken dus die pad waarop jy is, maar weens my ervaring en geloof en die vrug daarvan – ’n persoonlike kennis van en verhouding met die HERE in SY genade – is jou pad ’n pad waarop ek nooit weer sal kan of wil terugkeer nie. Jy sien, kennis en die Waarheid bevry. As mens eers eenmaal met God te  make gekry het, is dit verworwe kennis en ervaring en werklikheid en kan en wil mens glad nie weer daarop teruggaan, nie.

    My tipe mense het nog nooit iemand op ’n brandstapel gebrand nie. Jy weet soos gewoonlik nie waarvan jy praat nie. Ek het geen behoefte om stomme mense soos jy nog verder te folter deur julle aan pyniging van die vlees ook oor te gee, nie. Spiritueel is julle brandarm, armlastige sukkelaars en analfabete en wens ons julle verlossing daarvan en voorspoed toe.

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    Hello Brianvds

    Hoe grappig KdK se verwysing na ’n liga waaraan ons nie kan deelneem nie. Inderdaad, KdK is in ’n liga van sy eie en hoekom sal ons wil daal na sy vlak!

    Dit sal verkeerd wees van enige een van ons om te dink dat ’n "gesprek" met KdK is tussen gelowiges en ongelowiges. Die Bybel en Christenskap is eenvoudig die materiaal wat KdK gebruik om uiting te gee aan een of ander dieperliggende geestestoestand. In jou en Mefiante se "gesprek" met hom oor Jupiter het dit baie duidelik vir my geword dat KdK se Christenskap niks meer is as ’n mondering wat hy aantrek om uiting te gee aan ’n behoefte, wat dit ookal mag wees.

    Die probleem vir my, as ongelowige, wat die Christengeloof ernstig probeer opneem, is dat KdK se weergawe van hierdie geloof eintlik ’n karikatuur is daarvan, en dat dit waarteen ek dan argumenteer in werklikheid ’n strooiman is. Ek sal, byvoorbeeld, nooit in ’n argument betrokke raak met ’n dwelmverslaafde wat glo hy kan regtig vlieg nie. Hoekom doen ons dit met KdK?

    Chris

  • Chris: Ja, KdK is inderdaad nogal in 'n liga van sy eie. 🙂

    Nou ja, hier waar ek hulpeloos in die agnostiese staat vasgevang sit kan ek seker nie verwag om te verstaan nie...

  • Kobus de Klerk

    Dit is interessant en veelseggend om te sien hoe Chris reageer op wat ek en ander ware gelowiges, weergee.

    Hy beskou homself as iemand met ’n grondige kennis van die Bybel en by implikasie, die Christendom. Hy is egter ’n volslae agnostikus in sy ergste formaat – ateïs en die tipiese insigloosheid en onkunde van die mense is duidelik in sy werke sigbaar. Hy is ook nie alleen in sy aansprake nie – elkeen van hulle maak aanspraak op die sogenaamde 'kennis'.

    Sedert sy eerste deelname hier 'n paar jaar gelede, kom mens agter hoe antagonisties Chris is teenoor ware gelowiges en hoe oppervlakkig, insigloos, bevooroordeeld en negatief hy omgaan met die Woord. Ons sien hoe hy opregte Christene probeer beledig, verkleineer en slegsê. Die aggressie en antagonisme is veral altyd waarneembaar.

    Om ons as ware gelowiges tee te gaan, praat hy gedurig van ‘Christene’ wat min of meer ‘dink’ langs die lyne wat hy oor die Woord en Christendom te sê het. Hy het nie genoeg insig of mensekennis om te besef dat sy leuen daaromtrent vir mense wie werklik Christene is, absoluut sigbaar is, nie. Hoe op aarde kan hy voorgee dat énige Christen selfs min of meer soos hy dink en dan as Christen bestempel kan word?

    Dan beweer hy teenoor sy mede ateïs dat hy probeer om die Christengeloof ernstig op te neem. Is dit nie aardig hoe skaamteloos leuenagtig hierdie mens is nie? Almal sien hoe hy doelbewus die Christendom en die Woord probeer diskrediteer elke keer as jy iets daaroor te sê het op hierdie forum.

    Chris is ’n obsessiewe (selferkende) onvergenoegde, bitter boelie van ware gelowige mense. Hy wil boelie. Hy word woedend vir gelowiges met wie hy nie die sogenaamde ‘vloer kan vee’, soos wat hulle sê hulle graag met Christene probeer doen, nie, want uiteindelik blyk dit dat hý die mop is en nie die gelowige, nie. Boelies word mos bloedneus gegee…

    Chris haat dit dat gelowiges ’n verhouding het met die HERE, vir Wie hy in SY bestaan, ontken en dat hulle daaroor getuig. Chris skel sulke mense, wie insig en kennis vertoon in die Woord uit  en gebruik byvoeglike naamwoorde soos ‘vuilgoed’ ens., om diesulkes te beskrywe. Hy sal op veldtogte gaan om ware gelowiges te probeer diskrediteer en teen mekaar te probeer afspeel (kenmerkende agnostiese truuk) omdat hulle ware kennis en insig ten toon stel, want hulle kennis en insig ontstel hom omdat  hy dit nie kan regkry om hulle te belieg en bedrieg en veral, te boelie oor die betekenis en waarde van die Woord en van God, nie.

    Dit is verskriklik om te sien wat die verwydering van God aan mense doen, want dit wat in hulle binneste is, sien ons gereeld uitborrel, soos ook met dei arme Chris die geval is.

    Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    KdK, dis heel moontlik dat ek jou in die verlede 'n stuk vuilgoed genoem het, maar ek kan jou verseker dat dit baie min te doen gehad het met die feit dat jy 'n Christen is.

  • CorneliusHenn

    Kobus de Klerk se waansinnige en aanhoudende komplementering van homself as ’n "ware gelowige", dui onteenseglik op die een of ander patologiese toestand ... narsisme is een van vele waaraan ek kan dink ... wat van ’n bietjie Google en die volgende skakel nalees vir so ’n effense mate van insig: http://en.wikipedia.org/wiki/Narcissism

  • Kobus de Klerk

    Cornelius praat van waansinnig ... is dit omdat hy in die spieël sit ek kyk terwyl hy tik? Waarskynlik.

    Ons het mos nou al daardie reeks van waansinnige uitlatings van hom gelees in die skakels wat ek al voorsien het, en dan ook sy uitlatings daarna van tyd tot tyd. Hy het mos darem immers ook op ’n onbewaakte oomblik laat uitglip dat hy erken hy het ’n 'komplekse psige'.

    Nog ’n voorbeeld is natuurlik die desperate blerts wat hy hierbo laat. Kommentaar is dit natuurlik nie.

    Interessant genoeg is sy kriterium vir waansin en narcisme die feit dat mens erkenning verleen aan jou gelowigheid. So, almal wat hulself as ware gelowiges beskou is waansinnig en narcisties, volgens die arme skepsel en is die implikasie daarvan is dan ook volgens hom dat geen mens waarlik gelowige kan wees en erkenning daaraan verleen sonder dat hy beide waansinnig is en ook ’n narcis is, nie.

    Hoe ver is hierdie mense nog bereid om hulself so te ontbloot vir wat hulle in hulle ongelowige toestand  is? Maar dan weer, dit is ook mos soos die Woord bepaal - daar is niks verborge nie, op dit sal geopenbaar word (Lukas 12:2). So ook mos met Cornelius, wat valslik lippediens doen deur die HERE se Heilige Naam te misbruik om mense daarmee te probeer mislei. Hy het baie onbewaakte, onverskillige oomblikke en in daardie oomblikke, openbaar hy wat werklik in sy hart omgaan, en dan loop sy mond van daardie valshede oor (Mattheus 12:34-35).

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    Ek haal die volgende daaruit aan:

    Traits and signs Thomas suggests that narcissists typically display most, and sometimes all, of the following traits:

    • An obvious self-focus in interpersonal exchangesProblems in sustaining satisfying relationships
    • A lack of psychological awareness (see insight in psychology and psychiatry, egosyntonic)
    • Difficulty with empathy
    • Problems distinguishing the self from others (see narcissism and boundaries)
    • Hypersensitivity to any insults or imagined insults (see criticism and narcissists, narcissistic rage and narcissistic injury)
    • Vulnerability to shame rather than guilt
    • Haughty body language
    • Flattery towards people who admire and affirm them (narcissistic supply)
    • Detesting those who do not admire them (narcissistic abuse)
    • Using other people without considering the cost of doing so
    • Pretending to be more important than they really are
    • Bragging (subtly but persistently) and exaggerating their achievements
    • Claiming to be an "expert" at many things
    • Inability to view the world from the perspective of other peopleDenial of remorse and gratitude

    'n Hele "pletora" eienskappe wat onse Kobus de Klerk beskryf.

    Kobus, gaan kyk maar weer DIEP in die spieël my amigo...

    Cornelius

  • Kobus de Klerk

    Kerneels se gebrek aan insig in die ander dinge wat hy klakkeloos papegaai is ook maar net soos sy gebrek aan insig in die Woord. Dit is baie duidelik. Dit is dus goed hy papegaai weer so klakkeloos. Nou kan mense self ook sien hoe irrelevant die snert is wat hy as sy eie gospel voorhou – nie net teenoor God se dienaars nie, maar ook teenoor God.

    Maar die desperasie wat hy en die ander agnostici toon teenoor ware gelowiges, word maar net weereens duidelik vertoon. Hulle sal enigiets doen net om die mond van 'n ware gelowige te snoer. Ons sien dit met hulle blertse wat hulle laat nadat hulle bydraes van ware gelowiges gelees het.

    Dit werk nie, Kerneels. Vir die soveelste keer.

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    Bla, bla, bla...

    • Flattery towards people who admire and affirm them (narcissistic supply)
    • Detesting those who do not admire them (narcissistic abuse)
    • Pretending to be more important than they really are
    • Bragging (subtly but persistently) and exaggerating their achievements
    • Claiming to be an "expert" at many things
    • Inability to view the world from the perspective of other people

    ...

    Jy is duidelik in 'n toestand Kobus...

    Ek vergewe jou daarom nogmaals.

    Jou amigo in Adam,

    Cornelius

  • Kobus de Klerk

    Al waarin jy weereens slaag, Kerneels, is om te demonstreer hoe desperaat julle ongelowiges is om gelowiges sovêr te kry om hulle geloofstandvastigheid , talente en gawes te ontken, deur  voor te gee dat hulle openlike en erkentlike belydenis van nie net hulle geloof in God nie, maar ook die gawes en talente wat hulle as geskenke van God ontvang het en die beskerming daarvan teen spirituele boewe soos jy, kwansuis op een of ander psigose of ander soort van afwyking dui.

    Dit is 'n baie siek poging van spiritueel siek mense - soos jy. Uiteindelik is dit afguns wat van julle sulke desperate spirituele sukkelaars maak en is direkte getuienis van julle eie spirituele wankelrigheid  en onsekerhede.

    Maar ek het nuus vir  jou - ware gelowiges kan eenvoudig nie deur ketters soos julle stilgemaak word, nie. Die Krag in ons is eenvoudig te groot vir julle. Dit is ons plig, maar ook ons voorreg en plesier, om te getuig oor alles wat God ons gee en waartoe HY ons toerus en waartoe HY ons in staat stel. Julle probeer dus verniet om julle psigiese ne spirituele skete se gemors aan ons af te smeer.

    Ons getuig dus openlik en vryelik daarvan - omdat ons dit as geskenke van God ontvang het en dieselfde  geskenke ook vir julle beskikbaar is, mits julle ook bereid is om julself te verneder ter wille van en voor God, sodat God julle kan ophef veel hoër as waartoe julle in julself in staat is om te doen, maar alles tot eer en verheerliking van God.

    Om dus nederig te wees, beteken allermins dat ons as ware gelowige mense ons gawes en talente wat ons van God ontvang uit SY goedertierenheid, moet verloën. Ons verleen erkenning daaraan, oral, want dit is van God en is kosbaar!

    Basta dus met jou snert. Jy blerts daarmee net al meer en meer op jou eie voorstoep en maak dit net meer duidelik hoe afgunstig jy op my is. Dit is sieklik. Kry gerus vir jou 'n lewe by die ware God, by die HERE, nie die onding wat jy vir jouself geprakseer het en dan nog boonop die HERE se Heilige Naam misbruik daarvoor, nie. Wat help dit jy sê HERE, HERE, maar doen nie wat die HERE se Wil is,. nie?

    Jy mors kosbare tyd met jou snert.

    Kobus de Klerk

  • CorneliusHenn

    In die liefde en genade van Jesus Christus onse HERE, veregewe ek jou nogmaals Kobus de Klerk...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top