Antwoord op Cornelius Henn se vraag van 6 deser

  • 2

Gegroet Cornelius

Jou brief Afrikanerskap ens verwys (6 Februarie 2013)

Ek praat dikwels van ons Boere, met ander woorde van myself ook as 'n Boer. 'Afrikaner' is 'n geskepte term, tot stand gekom met Uniewording as versamelnaam vir die Kaapse Afrikaanssprekendes en die Boere. Dit het al so 'n gevestigde term die afgelope 100 jaar geword dat ek die naam ook aanvaar, ek het niks daarteen nie.

Daar is mense hier wat my al daarop gewys het dat Hendrik Bibault eeue gelede al (3 om presies te wees) die term 'Africaander' gebruik het maar die Engelse vertaling van daardie woord sou 'African' wees en die Duitse een 'Afrikaner'. Die Duitse vertaling van 'Afrikaner' in moderne Afrikaans is 'Afrikaaner' en die Engelse s'n is 'Afrikaner', net soos ons hom ook skryf. So Bibault, omtrent 50 jaar na van Riebeeck aan die Kaap geland het, het homself nie as 'n Afrikaner, soos ons dit vandag ken, beskryf nie.

En Cornelius, Jack Parow praat nie Kaaps nie, hy praat besmette Afrikaans. Ek glo nie eers daar ís 'n taal soos Kaaps is nie; dis maar Afrikaans met 'n aksent en deurspek met Engelse woorde op 'n lukraak manier. Die rede hoekom Jack Parow so praat is maar om populêr te wees; 'n kniebuig in die rigting van populêre kultuur en/of die wat Engels praat soos die regering, die Engelssprekendes self en die anglofiliese Kapenaars en Kaapses. Om dit nou maar reguit te stel, hy kruip gat.

RSG "handhaaf" nie Kaapse kultuur nie. Inteendeel, RSG doen mee om die status van Afrikaans te verlaag en die van Engels te verhoog. Magdaleen Kruger het by een of ander woordfees of 'n ding gesê sy erken ons het Afrikaans by die bruines gevat en ons gaan dit teruggee. Nou, taal is nie 'n konkrete entiteit nie; jy kan dit by niemand 'vat' nie en dus bestaan so 'n konsep soos 'teruggee' van taal nie. Ek weet nie hoe het sy gereken het sy dit gaan doen nie. As sy reken 'teruggee' bestaan daarin om Afrikaans op die radio te vervlak het sy dit mis, dit is paternalisties en dus beledigend teenoor die aan wie dit nou kwansuis teruggegee sou word.

Ek kan nie vir Johannes praat nie maar ek pleit nie vir 'n nasionale Standaardafrikaans, soos jy dit stel, nie; ek pleit dat die radio, die televisie, ons almal, moet ophou om Afrikaans te verkrag.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Jan, daar moet 'n maatstaf wees vir wat as (goeie) Afrikaans erken word en wat nie. Die enigste maatstaf wat ons tans het, is Standaardafrikaans, bv soos vergestalt in die jongste, 10de, 2009-uitgawe, van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Afrikaanse woordelys en spelreels. Dit is sekerlik nie volmaak nie. Byvoorbeeld, namate Afrikaans al hoe meer met onnodige Engelse woorde besoedel word, is die taalkundiges geneig om maar sulke woorde as Standaardafrikaans te erken.

     

    Die onsinnige "sleutelbord" word deesdae naas "toetsbord" erken bloot omdat so baie mense hierdie letterlike vertaling gebruik. Op RSG-nuus word alewig van "stappe neem" pleks van "stappe doen" gepraat. In die plaaslike koerant word "siekverlof" pleks van "siekteverlof" gebruik. 'n Mens kan hulle maar oor en oor daaroor aanspreek, maar volgende keer doen hulle dit weer.

     

    Daar is nie genoeg toewyding en taaltrots nie. 'n Mens moet 'n gesaghebbende bron he om die taalsaboteurs of -vandale, die spotters of ontheiligendes, die uittarters of vertrappers van Afrikaans in die bek te ruk of gewoon op te hel.

     

    Johannes Comestor 

  • Johannes, dis nie dat ek NIE Standaardafrikaans wil hê nie; ek sê maar net hierbo waaroor die brief gaan is die afkeer wat ek het van die verkragting van Afrikaans (en ek is seker Duitsers, Engelse, Russe, noem dit maar, voel ook so oor hulle taal).  Ek stem saam met jou, die maatstaf vir normale, goeie Afrikaans is die Afrikaans soos vervat in die publikasies wat jy hierbo noem.   Afrikaans is nie uniek in hierdie opsig nie; die Franse het ook so 'n storie (ek is seker die meeste tale het).  So, net soos jy Engels of Duits verkeerd kan praat, so ook kan Afrikaans verkeerd gepraat word (soos oa Jack Parow).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top