Die Pous se bedanking

  • 4

Die Pous se bedanking uit sy heilige amp het meer om die lyf as wat op eerste oogopslag voordoen.

Dit blyk nou dat die Pous uit betroubare hemelse bronne meegedeel is dat die Skepper van die Heelal self tot ’n besluit gekom het om die tuig as die Meester van ons Ewige Saligmaking neer te lê en Homself te verlos van die verantwoordelikhede om die kosmiese orde in stand te hou.

Alle aanduidinge is dat die Opperwese nie maklik tot hierdie besluit gekom het nie. Gesaghebbende bronne berig dat Hy al vir meer as die duur van die Ewigheid worstel met die probleem of dit die moeite werd is om ‘n heelal in stand te hou waarin die mensdom net nie wil afsien van hulle boosheid en tot inkeer wil kom nie.

Daar is gerugte dat die spanning tussen hom en sy mensliewende seun in die afgelope tyd fel toe geneem het omdat Hy net vertroue begin verloor het in die Christelike verlossingstrategie wat toegelaat het dat ‘n God deur die mensdom aan ‘n kruis verneder word sonder dat dit die geringste verstelling aangebring het aan die onwrikbare boosheid van die wêreld.

Daar is sprake van koorsagtige bemiddeling deur die Heilige Gees om die spanning tussen Vader en Seun oor hierdie kwessie te verlig sodat die verlossingprojek nie skipbreuk lei nie, maar dit blyk nou dat selfs die Pous se geloof in so ‘n uitkoms begin kwyn.

Amerikaanse joernalistieke bronne het onlangs ook aan die lig gebring dat die Opperwese deesdae dikwels deur episodes van eksistensiële angs geteister word wanneer hy Hy nie slaap of sluimer nie omdat Sy gees verswelg word deur gedagtes van die ondeurgrondelike aard van die ewigheid, die onomstootlike voortstuwing van ruimte en tyd en Sy eie nimmereindigende bestaan. Na ‘n ewigheid van skepping en herskepping, met die uitsiglose besef dat die skeppingsproses nooit ent kry en die vervulling en tevredenheid van voltooiing en afronding eindeloos uitbly, behoort Goddelike neerslagtigheid nie so vreemd op te val nie.

Dit lyk of die filosoof Friedrich Nietzsche verkeerd kon gewees het toe hy verklaar het dat God dood is. Dit sou nader aan die kol gewees het as hy verkondig het dat God afgetree het. Dat hy net gewoon bedank en die hemelse troon ontruim het. Dat Hy net genoeg gehad het van die ontwrigtende werking van entropie op die kosmiese orde. Dat Hy sat was vir al die mislukte teodisieë wat die mensdom opgedis het om Sy reputasie as ‘n regverdige God te beskerm. Dat muggies soos Voltaire kon waag om Hom te beswadder deur te beweer dat Sy enigste verskoning is dat Hy nie bestaan nie.

En let wel. Afgetree. Nie uitgetree nie. Uittrede sou miskien vereis het dat ‘n kosmies konklawe byeengeroep moes word om die pos te vul. Uit welke geledere? Al die Gode wat die mensdom tot dusver gekoester het? Net daar is die monoteïsme in sy maai en sit ons maar eintlik met dieselfde situasie as wat ons nou in die wêreld het.

‘n Plaasvervanger vir God sou in elk geval uit ‘n universum wat buite alles wat is en kan wees moet kom en sou vir nog ‘n ewigheid gebuk moes gaan onder bedenkinge oor sy herkoms, agtergrond en die stawing van ‘n soort parallelle-universum-teorie waarop sy kandidatuur onvermydelik sou moes staatmaak. Teoloë het ook bedenkinge oor of ‘n afgetrede en aktiewe God in een universum saam kan bestaan sonder skismatiese stremminge en die gepaardgaande godsoorloë wat bv die Griekse godery geteister het.

Dit is denkbaar dat ‘n afgetrede God al sy oneindige energie daaraan sou moes wy om plaasvervangers die loef af te steek en dat hy nie nog ewigdurende tyd sou hê om aandag te gee aan die saligmaking van die mensdom nie. “My God, my God waarom het u my verlaat’ is dalk ‘n versugting wat nou meermale geuiter kan word.

Dit is moeilik om te sien hoe die ou wat die sleutels oorneem wanneer die wit rokie uit die Vatikaan se skoorsteen warrel, uitkoms kan bring.

Jannie Gagiano

  • 4

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Ek wonder wat besiel iemand om so 'n brief te skryf. Die poging om SeNetters te vermaak, het skipbreuk "gelei".

    Johannes Comestor

  • francois williams

    Die Pous is die hoof van net nogge 'n uiters korrupte en gefaalde Europese instelling.

    Dit sal eers begin verbeter wanneer 'n Afrikaan die plek beheer...

  • Jacobus Faasen

    Beste ivoortoring-haaksteekdoring

    Waggebietjie: Indien daar nie 'n God was nie, sou hierdie brief oorbodig wees.

    Kobus Faasen

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top